Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA se eie Mugabe val nou

Wat beteken vandag se verwikkelinge in die hof vir Zuma, vir die ANC en vir die land? Marida Fitzpatrick het 7 vrae aan Tim du Plessis gevra.

Tim du Plessis.

Die Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping word Woensdagmiddag nog uitgereik, ondanks pres. Jacob Zuma se pogings om dit stil te hou. Nadat die president ’n dringende hofaansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring het om te keer dat die verslag openbaar gemaak word, het hy vandag die aansoek onverwags teruggetrek en gaan die land binnekort weet wat presies in daardie verslag staan.

1. Hoe bly kan ons wees oor hierdie nuus?

Dis te vroeg om die vreugdesvure aan te steek, maar ons moet dankbaar wees dat die demokratiese prosesse besig is om te werk. Die howe en die regters is die rocksterre van ons demokrasie. En dis duidelik die regters is moeg vir Zuma se regstoertjies. Hulle sny eenvoudig deur al die lawaai en geruis en kom by die punt van die saak uit.

Ons demokratiese masjien het in aksie in geknars, die wiele het begin draai. Dit het gelyk of hulle vasgeroes was, maar hulle het losgekom en dis besig om te draai. . Die ANC is lief vir die uitdrukking “ons is ’n breë kerk”. Daardie kerk was vandag ’n breë kerk van mense wat vir Zuma sê: “Genoeg is genoeg, jy moet gaan.”

2. Is Zuma nou besig om teen ’n spoed te val?

Dis verskriklik moeilik, want onthou sy val is al male sonder tal voorspel. Maar ek is bereid om te herhaal wat (die politieke ontleder) Aubrey Matshiqi vanoggend getwiet het: Jacob Zuma is besig met sy negende lewe. Ons almal weet ’n kat het net nege lewens en Zuma se negende lewe het begin.

3. Hoekom het hy die hofaansoek teruggetrek?

Dís die million dollar question. Dis moeilik om te antwoord, maar dit kan een van die volgende drie redes wees:

1. Dis ’n taktiese terugtrekking. Hy het gesien hy gaan nie wen in die hof nie, nou gee hy ’n paar tree terug om met ’n ander maneuver te kom.

2. Hy’s bang vir ’n regterlike afranseling. Hy’t gister reeds begin slae kry in die hof. Dit kan wees dat sy regsadviseur gesê het: “Die regters is nie in die bui om jou aan te hoor en uit te luister nie. Laat ons eerder vinnig hier wegkom.” Wat hy veral nie wou hê nie, is nog ’n regterlike afranseling soos wat Mogoeng Mogoeng hom in die Nkandla-saak gegee het.

3. Die ANC het al verlede week ’n verklaring uitgereik waarin die party gesê het die OB se verslag oor staatskaping moet uitgereik word. Dit was ’n effektiewe repudiëring van Zuma se hofaksie. Dit kan wees dat Zuma sy magsbasis getakseer het, gesien het hy het eenvoudig nie steun nie en toe besluit het om die hofaksie te los.

4. Daar’s nou al baie gesê Zuma is net die simptoom van die probleem in die ANC, nie die probleem nie?

Die ANC het ’n sklerotiese politieke kultuur met baie dooie politieke weefsel. In daardie opsig is hy net ’n simptoom. Maar kom ons aanvaar hierdie sklerotiese politieke kultuur is ’n oplosbare probleem. In daardie geval is hy die spreekwoordelike seer wat oopgesteek moet word voordat die party kan genees.

As Zuma nou val, beteken dit nie alles gaan oornag beter word nie. Maar minstens weet ons dan die kwaadaardigheid is verwyder.

Die eintlike groot toets vir die ANC breek nou aan – of hulle die vermoë het om hulself te vernuwe. As hulle dit regkry om van Zuma ontslae te raak, dan begin die eintlike werk. Hulle moet die ANC regmaak.

5. Maar kan die ANC hiervan herstel? Of is dit die einde begin van die einde van die party?

Die ANC moet gaan kyk na die geskiedenis van bevrydingsbewegings. Al die bevrydingsbewegings, veral in Afrika, het ná 20 jaar beland waar die ANC nou beland. Die geskiedenis wys dat ’n bevrydingsbeweging wat homself nie in ’n funksionele politieke party kan omskep nie, uiteindelik sterf.

6. Is dit goeie nuus vir Suid-Afrika?

Dis goed vir Suid-Afrika dat politieke verander gebeur en betreklik vreedsaam gebeur.

Dit is ook goed in ’n ander opsig: Een van die goed wat in Afrika verkeerd geloop het sedert dekolonisering is die groot manne wat te lank aan bewind gebly het (Robert Mugabe in Zimbabwe, Kenneth Kaunda in Zambië). Hier by ons lyk of dit of Zuma op die langste tien jaar gaan bly.

Ek het geen twyfel daaroor dat Zuma Suid-Afrika se Mugabe is nie. En die feit dat ons Robert Mugabe ná tien jaar wankel terwyl Zimbabwe s’n nog daar sit, sê heelwat van Suid-Afrika. Dit sê dit is nie nodig om angsbevange te wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.