Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Timol-uitspraak: Wat hou dit in vir apartheidsoortreders?

Wat beteken die uitspraak dat die 80-jarige João (Jan) Rodrigues wél vir die moord van die apartheidsaktivis Ahmed Timol vervolg kan word, vir mense wat nie amnestie vir apartheidsmisdade gekry het nie? Jana Marx het met kenners gesels.

Die hooggeregshof in Johannesburg het beslis die 80-jarige João (Jan) Rodrigues kan wél vir die moord van die apartheidsaktivis Ahmed Timol vervolg word. Foto: Felix Dlangamandla

Die hooggeregshof in Johannesburg het op 3 Junie vanjaar gelas dat Rodrigues wél vir die moord op Timol vervolg moet word.

Rodrigues is ’n voormalige lid van die destydse veiligheidspolisie en het nie by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) vir amnestie aansoek gedoen nie.

Die uitspraak volg op ’n aansoek deur Rodrigues om sy vervolging permanent tersyde te stel. Dit beteken nou dat hy wél vervolg gaan word vir ’n moord van 48 jaar gelede, tensy sy appèl op die uitspraak slaag.

Die hooggeregshof in Pretoria het in 2017 beslis dat Timol deur lede van die veiligheidspolisie gemartel en vermoor is.

Rodrigues het in sy aansoek om sy vervolging te staak, aangevoer dat dit teen sy grondwetlike reg op ’n billike verhoor indruis om ná al die jare vervolg te word.

Hy het onder meer aangevoer dat getuies wat hy sou wou roep reeds dood is.

Die hooggeregshof in Pretoria het in 2017 beslis dat Timol tydens aanhouding deur lede van die veiligheidspolisie gemartel en vermoor is. Hy het hom op 27 Oktober 1971 van die tiende verdieping van die John Vorster-plein, die destydse hoofkantoor van die polisie in Johannesburg, doodgeval. Hy was 29 jaar oud.

Daar is aanvanklik in 1972 bevind dat Timol by ’n venster uitgespring het.

Rodrigues het nie by die WVK om amnestie aansoek gedoen nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in 2016 besluit om die geregtelike doodsondersoek te heropen nadat Timol se familie die getuienis van hul eie private ondersoek aan die NVG voorgelê het.

Rodrigues was volgens die hof die laaste mens wat Timol voor sy dood gesien het. Hy ontken dit.

Rodrigues, wat tussen 1956 en 1972 in die polisie was, hou vol dat hy ten tyde van Timol se dood slegs ’n administratiewe klerk was wat die veiligheidspolisie se geldsake hanteer het.

Hy het in Pretoria gewerk en sou ander kantore slegs vir administratiewe doeleindes besoek het.

“Ek het geen kennis oor die ondersoeke van die veiligheidseenhede of hul lede nie, en het nooit deelgeneem aan die uitvoering van hul operasionele pligte nie,” lui sy verklaring.

Die Waarheid-en-versoeningskommissie

Die Waarheid-en-versoeningskommissie is in 1995 op die been gebring. Slagoffers kon voor die kommissie getuig en het oortreders het ook die geleentheid gekry om aansoek vir amnestie teen vervolging te doen.

Volgens die politieke ontleder dr. Piet Croucamp was daar bepaalde maatstawwe vir die toekenning van amnestie.

Die apartheidstaat wou nie pa staan vir wat Eugene gedoen het nie.
Dr. Piet Croucamp

“In die eerste plek moes jy eerlik getuig het. Jy moes erken jy het namens ’n organisasie of instelling opgetree het en dié instelling moes verantwoordelikheid vir jou aanvaar. Dis een van die probleme wat Janusz Walus en Ferdi Barnard gehad het. Niemand wou pa staan vir wat hulle gedoen het nie.”

Hy sê dit het ook met Eugene de Kock gebeur. “Die apartheidstaat wou nie pa staan vir wat Eugene gedoen het nie. Hulle het gesê hy is ’n rogue, maar hoe dit ook al sy: baie van hierdie mense het uiteindelik getuig en volledige bekentenisse gemaak en van hulle het amnestie gekry.”

