Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Tembisa-10’: Dís nie joernalistiek!

Ons moenie vertwyfeld uitroep “wat wórd van die joernalistiek?!” nie, want dít was nie joernalistiek nie, skryf Lizette Rabe oor die sogenaamde Tembisa-tienling.

Fopnuus is baie skadelik vir die geloofwaardigheid van die media. Foto ter illustrasie: Getty Images

Die vyf w’s en die 1 h: Wie? Wat? Waar? Wanneer? Waarom? Hoe?

Joernalistiekstudente kan dit al ná hul eerste week van klasdraf in hul slaap opsê.

Plus, in dieselfde asem, die mantra: Verifieer, verifieer, verifieer. Want sonder om daardie vyf w’s en een h te kan beantwoord, en sonder om dit by soveel as moontlik onafhanklike bronne te verifieer – minstens drie – is dit nie ’n storie nie. Punt.

Dit, helaas, is nie wat gebeur het by wat nou as die “Tembisa-tien” bekend staan nie.

Buiten, natuurlik, daar was nie – is nie – ’n tienling nie. En daarom moet ons nie eintlik vertwyfeld uitroep “wat word van die joernalistiek?!” nie, want dit wás nie joernalistiek nie.

Die “joernalis” – askies, redakteur – en sy maatskappy wat dié superspekskietstorie probeer verkoop het, het daarmee ongelukkig wel die geloofwaardigheid van werklike joernalistiek aangetas. Maar gelukkig het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) die hele affêre met die sterkste bewoording verdoem. Buiten dat Sanef geen sanksie oor die betrokkenes het nie. Want, wel, dié “mediamaatskappy” is nie lid van Sanef nie. Ook nie van die Suid-Afrikaanse Persraad en sy Perskode, sy appèlraad óf sy ombudstelsel nie.

Maar nogtans het Sanef die hele ongelukkige storie in die sterkste moontlike taal verdoem, juis sodat hy die regte, egte, hoofstroommedia in Suid-Afrika kan beskerm.

Daarby wil ’n mens ook vra: Het jy al gehoor van ander professionele liggame wat so onmiddellik in die openbaar ’n verloopte lid van sy professie looi, of dit nou ’n mediese dokter, ’n ouditeur of prokureur is?

Gesonde verstand moes al gesê het dat Suid-Afrika nog vóór die 'geboorte' van dié meerling van hul bestaan bewus moes gewees het.

Maar terug na die “storie”. Of liewer, die “nie”-storie.

Gesonde verstand moes al gesê het dat Suid-Afrika nog vóór die “geboorte” van dié meerling van hul bestaan bewus moes gewees het. Want ’n hele spesialisspan van verloskundiges, pediaters en verloskundige en pediatriese verpleegpersoneel sou die swangerskap gemonitor het. Die swanger moeder sou vroeg reeds gehospitaliseer en bedlêend gewees het om die swangerskap so lank moontlik te kon uitrek.

En die piepklein babatjies sou uiteindelik uiters prematuur gewees het, want die menslike baarmoeder kan beswaarlik ’n tweeling vir die volle termyn dra, laat staan nog ’n tienling. Plus al die plasentas, selfs al kon sommige babas identies met ’n gedeelde plasenta gewees het.

Hoeveel sou tien babas, plus plasentas, weeg, as selfs ’n tweeling al naby die volle termyn ondergewig is? Medies gesproke sou die verlossing – want dít sou nou waarlik ’n verlossing wees – al ’n fenomenale prestasie gewees het. Die media, nasionaal en internasionaal, sou gekampeer het buite die hospitaal waar Operasie Tienling sou plaasvind. Die bemarkings- en kommunikasiemasjien van die betrokke hospitaal sou in die hoogste versnelling gewees het om die meeste van dié prestasie te maak. Dis immers ’n wêreldrekord!

