Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe lyk 'n ANC sonder Ace?

Wat sal die toekoms vir die ANC (en Suid-Afrika) inhou as Ace Magashule permanent of vir ’n lang tyd uit dié party geskors word? vra Theuns Eloff.

Ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa verlede maand op ’n byeenkoms voor ’n tussenverkiesing in Durban. Foto: Gallo Images

Soos wat verwag (en voorspel) is, het Ace Magashule geweier om vrywillig as die sekretaris-generaal van die ANC opsy te staan.

Dit het voorspelbaar tot sy onmiddellike skorsing gelei, maar nie voordat hy allerhande manewales probeer uithaal het nie. Sy “skorsing” van die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, moet een van die mees waagmoedige optredes van ’n betaalde amptenaar teen die president van die organisasie in die geskiedenis wees.

Die feit dat hy manhaftig meen dat hy die reg gehad het om dit te doen omdat dit “sy werk” is, en die feit dat hy geen mandaat van enige ANC-gesagsliggaam gehad het om dit te doen nie, spreek ten minste van onkunde oor die mees basiese regsprosedures en ten meeste van ’n totale gebrek aan insig en perspektief.

Die opsystaan-besluit is nie in stryd met die grondwetlike beginsel dat iemand onskuldig is totdat ’n hof hom/haar skuldig bevind nie.

Daarby snap hy nie dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se besluit om hom te skors vir sy versuim om vrywillig op sy te staan (omdat hy strafregtelik in ’n hof van korrupsie en wanbestuur van R 200 miljoen aangekla is) nie naastenby vergelykbaar is met die tot dusver onbewese beskuldigings dat die CR17-verkiesingsfonds misbruik is nie.

Magashule hou vol dat hy teen hierdie skorsing van die ANC geappelleer het, en dat die skorsing daarom nie in werking kan tree voordat die appèl aangehoor en verwerp is nie. Maar ook hier het Magashule die kat aan die stert beet.

Die opsystaan-besluit is nie gelyk aan tugoptrede en ’n skuldigbevinding nie – dit is die reg van ’n organisasie om sy eie naam te beskerm en diegene wat strafregtelik aangekla is van ’n beweerde misdaad, te vra om tydelik opsy te staan (ook om hul eie goeie naam te herstel).

Die feit dat hierdie opsy staan met volle betaling gepaardgaan, bewys die punt verder. Die opsystaan-besluit is dus nie in stryd met die grondwetlike beginsel dat iemand onskuldig is totdat ’n hof hom/haar skuldig bevind nie.

Die ‘skorsing’ van Ramaphosa

Ace Magashule toe hy nog die kitaar as sekretaris-generaal van die ANC geslaan het. Foto: Gallo Images

Magashule se gepoogde skorsing van Ramaphosa het hom nou verdere probleme op die hals gehaal. Die NUK het geëis dat hy binne dae in die openbaar om verskoning vra of deur tugstappe in die gesig gestaar sal word.

Hy het geweier, en tugstappe sal sekerlik teen hom ingestel word. Een moontlikheid is dat hy permanent uit die ANC geskop kan word.

In hierdie opsig was die gepoogde skorsing van Ramaphosa ’n gulde geleentheid vir die NUK om permanent van Magashule ontslae te raak.

Dit wat oor Magashule se hofstukke bekend is, maak geen juridiese sin nie, maar is (volgens een kommentator) ’n politieke betoog. Hy vaar byvoorbeeld daarteen uit dat Gwede Mantashe (wat by die Bosasa-skandaal betrek is) en Zizi Kodwa (wat by betalings deur EOH geïmpliseer word, maar dit ontken het) nie opsy hoef te staan nie en steeds in die NUK dien.

Magashule gaan ewe dapper hof toe, maar daar is juridies nie ’n groot kans dat hy kan slaag nie.

Maar weer snap Magashule nie die regspunt nie.

Nie Mantashe óf Kodwa is vir hierdie bewerings aangekla nie, en hoef dus (nog) nie opsy te staan nie.

Magashule se ANC-doppie is dus klaarblyklik nou wel geklap. Sy eie vyfjaar-strategie om van Ramaphosa ontslae te raak lê aan flarde.

Hy gaan ewe dapper hof toe, maar daar is juridies nie ’n groot kans dat hy kan slaag nie. Dit kan wel wees dat die hof mag bevind dat die ANC nie sy eie prosedures en reëls nagekom het nie, maar indien Magashule se huidige skorsing omgekeer word, is die verhoudinge tussen hom en die res van die (meerderheid) van die NUK nou só versuur dat sy mag en invloed grootliks gebreek is.

Magashule is g’n Zuma nie

Oudpres. Jacob Zuma met sy hofverskyning Maandag in Pietermaritzburg. Foto: AP

Die ander oogmerke wat hy met die hofpad wil bereik, is om die hofsaak as ’n geleentheid te gebruik om vuil wasgoed oor die Ramaphosa-kant in die openbaar te was. ’n Newe-effek sal wees dat hy in die openbare oog bly, met die oog op ’n alternatiewe terugkeer na die politiek.

Sy opsies is egter nie baie nie. Indien hy permanent of vir ’n paar jaar uit die party geskors word, is dit neusie verby. As die skorsing vir ’n korter tyd is, kan hy met die steun van sommige takke (hoofsaaklik in Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap) probeer om in 2022 op die verkiesingskonferensie terug te kom.

Dit is wat oudpres. Jacob Zuma gedoen het nadat Thabo Mbeki hom as adjunkpresident die pad gewys het. Maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen Zuma se situasie van destyds en die een waarin Magashule hom nou bevind.

