Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Thuli Madonsela: Sal ubuntu eindelik seëvier?

Die korona-krisis is dalk die geleentheid waarvoor Suid-Afrika nou al jare lank wag, skryf Thuli Madonsela.

Lede van Limpopo se gesondheidsdepartement monitor vandeesweek mense wat die provinsie vanuit Gauteng binnegaan voor die staat van inperking. Foto: Alet Pretorius

Wie sou kon dink dat dit ’n klein maar wrede virus sou verg om Suid-Afrikaners te inspireer om saam te staan?

Daar is geen twyfel dat dit ’n bepalende oomblik vir Suid-Afrika en moontlik die wêreld is nie.

Kan dit boonop ’n ware grensverskuiwende moment wees? ’n Oomblik waarna ons eendag sal terugkyk en sê dat dit die moment was waarop dinge seismies verander het en ons uiteindelik die identiteit aangryp het wat ons vir onsself gekies het die dag toe ons die nuwe Grondwet aanvaar het?

As dit inderdaad ’n grensverskuiwende oomblik is, sal die geskiedenis dit opteken as die oomblik, die keerpunt, toe Suid-Afrikaners begin optree het met die solidariteit wat die filosofie van ubuntu onderlê? Sal dit die oomblik wees dat ons almal ja gesê het vir die “Thuma mina”-oproep om ons siek maatskaplike omstandighede en ekonomie te herstel?

Nie te lank gelede nie het ek ’n artikel geskryf waarin ek aangevoer het dat Suid-Afrika ’n grensverskuiwende oomblik nodig het – ’n oomblik wat ’n seismiese verskuiwing teweegbring in die manier waarop mense dink en optree.

Daar is ’n sprankie hoop vir ’n olyftak-oomblik.

Voorbeelde van sulke grensverskuiwende oomblikke in ons verlede is die oomblik in 1990 toe oudpres. FW de Klerk die vrylating van Nelson Mandela en die opheffing van die verbod op die bevrydingsbewegings aangekondig het.

Die mees ikoniese grensverskuiwende oomblik was toe Mandela ná die moord op Chris Hani ’n land wat op die randjie van die afgrond was, weggekeer het en die nasie verenig het. Mandela het die gemoedstoestand en rasseverhoudinge in die land verder verskuif toe hy in 1995 met die nr. 6-trui van die Springbokkaptein Francois Pienaar op die veld gestap het vir die Wêreldbekereindstryd.

Hierdie eenvoudige en spontane daad van leierskap het baie bygedra tot die bou van ’n nasionale eenheidsgevoel in ’n tyd van reuseverdeeldheid, sommige daarvan georkestreer deur politieke opportuniste.

Op dieselfde wyse het Maandag se toespraak deur pres. Cyril Ramaphosa, waarin hy ’n landwye staat van inperking aangekondig het om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan, ’n mens gelaat met ’n gevoel van eenheid wat oor kleur-, geloofs-, klas- en geslagsgrense heen strek.

Talle het die toespraak as presidensieel beskryf en een joernalis het selfs gespot dat ’n kollega in ’n ander land gevra het of ons nie Ramaphosa vir hulle kan leen sodat hy ook hul land in dié moeilike tyd kan bystaan nie.

Ten spyte van die feit dat die boodskap bitter was, was dit terselfdertyd gerusstellend in ’n tyd wat die nasie smag na hoop. Ons is met die hoop gelaat dat ons die stryd kan wen indien almal saamwerk. Dit was ’n verenigende toespraak betreffende die stappe wat gedoen moet word en die gepaardgaande opofferings wat gemaak moet word.

Ramaphosa het ’n mens met die indruk gelaat dat hy deeglik bewus is van die ongekende ontwrigting wat die virus en die maatreëls wat die staat moet instel om dit onder beheer te bring, op almal van ons gaan hê.

Hy het ook ’n duidelike bewustheid getoon dat alhoewel almal van ons deur die virus en die bitter medisyne van die maatreëls om dit te beveg geraak sal word, dit die minderbevoorregte sosiale klasse is wat die grootste deel van die sosio-ekonomiese uitdagings sal moet trotseer.

Dis ook geen verrassing dat die onmiddellike reaksie op sy toespraak daarop dui dat dit oor kleur-, geslag-, religieuse en politieke grense heen goed ontvang is.