Hier is meer as 10 slange in die gras

Niks klop in die storie oor die sogenaamde 'Tembisa-tienling' nie. Foto ter illustrasie: Getty Images

En met watter verleë gebakte pere sit ons?

Veel meer as ’n helse ontnugtering oor nog ’n versinsel in die media. Sanef kon wel in sy verklaring – nee, veroordeling – gesê het hy is woedend oor die totale ineenstorting van joernalistieke etiek en standaarde oor hierdie nie-storie, maar waar laat dit die Suid-Afrikaanse media?

En nogal ’n storie geskryf deur Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News – ’n koerant met ’n trotse en lang geskiedenis van meer as 120 jaar, gestig nog voordat Boer en Brit met Mausers en Howitzers teen mekaar geveg het. Wat vandag ’n sirkulasie van beswaarlik 2 000 het.

Álles aan dié tienling-storie moes jou onmiddellik laat besef het hier is, wel, meer as tien slange in die gras. Niks klop nie. Dis ’n nie-storie.

Daar is soveel tragedies – waansin – ter sprake in dié waanbevalling ná die waanswangerskap dat ’n mens nie weet waar om te begin nie.

Maar wat gebeur? Redakteur Piet vlieg die trotse vader na die Kaap. Waar Iqbal Survé, eienaar van Independent Media – wat ’n ironiese naam – sommer R1 miljoen skenk. Om jou geheue te verfris: Dié maatskappy is met R4,3 miljard, geleen van die Openbare Beleggingsmaatskappy – mense se pensioengeld – gekoop. Plus die Chinese regering besit ’n 20%-aandeel. Daarom ook dat dié stal gereeld pro-Chinese artikels dra. Saam met die skenking is boonop ’n oproep vir nog geld gedoen, met die bankrekening en al van die maatskappy wat dit namens die “wonderbabas” sou ontvang.

Daar is soveel tragedies – waansin – ter sprake in dié waanbevalling ná die waanswangerskap dat ’n mens nie weet waar om te begin nie. Dit gaan oor die geloofwaardigheid van die media; oor die media se etiese kode wat bo alles in stand gehou moet word; die media as openbare bate, in diens van die publiek. Nie om propaganda te dien nie. Ook nie ’n narsistiese baas nie.

Waar laat dit die hoofstroommedia?

Die verifiëring van feite is een van die belangrikste take van die media. Foto ter illustrasie: Getty Images

Maar was daar regtig iémand wat die storie geglo het? Plus: Hoe kon joernaliste en die media wat ons roeping ernstig opneem, dit selfs verder uitbasuin? Eerder as om te verduidelik: Mense, dis ’n gefabriseerde storie. Opgemaak.

In die media is dit nie die eerste nie, en ook nie die laaste gefabriseerde storie nie. Daar is twee woorde wat professionele joernaliste nagmerries gee: die p-woord en die f-woord. Plagiaat en fabrisering. Gesteelde stories en opgemaakte stories.

Niemand is immuun nie. Van The Washington Post tot Der Spiegel het al daaronder deurgeloop. Eersgenoemde het selfs ’n Pulitzer-prys vir so ’n storie gewen. Ná die ontdekking van die fabrisering het daardie prins van ’n redakteur, Ben Bradlee, ook in die stoel tydens die Watergate-skandaal, dit natuurlik dadelik teruggegee. Hy was juis met die 150ste verjaardagviering van The Cape Argus, gestig in 1857 en ’n stalmaat van Pretoria News, die eregas. Die uwe het hom op dié geleentheid in 2007 stotterend heldevererend vertel hoe wonderlik inspirerend sy loopbaan en sy outobiografie, A Good Life – Newspapering and Other Adventures, is.

Maar waar laat dit ons professionele hoofstroommedia? En daardie onaantasbare element wat onkoopbaar is as jy dit eers verloor het – geloofwaardigheid?

