Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tegno-hulp met virus
Voetgangers in Italië: Anoniem, maar opspoorbaar deur tegnologie . . . Verskeie lande span selfoon-apps in om die opsporing van mense te vergemaklik wat in kontak was met ’n Covid-19-pasiënt. Foto: AP

Fisieke opsporing van mense wat in kontak was met iemand wat positief getoets is vir Covid-19, het sy leemtes. Maar, skryf Basie von Solms, tegnologie kan daarvoor ingespan word, hoewel nie sonder risiko nie.

Een van die groot probleme in die beheer van die Covid-19- pandemie is om mense op te spoor wat in kontak was met iemand wat positief getoets is vir die nuwe koronavirus.

Die doel van die opsporing is om so ’n persoon in kennis te stel daarvan dat hy in kontak was met iemand wat geïnfekteer is en ook moontlik getoets moet word.

In dié stadium word hierdie opsporings plaaslik fisiek deur gesondheidswerkers gedoen. Dit is ’n uiters arbeidsintensiewe, uitgerekte en moeilike proses wat oop is vir foute.

Dit is dus logies dat daar gekyk word na die gebruik van tegnologie om die proses te bespoedig.

Slim apps

Een van die benaderings is opsporing-apps op slimfone wat tred hou met wie die eienaar se slimfoon in kontak was.

As die eienaar dan geïnfekteer word, kan die data wat sy slimfoon versamel het, gebruik word om die kontakpersone te bepaal.

Verskeie benaderings bestaan om dit te doen, maar die een wat tans die meeste aandag kry, is die gebruik van die Bluetooth-funksie van slimfone.

Hierdie benadering word in ’n gesamentlike poging deur Google en Apple gebruik.

Die Google-Apple-projek is belangrik omdat verreweg die meeste selfoongebruikers wêreldwyd een van dié twee maatskappye se bedryfstelsels gebruik – Android van Google en iOS van Apple. Op dié manier kan ’n gesamentlike app op albei soorte slimfone werk.

Die kern van die benadering is gegrond op Bluetooth – ’n koord­lose kommunikasiestandaard om data oor kort afstande tussen elektroniese toestelle te versend.

Só kan ’n slimfoon met Blue­tooth-funksionaliteit byvoorbeeld koordloos kommunikeer met ’n kopstuk met ingeboude oorfone en mikrofoon wat ook die Bluetooth-funksionaliteit het. Dit maak die handvrye gebruik van jou slimfoon moontlik terwyl jy bestuur. In dié geval kommunikeer die slimfoon­ met die kopstuk en omgekeerd.

Nommer, asseblief?

Maar hoe werk dié tegnologie in die Google-Apple-opsporing-app?

Dis heel eenvoudig. Jy laai die betrokke app af op jou foon. Talle ander mense, sê byvoorbeeld mnr. X, doen dit ook.

Almal aktiveer dan hul slimfone se Bluetooth-funksie.

As jy nou in die winkel by mnr. X verbyloop, sal jou foon en sy foon onmiddellik met mekaar kommunikeer en sal hulle slimfoonnommers uitruil.

Jy het dus nou mnr. X se slimfoonnommer op jou foon en hy het jou nommer op sy slimfoon. Soos jy nou verder deur die winkel by ander mense verbyloop, ruil julle slimfone outomaties nommers uit.

Dit werk natuurlik slegs as die ander persoon ook die betrokke app op sy foon het.

Uiteindelik het jou slimfoon die telefoonnommers van almal by wie jy vandag verbygeloop het – insluitend dié van mnr. X – en word dit op jou foon gestoor. Dieselfde het op mnr. X se foon gebeur.

Weens Bluetooth se beperkte kommunikasie-afstand sal jou foon net met die slimfone binne sy opvangsgebied (omtrent ’n paar meter) kommunikeer.

Dit sal voorkom dat jou foon kommunikeer met iemand wat aan die anderkant van die straat loop en dus nie eintlik in nabye kontak met jou was nie.

Die data op jou foon word vir ’n hele aantal dae behou en word natuurlik aangevul met nuwe data wanneer jou pad met nuwe mense s’n kruis.

Veronderstel nou jy toets ná ’n week positief vir Covid-19 . . .

