Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Theuns Eloff: Onrus – Dis genoeg, sê mense van SA

As daar een ding is wat die afgelope week se onrus ons geleer het, is dit dat gewone Suid-Afrikaners kan saamstaan en saamwerk, skryf Theuns Eloff.

Vrywilligers besig met opruimingswerk by die Protea Glen-winkelsentrum. Foto: Moonflare Production

Daar is die afgelope week deur talle kommentators baie ontledings gedoen en oorsake gesoek vir dit wat die laaste tyd in Suid-Afrika gebeur het.

Hieruit is dit duidelik dat daar nie slegs een enkele rede is nie, maar baie. Daar kan direkte redes, maar ook oorsake op langer termyn, onderskei word. Baie lesse is geleer en dit is belangrik om te vra wat nou gedoen moet word.

Baie ontledings gebruik die woorde “oproer en protes” om te beskryf wat gebeur het. Dit is egter nou duidelik dat daar aktiewe aanhitsing tot ekonomiese opstand was, en dat dit gepaardgegaan het met openbare geweld, verwoesting en plundering.

Wat vasstaan, is dat dit nie geregverdig kan word nie – nie deur ontevredenheid oor oudpres. Jacob Zuma se tronkstraf nie, nie weens armoede, ongelykheid en werkloosheid nie; en ook nie deur die plunderaars as slagoffers of pionne voor te stel nie. Elkeen wat geplunder het, het ’n wilsbesluit geneem om na die winkel te loop of te ry, skade aan te rig en artikels te steel. Dit kan op geen manier geregverdig of goedgepraat word nie.

Wat is die direkte redes vir wat gebeur het?

Polisiebeamptes probeer die vrede in Phoenix buite Durban bewaar. Foto: AP

Ontevredenheid met Zuma se tronkstraf het daartoe gelei dat ’n groep mense agter die skerms sy ondersteuners tot geweld begin aanhits het, in so ’n mate dat teikens op sosiale media uitgesonder en uitgewys is.

Die doel hiervan was ekonomiese sabotasie om die regering van pres. Cyril Ramaphosa op die minste in ’n ernstige verleentheid te stel en op die meeste te laat boedel oorgee.

Van die teikens (verbind met “witmonopolie-kapitaal”) is aan die brand gesteek, dan is vensters en deure gebreek en uitnodigings om te kom vat wat jy wil, is via sosiale media uitgestuur. ’n Kettingreaksie van sinlose verwoesting en plundery het gevolg.

Ander, meer strategiese teikens, is deur kleiner (waarskynlik beter georganiseerde) groepe aangeval, insluitende selfoontorings, elektriese substasies, wateraanlegte, vulstasies, die Durbanse hawe en die lewensbelangrike N3- ekonomiese toevoerroete.

Daar was ook middelklas-opportuniste en waarskynlik selfs lede van misdaadsindikate wat met luukse motors en bakkies opgedaag het om plundergoedere op te laai.

Onder dié wat opgedaag het om te plunder, tel verskillende groepe. Daar was armer mense, maar as ’n mens na die kleredrag van die plunderaars op TV gekyk het, was dit nie die “armstes van die armes” (soos wat sommiges ons wil laat glo) nie.

Daar was ook middelklas-opportuniste en waarskynlik selfs lede van misdaadsindikate wat met luukse motors en bakkies opgedaag het om plundergoedere op te laai. Terloops, dit was duidelik dat daar in sekere TV-grepe ook ’n klompie gemaskerde wit bene uit die winkels gekom het. En die linkses wat wil voorgee dat hierdie bloot ’n reaksie van die brandarmes op hul honger is, het gerieflikheidshalwe vergeet dat minstens 40% van die winkels wat geplunder is, luukse goedere verkoop.

Die bekende TV-beeld van ’n goed geklede man wat ’n allemintige TV-skerm nie in sy motor kon kry nie, is tekenend van ’n groot deel van die plunderaars.

Dit was nie net ontgogelde jong mense wat geplunder en verwoes het nie. En alhoewel ’n paar op navrae ontevredenheid met Zuma se tronkstraf geopper het, was die plundering vir die meeste nie ’n politieke gebaar nie.

Wat is dan die werklike oorsake vir die grootskaalse plundering en verwoesting van eiendom?

’n Pakhuis in Durban wat aan die brand gesteek is. Foto: Reuters

Die ANC se ideologiese beleide van rassetransformasie en regstellende aksie (volgens die formule 80-9-9-2), asook swart ekonomiese bemagtiging, het oor die afgelope twee dekades gelei tot ’n kultuur van toeëiening onder ’n groot deel van die swart bevolking.

Ander beleide het tot ’n kultuur van staatsafhanklikheid gelei – in terme van maatskaplike toelaes, gratis behuising, gratis water, gratis elektrisiteit en eersdaags gratis gesondheidsdienste.

Daarmee saam het die #FeesMustFall- en #BlackLivesMatter-veldtog ’n kultuur van slagofferskap onder sommige Suid-Afrikaners gevestig. Toe die staat (mede as gevolg van die Covid-19-pandemie) nie meer al die gratis dinge kon voorsien nie, het plunderaars dit as ’n rede gesien om hulself daaraan te help. Toeëiening, staatsafhanklikheid en slagofferskap was ’n groot oorsaak vir die plundering.

