Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Theuns Eloff: Geweld is nooit ’n opsie nie

In die stormagtige vaarwaters van vandag se Suid-Afrika is dit polities gewoon dom om as Afrikaners (en Christene) die morele gesagsposisie te verloor en soos die EFF op te tree, skryf Theuns Eloff.

’n Polisievangwa wat aan die brand gesteek is toe boere in Senekal teen plaasmoorde betoog het. Foto: Mlungisi Louw

Die gebeure by Senekal het die afgelope week opslae gemaak. Die feite is reeds goed bekend.

Moeg en “gatvol” vir plaasmoorde en misdaad (veral veediefstal in hul omgewing) het honderde boere en ander ondersteuners in Senekal opgedaag waar die twee gearresteerdes vir die moord op Brendin Horner die eerste keer in die hof sou verskyn.

Daar is gepraat, gebid en protes teen plaasmoorde aangeteken. Daar was selfs ’n paar swart (en Afrikaansmagtige) protesteerders. Die meerderheid van die groep het ná ’n tyd die dorp verlaat en huis toe gegaan.

’n Klein groepie (ooggetuies meen omtrent 30) het gebly en na aanleiding van die beweerde opruiende toespraak van André Pienaar (’n gewese boer en nou ’n sakeman) nader aan die hof beweeg, waar hulle volgens TV-materiaal in ’n woordewisseling met ’n vroulike lid van die SAPD was en geëis het dat die beskuldigdes uitgebring moet word, sodat “ons hulle kan sien”.

Watter riglyne kan ’n mens uit die Bybel kry?

Dit is nog nie duidelik wanneer die skote (waarskynlik deur ’n lid van die SAPD) afgevuur is en wanneer presies die polisievoertuig op sy sy gekeer en aan die brand gesteek is nie.

Dit is ook nie duidelik wie presies die voertuig aan die brand gesteek het nie. Daar is wel beeldmateriaal wat wys dat ’n groepie boere ’n Nyala-voertuig weg van die hof stoot.

By Senekal – en by ander byeenkomste van Afrikaanssprekendes – is en word daar gebid en God se leiding en beskerming gevra. Die deelnemers het hulleself as gelowiges beskou en merendeels ook so probeer optree. Hoe moet Christen-Afrikaners dan hierdie saak en sy verdere verloop beoordeel? Dit is nie ’n maklike vraag om te antwoord nie, omdat daar baie emosie betrokke is, veral nadat die balhorige EFF en sy leier besluit het om ook tot die woordestryd en moontlike fisieke konfrontasie toe te tree.

Daarby is daar aanduidings dat daar (wit) aanhitsers (met maskers aan) in die skare was, wat die wyk geneem het toe dinge gewelddadig geraak het.

Watter riglyne kan ’n mens uit die Bybel kry? As oud-etikus en iemand wat sy M- en D-grade oor hierdie saak gedoen het, deel ek graag ’n paar insigte wat dalk in 2020 nuttig kan wees.

Wanneer jy God meer gehoorsaam moet wees

Groepe wat boere ondersteun, het Vrydag in Senekal betoog. Foto: Mlungisi Louw

In Romeine 13 kry die gelowige die opdrag om aan die “owerhede onderdanig” te wees, omdat hulle dienaars van God is, tot die gelowiges se beswil. Die woord wat as “onderdanig” vertaal word, is letterlik in die Grieks ’n woord wat “onder die orde stel” beteken.

Alle ordelike gesag word deur God daargestel en is in sy diens; daarom moet gelowiges hulle gewillig en vrywillig onder die orde van daardie gesag stel. Dit beteken nie slaafse onderhorigheid nie, maar moet tot uiting kom in goeie werke – soos liefde aan medemense, respek en eer vir dié in gesagsposisies en die betaal van belasting.

Die owerheid as “dienaar van God” moet God se opdragte uitvoer, maar dit is nie die gelowige se taak om die owerheid gewelddadig teen te gaan as dit nie gebeur nie – dan sal die owerheid sy Godgegewe swaardmag uitoefen.

In die brief aan Titus (3:1-2) skryf Paulus aan die dominee van die gemeente in Kreta. Hulle was onder die heidense Romeinse juk en was opstandig daaroor.

Paulus herinner hulle om hulleself onder die gesag van die owerhede te stel, om gehoorsaam te wees en om bereid te wees om alles te doen wat goed is – vrywillig en oortuigd, omdat die owerheid God se dienaar is.

Twee maal sê die apostels 'nee, ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense' (insluitende die owerheid).

Om jou onder die gesag van die owerheid te stel, is dus ’n geloofsdaad.