In 1999 het die WVK sowat 300 sake na die NVG verwys vir moontlike vervolging.

25 jaar ná demokrasie

In Februarie 2019 het voormalige WVK-lede ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om te vra vir ’n kommissie wat kan ondersoek of politieke inmenging daartoe gelei het dat daar niks van dié sake gekom het nie.

Bulelwa Makeke, NVG-woordvoerder, het by navraag gesê daar ís “hernude pogings om meer aandag aan hierdie sake te gee, ondanks die massiewe gepaardgaande uitdagings”. Dít sluit in die lang tyd wat verloop het sedert die beweerde misdade gepleeg is en dat van die getuienis nie meer toelaatbaar is nie.

’n Aansoek is ingedien om ’n geregtelike doodsondersoek in die Neil Aggett-saak te open.
Bulelwa Makeke

Tog het die Rodrigues-uitspraak die aandag gevestig op positiewe stappe wat gedoen kan word in verband met die WVK-sake.

“Die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) het ’n aansoek ingedien om ’n geregtelike doodsondersoek in die Neil Aggett-saak te open, wat deur die voormalige minister van justisie en korrektiewe dienste goedgekeur is.

“Die proses is aan die gang. Meer hulpbronne is in die kantore van die direkteure van openbare vervolging (DOV’s) ontplooi sodat hulle saam met die vervolgingseenheid vir prioriteitsmisdade kan werk. Dit sal die kapasiteit verhoog om dié sake in hul onderskeie jurisdiksies te hanteer.”

Uitspraak met verreikende gevolge

Ahmed Timol is in 1972 dood. Foto: Argief

Dr. Kylie Thomas, ’n navorser by die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit van die Vrystaat, het in ’n artikel geskryf die uitspraak het “verreikende gevolge vir onafgehandelde sake van menseregteskendings onder apartheid”.

Dit wys volgens haar op die “blywende gevolge van die apartheidsera se polisiebedrywighede en die voorkoms van marteling in Suid-Afrika” 25 jaar ná die oorgang tot demokrasie.

Ulrich Roux, ’n prokureur wat in strafreg spesialiseer, meen die hof se jongste beslissing is merkwaardig “omdat die hof bevind dat die staat steeds ’n suksesvolle vervolging kan behartig, ondanks die feit dat die beweerde misdaad 48 jaar terug gepleeg is. Dit baan dus die weg vir ander sake, maak nie saak hoe oud hulle is nie, om suksesvol vervolg te word.”

Die enigste oorweging van die NVG moet wees of daar ’n redelike vooruitsig is vir ’n suksesvolle vervolging.
Ulrich Roux

Oor Rodrigues se stelling dat sy reg op ’n billike verhoor aangetas word, sê Roux dat die onus op die staat berus om bo redelike twyfel skuld te bewys terwyl die aangeklaagde slegs aan die hof moet bewys dat sy of haar weergawe redelik en moontlik waar is.

“Rodrigues beweer hy kan nie sy weergawe behoorlik voor die hof gaan plaas nie aangesien verskeie van die sleutelgetuies reeds dood is. Die hof sal dus ’n bevinding moet maak wat slegs op Rodrigues se getuienis gegrond is en of dit twyfel skep in die NVG se saak.”

Hy sê indien vervolging nie slaag nie, kan Rodrigues ’n eis teen die staat instel vir kwaadwillige vervolging, mits hy kan bewys dat daar nooit enige vooruitsig was op ’n suksesvolle vervolging nie.

“Die enigste oorweging van die NVG moet wees of daar ’n redelike vooruitsig is vir ’n suksesvolle vervolging. Hierdie besluit word gegrond op die getuienis en bewyse tot hul beskikking.

“Die NVG beweer dat hierdie vooruitsig wel in Rodrigues se geval bestaan en die hooggeregshof stem saam. As Rodrigues nie appèl aanteken nie, sal die saak mettertyd verhoor word. Die NVG sal probeer bewys dat Rodrigues wel betrokke was by die dood van Timol en dat dit nie selfmoord was soos in 1972 bevind is nie.”

Moet daar vervolg word, of nie?

