Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Terugval op etniese, pseudo-etniese groepsterme sal bruin mense nie red

’n Terugval op etniese of pseudo-etniese groepsterme gaan bruin mense nie red nie. Hulle moet eerder fokus op onderwys en ekonomiese bemagtiging soos entrepreneurskap, skryf Jason Lloyd.

Die voorblad van Patric Tariq Mellet se boek wat die tonge los het.

Die onlangse verskyning van die boek The Lie of 1652 (Tafelberg) deur Patric Tariq Mellet het soos gewoonlik weer die tonge los – veral in die Kaap – “oor die bestaan, die lot, en die lief en leed van bruin gemeenskappe”.

Soveel so dat die skrywer van dié boek selfs voorstel dat bruin mense liewer ’n geografiese identifikasie behoort te aanvaar.

In ’n rubriek “Neem dié nuwe identiteit aan” wat in Die Burger en op Netwerk24 (2 Oktober 2020) gepubliseer is, skryf die joernalis Heindrich Wyngaard dat Mellet mense soos hyself wat nog altyd as “bruin mens” identifiseer, direk konfronteer om hieroor te besin.

Hy (Wyngaard) skryf Mellet loop in sy boek terug op die pad van die bruin mense se geskiedenis. “Diepsinnig en noukeurig word daar met bruin mense se ras-dilemma omgegaan”.

Wyngaard skryf ook “Mellet deel sy lesers mee dat die ‘leuens van 1652’ allereers te doen het met die feit dat ’n samelewing reeds lank voor Jan van Riebeeck se koms na die Kaap gefloreer het – kultureel, geestelik en ekonomies. Dit was g’n ‘niemandsland’ nie”.

Mellet moedig ook bruin mense aan om die bagasie van ras en velkleur af te skud, want, volgens hom, is dit misplaas.

Dit geld ook vir die groepe, volgens Mellet, wat op “eerste nasie” status aanspraak maak, as Khoi en San, terwyl daar omtrent 195 oorspronge van die mense van die Kaap is.

Die intellektuele insig, denkende en nierassige leierskap van bruin leiers uit die Oos-Kaap, Noord-Kaap (let wel: Allan Boesak is ’n Noord-Kaapse-boorling) en ander dele van die land is verwerp ten gunste van om vir die “onderdrukker” te stem. Ons as sogenaamde bruin mense betaal vandag ’n duur politieke en ekonomiese prys vir dié kortsigtigheid, onwysheid en verwerping van swart mense. Hoe ironies, want “ons” is ook swart.

“Jy behoort jouself veel eerder te assosieer met die geografiese identifikasies as ’n boorling van die plek wat oorspronklik deur die inheemse groepe gedoop is // Khammis Ssa (soete water vir almal), gekreoliseer tot die hedendaagse Camissa”.

Wyngaard skryf: “ons wat ons steeds bruin mense noem, is dan inderwaarheid ‘Camissa-Afrikane’. Dit is tyd om as ‘bruin mens’ te bedank en die nuwe identiteit aan te neem”.

Ek stem met Mellet saam dat bruin mense – om daardie onpresiese term te gebruik – liewer “die bagasie van ras en velkleur” moet afskud, want dit is “misplaas”. Om selfs groepsidentiteite – soos “bruin mens” of “kleurling” – te aanvaar of onwillekeurig te gebruik is om raskonstruksies wat deur die destydse omringende buitewêreld van kolonialisme en apartheid opgestel is, te aanvaar.

Hierop het die letterkundige en intellektueel Hein Willemse in ’n onderhoud met my in 2016 oor die nalatenskap van die ontslape digter, dramaturg en filosoof Adam Small hom soos volg uitgelaat:

“Daar is tog seker belangriker dinge as die politieke en sosiale identiteite wat van buite toegeken word of dié wat ons opneem in politieke stryd”.

Ek verskil egter met Mellet se voorstel dat bruin mense liewer ’n geografiese identifikasie behoort te aanvaar.

Hoekom dan ’n addisionele “streek-identifikasie” soos “Camissa” bykomend tot die reeds vernederende “politieke en sosiale identiteite” soos “bruin” en “kleurling” voeg? Wat wil Mellet hierdeur bereik, want dit maak nie sin nie?

Mellet begaan ook ’n denkfout deur net te verwys na die “omtrent 195 oorspronge van die mense van die Kaap”. Die sogenaamde bruin mense is nie net tot die Kaap of die Wes-Kaap beperk nie, maar landwyd versprei.

Trouens, die Kaap of Wes-Kaap se meerderheid sogenaamde bruin mense het liewer bruin mense se politieke toekoms landwyd befoeter deur in te koop op die “swart gevaar” narratief van die NP sedert 1994 en daarna tot op hede op die DA s’n.

In dié proses het bruin mense hulself dienstig gestel om as stemvee misbruik te word sonder om voorwaardelik hul stem aan dié (wit) politieke partye te gee.

Die intellektuele insig, denkende en nierassige leierskap van bruin leiers uit die Oos-Kaap, Noord-Kaap (let wel: Allan Boesak is ’n Noord-Kaapse-boorling) en ander dele van die land is verwerp ten gunste van om vir die “onderdrukker” te stem. Ons as sogenaamde bruin mense betaal vandag ’n duur politieke en ekonomiese prys vir dié kortsigtigheid, onwysheid en verwerping van swart mense. Hoe ironies, want “ons” is ook swart.

Identiteitskwessies is kompleks

Heindrich Wyngaard

Met Wyngaard se stelling van “ons wat ons steeds bruin mense noem, is dan inderwaarheid “Camissa-Afrikane”, kan ek nie saamstem nie.

