Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tierwyfie sal moet tande wys vir Trump

Joe Biden se keuse as sy verkiesingsmaat om Donald Trump uit te daag kan dalk net die belangrikste besluit van sy politieke loopbaan wees, skryf Leopold Scholtz.

Joe Biden en Kamala Harris. Foto: Getty Images

Normaalweg maak die keuse van ’n kiesmaat vir ’n presidentskandidaat in Amerika min saak. Peilings wys al dekades dat mense oorweldigend vir die presidentskandidaat van hul keuse stem, en dat die identiteit van sy kiesmaat ’n nagedagte is.

Bowendien het die amp van visepresident min om die lyf; die president kan inhoud daaraan gee – of juis nie. Visepres. John Nance Garner, wat tussen 1933 en 1941 onder pres. Franklin D. Roosevelt gedien en bitter min gekry het om te doen, het die amp bestempel as “not worth a bucket of warm p*ss”.

Dié keer kan dit anders wees, uiteraard mits Joe Biden die huidige president, Donald Trump, op 3 November wys waar die uitgang van die Withuis is. Die persoon wat hy vandeesweek as sy kiesmaat aangewys het, sen. Kamala Harris, is om verskeie redes ’n opmerklike keuse. Normaalweg word die toegevoegde waarde van ’n kiesmaat aan geografiese herkoms gemeet. Byvoorbeeld: Kom die kiesmaat uit ’n staat waar die stryd baie gelykop verloop, kan dit daar die deurslag gee.

Met Harris is dit anders. Sy kom uit Kalifornië, waar die mense vir ’n besemstok sal stem as dit ’n kennisgewing met die woorde “Demokratiese kandidaat” dra.

Maar Harris is ’n “swart” vrou. Dit wil sê, sy is die dogter van ’n swart Jamaikaanse hoogleraar in die ekonomie en ’n Indiese kankernavorser. Dat Biden luidens peilings duidelik onder vroue voorloop, kan sy keuse vroue se voorkeur vir hom oor die algemeen alleen maar versterk.

Dat sy in die Amerikaanse konteks as “swart” beskou word, sal die effense louheid in die swart gemeenskap oor Biden se kandidatuur ongedaan maak – altans, só hoop die Biden-veldtog.

Harris sal op religieuse gronde aangevat word.

Ten tweede, sy is relatief jonk, 55 jaar in vergelyking met Biden se 77 jaar. As Biden wen, sal hy 78 wees as hy ingehuldig word, agt jaar ouer as Trump toe hy president geword het. (Trump hou die rekord as oudste president nóg met sy inhuldiging).

Dit is dus haas ondenkbaar dat Biden in 2024 weer ’n kandidaat sal wees. Begryplikerwys (só is die politiek nou eenmaal) gebruik sy politieke opponente dit teen hom en skilder hom af as ’n seniele bejaarde wat kwalik ’n logiese sin met meer as vyf woorde kan uiter. (Nie asof Trump op 74 nie self ’n geskiedenis van onbeholpe en onnoukeurige taalgebruik het nie).

Biden is duidelik nie meer wat hy was nie, maar die bewerings teen hom is hoogs oordrewe. Nietemin, met ’n jonger persoon soos Harris aan sy sy kan dit hom oor die streep help.

Belangriker nog: Hiermee word Harris goed geplaas om in 2024 die Demokratiese presidentskandidaat te word. Wat dus die vooruitsig op die eerste “swart” vroulike president skep.

In die derde plek is Harris ’n sentristiese politikus wat nie summier as ekstreemlinks afgemaak kan word nie. As minister van justisie in Kalifornië het sy kliphard teen misdaad opgetree, ook teen swart misdadigers.

Haar streng houding het dus meegebring dat daar groot huiwering en agterdog teen haar by die linkervleuel van die Demokrate is. Linkse aktiviste het haar ’n “cop” (polisie) genoem, en dit was nie as kompliment bedoel nie.

