Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Selfdood: FOMO, eko-angs, kuberboelies – tieners het hulp nodig

Van FOMO tot eko-angs tot kuberboelies – tieners het jou hulp nodig! In die aanloop tot Bewusmakingsweek vir Tienerselfdoodvoorkoming skryf Lizette Rabe elke dag moet eintlik Veiliger Tienerdag wees.

Daar is nuwe soorte angs: klimaatsangs, of eko-angs. Navorsing het getoon watter invloed dit het op die psigiese gesondheid van jong mense omdat hulle letterlik die erfgename van ’n reeds siek planeet is.Foto: Getty Images/Stockphoto

Dis die meedoënlose altyd-aan-kultuur, die diktatorskap van daardie klein toestelletjie wat die hele dag (en nag) deur vir jou twiet en instagram. Dis die vrees om iets mis te loop, of FOMO – Fear Of Missing Out. Dis kuberboelies. En nou ook angs vir klimaatsverandering, of eko-angs. Dit alles laat tieners se spanningsvlakke styg en styg – nes ons planeet se temperatuur en seevlakke. Asof dit nie reeds erg genoeg is om deur gewone, alledaagse tuinvariëteit tiener-angst te moet werk nie.

Kry hier hulp

Lifeline: 0861 322 322

SADAG-hulplyn: 0800 567 567 of sms 31393

Mental Health Information Centre (MHIC): 021 938 9229 of e-pos na mhic@sun.ac.za

Maar, onderwysers, skoolhoofde, ouers: Ons almal moet meer aandag gee aan die onderwerp psigiese gesondheid in ons klaskamers, in saalbyeenkomste en om ons eettafels.

Van 16 tot 23 Februarie is dit Bewusmakingsweek vir Tienerselfdoodvoorkoming. In Amerika word die hele Februarie gewy aan “Teen Dating Violence Awareness Month”, want tot 1,5 miljoen hoërskoolleerlinge word elke jaar deur iemand op ’n afspraak aangerand. Op 11 Februarie was dit “Safer Internet Day”, veral gemik op tieners se “digitale gesondheid”.

Dit klink of dit dalk veel eerder elke dag Veiliger Tienerdag moet wees.

Prof. Lizette Rabe. Foto: Denzil Maregele

Die psigiese tol van ’n uitsiglose lewe

Hoekom? Omdat alle statistieke dui op tieners se hoë spanningsvlakke. In die Verenigde Koninkryk het die aantal skole wat tussen 2016 en 2019 professionele hulp vir psigiese gesondheid ingekoop het, amper verdubbel – van 36% in 2016 tot 66% in 2019. Ons het nie sulke statistieke vir Suid-Afrika nie – hoeveel skole kan buitendien psigiese gesondheidsdienste inkoop?

Ons weet egter, volgens een verslag, dat “ons psigiese welsyn in ’n ernstige krisis is”. ’n Studie deur die Universiteit van Kaapstad het getoon dat een uit elke drie vroue in lae-inkomste en informele nedersettings rondom Kaapstad aan post-natale depressie ly.

Navorsing in KwaZulu-Natal het bevind dat 41% van swanger vroue depressief is. Stel jou voor die tol van psigiese siektes op jong mense wat in omgewings grootword waar die lewe so heeltemal uitsigloos is.

Maar ons kan elkeen ’n verskil maak. Volwassenes kan en moet met tieners praat en hulle help om te besef dat psigiese siektes nie iets is om oor skaam te wees nie.

Byna een uit elke tien tienersterftes in Suid-Afrika word deur selfdood veroorsaak.

Ons kan die stilte en die stigma verbreek deur openlik te praat oor waarom psigiese gesondheid die basis van alle gesondheid is en daarmee die angswekkende stilte verbreek rondom al daardie stressors wat soveel tieners raak en wat kan lei tot siektes soos depressie en angsstoornis.

Feit: Byna een uit elke tien tienersterftes in Suid-Afrika word deur selfdood veroorsaak. Feit: Depressie is die oorsaak van selfdood in meer as 90% van die gevalle. Feit: Depressie is ’n behandelbare siekte, selfdood ’n voorkombare tragedie.

