Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Terugblik: Mooi verpakte feite, stories en naakte leuens

Vandag bekyk ons ’n populêre tydskrif wat die Britse bevolking tydens die Anglo-Boereoorlog met trots moes vervul. Die weeklikse uitgawes is uiteindelik in vier volumes gepubliseer, waarvan die eerste twee With the Flag to Pretoria genoem is.

Binne ’n paar hoofstukke was my mandjie vol Britse propaganda. Selle ou storie: aantreklik verpakte waarhede, halwe waarhede en blatante leuens.

’n Mens moet die Britse imperiale wêreld van 1899 begryp. Brittanje het sy politieke en kulturele invloed oor die aardbol versprei wat “goed” sou wees vir die nasies, vir mense wat dankbaar behoort te wees vir die lig wat vir hulle gebring word.

Britse sentiment vir die oorlog in Suid-Afrika is met dié soort illustrasie opgewek, hier van ’n vrou wat van die dood van haar eggenoot op die slagveld verneem, getiteld “The fatal telegram: ‘Killed in action’ ” (Uit: H.W. Wilson, With the Flag to Pretoria, I)

Uiteraard word die oorsake van die oorlog vanuit ’n Britse perspektief geteken. Die Boereregerings was “plotters against the British Empire”. Sommer onmiddellik lees ons hoe die Britte “had watched with apprehension the enormous armaments of the Transvaal”. Die waarheid is dat die Jameson-inval van 1896 geopenbaar het dat die Zuid-Afrikaansche Republiek ’n ernstige tekort aan wapens gehad het wat hulle reggestel het om die verwagte Britse bedreiging die hoof te bied.

Daar is lekker leuens oor die getal vegtendes. Volgens die tydskrif was Boeregetalle by Modderspruit en Nicholsonsnek 20 000. Die werklike getal was 7 500.

Die Boerekrygers word stereotipies uitgebeeld. Hulle is “savages” wat “in many instances” gewonde Britse soldate by Elandslaagte doodgeskiet het. Dis nie vir ons duidelik hoe Boere wat van die slagveld van Elandslaagte gevlug het, gewonde Britse soldate kon doodskiet nie – tydens ’n geveg kyk jy ook nie of die vyand al gewond is nie. Die Boerekrygers is van nature “treacherous” wat gereeld die wit vlag misbruik – in werklikheid ’n situasie wat deur albei strydende partye misbruik is.

Oorlogskunstenaars is ingespan om intieme oomblikke in die Britse voorkamer te bring en moreel te bou. Sommer teenoor die titelbladsy is daar ’n skildery deur S. Begg van koningin Victoria wat gewonde soldate besoek. Verderaan skilder Begg vir Victoria wat die vroue en kinders van soldate van die Household Cavalry by Windsor ontvang.

Ander intieme oomblikke wat die hartsnare vir die Empire moes roer, is byvoorbeeld skilderye van ’n soldaat se afskeid van sy vrou (“The last embrace”), en die ontvangs deur ’n eggenote van die doodstyding uit Suid-Afrika (“The fatal telegram: ‘Killed in Action’ ”).

Heldedade word aan die groot klok gehang. Kaptein Percy Scott word tereg geprys vir sy omskepping van skeepskanonne vir die slagveld om die Boere se langafstand Long Tom-kanonne te troef. Veel word gemaak van die 14-jarige beuelblasertjie John Dunne wat by Colenso ernstig gewond is en sy beuel verloor het, waarop Victoria vir hom persoonlik ’n ander beuel geskenk het.

En tog kritiseer die tydskrif Britse militêre optredes, soos die versuim om burgerlikes betyds uit Ladysmith te verwyder – “the lamentable want of foresight which characterised all our operations”. En die verrassing dat Britse krygsgevangenes by Chieveley “were treated with extreme kindness”. Of die byskrif by die foto van ’n ontslape kommandant-generaal Piet Joubert (Kruger se opponent in die presidentsverkiesings) wat lui: “Our gallant foeman”.

Toegedraai in ’n Empire-pakket lyk die teks en illustrasies onskuldig. Maar waar die Boereleiers soms militêre feite verdraai het, swymel die Britse propaganda oor die wonderlike Empire en veroordeel dit die veragtelike Boere.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.