Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Theuns Eloff: Die enigste 2 gebooie vir Afrikaans

Wat ons in Afrikaanse privaat en openbare skole en universiteite nodig het, is genoegsame diversiteit om die opvoedkundige ervaring optimaal te maak, skryf Theuns Eloff.

Dr. Theuns Eloff

Onlangs is twee stukke op Netwerk24 gepubliseer. Die eerste is ’n artikel deur afgetrede regter Johann van der Westhuizen, waarin hy as bydrae tot die “stryd” vir Afrikaans, sy eie “dertien gebooie” voorstel. Die ander is ’n brief deur Rams Mabote (’n reputasiedeskundige en sosiale kommentator), waarin hy skryf dat ’n Afrikaanse skool soos Helpmekaar Kollege nie sy leerlinge op die “werklike wêreld” voorberei nie.

Van der Westhuizen se doel is om Afrikaanssprekendes deur sy “dertien gebooie” te oortuig dat:

* Afrikaans nie onder druk is nie, omdat Hebreeus al eeue lank bestaan; en indien Afrikaans dan verdwyn, gaan dit nou maar die weg van “alle vlees”;

* Hulle nie vir mekaar moet lieg dat die Grondwet Afrikaans en sy gebruikers beskerm nie, omdat die gebruik van Afrikaans op universiteit op sigself diskriminerend is;

* Afrikaans nie volgens die Grondwet beskerm kan en behoort te word nie, omdat dit eens die taal van die onderdrukker was;

* Die behoud van Afrikaans nie regtig so belangrik is soos die baie groter probleme in die land nie;

* Hulle nie vir moedertaalonderrig buite Afrikaans moet opkom nie, omdat dit siniese opportunisme is;

* Afrikaans nie “vyande” het nie, omdat . . . (hy sê nie regtig nie);

* Afrikaans se dilemma (hy erken dit darem!) nié is dat dit deel van die totale aanslag teen wit mense is nie;

* Hulle sy goeie bedoelings moet aanvaar, ten spyte daarvan dat hy (volgens sy eie erkenning) verantwoordelik was dat Tukkies Afrikaans as onderrigtaal basies afgeskaf het; en

* Hulle Afrikaans moet praat, skryf en sing, “met blye plesier”, en Afrikaans se gehalte in TV-programme, musiek en digkuns moet bevorder.

Nou ja, ’n mens kan maar net sug. Ek het lanklaas in ’n artikel oor Afrikaans in Afrikaans soveel neerbuigende verwaandheid beleef. Die kruks van die boodskap is: “Julle arme Afrikaanssprekendes, wat so behep is om jul moedertaal te behou, laat die afgetrede konstitusionele regter nou vir julle verduidelik dat julle maar net moet sing en praat en vriendelik wees, dan sal alles regkom en reg bly. En as dit nou nie so gebeur nie, onthou net dat daar baie belangriker dinge in die lewe is.”

Waar gaan Afrikaanse akteurs opgelei word as universiteite “dekolonialiseer” en Afrikaans as gevolg van sy historiese rol verban?

Hierby is daar ’n uiters oppervlakkige ontleding, wat uit onkunde of ongeërgdheid oor die rol en waarde van taal spreek. Dis een ding om as een van die gebooie voor stel dat Koos du Plessis die Hertzogprys moet kry. Waar, het die professor gedink, moet die jong Koos du Plessis’s en die nuwe Van Wyk Louws (aan wie hy met heimweë dink) vandaan kom as hy en ander Afrikaans as universiteitstaal nek omgedraai het? Waar gaan Afrikaanse akteurs opgelei word as universiteite “dekolonialiseer” en Afrikaans as gevolg van sy historiese rol verban?

Anders as Van der Westhuizen, maak Mabote nie aanspraak op ’n akademiese en intellektuele aanslag nie. Dis bloot sosiale kommentaar, deurspek met veralgemenings, minder as halwe waarhede en ongetoetste voorveronderstellings. Maar daar is ook ’n paar belangrike sake wat na vore kom. Hy skryf as ’n swart pa wat na sy seun se rugbywedstryd teen Helpmekaar gaan kyk het.

Sy basiese kritiek teen die eentalige Helpmekaar Kollege sluit in:

* Hy voel “jammer” vir die Helpmekaar-seuns. Hulle word in ’n kokon van Afrikanerdom beskerm teen die wêreld daarbuite, praat dieselfde taal, is almal wit en lyk almal amper dieselfde;

* Die wêreld ná Helpmekaar lyk baie anders, met universiteite en die werkplek getransformeer en beheers deur gelyke indiensneming. Selfs al word die Helpmekaar-leerlinge entrepreneurs, sal hulle saam met swart mense as kliënte en diensverskaffers moet werk.

