Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Toe Steinhoff in ’n ‘ander liga’ was

Steinhoff het 'n reuse-geleentheid tot uitbreiding gehad nadat hy Pepkor oorgeneem het, skryf TJ Strydom in dié uittreksel uit sy boek, Christo Wiese: Risiko en Rykdom.

Die eerste keer dat die media Markus Jooste en Wiese in dieselfde asem noem, is toe gerugte in 2009 die ronde doen dat Steinhoff en Shoprite na mekaar loer.

Shoprite het natuurlik die OK Bazaars se ou meubelbelange in sy stal, wat OK Furniture en House & Home insluit. En dit pas mooi in by Steinhoff se plan om ’n al hoe groter deel van die waardeketting te kry, dieselfde plan wat skipbreuk gely het toe die JD Group se aandeelhouers hul neuse vir sy aanbod opgetrek het.

Shoprite is teen dié tyd ook al veel groter en het meer as ’n duisend winkels in sewentien lande en ’n omset van byna R60 miljard.

Die koopsom is byna R63 miljard – die grootste oorname in daardie stadium in Suid-Afrika.

Intussen, op die agtergrond, is die ware “game changer”-transaksie aan die broei.

En as Steinhoff al vantevore premies betaal het by oornames, is dit hierdie keer iets spesiaal. In November daardie jaar kondig Steinhoff aan dat hy Pepkor, wat in dié stadium in die hande van Wiese en sy familie, Brait en die Pepkor-bestuur is, gaan oorneem. Die koopsom is byna R63 miljard – die grootste oorname in daardie stadium in Suid-Afrika.

En ’n hele paar wenkbroue lig sommer gou, want die prys is omtrent dubbel Pepkor se jaarlikse omset. Die beleggingsbank JP Morgan waarsku, “we think Steinhoff is overpaying”.

En vir Wiese is dit ’n reuse-meevaller. Pepkor se minderheidsaandeelhouers is in 2004 deur Brait en Ou Mutual vir R2,6 miljard uitgekoop en die groep is toe gedenoteer. In 2011 het Brait sy belang na 37% opgeskuif en die hele Pepkor in daardie stadium teen R16,5 miljard waardeer.

Markus Jooste toe hy verlede jaar voor die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies verskyn het. Foto: Edrea du Toit

Net meer as drie jaar later is Steinhoff bereid om vier keer soveel op te dok.

“Christo het vir ons gesê Pep is ’n great kleinhandelbesigheid.

Dit is onderontwikkel oorsee en hulle het nie toegang tot kapitaal nie . . . hy sê, julle ouens, met julle steun kan ons dit vat van 0 tot 10 000 (winkels) . . . en dit is hoe die idee gekom het om daarna te begin kyk,” sê Jooste.

‘Klomp boere met dieselfde aksente’

Pep Stores se direksie in die vroeë 1970’s. Van links is Renier van Rooyen, Johan Greyling, Frank Weetman, Basil Weyers, Christo Wiese, Whitey Basson, John Lee en Tom Ball. Foto: Verskaf deur Basson

Steinhoff betaal ’n deel in kontant – maar die grootste deel in Steinhoff-aandele. Dit maak van Wiese die grootste aandeelhouer in Steinhoff en gee vir Brait ook ’n beduidende belang en ’n groot hoop kontant – en skielik sit die Pepkor-bestuur met Steinhoff-aandele.

“Dié soort transaksie kan net gebeur as almal tevrede is. Pieter Erasmus (besturende direkteur van Pepkor) het die Sondag van Australië af teruggekom en die Maandag was daar ooreenstemming met wat hulle wil hê. As hy nee gesê het, was daar nie ’n transaksie nie. Dis eenvoudig hoe dit gebeur het.”

Wiese dink Steinhoff en Pepkor pas goed bymekaar wanneer dit by maatskappykultuur kom en hy haal spottenderwys vir Erasmus aan wat glo gesê het dis ’n klomp boere en “die aksente is dieselfde”.

Aksente bly maar ’n moeilike besigheid, en Jooste dra ’n swaar Afrikaanse een. So het hy en ’n sakeverslaggewer mekaar sleg verkeerd verstaan kort nadat die transaksie aangekondig is.

Soos altyd, het Wiese ’n paar ysters in die vuur.

