SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Aktueel
Terugblik: Een koeël te gou sink Boomplaats

Ek onthou nog die sketskaart in ons skoolgeskiedenis-handboek van ’n Britse mag wat in ’n hinderlaag gelok word, maar een Boer skiet te gou en beduiwel alles.

Vandag 170 jaar gelede, op 29 Augustus 1848, het daardie Britse mag onder die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, ’n Boerekommando onder Andries Pretorius by Boomplaats, tussen die hedendaagse Jagersfontein en Trompsburg, verslaan.

Sir Harry Smith, Britse hoë kommissaris wat Andries Pretorius by Boomplaats verslaan het (Uit: C.F.J. Muller, Die Groot Trek in beeld).

Vroeër vanjaar het ons in die stukkie oor die Sandrivierkonvensie gesien hoe Smith op 3 Februarie 1848 die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier as die Oranjerivier-Soewereiniteit geannekseer het. Dit was in stryd met sy ooreenkoms met Pretorius dat dié die Emigrante-Boere (Voortrekkers) se gevoel oor anneksasie eers sou toets. In 15 vergaderings het dit geblyk dat die Emigrante-Boere oorweldigend teen anneksasie was.

Toe die Britse bestuur van die Oranjerivier-Soewereiniteit in Mei 1848 Thomas Biddulph as magistraat van Winburg aanstel, is Pretorius deur die Winburgers versoek om uit die Transvaal te kom help. Biddulph en die Britse resident in Bloemfontein, majoor Warden, het oor die Oranjerivier padgegee. Pretorius het met duisend man opgedaag.

Smith het hom met ’n mag van 1 100 man, drie kanonne en 150 waens uit Kaapstad na die onrustoneel gehaas, en ’n beloning van £1 000 vir Pretorius se gevangeneming uitgeloof. Onderweg het 250 Griekwa-perderuiters onder Adam Kok en Andries Waterboer en ’n paar Emigrante-Boere by Smith aangesluit.

Op 26 Augustus was Smith in aantog na Bloemfontein voor die terugvallende Pretorius-kommando. Daar was ook ’n gerug dat ’n Britse mag uit Natal op pad is, en van die Boere het die wyk geneem, sodat Pretorius se mag sowat 750 man getel het.

Op die plaas Boomplaats het Pretorius sy manskappe in ’n tregtervormige hinderlaag op die rantjies weerskante van die pad geplaas.

Die oggend van 29 Augustus het Smith die rantjies genader, vooraan in sy blou baadjie en wit broek.

Pretorius was van plan om te wag totdat Smith se hele mag in die hinderlaag tussen die rantjies inbeweeg het voordat hy die teken gee om te skiet.

’n Sketskaart van die Slag van Boomplaats wat wys dat een Boer te vroeg geskiet het (Uit: F.A. van Jaarsveld, Nuwe geïllustreerde geskiedenis vir senior sertifikaat).

Toe een Boer op die linkerkantse rantjie egter losbrand op ’n Britse verkenningspatrollie, het die geveg uitgebreek, en die verrassing was daarmee heen. Smith het hom bevind in wat hy noem “one of the most severe skirmishes” van sy loopbaan.

Sy kanonne het onmiddellik hul teiken gevind, en die Boere na die volgende rantjie gejaag, en na die volgende . . .

Op die Boere se regterflank kon kommandant Jan Kock-hulle nie daarin slaag om die Britse waens te buit nie. Teen die middag het die Boere die aftog geblaas. Vir ’n wyle is hulle deur die vyand agtervolg.

Die Boere het klaarblyklik nege gesneuweldes en vyf gewondes gehad – nie 49 gesneuweldes en 150 gewondes, soos Smith beweer het nie. Sy ongevalle was een offisier en agt man gesneuwel en 45 gewond.

Smith het die “rebelle” se grond verbeurd verklaar, waarna sommige van hulle hul heil noord van die Vaalrivier gesoek het. Dáár het Brittanje op 17 Januarie 1852 met die Sandrivierkonvensie die onafhanklikheid van die Emigrante-Boere noord van die Vaalrivier erken.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Aktueel  |  Rubriek  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.