Zuma was nie geskors nie, hy was nie strafregtelik aangekla nie en kon die antagonisme teen Mbeki tot sy voordeel gebruik.

’n Derde opsie is om hom by die EFF aan te sluit.

’n Ander opsie is om weg te breek en ’n eie party te stig waarby kleiner partye soos die Africa Transformation Movement ingesluit kan word. Alhoewel dit nie onmoontlik is nie, is dit nie waarskynlik nie.

Tyd, getalle en finansies is teen hom.

’n Derde opsie is om hom by die EFF aan te sluit. Met Magashule se yslike ego is dit egter onwaarskynlik dat opperbevelhebber Julius Malema hom maklik sal toelaat om sy kalklig te steel.

Die ANC sonder Magashule

Pres. Cyril Ramaphosa is deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, uit die party 'geskors'. Foto: AP

As die ANC dan uiteindelik sonder Magashule is, wat gaan verander?

Wat Ramaphosa betref, sal die nabye toekoms sonder Magashule beter wees as wat dit ’n ruk gelede gelyk het. Sy oorwinning oor die grootste korruptes in die ANC en die daarmee gepaardgaande steun in die NUK, sal veroorsaak dat hy waarskynlik ’n nasionale algemene raadsvergadering sal oorleef en, indien niks dramaties gebeur nie, ook redelik van ’n tweede termyn (minstens tot 2027) as die ANC en Suid-Afrika se president seker is. Dit kan wees dat hy die stryd teen korrupsie in die ANC en die staat verder suksesvol sal kan beveg. Maar dit gaan nie maklik wees nie.

As mediaberigte geglo moet word, is die prys wat hy vir die steun van sommige in die NUK vir sy standpunt teen korrupsie (en Magashule) betaal het, vinniger vordering met die grondhervorming, en veral onteiening sonder vergoeding.

Hy sal egter terselfdertyd die ekonomie moet laat groei deur onder meer nuwe beleggings te lok, wat met enige sweem van onsekerheid oor gewaarborgde eiendomsreg amper onmoontlik gaan wees.

Dit is ook nodig om teen hierdie agtergrond ’n “realiteitstoets” te doen.

Die ANC as organisasie sal byvoorbeeld nie oornag sy finansiële probleme, gedryf deur veral voortdurende swak finansiële bestuur, kan oplos nie.

Waar staan die ANC nou?

Alhoewel Magashule se vertrek (en ander se opsy staan) goeie nuus vir die konstitusionaliste in die ANC en vir die land is, beteken dit nie dat die ANC homself oornag gaan regruk nie.

Die ANC as organisasie sal byvoorbeeld nie oornag sy finansiële probleme, gedryf deur veral voortdurende swak finansiële bestuur, kan oplos nie. Daarby sal die nuwe wetgewing oor skenkings aan politieke partye talle van die ANC se skenkers onder die vergrootglas plaas, veral dié wat in ruil vir of as gevolg van tenders, kontrakte en swart ekonomiese bevoorregting skenkings gegee het.

Die ANC-regering sal ook nie oornag die helder lig van skoon regering word nie; daarvoor is korrupsie (selfs buite die groep vir radikale ekonomiese transformasie) te endemies en die geldelike afhanklikheid van die staat deur amptenare en politici te groot.

Soos wat Tim du Plessis Sondag in Rapport geskryf het, hou die pad van eerlike regering selfs gevare vir Ramaphosa se toekoms in, veral as die kamerade nie meer so weelderig kan lewe soos voorheen nie.

Theuns Eloff

Die ANC sal nie oornag die fakkel van doeltreffende en verantwoordbare regering kan dra nie – daarvoor is daar te veel onbevoegde, ongekwalifiseerde kaders wat glo dat hulle op posisies van staatsmag geregtig is.

En daar is geen sprake dat die ideologie van rassetransformasie wat hulle daargestel het, enigsins gaan verander of aangepas gaan word nie.

Die ANC sal ook nie oornag (indien ooit) ’n moderne politieke party met werkbare ekonomiese beleide word nie – daarvoor is die sosialistiese denkrigtings en die afhanklikheidsindroom van die staat wat onder die breë bevolking gekweek is te sterk.

Die ANC-regering (soos die ou NP-regering) moet sorg . . .

Met die vertrek van Magashule kan die ANC begin om homself van die sigbaarste korrupsie te suiwer.

En dan sal die ANC nie oornag ’n ware nierassige party met konstruktiewe ruimte vir minderhede word nie – daarvoor is die krag van swart nasionalisme, die (swart) rasse-ideologie en rasse-transformasie te sterk en verleidend. Dit sluit swart ekonomiese bemagtiging, billike indiensneming en regstellende aksie in.

Hierdie ideologie is en bly die sterkste aantrekkingskrag (saam met maatskaplike toelaes) vir die swart meerderheid om die ANC te bly ondersteun.

Ten slotte moet dit wel darem gestel word dat die vertrek van Magashule as dié simbool van korrupsie en radikale ekonomiese transformasie in die ANC – en die potensiële vertrek van sy handlangers en ondersteuners – wel ’n stap in die regte rigting is.

Daardeur kan die ANC begin om homself van die sigbaarste korrupsie te suiwer; daardeur kan die waardes van die Grondwet herbevestig word; en daardeur kan die party uit sy eie oogpunt (en dit is sekerlik een van Ramaphosa se doelwitte) in Oktober 2021 met ’n effens beter storie na die kiesers gaan.

Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.