Die Pepkor-oorname verhoog die maatskappy se markwaarde beduidend omdat dit ’n groot toename in kapitaal meebring, lui die storie in The Star se Business Report. Die koerant haal Jooste aan: “It would also enhance our positioning in terms of size and waiting in the ducks in Frankfurt which is a positive.”

Dit gaan dalk oor die weighting on the (Frankfurt) DAX, maar dit klink darem baie soos waiting in the ducks.

Soos altyd, het Wiese ’n paar ysters in die vuur.

En Brait, die beleggingsgroep waarvan hy die grootste aandeelhouer is, sit ná die Pepkor-transaksie skielik op hope kontant.

Probleme in Ysland

Christo Wiese
Wiese in die 1980’s as uitvoerende voorsitter van Pepkor. Foto: Rapport

Brait neem in April 2015 die gimnasium-ketting Virgin Active oor. Soos die naam aandui, is dit ’n maatskappy van die Britse entrepreneur sir Richard Branson. Maar die besigheid het sy wortels in Suid-Afrika as Leisurenet se Health & Raquet Club.

Die maatskappy het in die laat 1990’s gevou weens te veel skuld ná ’n ambisieuse uitbreiplan in Australië, Brittanje en Duitsland. Oudpresident Nelson Mandela het Branson toe gebel om te vra dat hy die groep – en die werk van ’n klomp gim-instrukteurs in Suid-Afrika – red. Branson, wat glo in die bad was toe hy die oproep kry, het ingestem.

’n Dekade en ’n half later is daar eers gerugte dat die groep, met sy meer as 250 klubs, in Suid-Afrika gaan noteer. Maar dan koop Brait 80% van die aandele daarin vir sowat R12 miljard.

Vir Steinhoff is die Pepkor-transaksie ’n reuse-geleentheid vir verdere uitbreiding.

En selfs ná sy slegte ervaring met Poundstretcher en die ander kleinhandelaars waarin Pepkor twee dekades gelede in Brittanje belê het, keer Wiese Brait nie wanneer dié sowat R15 miljard vir die klereketting New Look opdok nie.

New Look, wat ook ’n notering oorweeg het, bedryf 800 winkels waarvan die meeste in Brittanje en Ierland is. Maar die Britse klerekleinhandel is ’n hoogs mededingende bedryf met nukke en giere wat vinnig kan verander.

Later in 2015 vergroot Brait die belang wat hy ’n paar jaar tevore in Iceland Foods gekoop het tot 57% in ’n transaksie van sowat R3,5 miljard. Dieselfde jaar neem die regering van Ysland regstappe teen dié Britse kleinhandelaar omdat hy genoeg gehad het daarvan dat Iceland Foods maatskappye van dié klein eilandnasie vervolg wat die woord Iceland in hul bemarking gebruik.

Krapperigheid met Steinhoff

Pep Stores se stigter, Renier van Rooyen, saam met sy ou kollegas Christo Wiese en Whitey Basson. Foto: Verskaf deur Johann van Rooyen

Maar ’n ander plek waar vervolging begin dreig, is Steinhoff.

Vir Steinhoff is die Pepkor-transaksie ’n reuse-geleentheid vir verdere uitbreiding.

“Met Christo het die Pep-Steinhoff-samesmelting ons in ’n ander liga geplaas wat ons balansstaat en kapitaal betref. Ons het die maatskappy se markwaarde meer as verdubbel met die transaksie,” sê Jooste.

En die mandaat wat hulle by die Wiese-familie gekry het, is om die besigheid verder uit te brei.

Steinhoff koop in April 2015 die minderheidsaandeelhouers van die JD Group uit. Wat vroeër ’n beduidende transaksie vir Jooste en sy span sou wees, lyk nou klein in vergelyking met Pepkor.

Maar vroeg daardie jaar begin iets anders ook krap.

Terselfdertyd is Steinhoff en sy vennoot Seifert in ’n geskil betrokke.

In Duitsland voer die belastingowerheid ’n klopjag op ’n Steinhoff-maatskappy uit. Jooste sê dit is ’n werknemer wat hulle in die pad gesteek het wat aantygings by die owerhede oor daardie onderneming gaan maak het. Die media en Steinhoff self steur hulle nie te veel aan die insident nie.

Terselfdertyd is Steinhoff en sy vennoot Seifert in ’n geskil betrokke oor die geld wat hy glo nog nie betaal het nie vir hul beleggings in Conforama en Kika-Leiner.