Tweedens, die mislukking van die basiese onderwysstelsel het ook ’n rol gespeel. Dit is ’n faktor in die hoë werkloosheidsyfer, maar het veral in ’n groot mate tot ekonomiese onkunde gelei. Die plunderaars het geen benul wat hul optrede in ekonomiese terme gaan kos nie. In kleiner dorpies in KwaZulu-Natal is die hele ekonomiese voedsel-en-waardeketting vernietig. Voedsel- en brandstoftekorte gaan nog groter skade en lyding veroorsaak – en dit merendeels in die swart gemeenskap. Een (nou) berugte plunderaar het oop en bloot op nasionale televisie gesê dat hy “nog nooit so vry gevoel het nie” en dat die plundering aanvaarbaar is omdat “niemand seergekry het nie”.

Hierdeur het hy nie net sy eie gebrek aan moraliteit ten toon gestel nie, maar ook sy ekonomiese onkunde – baie mense het seergekry, en sommige is selfs in stormlope dood.

Van onkunde gepraat: ’n Boodskap op sosiale media waarvan die waarheid nie vasgestel kon word nie, het gelui dat die enigste winkel in ’n sekere sentrum wat nié geplunder is nie, Exclusive Books was . . .

Die ANC self het lankal sy eie morele kompas verloor – en sukkel om dit (hoofsaaklik deur die geveg teen korrupsie) te probeer herstel.

’n Derde faktor wat ons in die gesig staar, is die gebrek aan moraliteit by ’n groot deel van ons bevolking. Deel hiervan is die gebrek aan respek vir die reg en geregsdienaars.

Van ons mense doen nie iets omdat dit die “regte ding is om te doen nie”. Die ANC self het lankal sy eie morele kompas verloor – en sukkel om dit (hoofsaaklik deur die geveg teen korrupsie) te probeer herstel.

Maar die endemiese vlakke van korrupsie in en om die hele staatsdiens bewys dat daardie poging nog ver van suksesvol is.

Dat selfs ’n tak van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens, apteke en hospitale geplunder is (eersgenoemde op TV nogal terwyl die president die nasie toegespreek het), wys die totale gebrek aan moraliteit in die plunderaars se optrede.

Wat kon ons leer?

’n Polisieman sit plunderaars agterna in Soweto. Foto: AP

Die gebrek aan staatskapasiteit was weer baie duidelik. Van die gebrek aan skynbaar enige intelligensie oor wat kom, tot ’n totale gebrek aan strategiese en voorkomende optrede deur die SAPD, tot die aanvanklik lagwekkend klein groep SANW-lede wat ontplooi is, was dit duidelik dat die staat nie meer sy burgers teen anargie kan beskerm nie – ten minste nie betyds nie.

Dit was vir gewone Suid-Afrikaanse TV-kykers onverklaarbaar dat die polisie nie plunderaars in hegtenis neem nie. Die videogreep van ’n polisieman wat sukkel om sy vangwa oop te sluit en toelaat dat twee verdagtes rustig wegdraf, was trouens simbolies van die onkapabele optrede van die oorweldigde SAPD.

Selfs ons regeringsleiers het nie goed oorgekom nie. Ministers wat van mekaar verskil oor wat die oorsake is en wat gedoen moet word, het nie die publiek vertroue gegee dat daar ’n plan is nie.

Een minister het selfs sover gegaan as om regse ekstremisme vir die ekonomiese sabotasie te blameer. Die ander mistasting was dat dit suiwer etniese mobilisasie was, ’n duidelike klap na “100% Zulu Boy” Zuma.

Maar dit was vir almal duidelik dat, alhoewel die aanhitsing in KwaZulu-Natal die suksesvolste was, die veldtog nie Zoeloes wou mobiliseer nie, maar die ekonomie wou lamlê sodat die regering Zuma sou vrylaat.

Ná ’n aanvanklik huiwerige begin het Ramaphosa later sterker en meer konstruktief oorgekom, maar hoe hy ’n land met sulke ministers gaan red, is ’n goeie vraag. Hopelik het die regering ook geleer hoe kwesbaar die land se strategiese voedsel- en brandstofketting is en sal dit in die toekoms beter beskerm word.

Dit is bemoedigend dat die SAPD en die SANW die oophou en beveiliging van die N3 as ’n strategiese prioriteit sien – daarsonder word sowel KwaZulu-Natal as die noordelike provinsies swaar getref.

Miskien selfs positiewer, is die reaksie van gemeenskappe – weer oor rasse- en klassegrense heen – om saam die gevolge van die verwoesting te begin opruim.

Die een positiewe les wat geleer is, is dat Suid-Afrikaanse gemeenskappe in sulke tye kan en sal saamstaan teen anargie en radikalisme. Sekere gemeenskappe het selfs oor ras- en klassegrense heen ’n verenigde front teen voornemende plunderaars gevorm.

