Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tienerselfdood: 13 redes om te praat

Hier is 13 redes om met jou tiener oor ’n moeilike onderwerp te praat, skryf Lizette Rabe na aanleiding van Netflix se bevestiging van ’n opvolgreeks op verlede jaar se 13 Reasons Why wat oor ’n tiener se selfdood gaan.

Die onderwerp van psigiese siektes behoort al lankal nie meer taboe te wees nie. Foto: Argief

Vandeesweek is dit bewusmaking van tienerselfdoodvoorkoming – ’n lang skrikmaakwoord.

Dis egter ’n belangrike week in die jaar se kalender, want dit gee geleentheid om oor ’n taboe-onderwerp te praat en dit lug te gee en juis ’n kans om oor die werklikheid van tienerselfdood en al die stressors wat tieners ervaar te praat.

Netflix is ook besig met ’n opvolg van sy gewilde 13 Reasons Why, die reeks oor ’n tiener se selfdood wat verlede jaar soveel opspraak veroorsaak het dat dit met verskeie waarskuwings – en toe waarskuwings op waarskuwings – uitgereik is.

In die eerste reeks gee die tiener Hannah 13 redes (ja, want TV-reekse bestaan uit 13 episodes) vir haar selfdood deur 13 kassette op te neem, een aan elkeen wat ’n “aandeel” aan haar dood gehad het. Die reeks was so gewild dat 11 miljoen twiets in die maand ná uitreiking uitgestuur is. Daar is gesê dis omdat soveel jong mense hulself daarin herken het. En natuurlik, volgens die vervaardigers is die rede vir die opvolg nie kommersieel nie, maar omdat daar nog soveel onbeantwoorde vrae is . . . selfs met terugflitse na Hannah wat steeds deel van die storie is. Dus gaan dit maar eintlik oor sensasie, hoewel die hoop nie beskaam dat die opvolgreeks tog opvoedkundig sal wees nie.

Tieners en depressie
Navorsing het getoon dat een uit vier meisies en een uit tien seuns teen die ouderdom van 14 depressief is.

Met Tienerselfdoodvoorkomingsweek van 11 tot 16 Februarie is dit egter juis ook ’n goeie geleentheid om tuis of op skool te praat oor hoe tieners die lewe ervaar. Suid-Afrikaanse statistiek toon dat 23 mense per dag weens selfdood sterf en navorsing wys dat depressie in meer as 90% daarvan teenwoordig is. In elke 24-uur-tydperk is daar 460 “onsuksesvolle” pogings – dis amper 20 mense per uur wat op die rand van wanhoop is. Ons samelewing verkeer in ’n psigiese gesondheidskrisis – en baie tieners weet nie hoe om vir hulp te vra nie.

’n Onlangse boek het getoon presies hoe die 21ste eeuse digitale leefwyse bydra tot ongekende emosionele stres onder jong mense. Hulle word die iGen-generasie genoem, die generasie wat as’t ware met ’n iPhone of iPad in die hand gebore is. Die boek van Jean M. Twenge, ’n Amerikaanse professor in sielkunde, het die lang maar beskrywende titel: iGen: Why Today’s Super-Connected Kids Are Growing Up Less Rebellious, More Tolerant, Less Happy – and Completely Unprepared for Adulthood* – *and What That Means for the Rest of Us.

Daar is toenemend bewys van hoe sosiale media en slimfone ’n nadelige uitwerking op die samelewing het.

Natuurlik is die iGen-generasie se probleme nie die skuld van slimfone nie, maar eerder die tyd wat hulle toegelaat word om daarmee deur te bring. Ook volwassenes word toenemend aan selfone verslaaf. Die woorde “smartphone addiction” as Google-soektog het byvoorbeeld in Januarie vanjaar ’n nuwe rekord bereik en ’n nuwe Microsoft-verslag het uitgespel hoedat digitale tegnologie ondernemings minder produktief maak.

Daar is toenemend bewys van hoe sosiale media en slimfone ’n nadelige uitwerking op die samelewing het, veral op jong mense. ’n Onlangse Amerikaanse studie het byvoorbeeld ook aangetoon dat tieners wat meer tyd op hul slimfone deurbring ongelukkiger is as diegene wat ook aan ander aktiwiteite deelneem. Nog ’n verslag deur Facebook het bevind mense wat doelloos aanlyn swerf, voel slegter ná die tyd.

