Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Toe hou ons seun op funksioneer . . .

Haar kranige seun sou na verwagting 11 onderskeidings in matriek behaal. Dit was voordat bipolêre gemoedsteurnis by hom gediagnoseer is. Sewe jaar later vertel Lala*, sy ma, die storie van sy rondomtalie-matriekjaar.

bipolêre gemoedsteurnis
Bipolêre gemoedsteurnis

Ek het Woensdag vir die eerste keer sedert Januarie 2012 na al die pragtige stories van matrikulante in Beeld gekyk. Hoekom vandag (08.01), kan ek nie vir jou sê nie, maar ek is geroer deur Cindy David se mooi storie. (Sy kon op 11-jarige ouderdom nog nie lees of skryf nie omdat sy nie voorheen skool toe gestuur is nie.) Ek het aanhou lees. Daar is kinders wat finansiële ontberings beleef het, geliefdes aan die dood afgestaan het, ouers met ernstige siektes het of ’n matrikulant wat self aan ’n siekte ly.

Ek staan op en gaan loer in by my seun se kamer. Hy slaap nog. Dit is reeds 11:30. Hy sal waarskynlik eers tussen 13:00 en 16:00 opstaan. Hy is ’n meestersgraadstudent. Hy sal hopelik vanjaar sy graad voltooi en volgende jaar met sy doktoraal begin.

Dit was sewe moeilike jare tot hier. Hy is bipolêr. Sy storie is nooit geplaas nie en ek hoop dit sal nou gebeur.

In 2012 was my blinkoogkind ook in matriek. Hy is by drie universiteite vir mediese studie gekeur. Die siekte het soos ’n dief in die nag sy lewe ingesluip. Ons het geen onraad vermoed nie.

Hy het alpha-wiskunde reeds in gr. 11 met ’n onderskeiding klaargemaak. Hy het ook 11 ander vakke in matriek gehad.

Lewe word ’n nagmerrie

Hy was nog altyd vreeslik gedrewe, maar ná die April-vakansie het iets my genoop om hom te oortuig om minstens een ekstra vak te los. Skielik kon my kind nie meer opstaan in die oggend nie. Saans speel hy die mees bisarre rekenaarspeletjies. Praat help nie.

Die skool bel ons. Hy kan glad nie funksioneer nie. Doktersbesoeke volg. Hy word in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem. Ons lewe word ’n nagmerrie. Die rekordeksamen breek aan. My man neem hom skool toe en wag in sy motor vir die kind. Sy registeronderwyser het onderneem om elke dag te gaan loer hoe dit gaan. Sy kom sê vir pappa dat hy net een paragraaf geskryf het en nou net daar sit. Só gaan dit vir drie dae.

Dit is soos om ’n dodelike siek kind uit intensiewe sorg uit die hospitaal te pluk en te verwag hy moet eksamen skryf. Ons gee op en dis terug hospitaal toe met die kind. Daar is verskeie selfdoodpogings tuis. Ons vind uit dat hy homself sny waar ’n mens dit nie onder sy klere kan sien nie.

Die engele by die skool ondersteun ons. Opsommings word gestuur. Kaartjies en boodskappe van bemoediging volg. My trane druppel oor ’n pragtige houertjie met ’n snytjie sjokoladekoek in. Dit is met soveel liefde gebak.

My ander kind kry so swaar. ’n Welmenende persoon vertel my van twee broers met ’n soortgelyke geestesongesteldheid wat al drie jaar probeer om hul skoolloopbane te voltooi. Elke kwartaal op die eerste dag bring mamma hulle skool toe. Binne ure moet sy hulle weer kom haal.

Hy sál matriek slaag

Ek sien hoe my kind se drome in stukkies spat. Ek neem ’n besluit. My kind sál sy skoolloopbaan voltooi. Ek weet dat as hy nie matriek maak hierdie jaar nie, sal dit nooit gebeur nie. Ek skakel die psigiater se kantoor en vra vir ’n toevoeging by die hand vol pille wat hy reeds sluk.

Al sy vriende behalwe een het hom versaak. Ek neem die kinders nie kwalik nie. Hulle is tieners op die drumpel van ’n opwindende lewe – en my kind flankeer met die dood. Die nuwe medikasie werk. Dit kry hom uit die bed uit. Ouma kom woon tydelik by ons. Ons moet terugkeer werk toe. Bedags sit hy by die eetkamertafel en maak of hy leer. Ouma is tevrede.

