Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Te veel skermtyd sleg vir kinders se gesondheid

Onlangse navorsing dui daarop dat dit sleg vir kinders se gesondheid is om te veel tyd voor die skerms van elektroniese toestelle deur te bring, skryf John J. Reilly, Anthony Okely, Catherine Draper en Mark S. Tremblay.

Skermtyd onder jong kinders behoort ter wille van hul eie gesondheid beperk te word. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Daar is toenemende kommer oor die hoeveelheid tyd wat kinders en adolessente vir ontspanning voor skerms deurbring. Daar is ook toenemende omstredenheid oor of skermtyd wel skadelik is.

Sedert 2016 het ons (navorsers wat bygedra het tot die ontwikkeling van 24-uur-bewegingsriglyne vir kinders en adolessente) wydlopende hersienings gedoen van wetenskaplike bewyse oor die impak van skermtyd van kleinkinderjare tot vroeë volwassenheid.

Ons het ondersoek ingestel na of die hoeveelheid digitale skermgebruik vir ontspanning (in vrye tyd en nie vir doeleindes van opvoeding nie) gesondheid beïnvloed. Dit sluit risiko’s in soos vetsug, minder slaap, lae vlakke van fisieke fiksheid, angstigheid en depressie.

Ons het ook gekyk na die impak van rekreasie-skermtyd op sosiale en emosionele, sowel as kognitiewe en taal-ontwikkeling, welstand en wat opvoedkundig bereik word.

Skermtyd vir ontspanning moet vermy word vir kinders jonger as twee.

Dié hersienings het gewys dat hoë vlakke van skermtyd, wat nou tipies onder kinders is, verbind kan word met potensiële skade. En dit het gewys dat minder skermtyd vir ontspanning beter is om vetsug te vermy, vir slaappatrone, fiksheid en om kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling te bevorder.

Die hersiening van bewyse het die afgelope drie jaar gesaghebbende nasionale riglyne in Australië, Kanada en Brittanje sowel as internasionaal tot gevolg gehad.

Ons is almal betrokke by die ontwikkeling van wêreldwye riglyne vir kinders jonger as vier jaar oud vir die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Dié riglyne stel voor dat rekreasie-skermtyd beperk moet word in kleinkinderjare, kinderjare en in adolessensie.

Riglyne van Kanada, Australië en Suid-Afrika beveel aan dat skermtyd vir ontspanning vermy moet word vir kinders jonger as twee, beperk moet word tot ’n uur per dag vir kinders tussen twee en vier en tot twee uur per dag vir kinders tussen vyf en 17 jaar oud.

Tegnologie is onontbeerlik in moderne opvoedkunde, maar die gebruik daarvan vir ontspanning behoort beperk te word. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Gegrond op ons gesamentlike ondervinding in die opstel van dié riglyne, is dit duidelik dat hierdie beperkings op skermtyd vir ontspanning om verskeie redes nodig is.

Bewyse doen in die eerste plek sterk aan die hand dat beperkings verlang word. Die aanbevelings om skermtyd te beperk, is gegrond op ’n nougesette, algemeen aanvaarde benadering wat op bewyse steun.

Dit sluit in stelselmatige hersienings, kritiese taksering van die bewyse, nasionale en internasionale konsultasies en hersiening, en deursigtige verslagdoening.

Minder skermtyd vir ontspanning is in die tweede plek duidelik beter.

Daar is bewyse wat die aanbevole tydsbeperkings steun en ons wye konsultasie met belanghebbende individue en organisasies – wat ouers en gesinne insluit – dui daarop dat hulle die beperkings nuttig vind.

Sommige beperkings op skermtyd vir ontspanning sal verstandig wees totdat dit duidelik is dat dit onbeduidende skade aanrig.

Ons aanbevelings dat rekreasie-skermtyd beperk behoort te word, stem in die derde plek ooreen met ander onlangse en deeglike beoordelings van die bewyse wat spruit uit navorsing van gesaghebbende instansies soos die WGO en die World Cancer Research Fund. Dié beoordelings het die belangrike rol van skermtyd vir ontspanning in die ontwikkeling van vetsug, baie soorte kanker en bysiendheid onderstreep.

Ons spesifieke aanbevelings stem ook ooreen met dié wat deur die Amerikaanse Akademie van Pediatrie en die Kanadese Pediatriese Vereniging aan die hand gedoen is.

’n Laat-maar-loop-benadering ten opsigte van skermtyd ignoreer die wyer konteks dat hedendaagse kinders se lewe gekenmerk word deur lae vlakke van fisieke bedrywighede en ’n oormatige gesit en tyd wat binnenshuis deurgebring word.

Kinders en adolessente sukkel ook met swak motoriese vaardighede, hoë vlakke van bysiendheid en word blootgestel aan ’n groter risiko vir tipe 2-diabetes en hipertensie.

Voorsorgmaatreëls is nodig soos nuwe vorms van skermtyd te voorskyn kom. Sommige beperkings op skermtyd vir ontspanning sal verstandig wees totdat dit duidelik is dat dit onbeduidende skade aanrig.

Daar is nog tyd om op te tree

Tegnologie word deesdae reeds van ’n jong ouderdom in die opvoeding van kinders gebruik. Foto: Argief

Sommige mense meen dit is reeds gedane sake wat skermtyd betref, maar dit is ’n pessimistiese houding. Dieselfde argument kon dan netsowel aangevoer word wat die beheer van tabak, alkohol en suiker betref. Maar dit word nou aanvaar onbeperkte blootstelling aan dié middels is nie goed vir die openbare gesondheid nie. En beperkings word as noodsaaklik aanvaar.

Boonop is daar straks in baie dele van die wêreld nog nie sprake van gedane sake nie. In baie lae- en middelinkomstelande is kinders se blootstelling aan rekreasie-skermtyd dalk nog op relatief lae vlakke.

Daar is ook ’n geleentheid om oormatige skermtyd onder babas en jong kinders te voorkom deur op te tree voordat nadelige, of ten minste sub-optimale lewenstylgewoontes later in die kinderjare of adolessensie gevestig raak.

Ons behoort selfs al in die kleinkinderjare en adolessensie bekommerd te wees oor moontlike skade.

Die skade van skermtyd is indirek sowel as direk: Skermtyd vir ontspanning neem toe soos mense ouer word en dit neem die plek in van meer voordelige vorms van sedentêre gedrag soos lees. Skermtyd vervang ook fisiek aktiewe spel en slaap.

Skermtyd vir ontspanning mag dalk lyk soos ’n onvermydelike aspek van die moderne lewe. Maar ons behoort selfs al in die kleinkinderjare en adolessensie bekommerd te wees oor die moontlike skade – ten minste totdat nuwe, robuuste bewyse aandui dat dit nie skadelik is nie. Die verstandigste benadering sal ’n versigtige een wees, een wat poog om onlangse riglyne wat op bewyse gegrond is as rigsnoer te gebruik.

* Die artikel is geskyf deur John J. Reilly, professor in fisieke aktiwiteit en openbare gesondheidswetenskap aan die Strathclyde-Universiteit, Anthony Okely, professor in fisieke ontwikkeling aan die Universiteit van Wollongong, Catherine Draper, senior navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand, en Mark S. Tremblay, professor in pediatrie by die Universiteit van Ottowa se mediese fakulteit.

Dit het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Brittanje  |  Australië  |  Kanada  |  Fisieke Aktiwiteit  |  Vetsug  |  Motoriese Vaardighede  |  Kinders  |  Skermtyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.