Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Toerisme: Hoe lyk pad vorentoe ná Covid-19?

Die krisis rondom die koronavirus het wêreldwyd ’n verlammende impak op die toerismebedryf. Carla Lewis kyk na die pad vorentoe.

Die Groot Kanaal in Venesië is gestroop van bootverkeer. Foto: Reuters

As jy nie van beter geweet het nie, sou jy gedink het die wegraping het plaasgevind.

Die Napoleon-binnehof van die Louvre, waar I.M. Pei se glaspiramides onder die Paryse lug skitter, is verlate.

In Venesië is die Rialto-brug, wat gewoonlik kreun onder toeriste, doodstil. Die kanale, gestroop van bootverkeer is ’n glashelder turkoois – ’n mens kry amper ’n blik op die verlede toe die Britse digter, Lord Byron lengtes in die Groot Kanaal kon swem, sonder om vir ’n vaporetto te koes.

“Niemand het ’n wêreldwye reisstilstand aan die begin van 2020 verwag nie,” sê Mariette du Toit-Hembold, voormalige uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme en eienaar van die toerismebemarkingsmaatskappy Destinate.

Covid-19 het beklemtoon juis hoe belangrik die reis -en toerismebedryf vir die wêreldekonomie is.
Mariette du Toit-Hembold

“Nietemin, die jaar is skaars drie maande oud en die wêreld se gewildste toerismebestemmings is spookdorpe. “Die reisbedryf staan behoorlik bont om sin te maak van die grootste uitdaging in ons onlangse geskiedenis: Covid-19.”

Sy sê hoewel die reisbedryf die afgelope paar dekades baie uitdagings trompop geloop het – soos natuurrampe en politieke onstuimigheid – en ten spyte daarvan selfs geseëvier het, die Covid-19-pandemie die toekoms van die reisbedryf onherroeplik gaan verander.

“Covid-19 het beklemtoon juis hoe belangrik die reis-en-toerismebedryf vir die wêreldekonomie is.

“Vir baie mense is dit deel van hul identiteit, neem dit weg en jy neem hul vryheid weg. Dit het egter ook gewys dat ons met groter deernis moet omgaan met kwesbare instansies en individue binne die bedryf.

Ramp vir die gasvryheidsbedryf

Dit was Maandag doodstil op die plein voor die Kerk van die Heilige Petrus in die Vatikaanstad. Foto: Reuters

Die impak van Covid-19 gaan rampspoedig wees vir werknemers in die toerismebedryf en die gemeenskappe waarin hulle funksioneer, sê William Stephens, eienaar van die De Hoop Collection en voorsitter van Cape Country Routes.

“Dit het ’n rimpeleffek, die onvermydelike afleggings wat gaan volg gaan gesinne ontwrig, sowel as die gemeenskappe waarin hulle funksioneer, en die ketting van verskaffers wat dienste aan die bedryf verskaf.”

In Suider-Afrika loop ekotoerisme en bewaring hand aan hand en baie lodges is ook begunstigdes van bewarings-en-teenstroperingsprojekte.

“Die omgewing gaan ook hieronder ly. Ek weet van talle bewaringsorganisasies wie se befondsing reeds deur die regering gesny is.

’n Mens kan net hoop dat die regering sal ingryp om toerismeondernemings by te staan sodat hulle kan oorleef.
William Stephens

“Onthou, toerisme speel ook ’n groot bemagtigingsrol binne die gemeenskap, dit doen opheffingswerk en help met vaardighede vir werkloses.

“Die skade is eksponensieel, omdat die toerismebedryf se besteding aan salarisse en diensverskaffers ’n tienvoudige impak op die wyer ekonomie het.”

“ ’n Mens kan net hoop dat die regering sal ingryp om toerisme-ondernemings by te staan sodat hulle kan oorleef en werkgeleenthede op lang termyn beskerm word. Die inkomste van werkers wat afgelê word, moet beskerm word,” beklemtoon hy.

Pres. Cyril Ramaphosa het wel Maandagaand onderneem om R200 miljoen aan die departement van toerisme beskikbaar te stel. Die noodfonds moet klein tot middelslag-sakeondernemings in die toerismebedryf, wat weens die nuwe reisbeperkings kan ondergaan, help oorleef.

Newe-effekte van die krisis

Times Square In New York is gewoonlik ‘n roesemoes van mense, maar was vandeesweek tjoepstil. New York is die ergste deur die Covid-19-pandemie getref en word beskryf as die episentrum van die koronavirus in Amerika. Foto: Getty Images

’n Ander newe-effek van die virus is hoe dit ’n paar stoute geheimpies van die reisbedryf ontbloot het – veral hoe lugrederye reisigers uitgebuit het met onnodige diensgeld. Die heffings wat reisigers moes betaal om ’n naam te verander, die ekstra heffings vir kliëntedienste en buitensporige bagasieheffings blyk nou alles oorbodig te wees. Talle lugrederye verander nou sonder enige moeite en op kort kennisgewing datums en name op besprekings.

