Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Toekoms van Afrikaans in bruin hande

Sy dink die toekoms van Afrikaans lê in die hande van bruin mense en hulle moet sê wat hulle wil hê en wat hulle daarmee wil doen, het Antjie Krog aan Rudolf Stehle gesê.

Antjie Krog in gesprek met Mirjam van Hengel by de Universiteit van Amsterdam oor haar boek Hoe alles hier verandert. Foto: Rudolf Stehle

Antjie Krog beskou die prys van die Gouden Ganzenveer, een van die grootste literêre eerbewyse in die Nederlandse taalgebied, aan haar as ’n gebaar waarmee die Nederlandse taalgebied wil uitreik na Suid-Afrika.

Sy is die eerste nie-Nederlandssprekende ontvanger van die prys.

“Ek dink dit is ’n teken dat hier ’n begeerte is om nader te kom aan Afrikaans, soos wat mens nou al hoe meer agterkom daar is by Afrikaans ook ’n begeerte om nader te kom.”

Die Academie De Gouden Ganzenveer het Krog met die bekendmaking in Januarie geprys as 'een bijzondere en veelzijdige dichteres, een uitzonderlijk integer schrijfster en journaliste en een begenadigd performer van haar eigen werk'.

Krog is in Amsterdam waar dié prys op ’n eksklusiewe geleentheid Donderdagmiddag in die voormalige raadsaal van die hotel The Grand voor ’n uitgelese gehoor van sowat 150 gaste aan haar oorhandig is.

Die prys word jaarliks aan ’n persoon of instelling toegeken vanweë sy of haar groot betekenis vir die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Die Academie De Gouden Ganzenveer het Krog met die bekendmaking in Januarie geprys as “een bijzondere en veelzijdige dichteres, een uitzonderlijk integer schrijfster en journaliste en een begenadigd performer van haar eigen werk”.

Die gesprek met Krog vind op die vooraand van die prysgeleentheid in die akademies-kulturele sentrum Spui25 in Amsterdam plaas waar haar boek Hoe alles hier verandert bekend gestel is. Dit is ’n persoonlike keuse uit haar niefiksie wat in Nederlands vertaal is en vergesel word deur ’n splinternuwe voorwoord deur Krog self.

Die betekenis van pryse

Sy het nog nie ’n oog toegemaak nadat sy die oggend in Amsterdam aangeland het nie, maar ’n mens sou dit nie kon raai nie. Sy het ná die uur lange gesprek met die skrywer Mirjam van Hengel ’n hele string Nederlanders en ’n paar verloopte Suid-Afrikaners se boeke geduldig onderteken, geselsies aangeknoop, glimlagte uitgeruil.

Sy dink lank na voordat sy my vraag beantwoord oor wat die prys vir haar beteken.

“Ek dink die oomblik wanneer pryse vir jou iets belangriks beteken, dan is jy verlore. So ’n mens vat die eerbewyse soos wat jy ook beledigings vat en jy’s dankbaar vir die erkenning, maar dit voel vir my ek kan nie eens bekostig om te probeer dink waarom ek dit gekry het nie. Het ek dit werklik verdien, wat beteken dit vir my skryfwerk, hoekom het ek so ’n groot mark in Nederland, wat is dit wat ek sê wat Nederlanders belangrik vind?

Antjie Krog lees voor uit haar boek Hoe alles hier verandert. Foto: Rudolf Stehle

“Ek weier om in my kop daar te gaan, want dit trek jou aandag af van dit wat ek voel ’n digter behoort te doen.”

Ek meen, dit is totaal nutteloos om goed te sê wat ander digters beter as ek sê.

En dit is? pols ek.

“Om te sê wat jy voel gesê moet word. Met ander woorde, dis iets wat jou dryf om gesê te word. So jy sit nie en dink dis nou tyd vandag om ’n gedig te skryf nie, dis ’n gedrewenheid, iets wat jou dryf.

“Elke keer dan dink ek ek is klaar, elke keer dan dink ek ek kan eintlik nou doodgaan – en dan . . . Ek meen, dit is totaal nutteloos om goed te sê wat ander digters beter as ek sê. So jy maak jou oorattent op ‘o, gelukkig het daai een dit gesê’, ‘o nee wonderlik, daar word dit gesê’ en dan kom jy agter daar is sekere goed wat gesê moet word en dan doen jy dit. En ek weet nie, dit is maar die land. Ek dink as ek nie daar gebly het nie, het ek sekerlik nie geskryf nie.”

Leer van die taal van pyn en die taal van vryheid

Ek vra haar of die band met Nederlands iets is wat Afrikaanssprekendes verder moet verken.