Die opdrag om jou onder die gesag van die owerheid te stel, is egter nie absoluut nie. Uit Handelinge 4:19 en 5:29 is dit duidelik dat, ten spyte van daardie algemene voorskrif, gelowiges meerdere gehoorsaamheid aan God verskuldig is.

Die Joodse Raad (’n burgerlike owerheid vir die Joodse bevolking) gee aan Petrus en die apostels opdrag om nie meer oor Jesus te praat en in sy naam goeie werke te doen nie.

Twee maal sê die apostels “nee, ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense” (insluitende die owerheid). Om God meer gehoorsaam te wees as die owerheid is in drie gevalle van toepassing: as die owerheid gelowiges verbied om God as Here te erken en te aanbid, as die owerheid ’n verbod plaas om die evangelie van Christus te verkondig en daaroor te praat, en as die owerheid gelowiges verbied om die evangelie te doen en uit te leef.

’n Goeie voorbeeld van die laaste geval was onlangs toe die owerheid ’n verbod op die verspreiding van kospakkies geplaas het. Hulle het van gelowiges geëis om iets te doen wat duidelik teen die Bybelse opdrag van “goeddoen” is. In só ’n geval is Christene verplig om “God meer gehoorsaam te wees as die mense”.

En dit het talle dan ook gedoen en net voortgegaan om kos aan mense in nood te voorsien.

Geweld kan nooit ‘goeie werke’ wees nie

Groepe wat boere ondersteun en EFF-lede Vrydag in Senekal. Foto: Mlungisi Louw

Prof. Johan Heyns het al in 1977 geskryf: “elke totalitêre eis van die staat moet afgewys en tot martelaarskap weerstaan word”.

Uit Petrus se woorde en die konteks is dit duidelik dat die meerdere gehoorsaamheid aan God in wese nie gewelddadig kan wees nie en ook nie so uitgevoer moet word nie.

Dan voldoen dit nie aan die opdrag tot goeie geloofswerke nie.

Mahatma Gandhi en Martin Luther King het in hierdie verband die verskynsel van “burgerlike ongehoorsaamheid” (ook genoem “lydelike verset”) beklemtoon. In vandag se tye is stakings en protesoptogte voorbeelde hiervan.

Maar ’n mens moet versigtig wees, omdat sulke optrede dikwels wel geweld tot gevolg het, al was dit nie so bedoel of beplan nie.

Maar dit is ook baie duidelik dat daar in die reformatoriese etiek nie plek is vir geweld as ’n reaksie op selfs onregverdige owerhede se optrede nie.

Dit is wat waarskynlik ook met die organiseerders van die Senekal-protes gebeur het. ’n Klein groepie het hul oogmerk van ’n vreedsame protes gekaap en dit het tot geweld gelei.

Om ’n polisievangwa (wat gebruik is om vermeende misdadigers na die hof te vervoer) om te gooi en na bewering aan die brand te steek en om die hofgebou waar die gearresteerdes verhoor word, te beskadig, kwalifiseer nie as meerdere gehoorsaamheid aan God nie, omdat geweld nooit “goeie werke” kan wees nie.

Opsommend: Waar die omstandighede dit vereis, moet gelowiges, ten spyte van die opdrag om hulle onder die gesagsorde van die owerheid te stel, meer gehoorsaam wees aan God as aan die owerhede.

Maar dit is ook baie duidelik dat daar in die reformatoriese etiek nie plek is vir geweld as ’n reaksie op selfs onregverdige owerhede se optrede nie.

Daar is nog ’n rede waarom gewelddadige reaksie op selfs legitieme ontevredenheid nie wys of aanvaarbaar is nie.

In die stormagtige vaarwaters van vandag se Suid-Afrika is dit polities gewoon dom om as Afrikaners (en Christene) die morele gesagsposisie te verloor en soos die EFF op te tree.

Dit bereik polities niks nie (behalwe inhegtenisneming en moontlike gevangenisstraf), dit beeld alle Afrikaner-Christene as geweldenaars en boos uit, en dit polariseer ’n samelewing wat volgens rasselyne reeds hoogs gepolariseerd is, nog verder.

En dit gee die EFF net ’n goeie verskoning om verder haat en polarisasie aan te blaas.

Wat is die verskil tusen Senekal en ANC se stryd?

EFF-lede met hokkie- en gholfstokke in Senekal. Foto: Mlungisi Louw

Baie mense vra wat dan die verskil is tussen die geweld van Senekal (en ander gevalle soos die EFF se Clicks-plundery) en die ANC se gewapende stryd teen die apartheidsregering?

Die grootste verskil is dat in die ou Suid-Afrika daar nie ’n volle demokratiese bestel met ’n grondwet was nie – daar is trouens op groot skaal op grond van mense se ras gediskrimineer.

