Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Theuns Eloff: Afrikaans se telkaart vir 2018

As Afrikaanssprekendes waaksaam, vriendelik en ferm bly, kan Afrikaans se telkaart vir 2019 nog beter lyk as dié van vanjaar, skryf Theuns Eloff.

Afrikaans is groot
Musiek- en ander feeste soos Afrikaans is Groot, het vanjaar weer gewys dat die Afrikaanse taal nog baie skop oor het. Foto: Jaco Marais

Aan die einde van ’n jaar is dit tyd vir telkaarte: Regerings, politici, organisasies. Maar hoe lyk die telkaart vir Afrikaans vir 2018?

Niemand sal ontken dat die donker wolke van die politiek en die ekonomie ook maar hulle skaduwee oor Afrikaans gegooi het nie. En daar is baie op die telkaart wat negatief is:

Die druk op Afrikaanse skole (omdat hulle Afrikaans is), veral noord van die Gariep, het voortgeduur. Die geval Overvaal het uitgestaan, maar daar was talle ander. Die Lesufi-verskynsel het dus nie verdwyn nie en ons sal moet sien wat aan die einde van Januarie 2019 gebeur wanneer skole geopen het.

Ten spyte van positiewe vordering om Afrikaans as inklusiewe en vriendelike taal te bevorder, het wanpersepsies oor Afrikaans en haar sogenaamde bagasie tog voortgeduur. En hier en daar is dit ongelukkig versterk deur mense wat hulle vooroordele in Afrikaans bedryf.

En dan is daar steeds die onverkwiklike onverdraagsaamheid van Afrikaanssprekendes onderling. Soos baie male in ons geskiedenis, lyk dit asof ons nie die son oor mekaar kan verdra nie. Die noord-suid skeiding bly voortduur. ’n Groot deel van die Afrikaanssprekende bevolking wil nie enigiets positiefs van die AfriForums en Solidariteite van die wêreld hoor nie. Mense wat hulle self as “Afrikaners” identifiseer maak dié wat hulle as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners identifiseer verdag – en andersom. En sommige erken nie dat die meerderheid van “ons” bruin Afrikaanssprekendes is nie en kibbel oor “standaardAfrikaans”.

Afrikaans op universiteite

’n Goeie dosis ordentlikheid en verdraagsaamheid teenoor mekaar kan in 2019 baie help.

Miskien die negatiefste van Afrikaans se telkaart is die verdere en volgehoue agteruitgang van Afrikaans op openbare tersiêre vlak. Die treurige stories van die “University of Pretoria” en die “University of the Free State” is welbekend.

By die Universiteit Stellenbosch lê die Gelyke Kanse-hofsaak in 2019 voor, maar intussen word lustig dosente aangestel wat nie Afrikaans kan of wil praat nie – sodat die “redelikerwys doenlik” van artikel 29 van die Grondwet kort voor lank nie meer haalbaar sal wees nie. Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit bly moedig Afrikaanse klasse aanbied en ’n sterk Afrikaanse studentelewe gedy. Maar ook hier begin “transformasie” en “integrasie” die kampuslewe stadig maar seker verengels. Die een ligpunt is dat daar blykbaar in die korttermyn van die rassekwotas vir eerstejaars by die PUK afgesien is.

Daar is dus genoeg op die telkaart om bekommerd te wees. Maar as ’n mens mooi dink en met perspektief kyk, is daar net soveel en dalk meer wat positief is.

Inklusiewe Afrikaans

Die veldtog van Afrikaans.com om Afrikaans as inklusief, vriendelik en divers te vier het beslis welslae behaal. Die advertensieveldtogte, webwerf en ander projekte het al deel van die Afrikaanse media geword.

En een belangrike diwidend was die groot mate van samewerking tussen Afrikaanse organisasies wat voorheen nie altyd kon of wou saamwerk nie. Afrikaans.com het inderwaarheid die spilpunt geword van waar Afrikaanse projekte en organisasies by mekaar leer en saamwerk.

Wat mens ook nie moet vergeet nie, is dat Afrikaans in Suid-Afrika gepráát word – as eerste taal deur meer as 13 miljoen Suid-Afrikaners, met nog ’n goeie 7 miljoen as tweede of derde taal. As taalgemeenskap het ons goeie koerante (papier en elektronies) en ’n groot verskeidenheid van tydskrifte. Die Afrikaanse skryfkuns en digkuns gedy nog steeds. En al skaad die swak ekonomie baie kunstefeeste, oorleef en gedy die meeste van hulle steeds.

