Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Theuns Eloff: Dít is wat jy van 2020 kan verwag

Daar is breedweg vyf neigings wat gedurende 2019 na vore gekom het, en wat die politieke en maatskaplik-ekonomiese landskap in 2020 beduidend gaan beïnvloed, skryf Theuns Eloff.

Konsepwetgewing oor onteiening sonder vergoeding is onder meer op die nippertjie voor die Desembervakansie deur die ANC-beheerde parlement deurgedruk. Foto: Charles Smith

Aan die begin van ’n nuwe jaar besin ons almal oor die jaar wat voorlê, wat ons wil doen, waaroor ons opgewonde is en waarvoor ons bang is.

Wat van die land – die politiek, die ekonomie en ons maatskaplike lewe? Dit is onmoontlik om voorspellings te maak, maar ’n mens kan wel sekere neigings beskryf wat gepaard gaan met sekere gebeurtenisse en hul moontlike gevolge.

Daar is breedweg vyf neigings wat gedurende 2019 na vore gekom het, en wat die politieke en maatskaplik-ekonomiese landskap in 2020 beduidend gaan beïnvloed – en wat ’n mens kan help om die jaar te verstaan en te hanteer.

Groter beheer oor landsake

Sommige kommentators, soos Max du Preez, meen dat pres. Cyril Ramaphosa se posisie in die ANC tans die swakste is sedert hy as president verkies is. Foto: Linda Longhurst

Die eerste is ’n groeiende neiging tot sentralisering en staatsbeheer (lees ANC-beheer) oor verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing. Daar is tans vier stukke konsepwetgewing (waarvan die meeste op die nippertjie voor die Desembervakansie deur die ANC-beheerde parlement deurgedruk is) wat een ding in gemeen het: Groter en/of absolute beheer oor belangrike landsake, wat nie noodwendig staatsbeheer nodig het of wat nie beheer behoort te word nie, omdat dit volgens grondwetlike voorskrifte in die private domein lê.

Die bekendste en oudste is die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak – ’n uitsonderlike inbreukmaking op private eiendomsreg.

Dit sal die grondwetlik gegronde openbare skoolstelsel in wese ’n staatskoolstelsel maak en die magte van ouerbeheerliggame tot amper nul afskaal.

Die tweede is die dreigende Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), waarvolgens die staat (en in effek die minister) beheer oor gesondheidsvoorsiening sal neem, tot die waarskynlike uitsluiting van private voorsiening en gevolglike verswakking van gesondheidsdienste in die algemeen.

Die derde is die wetsontwerp wat die provinsiale ministers en hoofde van onderwys effektief die reg sal gee om te besluit oor die taal van onderrig in enige skool, en die samesmelting van skole kan afdwing. Dit sal die grondwetlik gegronde openbare skoolstelsel in wese ’n staatskoolstelsel maak en die magte van ouerbeheerliggame tot amper nul afskaal.

Die vierde wetsontwerp gee die nasionale minister van sport die mag om (in sy eie woorde) sport te beheer. Dit word wel gedoen met die edele motivering om die talle sport-binnegevegte te probeer bekamp en te bestuur, maar dit beteken dat die staat beheer oor nog ’n aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing kry – en dit sluit selfs gimnasiums in.

Vier wetsontwerpe

Hierdie vier wetsontwerpe wil die staat (ANC) beheer oor aspekte van die samelewing gee wat ’n staat nie veronderstel is om te hê nie. Die gemeenskaplike onderliggende dryfveer is dié van rasse-transformasie – om alle deelname aan en beheer oor aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing in lyn met die 80-9-9-2-rasse-beginsel te kry. Dit is ligjare verwyder van die grondwetlike beginsel van nie-rassigheid. Dit is amper asof die ANC, namate hy beheer oor ander sake verloor (soos om die ekonomie te help groei, basiese dienste te lewer en wet en orde te hou), probeer om beheer oor ander skynbaar makliker dinge te kry. Hierdie neiging sal in 2020 groei en hou groot gevaar vir die gewone Suid-Afrikaner en veral minderheidsgroepe in.

Is korrupte politici se doppie geklink?

’n Tweede, meer positiewe, neiging is meer en beter ondersoeke, aanklagte en vervolgings deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke. Daar was teen die einde van 2019 reeds merkbaar meer aanklagte en vervolgings, en namate die NVG se kapasiteit toeneem (onder meer weens uitkontraktering), sal meer oortreders en oortreders met ’n hoër profiel in die howe verskyn. Onder diesulkes tel senior leiers van sowel die ANC as die EFF. Die direkteur van die NVG, adv. Shamila Batohi, het trouens belowe dat dit in Februarie sal begin.

Hart en siel van ANC se ideologie

Die direkteur van die NVG, adv. Shamila Batohi, het belowe dat meer hoëprofiel-oortreders vanaf Februarie vanjaar in die hof sal verskyn. Foto: Sarel van der Walt

Die derde neiging is nie ’n nuwe nie, en is trouens al jare aan die gang. Dit sal egter in 2020 nuwe hoogtes (of laagtes?) bereik. Dit is die geleidelike maar besliste wegkalwe van regeringsinstansies (veral staatsbeheerde ondernemings en plaaslike owerhede) se vermoë om te regeer, te bestuur, onderhoud te doen en basiese dienste te lewer.

Die mees onlangse voorbeeld is dié van Suid-Afrika se eens trotse regsprekende hoofstad, Bloemfontein, wat die eerste metro is wat onder die administrasie van ’n ewe wankelrige provinsiale regering geplaas is. Hierdie neiging word dikwels aan ’n “gebrek aan kapasiteit” toegeskryf. Wat egter nie deur enige regeringswoordvoerder wat hierdie gebrek wil verklaar, genoem word nie, is dat dit direk deur rasse-transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) veroorsaak is. Dit word vererger deur kaderontplooiing en ’n kultuur van toe-eiening.

