Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ton Vosloo: Die pad na 'n toekoms sonder die NP

Die oorgang van Nasionale Pers na ’n toekoms sonder die Nasionale Party kon, menslik gesproke, onmoontlik sonder turbulensie en ’n mate van wroeging geskied het, skryf Ton Vosloo in hierdie uittreksel uit sy memoir Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering.

Ton Vosloo oorhandig ’n geskenk aan Nelson Mandela tydens ’n onthaal in die Naspers-sentrum in Roggebaai, Kaapstad.

In die verkiesingsjaar 1987 word Nasionale Pers se direksie verras deur die besluit van adv. Lang David de Villiers, oudbesturende direkteur, om sy ondersteuning te bied aan dr. Esther Lategan, ’n onafhanklike kandidaat wat teen die dienende Nasionale LV, Piet Marais, in Stellenbosch sou staan. Toe ek Lang David in 1984 opvolg, is hy volgens ons gebruik genooi om in die direksie van Nasionale Pers te dien. Hy was in 1987 dus ’n sittende lid.

In die polities hooggespanne tagtigerjare het mense na ’n oplossing vir die krisis in die land getas. Ook dr. Denis Worrall, voorheen van die Nasionale Party, het as onafhanklike kandidaat teen die Kaaplandse leier, Chris Heunis, in Helderberg gestaan.

Met sy besluit het adv. De Villiers die stigtingsbeleid van Nasionale Pers, om die Nasionale Party met sy koerante te ondersteun, bevraagteken. Nasionale Pers as organisasie het eers sowat sewe jaar later finaal van sy politieke vennoot ontkoppel.

In sy jare as leier het De Villiers hom beywer om grense te verskuif. Nou sou hy uit die direksie bedank. Dié gevolg van sy besluit om ’n onafhanklike kandidaat by te staan, is deur die voorsitter, Piet Cillié, bevestig.

Soos u weet, het ek lankal bedenkinge daaroor of dit in die beste belang is van Nasionale Pers, en die saak wat hy dien, dat sy koerante so vas verbonde moet bly aan ’n politieke party.
adv. Lang David de Villiers

Die pynlike struweling en opspraak wat met dié gebeurtenis gepaard gegaan het, moet in die lig van die geskiedenis verstaan word, wat in die voorafgaande hoofstukke uitgelê is.

Met sy bedanking uit Nasionale Pers se direksie skryf adv. De Villiers aan voorsitter Piet Cillié: “Soos u weet, het ek lankal bedenkinge daaroor of dit in die beste belang is van Nasionale Pers, en die saak wat hy dien, dat sy koerante so vas verbonde moet bly aan ’n politieke party.”

Hy vervolg: “Op die basis van die siening wat u verder aan my gestel het oor die rol en plig van Nasionale Pers en sy koerante in hierdie verkiesing, moet ek onversoenbaarheid aanvaar.”

Lang David staan dus by sy besluit.

Vervolgens motiveer hy sy besluit: “Dit hang saam met die soeke oor jare na regverdigheid vir al Suid-Afrika se mense. Noudat dit geblyk het dat die regverdigheidsideaal nie bereikbaar is deur apartheid en afsonderlike ontwikkeling nie, is daar ’n aandrang op ’n duidelike alternatiewe beleid waardeur die ideaal bereik kan word.”

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, het pas by Jonathan Ball verskyn.

Stap oor die drempel

In ’n beskaafde, respekvolle brief verbind Cillié dié besluit van De Villiers met ’n vorm van verloëning en prys hy die jongste aanpassings van die NP se beleid. Cillié se antwoord lui soos volg: “Net dit: Niemand is beter bewus as uself van die leiding wat van daardie koerante uitgegaan het en steeds uitgaan in wat u noem ‘ ’n soeke na regverdigheid vir al Suid-Afrika se mense’ nie. Dikwels was dit ’n soeke met die Nasionale Party, soms parallel met hom, en wanneer dit móés: ook ondanks spanning met elemente van die party.”