Hoekom is ons ongemaklik om te praat oor die gesondheid van die belangrikste orgaan in ons liggaam, ons brein?Foto: Getty Images/Stockphoto

Glimlaggende selfies

Dit is natuurlik nie maklik om daaroor te praat nie. Veral nie met die so teenwoordige sosialemediabeelde wat wys hoe wonderlik elkeen se lewe is, met al daardie skitterwit glimlaggende selfies dwarsoor die skerm van jou slimfoon nie. (Behalwe, joune is nie.)

Dis nou duidelik: Die voorkoms van algemene psigiese siektes is besig om vinnig te styg – soos die stygende temperatuur van ons planeet en vlakke van ons oseane. Ons moet dringend die stilte en die stigma verbreek, veral rondom depressie, die grootste oorsaak van selfdood.

En ons moet teen hierdie tyd weet: Om nie oor iets te praat nie, sal jy dit nie laat verdwyn nie. Hierdie Antjie Somers skuil daar buite êrens en wag. Maar deur hom bloot te stel, kan hy ontmagtig word. In werklikheid heeltemal ontwapen word.

Sou jy ongemaklik wees om oor die gebreekte been van die skool se rugbyheld te praat, of ’n leerling se diagnose van kanker?

So waar begin ons? Net daar in die klas. Net daar tydens die saalbyeenkoms. Net daar in die bus of motor skool toe. Net daar by vanaand se etenstafel. Maak ’n “ongemaklike” onderwerp gemaklik deur dit te normaliseer en te vermenslik. Sou jy ongemaklik wees om oor die gebreekte been van die skool se rugbyheld te praat, of ’n leerling se diagnose van kanker? Waarom dan oor die gesondheid van die belangrikste orgaan in ons liggaam, ons brein?

Gebruik die komende week en verbreek die stilte en die stigma. Ons is dit aan tieners verskuldig, want ons kan nie meer ontken dat die stressors wat tot psigiese siektes lei, aan die toeneem is nie.

FOMO (fear of missing out) is die resultaat van ons slimfone wat 24/7 inligting aandra, hetsy relevant of nie. En jy wat 24/7 hulpeloos daaraan vasgesweis sit uit vrees dat jy iets kan misloop. Foto: Foto24

Eko-angs

Daar is die bestaande psigiese siektes, soos depressie en die verskillende soorte angs, van sosiale angs tot paniekstoornis wat lei tot daardie vreesaanjaende paniekaanvalle. Maar dan is daar die “nuwe kinders op die blok”. Soos FOMO, die resultaat van ons slimfone wat 24/7 inligting aandra, hetsy relevant of nie. En jy wat 24/7 hulpeloos daaraan vasgesweis sit uit vrees dat jy iets kan misloop.

FOMO word reeds beskryf as ’n angsstoornis, maar daar is nuwe soorte angs: klimaatsangs, of eko-angs. Navorsing het getoon watter invloed dit het op die psigiese gesondheid van jong mense omdat hulle letterlik die erfgename van ’n reeds siek planeet is. Eko-angs onder jong mense word beskryf as “oorweldigend en vreesaanjaend”.

Ons sal nie van ouderdom sterf nie. Ons sal sterf weens klimaatsverandering.
Elizabeth Wathuti

Terwyl die invloed van die klimaatkrisis nie meer geïgnoreer kan word nie, is kenners toenemend besorg oor ’n minder opvallende gevolg: die druk op ons psigiese welwees, veral die jonger geslag s’n. Soos die jong Keniaanse klimaataktivis Elizabeth Wathuti gesê het: “Ons sal nie van ouderdom sterf nie. Ons sal sterf weens klimaatsverandering.”

Byna een uit elke tien tienersterftes in Suid-Afrika word deur selfdood veroorsaak. En depressie is die oorsaak van selfdood in meer as 90% van die gevalle. Foto: Foto24

Dr. Patrick Kennedy-Williams, ’n kliniese sielkundige van Oxford, sê daar is “geen manier” om jong mense te beskerm teen die werklikheid van die klimaatskrisis nie. Dit sou eerder teenproduktief wees.