Terselfdertyd is sy, soos verreweg die meeste politici maar is, ideologies relatief plooibaar na gelang van die omstandighede. Tydens die Demokratiese voorverkiesings, toe sy die party se kandidaat wou word, het sy na links afgebuig, maar die laaste tyd weer na die sentrum teruggespring.

Sy verdedig haar verlede as misdaadbevegter kliphard, maar sy het ook begrip vir die ontevredenheid oor oordrewe polisiegeweld. Sy staan ook agter maatreëls om aardverwarming te bekamp, wat eerder “linkse” idees is.

Die punt is dat sy ideologies goed by die gematigde Biden inpas.

In haar ondervraging van amptenare en politieke debatte bly sy kalm, maar haar vrae en logika sny tot op die been.

Oomblikke nadat die nuus oor haar bekend geword het, het Trump en die Republikeine ’n offensief teen haar geopen. Sy is “phony” en “nasty” genoem, en groot klem is gelê op haar mislukte veldtog om die Demokratiese presidentskandidaat te word.

Dis nou al weke lank dat die Republikeine daarop hamer dat Biden, wat hulle as ’n willose marionet afskilder, die gevangene van die ekstreemlinkse, sosialistiese vleuel van die Demokratiese Party is. Deur Harris eweneens as “ver-links” te beskryf, wys hulle dat hulle haar aanwesigheid aan Biden se sy gaan uitbuit vir al wat hulle kan.

Dit moet niemand verbaas nie. Die politiek – veral die Amerikaanse politiek – is nie vir sissies nie, en in die proses verdwyn die waarheid meestal aan alle kante agter die digte rookwolke van propaganda.

Die propaganda moet ewenwel darem ’n minimum van waarheid bevat. Trump se onlangse wilde beskuldigings dat Biden “teen God” is, dat hy voorstede – en mense se vensters in huise (ja, regtig!) – wil wegvat, is goeie voorbeelde.

Verwag dus ook dat Harris op religieuse gronde aangeval sal word. Haar ma was immers ’n Hindoe, en soos pres. Barack Obama op grond van sy pa se Moslemgeloof verdag gemaak is, sal dit ook met haar gebeur. Vir wat dit werd is, Harris het in twee godsdienste grootgeword, die Hindoeïsme en die swart Baptistekerk. Sy beskryf haarself as ’n Christen.

Die groot vraag is dus hoeveel van die modder wat na haar gegooi word, gaan bly kleef. Daardie antwoord sal eers later gegee kan word.

Intussen is die verwagting dat daar nou ’n rolverdeling tussen Biden en Harris gaan kom. Tot dusver was die Demokratiese strategie behoorlik slu: Biden, met sy neiging om flaters te maak, is by wyse van spreke in sy huiskelder toegesluit met goed uitgesoekte onderhoude met simpatieke ondervraers.

Die humeurige Trump val egter gereeld oor sy eie voete en maak die een flater ná die ander met joernaliste wat sy onwaarhede (volgens The Washington Post meer as 20 000 sedert sy inhuldiging) intyds begin betwis. Dit laat hom sleg lyk en pas die Demokrate goed.

Dit het tot dusver goed gewerk. Peilings wys dat die steun vir Biden (hy loop volgens die gemiddelde van alle peilings met meer as nege punte voor) nie geesdrif vir hom weerspieël nie, maar afkeer van Trump.

Tog sal die Demokrate nie só kan voortgaan nie. Vroeër of later sal hulle moet begin aanval, en dis hier waar Harris in die prentjie kom.

In die senaat het Harris ’n reputasie van ’n tierwyfie met skerp slagtande opgebou. In haar ondervraging van amptenare en politieke debatte bly sy kalm, maar haar vrae en logika sny tot op die been.

Jy kan van Biden en Harris se politiek dink wat jy wil. Maar alles dui daarop dat Harris se posisie langs Biden die Demokrate gaan bevoordeel. Of dit voldoende gaan wees, staan nog te besien. Daar is nog twee en ’n half maande oor voor die verkiesing, en enigiets kan gebeur.

Maar as Biden wen, en as hy, soos verwag word, nie weer in 2024 gaan staan nie, kan dit histories word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.