Die enigste stukkie goeie nuus is die presedent van sakeredding waaronder die SAL nou is, en die moontlikhede wat dit vir ander staatsondernemings oopmaak.

Om dít egter te erken, is om aan die hart en siel van die ANC se ideologie te vat – en dit kan nie gebeur nie. Rasse-transformasie is belangriker as die belange van gewone en selfs arm Suid-Afrikaners. Ingeligte bronne in Eskom wys byvoorbeeld daarop dat die bose kringloop wat in hierdie eens trotse organisasie met regstellende aksie en SEB begin is en deur kaderontplooiing vererger is, nog steeds in volle gang is.

Mense wat op dié manier aangestel is, sal immers nie maklik die wyk neem nie. Dit gaan die redding van Eskom nie makliker maak nie. Die enigste stukkie goeie nuus is die presedent van sakeredding waaronder die SAL nou is, en die moontlikhede wat dit vir ander staatsondernemings oopmaak.

Ramaphosa en die binnegevegte

Ingeligte bronne in Eskom wys volgens Eloff daarop dat die bose kringloop wat in hierdie organisasie met regstellende aksie en SEB begin is en deur kaderontplooiing vererger is, steeds in volle gang is. Foto: Foto24

Die vierde neiging is die voortdurende binnegevegte in die ANC en sy alliansie-vennote. Ook dit is nie nuut nie, en woed al vandat Cyril Ramaphosa in Desember 2017 as president van die ANC verkies is, en het verhewig sedert hy in vroeg 2018 as president van die land verkies is. Maar dit het veral verhewig namate die openbarings en vervolgings oor staatskaping en korrupsie begin toeneem het, en ook toe dit duidelik geword het dat nuwe ekonomiese beleidsriglyne dringend vir die kwynende ekonomie nodig is.

Dit sluit die planne in om Eskom en ander staatsondernemings te probeer red. Hierdie binnegevegte het ’n invloed op Ramaphosa se magsposisie binne en buite die party en kan tot pogings lei om hom uit die kussings te probeer lig.

Dit beïnvloed veral toekomstige ekonomiese beleid en die reddingspogings van die staatsondernemings. Sommige kommentatore, soos Max du Preez, meen selfs dat Ramaphosa se posisie in die ANC tans die swakste is sedert hy as president verkies is.

Die tyd sal leer of dit waar is, maar hierdie neiging sal in 2020 baie sake vir die Ramaphosa-regering bemoeilik. As die president iets blywend wil verander, sal hy die gesindheid van “ke pele” (“ek eerste”) in die staatsdiens moet verander na die eertydse “batho pele” (“die mense eerste”). Daarvoor het hy egter die steun van die meerderheid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en koukuslede nodig. Die binnegevegte maak dit baie moeilik.

Rommelstatus?

Die meeste kommentators is dit eens dat ’n verdere afgradering deur Moody’s aan die einde van Februarie Suid-Afrika se voorland is. Hopelik kan Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede ’n haas uit die hoed pluk, maar dit is onwaarskynlik. Foto: Masi Losi

Die vyfde neiging, wat ook nie nuut is nie, is die stagnante ekonomie. Die hoop dat die ekonomie in 2020 sou kop oplig, is reeds verydel met die swak ekonomiese groei in die derde kwartaal van 2019.

Maar die groter probleme is te wyte aan ’n gebrek aan beleidsekerheid, gebrek aan sterker optrede om staatsondernemings se las op die fiskus te verlig en ’n gebrek aan maatreëls om vertroue by sakeleiers in te boesem en dit makliker vir klein en mediumondernemings te maak om sake te doen.

Die meeste kommentators is dit eens dat ’n verdere afgradering deur Moody’s aan die einde van Februarie Suid-Afrika se voorland is. Rommelstatus sal dit selfs moeiliker maak om die ekonomie te laat herstel. Hopelik kan Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede ’n haas uit die hoed pluk, maar dit is onwaarskynlik. Nog ’n jaar van gordels stywer trek, staar Suid-Afrikaners in die gesig.

Gewone mense kan verskil maak

Theuns Eloff

Die belangrike gebeurtenisse vroeg in die jaar waarin hierdie neigings bevestig, verander of aangepas kan word, is eerstens die ANC se jaarlikse 8 Januarie-byeenkoms en -verklaring – wat vanjaar op 11 Januarie plaasvind. Daarna vind Ramaphosa se staatsrede op 13 Februarie plaas, met Mboweni se begrotingstoespraak aan die einde van Februarie.

Die bogenoemde prentjie is allermins rooskleurig, maar onteenseglik deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid aan die begin van die derde dekade van die 21ste eeu. Die goeie nuus is dat gewone mense en leiers hierdie neigings kan gebruik om ons onmiddellike omgewing te verstaan, en daarvoor te beplan.

Gewoonlik is geen jaar in Suid-Afrika vervelig nie.

Die uitkomste van hierdie neigings is allermins ’n voldonge feit. Ons kán daaraan verander. Of dit nou hofsake is om ons skoolstelsel te beskerm, of dit maatskappye is wat goed doen ten spyte van remmende omstandighede en regulasies en of dit gewone mense is wat hulle nie aan ’n regering steur wat alles wil beheer nie en net hul gewone gang gaan en hul werk doen. Gewoonlik is geen jaar in Suid-Afrika vervelig nie. 2020 is geen uitsondering nie.

* Dr. Eloff is voorsitter van die adviesraad van die F.W. de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.