Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tieners+zolle = probleme

Dagga is dalk nou wettig vir volwassenes, maar moet nooit die gevare wat dié groentwak vir kinders inhou onderskat nie, skryf Heinz Mödler.

Die leerlinge wat langpouse skelm agter die fietsloods gaan rook het, is gewoonlik die stout kinders, die koel ouens.

Dasknope is abnormaal skeef getrek en wanneer hulle praat, gebruik hulle die nuutste sleng-frases. En hoewel hulle as “stout” geklassifiseer is, het meeste ná matriek tog iewers agter ’n lessenaar ingeskuif, of selfs aan ’n universiteit gaan studeer om normale, produktiewe lewens te lei en ’n bydrae tot die samelewing te maak.

Maar nie almal nie. Baie tiener-rokers het dapper geraak en terwyl hul klasmaats naweke op die werf bal skop, begin drink. Ná die alkohol het die daggazolle gevolg.

En toe die probleme.

Kinders rook tans minder. Dit is ’n goeie ding, maar die rede vir dié neiging is ongelukkig ver van goed. Tieners begin deesdae by dagga. Sigaretrook kom eers later. En rook gaan hulle rook, want kinders wat dagga gebruik, het ’n agt keer groter kans as nie-daggarokers om as volwassenes sigarette te rook.

En waar kinders vindingryk moes wees om dagga te bekom, gaan dit van nou af baie makliker wees om hul voorraad aan te vul. Wetgewing is verslap en tieners gaan beslis die voordeel daaruit trek.

En weer eens, hoe vroeër en meer gereeld gerook word, hoe groter raak die kans om later hierdie probleme te ontwikkel.

Daggawetgewing geld slegs vir volwassenes, maar ons almal weet hoe dit in die praktyk werk. Alkohol en sigarette is ook net vir volwassenes . . .

Daggagebruik onder kinders is ’n euwel. Hoe jonger die tiener wat begin dagga rook, hoe groter raak sy of haar probleme vorentoe.

Die sielkundige en psigiatriese komplikasies wat daggarokende tieners eendag as volwassenes kan ervaar, is ernstig genoeg vir ouers om nou kajuitraad te hou ná die nuwe wetgewing.

Die eerste hekkie wat te hoog vir die jong daggaroker raak, is die van kognisie. Die uitwerking van dagga op ’n tiener se intellek en konsentrasie is beslis nie ’n bangmaakstorie nie.

Veral kinders onder 16 jaar wat dagga rook, loop die gevaar om nooit hul werklike intellektuele potensiaal in die volwasse jare te bereik nie. Dié probleem word eksponensieel erger indien daar chronies gerook word.

Navorsing kon nog nie bewys dat die gewoonte om af en toe ’n zol te maak onomkeerbare skade veroorsaak nie. Maar dié jong mense wat altyd ’n zol in die binnesak het, soek vir groot moeilikheid. Die negatiewe uitwerking van dagga op die gemoed van tieners is ’n feit.

Daar kan aangevoer word dat baie tieners tydens adolessensie depressief begin raak en dagga rook om beter te voel.

Maar die teendeel is bewys. Dagga veroorsaak nie net depressie nie, maar ook ’n verhoogde koers van selfmoord in hierdie reeds kwesbare groep.

Om alles te vererger, is hulle ook die tieners wat as volwassenes meer sukkel met depressie.

Die ernstigste probleem waardeur daggarokende tieners egter in die gesig gestaar word, is dié van psigoses of skisofrenie. Veral persone wat geneties meer geneig is om skisofrenie te ontwikkel, moet versigtig wees, aangesien hul risiko om psigoties te raak terwyl dagga gerook word, hoër is.

Indien ’n tiener psigoties raak tydens daggagebruik, het hy of sy ’n 75%-kans om as ’n volwassene psigoties te wees.

Dit is ’n onrusbarende syfer. Maar dit is nie al nie. ’n Tiener wat geneties ’n verhoogde kans het om as volwassene psigoties te raak, hoef net een keer dagga te rook om hom- of haarself in die voet te skiet.

En weer eens, hoe vroeër en meer gereeld gerook word, hoe groter raak die kans om later hierdie probleme te ontwikkel.

’n Verdere probleem waarvoor daggarokende tieners versigtig moet wees, is verslawing aan ander, en dikwels gevaarliker, middels. Kort voor lank het dagga nie meer genoeg oemf nie en word daar met opiate en ander dwelmmiddels geëksperimenteer.

Wat navorsing wys, is dat dagga die tiener se brein in so ’n mate verander dat hul reaksie op middels soos heroïen drasties verskil van diegene wat nooit dagga as tieners gerook het nie.

Die pad na heroïen-, kokaïen- en tikverslawing is nou voorspelbaar en die spiraal van die lewe het vir só ’n persoon afwaarts gedraai.

Wetgewing rakende daggagebruik is een ding.

Vir ’n volwassene om so af en toe aan ’n zol te trek is nou dalk wettig – en sal in alle waarskynlikheid nooit lei tot verdere probleme nie. Maar ongelukkig geld hierdie reël glad nie vir tieners nie. Daar is genoeg bewyse dat dagga en tieners nie in een sin saam genoem moet word nie.

Asof die euwels wat sosiale media en die internet vir tieners inhou nie alreeds genoeg is nie, het ouers nou ’n bykomende las van die regbank geërf.

Feitlik al die bewyse wat gebruik is om wetgewing rakende dagga-gebruik te hersien, is gegrond op volwassenes.

Ons weet nog betreklik min wat dagga aan tieners se breine doen. Maar dit wat ons weet, voorspel niks goed nie.

Hier gaan dit nie oor om uit die oude doos te wees nie. Hier gaan dit daaroor om dit wat ons as ons toekoms beskou, ons kinders, die beste kans vorentoe te gee.

  * Dr. Heinz Mödler is ’n narkotiseur van Kaapstad.

Meer oor:  Kinders  |  Cannabis  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.