Dit was ook groot waardering vir die sosio-ekonomiese hulppakket wat die regering met die hulp van die sakegemeenskap ontwerp het. Die pakket bevat hoofsaaklik finansiële verligting vir kleinsakeondernemings wat deur korona geraak word weens die staat se drakoniese maatreëls en sosiale beperkings. Dit bevat ook maatreëls om te verseker dat werknemers betaal word en dat mediese dienste, insluitend privaat mediese dienste, beskikbaar is vir almal wat dit benodig.

Een van my bekommernisse in die verlede was die afwesigheid van olyftak-oomblikke vanuit die gemeenskappe wat baat gevind het by geleenthede en hulpbronne wat in die verlede onregmatig van ander geneem is. Dit, glo ek, staan steeds in die middelpunt van gebroke verhoudings, veral oor kleurgrense heen. Dit is sulke geldige griewe wat deur politieke opportuniste uitgebuit word – nie net om mense te verdeel nie – maar ook om die massas te mobiliseer om hulle (die politici) te help om aanspreeklikheid te ontduik vir hul aandeel aan korrupsie en staatskaping.

Met die president se aankondiging dat sowel die Rupert- as Oppenheimer-familie ’n miljard rand elk geskenk het aan ’n solidariteitsfonds wat geskep is om die impak van die korona-pandemie te probeer verlig, is daar ’n sprankie hoop dat so ’n olyftak­oomblik op hande is.

Die aankondiging dat die privaat hospitaalgroep Mediclinic sy geriewe beskikbaar sal stel aan almal wat nood het, ongeag of hulle lede van ’n mediese fonds is, sal ook help om die oneweredige klasse-impak van Covid-19 te verlig.

Diegene wat reeds agtergelaat is in die skaduwee van ons onregverdige verlede, sal onvermydelik deur die nagevolge van die pandemie verder teruggedruk word, tensy die probleem erken en getakel word. As jy geld, vervoer en die vermoë het om in grootmaat te koop, sal jy noodwendig beter daaraan toe wees in hierdie dae. As jy ’n supermark besit of langs een woon, sal dit met jou beter gaan. Checkers ondervind ’n oplewing terwyl straatverskaffers en spazawinkel-eienaars huil.

Ons moet voorsien dat talle mense se kanse op oorlewing aan flarde gaan wees teen die tyd dat die regeringspakket in werking tree. Klein ondernemings wat van die hand na die mond oorleef, sal ondergaan.

Baie van hierdie mikro-ondernemings word bedryf deur vroue op die platteland en in die townships wat amagwinya (vetkoek), vrugte, groente en handwerk op straat verkoop waarmee hulle in hul gesinne se daaglikse behoeftes voorsien. Hulle is afhanklik van hul daaglikse inkomste vir herkapitalisering en het net genoeg om hul voorraad daagliks, of hoogstens weeklik, aan te vul.

Die hartseer waarheid is dat die township-ekonomie (of kasi-ekonomie, soos sommige mense dit noem) deur die virus verwoes kan word.

Ons het tot dusver goed gevaar met die hantering van die korona-uitdaging. ’n Krisis kan ’n land uitmekaar skeur of verenig. Soos die Harvard-professor Rosabeth Moss Kanter sê, kan uitdagings, afhangend van leierskap, tot ’n verlies of ’n wins lei.

Ramaphosa het die afgelope twee weke gewys dat hy ’n selfversekerde leier is. Die res van die land se politieke, sake- en geloofsleiers het ook op bewonderenswaardige wyse opgetree om die gevoel van eenheid en hoop te midde van teenspoed te bevorder.

So, wat moet ons volgende skuif wees? Sal hierdie oomblik die grensverskuiwende moment wees wat Suid-Afrika op ’n pad na voorspoed plaas op dieselfde wyse as wat die wêreld ná die Tweede Wêreldoorlog kon regkry?

Sal die geskiedenis dit aanteken as die Ramaphosa-oomblik? Is dit die oomblik waarvoor ons so lank al wag?

* Prof. Thuli Madonsela is verbonde aan die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Thuli Madonsela  |  Koronavirus  |  Samewerking  |  Ubuntu  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.