Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Terugblik: Kruger se bydrae wás merkwaardig

So op die 193ste herdenking van die geboorte van Paul Kruger vandag, ’n besinning.

In die jongste tyd het daar uit Afrikanergeledere kritiek op die geïdealiseerde beeld van Kruger gekom. Carel van der Merwe het in sy bekroonde werk Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog gewys op Marais se snydende kritiek as redakteur van Land en Volk op Kruger. Onlangs het Heynie Heydenrych laat waai in Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890-1895.

Pres. Paul Kruger op die stoep van sy woning in Kerkstraat, Pretoria, kort voor die Anglo-Boereoorlog. Uit: M.C.E. van Schoor, Die bittereinde vrede

’n Mens moet onthou dat Marais nie die wêreld van Kruger verstaan het nie, en behoorlik sy mes vir hom in gehad het – asof hy self vlekkeloos was. ’n Vraag wat historici nog nie behoorlik beantwoord het nie, is: Is Marais se kritiek raak of oordrewe?

Goeie geskiedskrywing vereis kritiese denke. Dit lei tot groter objektiwiteit. Wil jy werklik feite soek wat jou pas en die res ignoreer? Dit maak jou ongeloofwaardig. Aan die ander kant gaan dit nie ’n bydrae wees indien jy alles wat tevore aanvaar is, verwerp, en nuwe mites skep nie. ’n Sinvolle balans is nodig.

Die huidige besware teen Kruger gaan oor sy onverdraagsaamheid teenoor kritiek, sy outokratiese regeerstyl, sy vergoeliking van amptenare se misstappe, nepotisme en sy hantering van die Uitlanders se eise vir stemreg. Dit maak sin.

Kruger se outokratiese regeerstyl was ’n gegewe. Maar in verreweg die meeste gevalle was dit nie Kruger wat korrup was nie. Dit was vertrouelinge, en, in die geval van sy skoonseun Frikkie Eloff, familie wat voordeel uit hul verbintenis met Kruger of met die regering getrek het. Dit het hom waarskynlik wel aandadig aan korrupsie gemaak. Soms beskerm Kruger onhebbelikes, soos met die standplaasskandaal oor woonerwe in Johannesburg. Dit is veral die hoof van mynwese, Christiaan Joubert, wat ongerymd optree. Kruger se reaksie: Amptenare moet nie kwalik geneem word omdat hulle ’n bietjie wins uit spekulasie met standplase wou maak nie. In die proses bewys Kruger hom ’n swak debatteerder met drogredenasies wat kwaad word en kritiek persoonlik opneem.

In ’n beoordeling van Kruger se presidentskap is die erkenning van die Afrikanernasionale historikus, D.W. Krüger, belangrik, naamlik dat Kruger weens gebrek aan opleiding nie altyd die nodige begrip getoon het vir die onafhanklikheid van die regbank en die skeiding tussen die uitvoerende en regterlike gesag nie. Dit het vir Kruger gegaan om die behoud van die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Maar, moet ’n mens byvoeg, die tydsgewrig aan die einde van die 19de eeu het gevra vir ’n meer moderne aanslag – die ZAR kon eenvoudig nie meer bekostig om ’n pioniersrepubliek te wees nie. In die proses het sy regering konsessies toegestaan wat individue bevoordeel, maar die vrye mark benadeel het.

Ons moet egter nie die baba met die badwater uitgooi nie. Kruger se bydrae tot die republikeinse gedagte en die skep van ’n plek vir die Afrikaner – wat weer nuwe probleme gebring het – was enorm. Sy beskerming van die ZAR se onafhanklikheid teen Britse imperialisme was merkwaardig. Die vooraanstaande historikus Charles van Onselen sê nie verniet nie: “I continue to be amazed by Kruger’s insight and leadership qualities. He really was quite special.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Aktueel  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.