Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘The Wall’ en die einde van Pink Floyd

Pink Floyd se The Wall is een van die mees ikoniese rock-albums van alle tye. Maar weens sluimerende spanning tussen dié groep se lede 40 jaar gelede was dit die laaste album wat hulle saam opgeneem het, skryf Mark E. Perry.

Roger Waters tydens ’n vertoning van ‘The Wall’ in Berlyn in 2013. Foto: Getty Images

40 jaar gelede, op 30 November 1979, het die Engelse progressiewe rock-groep Pink Floyd sy elfde ateljee-album, The Wall, uitgereik.

Dit was ’n dubbelalbum wat in 26 snitte ’n storie vertel het op ’n manier wat aan opera herinner. Dié konsep-album het uiteindelik die dubbelalbum geword wat die tweede beste in die geskiedenis verkoop het.

Maar dit was ook die laaste keer dat Pink Floyd se kernlede – Roger Waters, David Gilmour, Nick Mason en Richard Wright – saam aan ’n album sou werk.

Jare van toer en finansiële stres het hul tol geëis.

Die grootheidswaan van Waters tydens die opneem van The Wall was die keerpunt.

Spanning neem toe

Gelukkiger tye? ’n Publisiteitsfoto van Pink Floyd wat in 1973 geneem is. Van links is Richard Wright, David Gilmour, Nick Mason en Roger Waters. Foto: Getty Images

Die onbeheerbare grootheidswaan van rockgroepe se lede lei dikwels tot bitterheid wat die uitmekaarspat van die groep bykans ’n cliché maak.

So het spanning tussen die vier lede van The Beatles – veral tussen John Lennon en Paul McCartney – in 1970 tot die einde van dié groep gelei. Konflik tussen die kitaarspeler Johnny Marr en die sanger Morrissey het aanleiding gegee tot Marr se besluit om The Smiths te verlaat.

Ons moet ook vergeet nie van The Eagles, wie se einde só bitter was dat die tromspeler en sanger Don Henley gesê het dié groep sal eers weer bymekaar kom wanneer die “hel vries”.

Teen die tyd dat Pink Floyd in Januarie 1979 met opnames vir The Wall begin het, was spanning reeds jare aan die prut.

The Dark Side of the Moon, wat in 1973 uitgereik is, het oornag tot supersterstatus vir Pink Floyd gelei. Maar die groep se lede het gesukkel om voort te bou op dié sukses en om met ’n nuwe treffer-album vorendag te kom.

Daar was reeds geskille met die opname van die opvolgalbums, Wish You Were Here (1975) en Animals (1977).

‘The Dark Side of the Moon’ het tot superster-status vir Pink Floyd gelei. Foto: Getty Images

Roger Waters, die groep se baskitaarspeler en mede-hoofsanger, het beheer geneem vir Wish You Were Here. Hy het besluit watter snitte op die album gaan verskyn en het basies die album se konseptuele temas gedikteer. Dit het ingesluit vervreemding, kritiek op die musiekbedryf en ’n huldeblyk aan die voormalige Pink Floyd-lid Syd Barrett, wat die groep in 1968 verlaat het weens sy stryd met psigiese gesondheid.

In dié proses het Waters die snitte “Raving and Drooling” en “Gotta be Crazy” in die slag laat bly teen die kitaarspeler en ander hoofsanger, David Gilmour, se wens.

“Dave het dit altyd duidelik gemaak dat hy die twee ander liedjies wou doen,” het Waters later gesê. “Hy het nooit werklik begryp waarvan ek gepraat het nie. Maar Rick het en Nicky het en hy is uitgestem en ons het voortgegaan.”

Miskien omdat hulle gemeen het Waters versmoor hulle het Wright en Gilmour in 1978 solo-albums uitgereik, Wright het gedebuteer met Wet Dream en Gilmour met David Gilmour.

Gilmour het later gesê “dit was belangrik vir my selfrespek. Ek het aanvanklik gedink my naam was nie groot genoeg om dit reg te kry nie. Dit kan effens kloustrofobies wees om só lank in ’n groep te wees en ek moes uit Pink Floyd se skadu stap.”

Die skadu van ‘The Wall’

‘The Wall’ se omslag was verlede jaar met ’n Pink Floyd-uitstalling in Rome te sien. Die vark stel ‘Animals’ voor, een van dié groep se minder suksesvolle ander albums. Foto: Getty Images

The Wall was die groep se volgende projek – en Waters het weer beheer geneem.