Reisigers het ook nou die waarde van persoonlike diens en reisagente herontdek – soos talle hotelle en lugrederye weier om kansellasies en uitstellings te doen wat deur derdeparty-agente soos booking.com en agoda.com gemaak is.

“Dit is beslis tyd vir die reisbedryf om weer die kliënt die spilpunt te maak in alles wat ons doen,” sê Du Toit-Helmbold.

Dis ook moeiliker om nuwe kliënte te werf, as wat dit is om bestaandes te behou.
Mariette du Toit-Hembold

Sy meen dit is veral nou dat maatskappye ekstra aandag aan hul bestaande kliënte gee, veral dié wat reise by hulle bespreek het.

“Stilte is seker die skadelikste reaksie in krisistye. Ons kliënte wil op die hoogte gehou word. Nou is die tyd om die vertrouensverhouding tussen jou en jou bestaande kliënte te versterk. Wys vir hulle jy is gerat om die storm aan te durf (al voel dit asof jy in sak en as wil sit) en dat jy reg sal wees om hulle terug te verwelkom wanneer hulle weer reg is om te reis.

“Onthou, dis ook moeiliker om nuwe kliënte te werf as wat dit is om bestaandes te behou. As jy nou stilbly, gaan jy in vergetelheid verdwyn teen die tyd dat die virus in bedwang is.”

Toerisme se donker kant

Die bekende Trevi-fontein in Rome was vandeesweek verlate. Foto: Reuters

Dit was reeds hoogtyd vir ons om te besin oor ons reisgewoontes en die impak daarvan op die aarde. Oortoerisme het reeds stede soos Amsterdam, Barcelona en Venesië van hul unieke karakter begin stroop.

Borocay-eiland in die Filippyne en Maya Bay-strand by die Phi Phi Leh-eiland in Thailand moes sluit om die brose ekostelsels tyd te gee om te herstel nadat onverantwoordelike toeriste amok gemaak het.

Die verwoestende omgewingsimpak van lugvervoer het ook onder die loep gekom. Met reisbeperkings en lugrederye wat hul vlugte moes verminder en selfs gestaak het, kan ’n merkbare verbetering al in die luggehalte in lande soos China en Italië waargeneem word.

In Suider-Afrika is die bewaringsgemeenskap veral bekommerd oor interaksies met leeuwelpies.
Dr. Louise de Waal.

Dr. Louise de Waal, ’n bewaringsbestuurder en woordvoerder van die dokumentêr Blood Lions, sê sy hoop die pandemie sal toeriste twee keer laat dink oor hul interaksie met diere.

“Die Covid-19-pandemie is nie die eerste gesondheidskrisis wat deur ’n soönotiese mikro-organisme – ’n aansteeklike siekte wat van dier na mens oorgedra word – veroorsaak is nie. Epidemies in die verlede sluit in die Ebolavirus, Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers) en ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears), wat almal hul oorsprong by diere het.

“In Suider-Afrika is die bewaringsgemeenskap veral bekommerd oor interaksies met leeuwelpies, veral omdat leeus draers van boviene tuberkulose (TB) is.

“As die virus (soos die Covid-19) muteer en mense aansteek, kan dit aanleiding gee tot weerstandige TB wat nie net verbruikers van leeuprodukte as tradisionele medisyne sal raak nie, maar ook die werknemers en vrywilligers wat op leeuplase en slagpale werk en oningeligte toeriste wat deelneem aan interaksies met leeuwelpies.”

Tyd vir herbesin

Die Napoleon-binnehof van die Louvre is een van Parys se bekendste toeristebakens. Foto: AP

Du Toit-Helmbold het reeds aan die begin van die jaar voorspel dat die reisbedryf moet herbesin oor onverantwoordelike praktyke – soos goedkoop pakketreise en ondeurdagte reise, net om te spog met ’n Hemel Marta!-inskrywing op Instagram.

“Nog voordat Covid-19 kop uitgesteek het, het ons reeds dramatiese veranderinge in mense se reisgewoontes begin sien. Ek dink mense gaan ook nou ’n groter verantwoordelikheidsin hê en besef dit wat ons in die verlede as vanselfsprekend aanvaar het, is eintlik baie kosbaar,” sê sy.

“Ek dink ná Covid-19 gaan daar beslis ’n hele paar interessante reistendense kop uitsteek. Mense gaan beslis meer dink oor reis. Daar gaan ’n toename wees in toevlugwegbreke, en ons gaan ook meer tyd weg saam met ons gesinne deurbring. Ons gaan na ons mees geliefde, bekende bestemmings terugkeer.