Aardklop
Aardklop in Potchefstroom is een van die gewildste Afrikaanse kunstefeeste.

’n Faset wat miskien nie so bekend of op die oppervlak duidelik is nie, is dat daar oor die afgelope paar jaar ’n sterk toenadering tussen leiers uit die wit en bruin Afrikaanse gemeenskappe was. Hieruit het daar veel groter eenstemmigheid ontstaan oor die belangrikheid van Afrikaans as beide onderrigtaal en bemagtigingsinstrument. Sterk konsensus is byvoorbeeld gevind oor waaroor daar in die beplande gesprekke met pres. Cyril Ramaphosa gepraat sou kon word. En al het hierdie gesprekke nog nie plaasgevind nie, sal die breë Afrikaanse gemeenskap met een stem kan praat wanneer dit wel gebeur. Tong-in-die-kies gesê: miskien moet ons bietjie meer toyi-toyi.

Akademia

In die vakuum wat die grootskaalse verengelsing van die naskoolse onderwys begin laat, vorder Akademia se planne goed om ’n residensiële kampus in Pretoria te vestig. Foto: Lizelle van Jaarsveld.

’n Saak wat amper ongemerk verbygegaan het, was die baie positiewe besluit van die Konstitusionele Hof om die 5 000 bladsye verklarings van die Gelyke Kanse-aansoek op eie koste in Afrikaans te laat vertaal, voordat die saak vroeg in 2019 voor die Hof kom. Hierdie wyse besluit van die hoofregter is veel beter as die afjak wat AfriForum in die Kovsies-saak gekry het. Die kostelike ironie is dat die tender vir die vertaalwerk gewen is deur – die Universiteit van Stellenbosch!

Ten spyte van die politieke en demografiese druk waaronder Afrikaanse openbare onderwys is, moet ons nie vergeet dat daar steeds meer as 2 000 goeie Afrikaans-enkeltalige en parallelmediumskole is nie. Hierdie skole lewer, in ’n stelsel wat al meer na onder getrek word, steeds uitstekende kwaliteit onderwys en opvoeding – in Afrikaans. En parallel hiermee, het planne om na bekostigbare en volhoubare Afrikaanse onafhanklike skole te kyk, goed gevorder.

In die vakuum wat die grootskaalse verengelsing van die naskoolse onderwys begin laat, vorder Akademia se planne goed om ’n residensiële kampus in Pretoria te vestig. Daar word beplan om in 2019 meer as 1 000 en teen 2023 meer as 5 000 ingeskrewe studente te hê in ekonomiese en bestuurswetenskappe, geesteswetenskappe, natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe en die regte. Daar word ook na kampusse in die Wes-Kaap en Suid-Kaap gekyk. Akademia wil ’n Afrikaanse universiteit van hoë gehalte wees, vir almal wat in Afrikaans wil studeer.

Theuns Eloff
Theuns Eloff

’n Feit wat nie so bekend is nie, is dat daar deur die wysheid en toekomsvisie van Afrikaanse leiers in die verlede verskeie trusts bestaan wat die saak van Afrikaans dien. Deur die werk van hierdie trusts kry die Afrikaanse leef- en onderwyswêreld jaarliks ’n inspuiting van miljoene rand, sonder om ’n afhanklikheidsindroom te ontwikkel. Dit is ’n belangrike aantekening op Afrikaans se telkaart.

In kort: die telkaart is gemengd, maar die meerderheid sake is positief. Afrikaans is nie op die oomblik so in die direkte openbare kollig nie, maar eerder ras, korrupsie, politiek, ekonomie en ideologie.

Maar dit is onteenseglik waar dat sekere kragte reeds en steeds aan die werk is om Afrikaans uit die openbare lewe uit te skuif. Ten spyte van ’n goeie vertoning in 2018, bly die druk op Afrikaans bestaan. Hierdie druk is nie net ekstern (polities en demografies) nie, maar ook intern (meer en meer ouers wat hulle kinders na Engelse skole toe stuur – in die waan dat dit beter geleenthede sal bied). Hopelik sal gesonde verstand mettertyd seëvier.

As ons as Afrikaanssprekendes egter waaksaam, vriendelik en ferm bly, kan Afrikaans se telkaart vir 2019 nog beter lyk.

Dus: Praat Afrikaans, geniet dit en waardeer dit!

*Theuns Eloff is voorsitter van die Dagbreek Trust.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Universiteite  |  Oos-Kaap Naweek  |  Kunstefeeste  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.