Cillié skryf verder: “Moet ons nou ons tradisie van medestryderskap met die party vir Suid-Afrika verraai en ons trotse selfstandigheid as persgroep demonstreer deur die Nasionale Party te help aftakel net wanneer hy ’n lewensbelangrike verkiesing binnegaan? Ons steun immers die party nie omdat ons sy slawe is nie, maar omdat hy juis nou so klaarblyklik die beste, selfs enigste beskikbare instrument is vir veiligheid, hervorming en welsyn in Suid-Afrika.”

Die direksie het in Lang David ’n groot man afgestaan in ruil vir die handhawing van ’n uitgediende reël, naamlik dat die volle direksie die Nasionale Party in alles ondersteun.

Die Nasionale Party se bewind as “enigste beskikbare instrument vir veiligheid, hervorming en welsyn in Suid-Afrika” is sewe jaar later iets van die verlede. Nasionale Pers se koerante laat PW Botha se bedeling vir wat dit was en waag geruime tyd voor 1994 die soort stap oor die drempel wat adv. De Villiers in 1987 wou neem.

Dié argumente van Cillié in 1987 wys wel hoe gewetensvol Nasionale Pers met sy geskiedenis omgegaan het. Die oorgang van Nasionale Pers na ’n toekoms sonder die Nasionale Party, selfs as institusie wat aan die aftakeling van die Nasionale Party-bewind meegewerk het, kon, menslik gesproke, onmoontlik sonder turbulensie en ’n mate van wroeging geskied het.

Adv. Lang David de Villiers is later gelyk bewys. Die direksie het in Lang David ’n groot man afgestaan in ruil vir die handhawing van ’n uitgediende reël, naamlik dat die volle direksie die Nasionale Party in alles ondersteun.

’n Ander interessante aspek van die woelinge rondom die vertrek van Lang David is dat hy met sy besluit getoon het hoe ’n verligte benadering kon lei tot hoopvolle inskakeling by die nuwe Suid-Afrika.

In teenstelling met die ernstige breuk met die apartheidsbewind van Afrikaner-dissidente soos Bram Fischer, Beyers Naudé en Breyten Breytenbach, het verligtheid soms op randlopery, of brinkmanship, neergekom. ’n Verligte Afrikaner het die veronderstelde bekrompenheid en laer-mentaliteit van die tradisionele Afrikaner van hom afgeskud, en was oop vir verandering. Maar was alle verligtes werklik gereed vir die volle konsekwensies van ’n swart magsoorname in Suid-Afrika?

In die geval van adv. Lang David de Villiers blykbaar wel. In sy jare as leier het De Villiers probeer om grense te verskuif. Hy was ’n ware verligte en het redakteurs aangemoedig om hulle vir ’n oper gemeenskap te beywer. Redakteurs is met woord en daad aangevuur om deure en vensters na alle gemeenskappe in Suid-Afrika en na die wêreld te open.

Op 24 September 1980 steek die verkope van Beeld dié van sy groot mededinger, Die Transvaler, verby. Om die geleentheid te vier, neem Ton Vosloo ’n sluk uit ’n bottel sjerrie wat spesiaal vir so ’n dag gehou is.

Toe PW ontplof

Terwyl hy nog besturende direkteur was, was PW Botha, as Kaaplandse leier van die NP, in ons direksie. Die twee het dikwels van mekaar verskil. Dit het tot ’n uitbarsting in 1983 gelei, toe Botha landwye steun in ’n referendum onder wit kiesers gekry het vir die instelling van die Driekamer-parlement van wit, bruin en Indiër-verteenwoordigers.

Botha was hoogs in sy skik. Toe Die Burger die dag ná die referendum die berig op sy voorblad dra dat De Villiers in kommentaar gesê het dis ’n stap vorentoe, maar die groot sluitstuk ontbreek nog, naamlik die opname van swart mense in die sentrale landsbestel, het PW ontplof.