* Ouers bewys hul kinders dus nie ’n guns as hulle hulle in ’n “vals en pretensieuse wêreld” grootmaak nie, en dit sal ’n geslag kweek wat in die buitewêreld “kwaad, gefrustreerd en bedreigd” gaan voel; en dit sal “onafwendbaar” lei tot woede en angs, wat op sy beurt omtrent altyd gevolg word deur massa-rasaanvalle, depressie en seldood (soos wat dikwels in die VSA gebeur);

* Samelewings (en skole) wat ras en taaleksklusiwiteit voorstaan, is meer geneig om nie van die “ander” te hou nie en hulle te wantrou, en Helpmekaar met sy raseksklusiwiteit is ’n voorbeeld hiervan;

* In antwoord op die logiese teenargument dat swart townshipskole meestal net uit een ras bestaan, is sy argument dat dit, anders as Helpmekaar se ouers se vrywillige keuse, dit die gevolg van apartheid is;

* Hy is jammer dat ons samelewing moedertaalonderrig verloor, maar “ons weet” dat skole soos Helpmekaar meer oor wit Afrikaners as oor Afrikaans gaan; en

* Al het ons as ouers ’n plig om ons kinders teen boelies, geweld, honger en nood, vrees en vooroordeel te beskerm, het ons ook ’n plig om hulle nie teen die werklike wêreld te skerm nie, en nie ons “perverte en bevoordeelde lewens deur hulle te laat voortleef nie”.

Nou ja, ’n mens kan ewe-eens net sug. Die neerbuigendheid en rassevooroordeel loop dik in die artikel. Helpmekaar is wel ’n Afrikaanse privaatskool (in ooreenstemming met die Grondwet), maar het nie net wit leerlinge nie. Hoe kan Mabote sê dat “ons weet” dat dit vir die skool se ouers en onderwysers eintlik oor witheid gaan? Sy beginselstandpunt oor diversiteit kan aanvaar word, maar om townshipskole se eenrassigheid te verskoon as apartheid se skuld, is darem te maklik.

Daar is gewoon nie genoeg wit Afrikaanse leerlinge in hierdie land om alle skole divers te maak nie. En sy standpunt hou nie steek as daar na enkeltalige en enkelrassige skole in die res van die wêreld gekyk word nie.

Van der Westhuizen en Mabote verwerp uiteindelik albei moedertaalonderrig, ook in Afrikaans, maar om verskillende redes.

Van der Westhuizen se punt dat Afrikaans gevier moet word, is goed en reg. Maar vir ’n minderheidstaal in ’n meerderheidsomgewing is dit nie eerlik nie en nie naastenby genoeg nie. As Afrikaanse onderwys nie meer bestaan nie, is dit verby met die hoë funksies van Afrikaans (prosa, poësie, goeie komposisies en sang). En die domino-effek van geen universiteite wat nie meer in Afrikaans klas gee nie, sal vinnig ’n uitwerking op Afrikaanse hoërskole hê, waar ouers tereg kan vra hoekom Afrikaans op hoërskool as daar geen Afrikaans op universiteit is nie? En uiteindelik sal dieselfde met Afrikaanse laerskole gebeur. En dus geen nuwe Van Wyk Louws in Van der Westhuizen se huis nie. Of sal hy dit nie regtig mis nie?

Mabote se standpunt dat in skole waar geen diversiteit is nie ’n optimale opvoedkundige ervaring nie moontlik is nie, moet ook aanvaar word. Maar om die gebrek aan diversiteit gelyk te stel aan woede, angs, rasse-aanvalle en selfmoord deur sulke leerlinge is verregaande.

Van der Westhuizen en Mabote verwerp uiteindelik albei moedertaalonderrig, ook in Afrikaans, maar om verskillende redes. Al erken Mabote die morele reg daarvan, verwerp hy dit in effek omdat dit nie moontlik is in ander tale as Engels en Afrikaans nie, en omdat hy meen dat Afrikaanse skole waar die meerderheid leerlinge wit is, nie daardie reg verdien nie.

Van der Westhuizen erken in beginsel nie die reg op Afrikaanse moedertaalonderrig nie, omdat dit volgens hom deur die gelykheidsklousule (art 9) van die Grondwet getroef word, insigself diskriminerend is en te veel historiese bagasie het. Daarmee trek hy ’n streep deur art 29(2) van die Grondwet – asof die opstellers van die Grondwet nooit bedoel het daar só ’n klousule moes wees nie.

Afrikaanssprekendes moet Mabote se waarskuwings oor diversiteit ernstig neem. En ek is van mening dat by verre die meerderheid ouers dit inderdaad doen.

Van der Westhuizen se oppervlakkige ontleding en maklike “oplossings” as gebooie getooi, moet egter met die spreekwoordelike knippie sout geneem word.

Volg die meerderheid van daardie gebooie, en dit kom neer op ’n verbreking van die 1994/1996-ooreenkoms wat neerslag in die Grondwet gevind het. Volg daardie gebooie en Afrikaanse onderwys en Afrikaanse kinders sal die slagoffers wees – met noodlottige gevolge vir die moedertaal van miljoene Suid-Afrikaners. Maar onderwys in die algemeen sal armer wees, juis omdat prestasie en moedertaalonderrig so nou gekoppel is.

Wat ons wel in Afrikaanse privaat- en openbare skole en universiteite nodig het, is genoegsame diversiteit om die opvoedkundige ervaring optimaal te maak. Daaraan moet Afrikaanse skole bly werk.

Tweedens moet daar ook ’n doelgerigte verbintenis wees om Afrikaans as onderrigtaal te beskerm en uit te bou. Dit moet uitgeoefen word tot voordeel van al sy sprekers, wit, bruin en swart, maar uiteindelik, met die bewese suksesse van moedertaalonderrig, ook tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Dit moet die enigste twee gebooie wees.

* Dr. Eloff is die uitvoerende direkteur van die F.W. de Klerk-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.