Diagnose en eindeksamen

My kind word 18 en die diagnose verander van majeure depressie na bipolêre gemoedsteurnis. Ons vier in ons harte die feit dat hy nog leef.

Die eindeksamen breek aan. Pappa neem hom skool toe vir elke vraestel. Hy weier om enige ekstra vak te los. Pappa wag langs die eksamenlokaal tot hy klaar is (ons is bang hy loop weer weg) en bring hom huis toe. Ons huishouding word al hoe moeiliker om aan die gang te hou. My dogter se lewe val uitmekaar. Ons skraap die stukkies bymekaar. Sy skryf eksamen. Ek slaap glad nie. In die nag staan ons saggies op en maak skerp voorwerpe bymekaar en elke denkbare ding waarmee ’n mens moontlik jou lewe kan beëindig, soos skoonmaakmiddels, insekdoders, ’n blikoopmaker, ’n groenteskiller en skêre. Ons sluit dit weg. Ek lees verwoed op die internet oor die siekte. Ek huil as ek net sy naam noem.

Beeld stuur ’n joernalis na ons huis toe om met die kind te gesels oor sy prestasies en goeie punte. Die skool het sy naam maande terug al vir die koerant gegee. Die joernalis neem ’n pragtige foto van hom in sy skoolklere wat soos ’n sak aan hom sit. Hy het so maer geword. Ons sê niks van die siekte nie. Ons kan nie voor die kind vir haar sê dat ons nie eens seker was dat hy twee sinne opeenvolgens geskryf het wat sin maak nie. Ons weet nie of hy sy eksamen gaan slaag nie. Ons weet nie of hy ooit universiteit toe sal kan gaan nie. Ons sê nie vir haar dat met God se genade hy nog leef nie. Ons sê nie vir haar dat ons huis vol liefde in ’n huis vol smart verander het nie. Die verlies wat ons almal beleef lê soos ’n swaar kombers oor my huis.

Storie nooit geplaas

Hy het toe nooit die 11 onderskeidings gekry waarop die skool gehoop het nie. Sy storie is dus nooit geplaas nie. ’n Wonderwerk gebeur en hy verlaat skool met ses onderskeidings en nog vyf vakke waarvan die laagste punt 73% is.

Oor die afgelope sewe jaar het ons as gesin ons lewe stukkie vir stukkie uit die as uit opgetel. Die kind wat ek voor 2012 gehad het, bestaan nie meer nie. Hy is ’n ander kind. Ons moes hom van nuuts af leer ken.

Dis ’n proses wat steeds aanhou. Ek het getreur oor die kind wat ek verloor het.

Die ander kind het lank aan depressie gely as gevolg van die broer se siekte. Pappa is ook nie meer dieselfde mens nie.

Ons begin weer vreugde vind. Ons lag saam vir ons hondjie se narstreke. Die hondjie wat ek in my onnoselheid gaan koop het met die idee dit sal my kind gesond maak. Hy wou lankal so graag ’n nuwe hond hê. Ons stry oor wêreldsake en gesels oor sy drome met sy studies. Ons is nou gelapte mense, maar nie meer stukkend nie. Soms val ’n stuk af, maar dan tel ons dit net weer op. Die lewe gaan aan.

‘Kanker van die gemoed’

Ek kan verstaan dat daar nie een storie geskryf is oor ’n matrikulant met ’n geestesongesteldheid nie. Daar is steeds ’n stigma aan hierdie siektes. Ek noem dit kanker van die gemoed.

Kinders met ernstige siektes soos kanker kry baie simpatie en ondersteuning, maar kinders met depressie of ’n ander toestand soos ’n eetstoornis word beskou as anders en laat mense ongemaklik voel.

Ek wens ek kon persoonlik vir elke kind met ’n geestesongesteldheid sê: Die stigma wat aan jou siekte kleef is nie jou skuld nie. Jy verdien beter. Gee die beste wat jy kan. Daar is hulp en hoop beskikbaar. Jaag jou drome na, hulle kan bewaarheid word. Ek smeek jou, as jy voel die lewe is te swaar, praat met iemand, vra hulp, daar is mense wat jou liefhet en vir jou omgee.

Môre sal die son weer skyn.

* Lala is ’n skuilnaam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.