“Ongelukkig het dit so uitgedraai dat Seifert die verkeerde persoon was om saam in die besigheid in te gaan en Steinhoff se bande met Seifert is in Maart 2015 verbreek,” sê Jooste aan die parlementêre komitee.

Dié begin toe ook met die Duitse belastingowerhede praat om die ondersoek na Steinhoff aan te help.

“Dit was my oortuiging en ook Steinhoff s’n dat Seifert probeer het om die vervolgingsowerhede, kapitaalmarkreguleerders en die pers te gebruik om hom in sy ongegronde pogings te help om inligting te bekom en die uitslag van die howe te beïnvloed in die voortslepende siviele litigasie,” sê Jooste.

In daardie stadium was hofsake al tussen hulle aan die gang in Duitsland, Oostenryk en Nederland. Die hofgedinge sou nog jare duur.

Die direksie wys toe ’n rekenmeesters- en ’n regsfirma in Duitsland aan om die aantygings te ondersoek.

Notering en hulp vir die minister

’n Familiefoto met Wiese se 75ste verjaardagviering in 2016 op die Lourensford-wynlandgoed. Agter van links is Christina, Clare Wiese-Wentzel, Christo, Jacob en Caro. Voor is Marco Wentzel en Ty (Jacob se vrou.) Foto: Clare se blog: The Global Critic

Intussen kry die maatskappy goedkeuring om in Desember 2015 in Frankfurt te noteer.

Minder as twee weke voor die notering besoek die Duitse owerhede Steinhoff Europe Group Services se kantore in Westerstede as deel van die belastingondersoek oor die waardes waarteen sekere ontasbare bates te boek gestel is.

Steinhoff reik weer ’n verklaring uit en sê niks is verkeerd nie.

Op 7 Desember maak hy sy buiging op die Duitse beurs.

Wiese is daar en poseer vir ’n foto by die bul voor die Frankfurtse aandelebeurs se gebou. Jooste is afwesig.

Binne dae oortuig ander ANC-leiers en die sakegemeenskap Zuma om Pravin Gordhan weer in sy ou pos aan te stel.

Minder as ’n week ná Steinhoff se notering in Duitsland tref ’n skok die markte in Suid-Afrika.

[Oudpres. Jacob] Zuma skommel sy kabinet. Hy stel ’n hele paar onbekende gesigte aan. Maar die grootste verrassing is dat hy Nhlanhla Nene as minister van finansies vervang met ’n obskure agterbanker, Des van Rooyen. Die rand tuimel tot nuwe laagtepunte, want die skuif vryf sout in die wonde nadat twee kredietgraderingsagentskappe die land tot net bo rommelstatus afgradeer het.

Binne dae oortuig ander ANC-leiers en die sakegemeenskap Zuma om Pravin Gordhan weer in sy ou pos aan te stel.

Van Rooyen kry ’n minder prominente rol – en die bynaam “Weekend Special” omdat hy so kort in die tuig was.

Maar skielik is Suid-Afrika se politieke risiko duidelik op die voorgrond, want Zuma se onvoorspelbaarheid – en die gerugte dat hy sy opdragte by ’n ander bron as die ANC kry – demp sakevertroue.

Kort ná sy aanstelling trek Gordhan vir Wiese nader om te help keer dat die land se skuld tot rommelstatus verdoem word.

’n Belegging in die buiteland, soos Steinhoff, lyk nou onontbeerlik vir enige portefeulje.

“Die laaste klompie jare is daar ’n amper totale kloof tussen die sakesektor en die regering,” sê Wiese. Hy voeg by dat dit vir hom lyk asof die private sektor as “die vyand” beskou word.

Die transaksie met Pepkor laat baie dink dat Wiese self ’n plan beraam het om ’n groot deel van sy rykdom in die buiteland te kry. En die meeste ander magnate is jaloers op sy goeie tydsberekening.

Hy vererg hom daaroor.

“Dit is die onsin oor disinvestering uit Suid-Afrika waarmee ek die heeltyd opgeskeep sit. Dit is net onsin. Steinhoff is in Frankfurt genoteer, maar is in Johannesburg ook genoteer. So hoekom is die klem op die Frankfurt-genoteerde Steinhoff? Ek verstaan nie wat die punt is wat mense wil maak nie.”

Kort ná sy aanstelling trek Gordhan vir Wiese nader om te help keer dat die land se skuld tot rommelstatus verdoem word.

* Christo Wiese: Risiko en Rykdom word deur Tafelberg uitgegee en kos R290.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.