Wyngaard skryf verder: “Dit is tyd om as ‘bruin mens’ te bedank en die nuwe identiteit aan te neem”.

Trouens, met Wyngaard se verknogtheid aan die vernederende “politieke en sosiale identiteit” soos “bruin” het ek ’n probleem.

Bepaald omdat daar ’n tyd in die land se geskiedenis was toe ons almal veronderstel was om ’n “identiteit” te hê wat – soos Willemse dit gestel het – “van buite toegeken word of dié wat ons opneem in politieke stryd”. So hoekom is Wyngaard so fanaties oor dié “identiteite” wat “van buite toegeken” is?

Toegegee, Wyngaard is ’n produk van Caledon, ’n dorp wat – soos Willemse dit in ’n ander konteks met verwysing na Worcester gestel het – “in die apartheidsregering se Kleurlingvoorkeurbeleid” geleë was.

So ’n mens moet Wyngaard en baie ander Wes-Kaapse plattelandse sogenaamde bruin mense teen dié werklikheid probeer verstaan, maar Wyngaard sou seker ook tot ander en spesifiek progressiewe denke kom vanweë sy blootstelling aan swart mense in kosmopolitaanse leefruimtes soos Kaapstad en Johannesburg.

Ook meer bepalend deur sy kontak veral met anti-apartheidsaktiviste uit die bruin gemeenskap, soos Willemse, Boesak, Jakes Gerwel, Franklin Sonn, Trevor Manuel en andere.

Adam Small het ‘nooit enige van sy identiteitstrominge ontken nie: nie sy Afrikaans-wees, sy Afrikanerskap, sy bruin-wees of sy swart-wees nie.’ Foto: Gallo Images

Ook sou hy miskien iets kon wys word uit sy geliefde (Adam) Small se prosa, poësie, akademiese artikels, koerantrubrieke en opstelle (soos “Blackness versus Nihilism” oor Black Consciousness) waarin hy – soos Willemse dit in 2016 aan my gestel het – “meestal skryf as ’n intellektuele liberalis wat die individu en sy belewenis sentraal stel”.

Willemse skryf verder: “ Maar ek moet byvoeg, in sy (Small) se skakeling na buite het hy nooit enige van sy identiteitstrominge ontken nie: nie sy Afrikaans-wees, sy Afrikanerskap, sy bruin-wees of sy swart-wees nie. “Identiteitskwessies is kompleks en Small, soos baie ander mense, het met al daardie subidentiteite saamgeleef. Nie een daarvan was vir hom uitsluitend nie”.

Word entrepreneurs

Patric Tariq Mellet: Bruin mense moet ontslae raak van die bagasie van hul velkleur. Foto: Edrea du Toit

Dit moet veral vir sommige sogenaamde bruin mense, wat hul swart-wees ontken, ’n les wees om te leer om met al hul subidentiteite saam te leef.

In ’n ander artikel getiteld “Die ‘leuen’ oor dekolonisering” (12 Oktober 2020) op Netwerk24 verwys Wyngaard na Mellet se kritiese, indien nie ongemaklike vrae nie: Watter stappe moet gedoen word om die koloniale misdade van etniese uitwissing en gedwonge verskuiwings reg te stel?

Wat gaan aan haweloosheid en agterplaasbewoning gedoen word? Wat van die langdurige invloed van kolonialisme wat manifesteer in bendegeweld, dwelmafhanklikheid en geweld teen vroue en kinders?

Hoe sal die vernietiging van landboukundige ekonomiese bedrywighede van ouds herstel word? Wanneer sal ons apartheid se “vier ras-silo's” afskaf?

Broodnodige vrae wat dringende antwoorde en aksie verg.

Die sogenaamde bruin mense se terugval op etniese of pseudo-etniese groepsterme gaan hulle nie ’n antwoord en uitkoms op bogenoemde vrae bied nie. Bruin mense sal self ’n plan moet maak.

Jason Lloyd

Dit is byna onmoontlik in ’n ongelyke samelewing soos ons s’n, waar jy die heeltyd afgetrek word en uitgesluit word, maar bruin mense sal moet probeer om ’n ekonomiese bestaan vir hulself uit te kerf.

Beter geleenthede tot tersiêre onderwys en ekonomiese bemagtiging soos entrepreneurskap moet deur bruin mense vir hulself geskep word.

Boekies skryf, gedigte skryf of om letterkunde en onderwys te studeer gaan nie veel help om die rekeninge te betaal nie.

Letterkunde in ’n land waar nagenoeg 76% van die werksmag werkloos is, is per slot van sake ’n luuksheid.

Die ekonoom Moeletsi Mbeki, broer van oudpres. Thabo Mbeki, is op rekord deur te sê “fostering entrepreneurship is the best answer to South Africa’s growth problem”. Maar soos Mbeki tereg opmerk “that assumes that everyone has an equal shot to become entrepreneurs in the first place. With South Africa’s levels of poverty and inequality, which are felt particularly in areas like education that is clearly not the case”.

Dit beteken dat meer jong bruin mense hulle tot tersiêre onderwys sal moet wend in kursusse wat hul gereed moet maak om entrepreneurs te word.

Die sogenaamde bruin gemeenskap en die Suid-Afrikaanse ekonomie het entrepreneurs – soos Johanna van Eden in haar Beeld-rubriek geskryf het – nodig met ondernemingskap wat werk skep om werkloosheid, armoede en ongelykheid te pak.

• Lloyd is ’n sosiale kommentator en rubriekskrywer. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.