Genl. Johan van der Merwe: “Art. 9 van die Grondwet, wat handel oor gelykheid voor die reg, word in sy wese verkrag.” Foto: Deaan Vivier

Genl. Johan van der Merwe, voormalige polisiekommissaris, meen “dit is ’n eensydige vervolging van lede van die veiligheidsmagte”.

“Art. 9 van die Grondwet, wat handel oor gelykheid voor die reg, word in sy wese verkrag,” sê hy.

“Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC het beleid bepaal en doelstellings vasgestel waarvolgens die terreurdade van Umkhonto we Sizwe (MK) plaasgevind het en honderde weerlose persone, wat vrouens en kinders ingesluit het, is vermoor, vermink of beseer. Die MK-lede het wel amnestie gevra, maar nie een van die NUK-lede nie. Hulle kan almal vervolg word.”

In sekere gevalle sal daar seker nog vervolging wees, in baie gevalle nie, wat selektiewe vervolging beteken.
Dr. Piet Croucamp

Croucamp sê die Timol-saak is ’n “klassieke bewys” waar mense gedink het “we will fall through the cracks; daar sal nie vervolging wees nie”.

Hy sê egter dat dit nie regverdig is nie dat slegs De Kock en ’n paar ander “die hoogste prys moes betaal” hoewel hulle voor die WVK getuig het, “terwyl daar ’n klomp mense is wat eenvoudig daarmee weggekom het”.

“In sekere gevalle sal daar seker nog vervolging wees, in baie gevalle nie, wat selektiewe vervolging beteken, want in baie gevalle kan ons eenvoudig net nie meer vervolg nie.”

Misdaad teen die mensdom?

Neeshan Balton: Dis onsensitief teenoor die slagoffers van apartheid om bloot te vra “waarom kan ons nie maar die boek toemaak nie”. Foto: Argief

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting, sê dis belangrik om te erken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was en wêreldwyd so erken is.

Volgens Balton sal die land nog vir “dekades, dalk eeue” die gevolge van apartheid moet verwerk.

“Suid-Afrikaners, en diegene wat gehelp het om apartheid aan te por en wat apartheidsmisdrywe gepleeg het, het die geleentheid gehad om voor die WVK na vore te kom en te verklaar wat hul betrokkenheid was en vir vrywaring (teen vervolging) by die WVK aansoek te doen.

“Baie het verkies om dit nié te doen nie Dit het baie van die slagoffers – soos die families van Timol, Aggett, Steve Biko en ander wie se geliefdes deur apartheidsagente en die apartheidstelsel vermoor is – met onbeantwoorde vrae gelaat. Hulle verdien om te weet wat met hulle familie(lede) gebeur het, selfs al beteken dit die mense wat hierdie inligting het, moet nou vervolg word om die waarheid uit te bring.”

Hy sê ná die Tweede Wêreldoorlog was daar die Neurenberg-verhore wat die Nazi’s tot verantwoording geroep het.

Dis onsensitief teenoor die slagoffers van apartheid om bloot te vra 'waarom kan ons nie maar die boek toemaak nie?'.
Neeshan Balton

“Suid-Afrika het nie hierdie roete gekies nie, maar die WVK-proses. Dit het behels dat die oortreders van sodanige ongeregtighede na vore moes kom. As hulle nie het nie, was dit hul eie keuse en hulle moet daarom nou die gevolge daarvan dra.

“Ons moet altyd onthou dat diegene op die voorpunt van die Joodse volksmoord vervolg is – selfs in die latere stadiums van hul lewens. Hul vonnisoplegging het afsluiting vir miljoene slagoffers van hul dade gebring.”

Balton sê dis onsensitief teenoor die slagoffers van apartheid om bloot te vra “waarom kan ons nie maar die boek toemaak nie”.

Sal ons ooit die punt bereik waar ons kan sê dat apartheid tot die verlede behoort? Volgens Balton sal ons eers op daardie punt kom as rassisme en rasseongelykheid met wortel en tak uitgeroei is.

“Ons sal daardie punt bereik eers wanneer ons ’n samelewing het wat in alle opsigte ten volle geïntegreerd en gelyk is en wat werklik die waardes van die Grondwet uitleef.”

* Marx is 'n redaksielid van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.