Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tóé en nou: 1995 en 2019

In die openbare opwinding oor die Springbokke se oorwinning oor Engeland is dit vanpas om in herinnering te roep dat Suid-Afrika ’n spesiale verhouding het met die Wêreldrugbybeker wat tot 1995 teruggaan. Elke oorwinning het sy eie karakter – ook die oorwinning in 2007 oor Engeland – maar die een in 1995 oor die All Blacks staan nog steeds uit. Wat was die redes daarvoor en hoe het dit van die pas afgelope sege verskil?

Saterdag 24 Junie 1995 was ’n merkwaardige dag in die geskiedenis van die nuwe Suid-Afrika, wat amptelik toe ’n aks meer as ’n jaar oud was. Daar het ’n ongekende opwelling van wat as spontane nasiebou bestempel is, plaasgevind. Soos nog nooit tevore het wit, swart en bruin die oorwinning in die strate gevier, en kenmerkend van die feesvierings was daar ’n gees van wedersydse welwillendheid.

Hoe kan dié euforie in 1995 verklaar word? Wat was die konteks waarin die “spontane ideologie” van die gebeurtenis ingebed was? Benewens Joel Stransky se epogmakende skepskop in die laaste minute, het die grondslae van die oorwinning buite die destydse Ellispark gelê.

Hoe kan dié euforie in 1995 verklaar word? Wat was die konteks waarin die “spontane ideologie” van die gebeurtenis ingebed was?

Louis Luyt, voorsitter van die rugbyraad, het in weerwil van sy omstredenheid of miskien juis as gevolg van sy dryf en drif seker gemaak dat die toernooi wel te midde van dreigende onrus in die vroeë 90’s in Suid-Afrika sou plaasvind. Hy het nie slegs goeie sakesin aan die dag gelê nie, maar ook oorhoofs gesorg dat ’n nuwe dinamiese beeld van Suid-Afrikaanse rugby uitgedra word.

Die konsep “Springbokke” is in ’n intens gedrewe mediaveldtog herverpak. Met die leuse, “One team, one country”, en met die klanke van “Shosholoza” is gepoog om ’n vars Afrika-identiteit te gee aan ’n sport wat by uitstek swaar aan die bagasie van apartheid gedra het. Ewe belangrik was die nuwe gesig van Suid-Afrikaanse rugby, Chester Williams, wat onlangs oorlede is. Die “swart pêrel” het buitengewone mediadekking geniet.

Veral Afrikaners was só uitgehonger vir internasionale rugby en só suf van politiek ná die spanningsvolle veranderings sedert 1990, dat hulle geesdriftig die toernooi ondersteun het. Dit was nog in die dae van FW de Klerk se gerusstellende wigte en teenwigte en voordat die implikasies van regstellende aksie heeltemal deurgedring het.

Kortom, Afrikaners het formele politiek vir rugby verruil en gereken dat dit ’n uitstekende transaksie was. Die euforie by die oorwinning was die uitkoms van ’n openbare partytjie wat net plek gesoek het om plaas te vind.

Daar is 24 jaar later natuurlik heelwat faktore wat verskil.

Dan was daar natuurlik ook Nelson Mandela wat as president met sy verskyning in die nr. 6-trui die gedagte van versoening simbolies ver buite die stadion laat weerklank het.

Daar is 24 jaar later natuurlik heelwat faktore wat verskil.

Die 2019-toernooi het in die buiteland plaasgevind en het nie as geheel dieselfde plaaslike intensiteit soos in 1995 gehad nie; in 1995 het die spel nog in die amateur-era plaasgevind en nie soos tans in ’n volledige professionele konteks nie; Cyril Ramaphosa, hoewel meer gesaghebbend as sy rampspoedige voorganger, Jacob Zuma, het nie naastenby dieselfde ikoniese status as Mandela nie; die punteverskil in die eindstryd was veel groter as in 1995 en daar was nie dieselfde soort spanning as in die laaste fases van 1995 nie; en die etniese samestelling van die span in 2019 – altyd ’n kwessie in ’n rasbehepte Suid-Afrika – het aansienlik van dié in 1995 verskil.

Tog is daar ooreenkomste: In 1995 was Suid-Afrika deur ’n spanningsvolle tyd, in 2019 bied die ekonomiese terugslae, die gebrek aan politieke integriteit en die uitrafeling van sosiale strukture meer as genoeg rede tot kommer.

Miskien is dit juis as gevolg van hierdie ongestadighede dat “brood en spele” so geredelik ’n uitwerking het, dat in 1995 én 2019 wit sowel as swart onbeteueld in openbare plekke uitdrukking aan hul emosies kon gee. Dit is byna asof hulle wil sê: “Ons kán mos beter wees!”

En dit is goed so, dis reg en mooi. Die hart moet soms oor die hoof seë­vier. Maar soos in 1995 toe die vreugdevure vinnig geblus is, sal dit ook in 2019 gebeur. Onvermydelik is dit slegs 80-minute-patriotisme. Geredelikerwys kan rugby natuurlik nie veel meer doen nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.