Die Argus, wat in 2007 die eiendom van die Ierse mediamagnaat Tony O’Reilly was, was toe nog nie van sy status as koerant van rekord, soos tans saam met sy stalmaats in Survé se Independent-groep, gestroop nie.

Die tragiese is dat dit gaan om menselewens en menseverhoudinge, ongeag hoe sinies jy na die hele affêre kyk. Een, of meer, rolspelers, het dringend mediese hulp nodig. ’n Mens hoop hulle kry dit.

Maar waar laat dit ons professionele hoofstroommedia? En daardie onaantasbare element wat onkoopbaar is as jy dit eers verloor het – geloofwaardigheid?

Sanef skryf die hele onaangenaamheid is een van die laagtepunte in die Suid-Afrikaanse joernalistiekgeskiedenis. Die skrywer/fabriseerder het boonop nie reeds ’n klank aan hom nie, maar ’n vrot stank. Piet Rampedi was immers in die span wat destyds die lewens van werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se sogenaamde “Rogue Unit” geruïneer het.

Lizette Rabe Foto: Jaco Marais

Maar Sanef kan geen sanksie toepas nie, want Independent Media onderskryf al lankal nie die Perskode en ombudstelsel nie. Tog, het hulle regtig so min respek vir hul nog bestaande lesers? Of om met soveel minagting met die waarheid – en menselewens – om te gaan? En om waaragtig, toe die sak patats uitkom, terug te krabbel en te sê daar is ’n reuse-sameswering aan die gang; die “owerheid” steek die ma en die babas weg?

Wie? Wat? Waar? Wanneer? Waarom? Hoekom?

Die hoeveelheid digitale nuusruimtes en drukmediakolomme wat nou al in beslag geneem is deur ’n “nie-storie” in ’n tyd van gruwelike geweld, staatsplundering en ’n land in die greep van ’n pandemie se derde vlaag is ook ’n aantyging teen ons hoofstroommedia. Ons moes mos geweet het as dit te goed klink om waar te wees, dan is dit. Maar toe neem ’n virus van ’n ander aard oor: Moenie dat feite in die pad van ’n goeie storie staan nie. En o, het ons nie goeie stories nodig nie.

Daar sal waarskynlik nog lank ’n kollektiewe uitryg van derms en ’n geween en gekners van tande wees. Juis die joernalistiek, met net een item waarmee hy kan handel dryf, sy geloofwaardigheid, moet dit jaloers bewaak. Want anders speel ons in die hande van demagoë en kakistokrate wat wil hê hoofstroommedia moet liefs nie vertrou word nie. En hier is mos nou weer ’n bewys daarvan.

Ja, skade is gedoen, maar ons is gelukkig dat ons danksy die sterk stand van mediavryheid nog die media (dis nou régte media) kan glo.

Maar die eintlike waarheid is: Was dit nie vir ons sterk media nie, was ons in ’n veel groter gemors. Dis juis waarom mediavryheid so noodsaaklik is. As een ou ’n boggerop maak, is daar onmiddellik ’n paar ander wat dit kan uitwys.

Ja, skade is gedoen, maar ons is gelukkig dat ons danksy die sterk stand van mediavryheid nog die media (dis nou régte media) kan glo. Daarom: Gedenk eerder die soort joernalistiek wat ons uit die stinkende moeras van staatskaping gered het, en steeds red. En dankie, (régte) joernaliste, vir jul bydrae tot ons brose demokrasie.

Aan die ouens wat ’n Pieta op die nuuskantoor wil trek: Doen dit in jul speel-speel-nuuskantoor, nie in die regte wêreld nie.

• Hierdie artikel is aangepas sedert dit gepubliseer is.

• Rabe is voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Haar A Luta Continua – A History of Media Freedom in South Africa het verlede jaar by AfricanSunMedia verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Sanef  |  Independent Media  |  Iqbal Survé  |  Lizette Rabe  |  Piet Rampedi  |  Fopnuus  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.