’n Groep pediaters en psigiese gesondheidskundiges plaas nou druk op Facebook om byvoorbeeld die Messenger Kids-app toe te maak – en in Parys het skole summier selfone geheel en al verbied.

Die digitale leefwyse van die 21ste eeu dra by tot ongekende emosionele stres onder jong mense. In skole in Parys is selfone byvoorbeeld al verbied in ’n poging om dit teen te werk. Foto: Argief

’n Ingreep ís nodig, veral as ’n mens kyk na die styging in die wêreldwye aanvraag na psigiese hulpdienste. ’n Groep gewese tegnologiewerkers het pas ook ’n beroep op Facebook gedoen: “Dink aan die skade wat julle aan jong mense doen!”

In ’n Britse studie het dit geblyk dat selfbesering onder meisies tussen 13 en 16 met 68% oor ’n tydperk van drie jaar gestyg het. In die ouderdomsgroep tussen tien en 19 was dit drie keer hoër onder meisies as onder seuns. Terselfdertyd flikker die waarskuwingsligte: Diegene wat hulself beseer, het ’n aansienlik hoër risiko vir selfdood.

Britse navorsing het getoon dat een uit vier meisies en een uit tien seuns teen die ouderdom van 14 depressief is.

Hoewel ons nie soortgelyke statistieke in Suid-Afrika het nie, kan ons aanvaar Suid-Afrikaanse tieners ervaar dieselfde soort stressors weens hul 24/7-slimfoonverbintenis en wat alles uit dié digitale Pandorakissie vrygelaat word. Daar is byvoorbeeld die vrees van uitsluiting of Fomo Fear of Missing Out – wat veral onder meisies ’n erge sielkundige letsel laat omdat hulle nie deel van die “in”-groep is nie.

Nog ’n Britse studie het getoon dat meer as 50% van laerskoolonderwysers gesê het hulle is nie opgelei om deesdae se psigiese gesondheidskwessies in die klas te hanteer nie.

Terwyl kinderpsigiatriese dienste in Brittanje onder geweldige druk is, moet skole toenemend help om kinders met psigiese probleme te identifiseer sodat hulle vroeër gehelp kan word. Dié navorsing het getoon dat een uit vier meisies en een uit tien seuns teen die ouderdom van 14 depressief is.

Volgens statistieke sterf 23 Suid-Afrikaners elke dag aan selfdood en is depressie in meer as 90% van die gevalle teenwoordig. Foto: Argief

Wat seker is, is dat daar nog nooit ’n beter tyd was om met tieners oor hul psigiese gesondheid te praat nie. In antwoord op Netflix se komende 13 Reasons Why-opvolg, hier is 13 redes om te praat:

1. Die sogenaamde postmillenniërs (ook bekend as generasie Z of die iGenerasie) wat rondom 2000 gebore is, is gemakliker daarmee om aanlyn sosiaal te verkeer en is daarom fisiek veiliger as wat adolessente nog ooit was, maar hulle is op die rand van ’n psigiese gesondheidskrisis omdat hulle eintlik geïsoleerd is.

Lees Twenge se artikel oor slimfone en die jeug hier.

2. Kennis is mag – bemagtig jouself met kennis. Besoek byvoorbeeld die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se depressiewebwerf met baie toeganklike inligting. Hier is nog ’n webwerf met inligting oor depressie, selfbesering en selfdood.

3. Breek die stigma deur in gewone taal en met gewone woorde oor depressie of verwante siektes soos angs te praat – net soos wat jy oor diabetes of kanker sou praat. Almal is immers siektes.

Kinders is meesterlike akteurs en sal nie sommer wys dat hulle die slagoffer van kuberboelies is nie.

4. Ouers moet meer ingelig wees oor kinders se bewegings op sosiale media. Navorsing wys dat die menslike brein eers heelwat later in staat is om werklik ingeligte besluite te kan neem – tieners is dus uiters blootgestel en weerloos op sosiale media.