“Mense gaan beslis weer wil reis – maar nou het hulle ’n dieper besef oor die impak van hul bewegings. Die reisbedryf moet nou al hiervan begin kennis neem en hulle daarby aanpas,” meen sy.

Ek hoop ons gaan nou in die toekoms besef ons hoef nie soveel moontlik met een reis te probeer indruk nie. Ons kan rustig raak en eerder meer volhoubare, egte ervarings kies wat ons lewe op lang termyn sal verryk.
Iga Motylska

Iga Motylska, ’n vryskutreisskrywer wat vir plaaslike en internasionale publikasies skryf, sê sy hoop mense sal ná die krisis meer gedagtig reis.

“Sosiale media het vir talle toeriste ’n onlosmaakbare deel van hul reise geword.

“Op die ergste sak hulle op ’n insta-famous toeristebaken toe, staan ’n halfuur lank in ’n ry net om ’n foto van hulself te kry voordat dit die volgende toeris se beurt is.

“Vir my is hierdie teenstellend met hoekom ons eintlik reis – om ons vooroordele uit te daag, om te kyk hoe mense anders leef of om met die plaaslike mense te kuier, ten spyte van ons taalgrense – dít terwyl ons die wonder en skoonheid van die wêreld rondom ons indrink.

“Ek hoop ons gaan nou in die toekoms besef ons hoef nie soveel moontlik op een reis te probeer indruk nie. Ons kan rustig raak en eerder meer volhoubare, egte ervarings kies wat ons lewe op lang termyn sal verryk.”

Word nou ’n leunstoelreisiger

Londen se strate was sedert Dinsdag ook verlate. Foto: AP

Pierre Steyn, redakteur van Weg!, sê dis onvermydelik dat die virus ’n geweldige en ’n geweldige negatiewe impak op die reisbedryf gaan hê.

“Ek skat die enigste vakansies wat mense op kort termyn gaan neem, sal by die huis wees. As hulle reis, sal dit verbeeldingsreise wees (hopelik met ’n Weg! op die skoot).

“Die verantwoordelike ding om nou te doen is om soveel as moontlik fisieke kontak met mense te vermy en by die huis te bly. Dit voorspel moeilike tye vir alle ondernemings wat op reisigers staatmaak.

“Dit is ’n ongekende storm wat die wêreld getref het, en ons sal moet wag totdat dit uitgewoed is. Mense sal natuurlik weer reis, maar net nie nou nie. Gebruik die tyd om te beplan aan daardie welverdiende vakansie wat jy, nadat die ergste verby is, wel sal wil neem.

Ek hoop die kopskuif na meer in-diepte, gehalte-inhoud sal reisigers ook oortuig om langer by ’n bestemming te talm en werklik onder sy vel in te klim.
Iga Motylska

Motylska sê sy het reeds gesien hoe reispublikasies se artikelredakteurs ’n kopskuif maak oor die soort inhoud wat hulle soek.

“Reisredakteurs is nou op soek na inspirerende, diepgaande inhoud wat na die geskiedenis, kultuur en tradisies van ’n spesifieke land of bestemming kyk.

“Hulle stel nie meer belang in oppervlakkige ‘Wêreldstad in 72 uur’ of vermaaklike stories van reisskrywers wat soos ’n koning in ’n vyfstereilandoord gebly het nie.

“Ek hoop die kopskuif na meer diepgaande, gehalte-inhoud sal reisigers ook oortuig om langer in ’n bestemming te talm sodat dit werklik onder hul vel inklim.

“Hopelik sal reisskrywers en mense wat reisinhoud skep, ook hulself begin uitdaag en wegbeweeg van die geykte insta-bekende bestemmings en fokus op meer volhoubare praktyke en bestemmings. Ons moet nou besef hoe verwoestend oortoerisme en onverantwoordelike interaksies met diere kan wees,” sê Motylska.

Daar is hoop

“Hierdie krisis is nie onoorkombaar nie,” sê Du Toit-Hembold.

“Die toerismebedryf se keuses en aksies nou sal ’n groot impak hê op hoe lank die krisis nog gaan voortduur en die hersteltydperk wat daarna volg.

“Die ou gesegde – pas aan of sterf uit – is nou meer as ooit die werklikheid vir die reisbedryf.

Ek dink ook binne elke krisis skuil daar ’n geleentheid.
Mariette du Toit-Hembold

“As ons dit nie nou doen nie, sal die gevolge vir die reisbedryf blywend wees.

“Ek dink ook binne elke krisis skuil daar ’n geleentheid en ek hoop dat ons as ’n bedryf hieruit kan leer en ’n splinternuwe benadering tot reis kan kry.

“In dié tye is die enigste sekerheid onsekerheid. Die enigste ding waaroor ons seker kan wees, is dat die virus die bedryf onherroeplik gaan verander.”

* Lewis is ’n redaksielid van Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Parys  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Covid 19-Virus  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.