Opgespoor in ’n kits

Indien jy geïnfekteer is, kan jy jou slimfoon opdrag gee – deur die app – om al die slimfone wie se nommers jou foon in dié tydperk gestoor het, te laat weet dat jy positief getoets is.

Opsporing word dus so te sê onmiddellik gedoen.

Indien mnr. X positief gediagnoseer word, kan hy dieselfde doen en sal jou foon daarvan in kennis gestel word.

Die Google-Apple-samewerking maak dit dus moontlik dat ’n Android-foon met ’n Apple-foon kan kommunikeer en omgekeerd.

Onthou wel: As jou foon mnr. X se nommer stoor, word dit deur die app op ’n spesiale manier geënkripteer om te verseker die nommers op jou foon kan nie deur jou gebruik of gelees word nie.

Jy sal dus nooit weet wie mnr. X regtig is nie en ook nie wat sy nommer is nie. Op dié manier word persoonlike privaatheid verseker.

Net wanneer jy die app op jou foon opdrag gee om die ander nommers te kontak, sal die app die dekriptering doen en ’n boodskap aan die ander fone se eienaars stuur. Hulle sal ook nie weet dit kom van jou af nie. Anonimiteit kry dus baie aandag.

Verskeie lande het al sulke Covid-19-opsporing-apps beskikbaar gestel. Singapoer se regering het byvoorbeeld die TraceTogether-app beskikbaar gestel en die Australiese regering CovidSafe.

Talle ander lande werk aan soortgelyke projekte en in Suid-Afrika is daar luidens berigte ook so ’n ontwikkeling aan die gang.

Geldige kritiek

Dié slimkaartgegronde opsporing-apps word vanuit verskeie oorde bevraagteken en gekritiseer, met kwessies oor privaatheid en die beskerming van persoonlike data bo-aan die lys van bekommernisse.

Baie mense is onseker watter persoonlike data nóg deur die apps onttrek kan word. Daar is ook kommer oor privaatheid omdat selfoonnommers – hoewel geënkripteer – op talle fone gestoor kan word. Die enkripsie bied nie noodwendig 100% beskerming nie.

Verder is ’n kritieke massa van gebruikers nodig vir die app om te werk – na raming minstens 50% van ’n bevolking moet die app op hul fone hê voordat die stelsel bruikbaar is.

Luidens berigte het net sowat 17% van inwoners in Singapoer tot dusver die app afgelaai. Om te verseker dat data van jou bewegings deurlopend vasgelê word, moet jy altyd jou foon by jou hê.

Kommer bestaan ook oor mense wat die stelsel wil saboteer deur vals data vas te lê. Volgens een kommentator kan vals data byvoorbeeld ingesamel word as jy jou foon om jou hond se nek vasmaak en jou kind vra om met die brak in die park te gaan hardloop.

Jou foon moet ook voldoende geheue hê om alle data te stoor wat op dié manier ingesamel word.

Belangriker: As mnr. X wel geïnfekteer word, maar nalaat om die kontakte op sy foon te laat weet, help dit niks.

Elke bietjie help

Waar regerings amptelik betrokke is, soos in Singapoer en Australië, moet jy jou infeksiestatus by die nasionale gesondheidsdepartement aanmeld, wat dan self die gestoorde data van jou foon sal aflaai en die betrokkenes sal kontak.

Daar is ook kritiek oor die reikafstand van Bluetooth, wat onder sekere omstandighede baie verder strek as sowat 2 m – wat sal meebring dat fone wat verder is, ook “raakgesien” en die data gestoor gaan word.

Met dit alles in ag genome, is daar waarde in die gebruik van tegnologie en moet dit nie sommer afgeskiet word nie.

Dat daar risiko’s en gevare is, is waar, maar op ’n vasteland soos Afrika, waar alle opsporings onmoontlik fisiek deur gesondheidswerkers gedoen kan word, help elke bietjie.

Laat ons sien wat in Suid-Afrika gaan gebeur oor die saak.

Prof. Von Solms is direkteur van die Sentrum vir Kuberveiligheid van die Universiteit van Johannesburg.

Meer oor:  Internet  |  Koronavirus  |  Apps  |  Tegnologie  |  Besmetting  |  Rekenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.