“Ek dink ’n mens moet baie mooi dink waarom jy uitreik na Nederlands en Nederlands moet ook dink waarom reik hy uit na Afrikaans. As dit is omdat jy wil soort by soort sit, of ons reik uit na Nederlands, want ons wil aan ’n suiwer Germaanse bors gedruk word, dan is dit ’n probleem. Ons kan leer by Nederland van die Marokkane en van die Indonesiërs, jy kan leer van die taal van pyn en die taal van vryheid en van kolonialisme en postkolonialisme. Ek sal graag dít – en die inkoms van Moslems in Nederlands – ek sou graag Afrikaans daardeur verryk wil sien.

Antjie Krog het Donderdag die Gouden Ganzeveer-prys in Nederland gekry. Hier gesels sy met Mirjam van Hengel oor haar boek Hoe alles hier verandert. Foto: Rudolf Stehle

“En ek sou graag Nederlands verryk wou sien deur die diversiteit wat in Afrikaans bestaan: Die verskillende stemme wat maniere van lewe en plekke van lewe beskryf wat eintlik nog nie voorheen in die letterkunde beskryf is nie – en definitief nie in Engels in Suid-Afrika beskryf word nie. Dit is ’n geweldige wonderlike bydrae wat Afrikaans bring tot Suid-Afrika – dít is waarom Nederlands uitreik na ons: oor ons onsuiwerheid, oor ons morsige gestoei en die wonderbaarlike geluide wat ons in die proses na vore bring.”

Ek vra haar wat Afrikaanssprekendes kan doen om Afrikaans te laat floreer.

Jy gaan hom nie van bo af red nie, jy moet hom van onder af red.

“Die heel belangrikste ding is, mense moet ophou om nét met mekáár te praat. Die gesprek moet wees saam met ander tale. En ek weet daar is baie besware daarteen, daar is baie verhale van dat dit probeer is en dit het nie gewerk nie, maar as ons daai gesprek nie aan die gang kry saam met ander tale nie, dan is dit die einde van Afrikaans.

“Jy gaan hom nie van bo af red nie, jy moet hom van onder af red. Waar 'n klomp mense voel dis belangrik dat nog ses of sewe ander tale bly bestaan in die land en dan van daar af kan jy dit verder vat. So jy moet praat met die ander.”

Tree met alle tale in gesprek

Sy sê daar is tans groot druk by die Universiteit van KwaZulu-Natal dat sekere vakke in Zoeloe gegee moet word.

“Hoekom is daar nie ’n verbintenis tussen Stellenbosch en Bloemfontein en KwaZulu-Natal nie?”

Iets is ook in die Oos-Kaap aan die gebeur met Xhosa by Grahamstad, sê Krog.

Antjie Krog: Die toekoms van Afrikaans lê in bruin hande. Foto: Rudolf Stehle

“Ek het ’n kongres bygewoon waar almal Xhosa gepraat het – tot die loods op pad soontoe het Xhosa gepraat. So daar gaan iets aan, ons behoort met hulle in gesprek te tree. Ons behoort nie mekaar te beledig en sleg te sê en voor die rektor se deur te skyt oor Stellenbosch nie.”

Ek vra haar of sy saamstem met die taalkundige Wannie Carstens se mening dat Afrikaans ’n Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) nodig het.

“Ek weet nie of dit net vir Afrikaans moet wees nie. Ek dink dit moet eintlik vir alle tale wees. Ek dink die toekoms van Afrikaans lê in die hande van bruin mense en hulle moet sê wat hulle wil hê en wat hulle daarmee wil doen. As hulle voel ’n WVK speel ’n belangrike rol in die voortbestaan, dan moet dit.”

En as ’n wit persoon is dit vreeslik bevrydend omdat jy voel niemand gee om wie jy is nie en dis tog heerlik.

En wat geniet sy van Nederland?

“ ’n Mens voel op ’n manier onopgemerk hier. En as ’n wit persoon is dit vreeslik bevrydend omdat jy voel niemand gee om wie jy is nie en dis tog heerlik. Terwyl jy voel (in Suid-Afrika) so spesifiek getarget.

“Nee, nie getarget nie,” korrigeer sy haarself.

Sy huiwer.

“Ek is so bewus van die black gaze. Ek is so bewus van hoe swart mense moeg is vir ons en geïrriteerd is met ons en ‘kyk, daar koop sy al weer dit’ of ‘daar loop sy al weer’. En hier is jy vir ’n rukkie bietjie los daarvan.”

* Stehle, redaksielid by Beeld, is as deel van ’n kulturele verrykingsprogram vir twee maande in die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gesetel.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Wannie Carstens  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.