Die bekommernis dat die reg in eie hande geneem kan word, is werklik, maar die alternatief van niksdoen en sien hoe gemeenskappe se ekonomiese bestaan vernietig word, is ook nie aanvaarbaar nie.

Daarom het baie gemeenskappe waar dit kon, saam met die SAPD en deur gemeenskapspolisiëring-forums gewerk. Dit is op die oomblik die enigste lewensvatbare verdediging wat gemeenskappe teen plunderaars het.

Miskien selfs positiewer, is die reaksie van gemeenskappe – weer oor rasse- en klassegrense heen – om saam die gevolge van die verwoesting te begin opruim.

Talle van hierdie opruimoperasies het ’n geloofsondertoon gehad. Die baie videogrepe op sosiale media waarin mense saamwerk om strate en winkels skoon te maak, is ’n ryke bron van inspirasie.

In hierdie opsig het die aanhitsers van die geweld en plundering presies die teenoorgestelde bereik as wat hulle wou: In plaas van ’n verdeelde land wat mekaar aanval, is daar ’n verenigde front wat mekaar beskerm en die plunderaars se gemors opruim.

Dit is duidelik dat dit nog nie die einde van die aanhitsing tot openbare geweld en plundering is nie.

Die volgende dae en weke sal streng eise aan die regering, die SAPD en die SANW stel. In hierdie tyd sal dit al hoe belangriker word dat plaaslike gemeenskappe saamstaan om hul eie veiligheid te verseker – met die (al is dit skrale) samewerking van die SAPD.

AfriForum het in die verlede reeds bewys dat dit moontlik is.

Hierdie hele situasie het ook bewys dat die onsinnige nuwe wapenwet, waar selfverdediging nie meer ’n rede vir ’n wapenlisensie sal wees nie, doodgebore is. Geen hof sal teen die agtergrond van die openbare geweld en plundering die staat gelyk gee dat die SAPD Suid-Afrikaners genoegsaam kan beskerm nie.

Wat is nou nodig?

’n Winkel in Durban wat onder plunderaars deurgeloop het. Foto: AP

Al besef almal dat die Zuma-ondersteuners se optrede eintlik deel is van ’n interne ANC-geveg, raak dit die openbare grondwetlike orde en almal se lewensbestaan. Daarom moet die regering so gou moontlik weer “reg en orde” herstel.

Dit is interessant dat soos wat die gebeure ontvou het, baie leiers nie meer die polities korrekte “veiligheid en sekuriteit” gebruik het nie, maar die ou Suid-Afrika se terminologie van “reg en orde”.

Al is dit Christelik om te vergewe, moet elke oortreder in ’n regstaat die gevolge van sy dade dra.

Dit is verder nodig om misdaadintelligensie se vermoë te herstel. Dit gebeur al vir jare dat vragmotors by Harrismith of Mooirivier aan die brand gesteek word, met min of geen gevolge vir die brandstigters nie. Sulke onvermoë om op te tree, sal moet verander.

Om aan een van die grondredes vir die relatief suksesvolle aanhitsing aandag te gee, sal die Ramaphosa-program van werkskepping en ekonomiese herstel dringend versnel moet word. Maar die regering sal moet leer dat hy nie werk kan skep nie.

Hy moet ophou om alles te wil beheer en eerder die private sektor insentiewe gee om te belê, te produseer en daardeur werkgeleenthede te skep. Groot infrastruktuur-projekte, deur die regering geïnisieer, maar deur die private sektor gedryf, is ’n belangrike komponent hiervan.

Theuns Eloff

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het voorgestel dat die plunderaars amnestie kry – mits hulle die plundergoedere teruggee. Dit is wensdenkery en gevaarlik. Al is dit Christelik om te vergewe, moet elke oortreder in ’n regstaat die gevolge van sy dade dra.

As daar nie sigbaar gewys word dat plundery en verwoesting gevolge vir die oortreders het nie, word dit ’n bose kringloop.

Die ANC-regering het gesien dat minderhede bereid is om saam te staan met die swart meerderheid en oor rasse- en klassegrense heen te help. Hy kan dus gerus ophou om in onbesonne uitsprake en wetgewing minderhede (en veral Afrikaanssprekendes) te blameer, te teiken en te benadeel. Dit is nou tyd om die ideologie van rassetransformasie stop te sit.

Dit het ook bewys dat die meeste van die minderhede nie rassisties is nie.

Ten slotte moet gewone Suid-Afrikaners in die komende dae en weke koelkop bly en die groter prentjie bly raaksien. Die gemeenskapsbeveiliging en skoonmaakproses het gewys dat die meerderheid swart mense nie wil of sal plunder nie. Dit het ook bewys dat die meeste van die minderhede nie rassisties is nie.

Ons kan saamstaan en saamwerk. Ekself sal in die toekoms baie meer geduld met die toetende taxibestuurder langs my motor hê – vanweë hul ekonomiese insig en hul sterk en georganiseerde teenkanting teen die plunderaars!

• Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Weermag  |  Polisie  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Kwazulu-Natal  |  Plunder  |  Onderwys  |  Kzn-Herstel  |  Plunderaars  |  Korrupsie  |  Misdaadintelligensie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.