Hy is deels geïnspireer deur ’n voorval tydens die In the Flesh-toer waarop hulle ondersteuners wou aanmoedig om hul album Animals te koop. Die klank van klappers – en ’n gevoel dat die toeskouers nie na hul musiek of lirieke geluister het nie – het Waters omgekrap en hy het op konsertgangers gespoeg.

Hy het daaroor gepeins om ’n muur tussen hom en sy aanhangers te bou. Die saadjie vir The Wall was geplant.

In Julie 1978 het hy ’n demo-band van 90 minute aan die res van die groep voorgelê en twee konsepte voorgestel vir die volgende album: Bricks in the Wall en The Pros and Cons of Hitch Hiking.

Waters se toenemende megalomanie, wat baie duidelik was op The Wall, het moeiliker geword om te hanteer.
Allan F. Moore

Die groep se lede het ingestem om ’n album op te neem wat op die eerste van die twee voorgestelde konsepte fokus. Dit sou handel oor die stryd en isolasie van rockster-status en die hoofkarakter sou Pink Floyd genoem word.

Die naam van die karakter het niemand juis geflous nie; dit sou grootliks ’n solovertoning wees. Die musikoloog Allan F. Moore het toe gesê “Waters se toenemende megalomanie, wat baie duidelik was op The Wall, het moeiliker geword om te hanteer.”

Die feit dat die album se sentrale storie semi-outobiografies was en die verhale van Waters en Barrett vertel het, het nie juis gehelp om beter verhoudinge te bewerkstellig nie.

Weer vriende? Roger Waters en Nick Mason by die Pink Floyd-uitstalling verlede jaar in Rome. Foto: Getty Images

Die motief van die mure het die selfverdedigingsmeganismes gesimboliseer wat Waters gebou het teen diegene wat hom kon seermaak – ouers, onderwysers, eggenote en minnaars. Sommige lirieke het te doen gehad met die dood van sy pa, ander met ontrouheid.

As Gilmour enige idees gehad het om tot Waters se visie by te dra, is dit grootliks geïgnoreer. Waters het fragmente van die demo-bande van Gilmour se solo-projekte ingesluit, maar uiteindelik is Gilmour net as die mede-skrywer van drie liedjies genoem – “Run Like Hell,” “Young Lust” en “Comfortably Numb.”

Die tromspeler Mason en die klawerbordspeler Wright is glad nie as mede-skrywers genoem nie.

Of miskien het iemand aan hom gesê: ‘Nick, miskien moet jy iemand anders kry om te speel, want jy sukkel.
Roger Waters

Vir die liedjie “Mother” het Waters selfs Toto se trom- en perkussiespeler, Jeff Porcaro, gekry om Mason te vervang.

Waters het later na Mason se beperkte vermoëns verwys en gesê dié tromspeler het, “tot sy groot krediet”, self toegegee dat hy sekere goed nie kan doen nie.

“Of miskien het iemand aan hom gesê: ‘Nick, miskien moet jy iemand anders kry om te speel, want jy sukkel.’ ”

Ná ‘The Wall’

David Gilmour tydens ’n konsert in 2016 in Pompei. Foto: Getty Images

Vandag word The Wall deur baie beskou as een van die beste albums in die geskiedenis van rock. Maar dit was die laaste keer dat die vier lede van Pink Foyd saam ’n album opgeneem het.

Wright het die groep verlaat, net om later deel te wees van Pink Floyd se toere in 1980 en 1981. Pink Floyd – sonder Wright – het in 1983 The Final Cut opgeneem. Wright is in 2008 op 65-jarige ouderdom aan kanker dood. 

Richrd Wright tydens ’n konsert in Londen in 2002. Foto: Getty Images

Waters het Pink Floyd uiteindelik in 1985 verlaat en Gilmour en Mason gedagvaar in ’n poging om hulle te keer om die naam Pink Floyd te gebruik – die groep, het Waters gesê, se kreatiewe ammunisie was op.

Waters het verloor en Gilmour en Mason het nog drie albums onder die naam Pink Floyd opgeneem: A Momentary Lapse of Reason (1987), The Division Bell (1994) en The Endless River (2014).

Niks sou egter naby die kommersiële sukses van The Wall kom of resensente so meevoer soos dié album nie.

Die vervaardiging van The Wall weerspieël ’n algemene ervaring van baie rockgroepe – hoe kreatiewe spanning en mededingende visies lede uitmekaar kan dryf.

Gelukkig kon Pink Floyd daarin slaag om alles bymekaar te hou om nog een finale meesterstuk op te neem.

* Perry is ’n adjunk-professor in musikologie aan Oklahoma State University. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

the conversaton
Meer oor:  Pink Floyd  |  The Beatles  |  The Eagles  |  Rock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.