5. Ditto onderwysers. Kinders bestee meer wakker ure by die skool gedurende die week as tuis. Onderwysers moet die onderwerp van psigiese siektes en hoe ’n digitale leefstyl dit kan sneller, as ’n gereelde gespreksonderwerp in die klas aanroer – en nie net gedurende Tienerselfdoodvoorkomingsweek nie. (Dis nou indien dit enigsins vandeesweek bespreek word – maar asseblief, onderwysers – én ouers – gebruik die kans om oor ’n moeilike onderwerp te praat – hier kry jy goeie hulpmiddels.)

6. Daarby moet ouers en skole saamwerk om seker te maak dat veral byvoorbeeld kuberboeliegedrag in die kiem gesmoor word. Kinders is meesterlike akteurs en sal nie sommer wys dat hulle die slagoffer van kuberboelies is nie, terwyl dit al hoe meer gebeur dat ’n kind selfs net vir ’n verkeerde antwoord in die klas belaglik gemaak word op sosiale media.

Daar is ’n vreemde, morbiede aantrekkingskrag oor selfdood.

7. Onderwysers is opgelei in kinder- en adolessente-ontwikkeling soos wat ouers nie is nie – hulle moet bewus wees van moontlike slaggate en ook ouerbegeleiding gee.

8. Britse statistiek verwys na selfbesering onder veral meisies, maar dit neem wêreldwyd toe. Die beweging To Write Love on Her Arms (TWLOHA) op die webwerf  help met bemagtigende inligting. Bespreek dié baie toeganklike webwerf  met tieners sodat hulle ingelig is oor die kringloop van selfbesering en om hulle weerbaar te maak.

9. Daar is ’n vreemde, morbiede aantrekkingskrag oor selfdood – die rede waarom berigte oor selfdood soveel klieks kry – en tog is dit ’n taboe-onderwerp. Verbreek die paradoks – én gevaarlike romantisering oor selfdood, veral van celebs – en práát oor depressie en fatale depressie as ’n behandelbare siekte en ’n voorkombare tragedie.

Lizette RabeFoto:

10. Dus en daarom: Vergeet van “ongemaklike” onderwerpe. In vandag se lewe is daar nie meer so iets nie. Praat direk en op die onderwerp af oor psigiese siektes, die gevaar wat die altyd-aan- digitale kultuur inhou en hoe dit kan lei tot ’n nooit voorsiene doodloopstraat – ja, ook op die drumpel van ’n jong mens se drome.

11. Gebruik die geleentheid om kinders te bemagtig sodat hulle voel hulle is in beheer van hul situasie. Die Netflix-reeks – en waarskynlik ook die opvolg – het simplistiese antwoorde, soos dat swak verhoudings tot selfdood lei, terwyl selfdood die gevolg is van ’n biologies wanfunksionerende brein. Praat oor verhoudings – alle soorte – en dat ’n verhouding wat skeefloop, nie selfdood veroorsaak nie.

12. Feit is: Ongemaklike onderwerpe gaan nie weg net omdat ons dit ignoreer nie. Net soos wat siektes nie weggaan as ons dit ignoreer nie. Dit word erger – en kan lewensbedreigend word. Dus: Gebruik hierdie week en práát.

13. Laastens: Kry inligting sodat jou gesprek positief kan wees. Dit gaan oor bemagtiging. Hoe meer ’n mens weet van ’n verlammende siekte, hoe meer kan jy jouself daarteen beskerm.

* Lizette Rabe is professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting. Op 24 Februarie lei Rabe ’n paneelgesprek in die Breytenbach-sentrum op Wellington. Deelnemers is Dana Snyman, wat sy verloofde verloor het, dr. Cobus McCallachan, ’n psigiater, wat sy dogter verloor het, en dr. Gerrit de Villiers, ’n pediater, wat sy seun verloor het. Vir meer inligting, skryf na info@breytenbachsentrum.co.za.

Kry hier hulp

Lifeline 24-uur-hulplyn: 0861 322 322

Sadag-hulplyn: 0800 567 567 of SMS 31393

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Sosiale Media  |  Tieners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.