Daarby is die legitimiteit van die apartheidstaat internasionaal nie aanvaar nie, en die ANC kon aanvoer dat hulle oor dekades die vreedsame opsie probeer het, maar nooit werklik gehoor is en dat niks aan hul klagtes gedoen is nie.

Ek onthou dat aan die einde van die Dakar-konferensie in 1987, die Afrikaanse afvaardiging ooreengekom het dat hulle die historiese redes vir die ANC se gewapende stryd verstaan, maar dat hulle gewapende geweld op morele gronde verwerp.

Daar is dus geen regstegniese en polities-legitieme rede om in vandag se Suid-Afrika enige vorm van geweld te gebruik om politieke of sosiale oogmerke te probeer bereik nie.

Vandag het ons wel ’n volle demokratiese bestel met ’n Grondwet waarin die oppergesag van die reg gewaarborg is. Natuurlik is die uitvoerende gesag (lees: die regering) nie die beste nie en staatsverval kom op baie vlakke voor, en veral op plaaslike vlak (ook in die SAPD).

Maar die regsprekende gesag is, met die uitsondering van sake oor rassetransformasie, nog getrou aan sy grondwetlike opdrag.

Daar is dus geen regstegniese en polities-legitieme rede om in vandag se Suid-Afrika enige vorm van geweld te gebruik om politieke of sosiale oogmerke te probeer bereik nie.

En as ’n mens dit wel doen, behoort jy met die volle gesag van die gereg te doen te kry. Dat hierdie gesag nie oral gelyk en eweredig toegepas word nie (hoeveel EFF-lede is aangekla vir die onlangse plundery van Clicks-winkels?), is waar, maar dit gee niemand die morele reg om met geweld op te tree nie.

En dit sal ook nie in ’n hof as verskoning geld vir my gewelddadige optrede nie.

Mense wat bid in Senekal se strate. Foto: Mlungisi Louw

Dit is gemene saak dat ons land reeds baie op grond van ras gepolariseer is, en dat ons dalk op die rand van grootskaalse rassekonflik kan staan.

’n Enkele voorval van grootskaalse rassegeweld kan ’n kruitvat laat ontplof. Daarom is dit nodig dat Christene, Afrikaners en alle Suid-Afrikaners koelkop en nugter bly. Geweld is nooit vir ’n Christen ’n opsie nie en ons mag nie toelaat dat ’n deel van ons mense tot geweld aangehits word met vae beloftes dat “ons sal wen” of “ons moet wraak neem” nie.

Daar is geen oplossings in geweld nie, en deur geweld kom net meer probleme.

Ons moet seker maak dat ons as Christene en Afrikaners beginselvas optree, en konsekwent is in die toepassing en uitleef van ons Christelike beginsels.

Om op grond van ras te polariseer, skaad ook die eenheid wat daar tussen Christene van verskillende taalgroepe en rasse bestaan. Ons opdrag is om seker maak dat ons bly goed doen en om onreg (ook deur die owerheid) op nie-gewelddadige maniere uit te wys en teen te staan. Dan het ons en ons mooi land ’n kans . . .

Theuns Eloff

Naskrif: Sedert hierdie artikel geskryf is, het berigte oor wat Vrydag die 16e Oktober op en buite Senekal gebeur het, verskyn.

Daar was wel konfrontasie tussen die EFF en een (kleinerige) groep boere, maar daar was gelukkig geen geweld tussen hulle nie. Die EFF het wel met geweld in die dorp opgetree en vullisdromme, padtekens en winkels beskadig.

Hulle het, met hulle groter getalle, ook die boere probeer uitlok. Die twee groter saamtrekke was buite die dorp op die plaas Biddulphsberg en in die dorp op ’n stuk omheinde grond (AfriForum). Albei hierdie byeenkomste het vreedsaam verloop, met gebede en toesprake.

Dit strek die Afrikaners-Christene tot eer dat geweld nie as opsie gekies is nie, maar eerder verootmoediging en versoening.

Dit was ook belangrik dat daar by die byeenkomste ook swart verteenwoordigers van die South African National Civics Organisation (Sanco) en die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) was wat hulle teen plaasmoorde en geweld uitgespreek het.

Dit gee ’n mens hoop vir ons land en die landboubedryf.

* Dr. Theuns Eloff is ’n onafhanklike kommentator en oud-predikant. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Anc  |  Sanco  |  Eff  |  Theuns Eloff  |  Martin Luther King  |  Mahatma Gandhi  |  Senekal  |  Christene  |  Boere  |  Geweld  |  Plaasmoorde  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.