Ouers moet met hul kinders gesels oor hul angstigheid en “hulle help om bemagtig te voel om iets te doen om ’n verskil te maak – hoe klein ook al”.

Raadpleeg hierdie bronne vir hulp


https://childmind.org/article/talk-mental-health-issues/

http://www.sadag.org/index.php?option=com_content&view=article&id=1840&Itemid=153

https://www.healthyplace.com/blogs/parentingchildwithmentalillness/2018/02/mental-illness-and-teen-dating-violence-awareness-month

https://childmind.org/topics/concerns/suicide-and-self-harm/

https://childmind.org/article/what-drives-self-injury-and-how-to-treat-it/

https://www.theguardian.com/environment/2020/feb/10/overwhelming-and-terrifying-impact-of-climate-crisis-on-mental-health

En dan is daar geweld teen tieners – van hul “dates”. Hoewel in Suid-Afrika nog geen sulke studies bestaan nie, word gemeen ongeveer 1,5 miljoen Amerikaanse hoërskoolleerders is aan die ontvangkant van fisieke mishandeling tydens afsprake. ’n Mens kan vermoed dat Suid-Afrikaanse tieners verhoudingsgewys dieselfde ervaar. Ouers en onderwysers moet tieners help om reëls vir afsprake op te stel, veral as “nee” NEE beteken. In ons samelewing, reeds so geteister deur gesinsgeweld en waar dit lyk of dit selfs al normaal is, moet tieners bemagtig word om nie die slagoffer van ’n gewelddadige verhouding te word nie. Behalwe dat dit tot depressie en angs kan lei, kan dit ook jou lewe bedreig.

Sou jy van die rugbyheld se besering in ’n fluistertoon of met ’n ander houding praat?

So waar begin ons? Om oor psigiese siektes te praat, is nooit maklik nie, maar elkeen van ons kan dit makliker maak. Maak dit in werklikheid so maklik soos om oor enige ander soort siekte te praat, want ons moenie anders praat oor siektes net omdat hulle bokant die nek is nie. Om daaroor te praat, is die eerste stap om hulp te kry. Ook: Moenie in ’n ander stemtoon praat nie. Sou jy van die rugbyheld se besering in ’n fluistertoon of met ’n ander houding praat?

Luidens Amerikaanse statistieke ly ongeveer een uit elke vyf jong volwassenes aan ’n psigiese siekte, maar tot die helfte van hulle ly in stilte.

Dus, jy wat hier lees: Laat ons die stilte verbreek. Laat ons die stigma verbreek. Kom ons red al die wonderlike tienerlewens met hul tonne potensiaal. Daar sit dalk ’n tiener langs jou. Begin die gesprek.

*Lizette Rabe is ’n professor aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement en stigter van die Ithemba Stigting (www.ithembafoundation.org.za; ithemba beteken hoop), ’n organisasie sonder winsbejag met twee doelwitte: bewusmaking van depressie en verwante siektes as kliniese, biologiese siektes, en om navorsing te ondersteun.

Sater Internet Day se veiligheidswenke vir jong mense

*Die Instagram Safety Centre (instagram-together.com): leer meer oor veiligheidskontroles op Instagram

*Facebook se Jeugportaal waar tieners wenke en raad kan kry en wat deel is van hul veiligheidsentrum: https://bit.ly/2w5WoGp, ook ’n hulpbron vir selfdoodvoorkoming en hulp met boelies

*Facebook se veiligheidsblad: www.Facebook.com/FBSafety/?fref=ts

*Hulp met boelies: www.Facebook.com/safety/Bullying

*Aanlyn-welsyn: www.Facebook.com/safety/Wellbeing

•Hoe om iets aan te meld: www.Facebook.com/Report


Meer oor:  Lizette Rabe  |  Depressie  |  Tienerselfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.