Lang David het die kritiek soos water van ’n eend se rug laat afrol. Hierdie soort verligtheid het hom oor die drempel gedra toe hy in 1987 aankondig hy gaan die onafhanklike dr. Esther Lategan help om verkies te word. Dit was die soort tree oor die rand wat in die referendum van 1992 van die hele wit bevolking gevra is, toe daar oor onderhandelinge met die ANC besluit moes word.

Die turbulensie van 1987 is in 2016 weer na vore geroep met die dood van Dene Smuts op 67-jarige ouderdom. Smuts het 20 jaar as uitmuntende parlementslid agter haar gehad. Maar voor sy tot die politiek toegetree het, was sy ’n topjoernalis van Nasionale Pers.

Die turbulensie rondom haar eie posisie het met adv. Lang David de Villiers se bedanking uit die direksie in 1987 begin. Die skokgolwe het verder uitgekring toe Smuts bedank as redakteur van die vrouetydskrif Fair Lady.

Dene het die stigter van dié verbruikerstydskrif, Jane Raphaely, opgevolg en algaande artikels begin plaas oor daardie tyd se polities omstrede persoonlikhede, soos Winnie Mandela.

Om te illustreer hoe fyn die sekuriteit-apparatchiks van die regering dinge dopgehou het, kry ek ’n brief op 24 Maart 1987 van PW Botha, gerig aan my as besturende direkteur.

Hy skryf: “Dit het onder my aandag gekom dat ’n sekere joernalis wat by Fair Lady werksaam is, besig is met ’n artikel wat voor die Volksraadsverkiesing van 29 April 1987 in die tydskrif moet verskyn.”

Dit sal ’n tragedie wees as die regering geforseer word om teen Fair Lady op te tree weens klaarblyklike linkse rigtings wat uit daardie blad straal en waaroor ek in die afgelope tyd geweldig baie klagtes ontvang.
PW Botha

Die artikel sou gaan oor buiteparlementêre politieke groepe soos die sogenaamde “Five Freedoms Forum”. Dié Forum het op 17 Maart 1987 formeel tot stand gekom en het bestaan uit NUSAS, Jodac, die Justice and Peace Commission van die Rooms-Katolieke Kerk, die Black Sash, die Detainees’ Parents’ Support Committee, die Young Christian Students, die Wits Academic Staff Association, The Jews for Social Justice-groep, die National Education Union of SA en die Concerned Social Workers.

PW skryf: “Hierdie name is meestal reeds deur my in die parlement genoem as synde lede van Jodac, wat sterk verbintenisse met die UDF het.”

Hy vervolg: “Ek hoop werklik nie dat Fair Lady nou verder in hierdie rigting gaan beweeg nie. Dit sal ’n tragedie wees as die regering geforseer word om teen Fair Lady op te tree weens klaarblyklike linkse rigtings wat uit daardie blad straal en waaroor ek in die afgelope tyd geweldig baie klagtes ontvang.”

PW sluit af: “U welwillende aandag en dié van u bestuur sal hoog waardeer word.” Ek het die staatspresident nie op sy openlike dreigement van sensuur geantwoord nie.

Dene Smuts wou kort vóór die verkiesing in 1987 ’n artikel met gloeiende lof vir Denis Worrall publiseer. Omdat dit ’n tweeweeklikse tydskrif was, sou daar geen repliek op die politieke artikel geplaas kon word voor stemdag nie, soos billikheidshalwe verwag kon word. Uit die tydskriffabriek het iemand ’n proef van die artikel aan die hoof van Tydskrifte, Jurie Naudé, gestuur, wat dit onder my aandag gebring het.

Vir my het die artikel teen die grein van ’n verbruikersblad vir vroue ingegaan. Eties en in terme van joernalistieke billikheid sou dit verkeerd wees om dit onbeantwoord te plaas sonder ’n repliek deur Worrall se politieke opponent.

Ek het Dene versoek om ’n koppie tee te kom drink en haar op die besware gewys. Sy het voet by stuk gehou en geweier om die artikel terug te trek. In daardie geval weet sy wat om te doen, het sy gesê, naamlik om te bedank. Saam met haar het ’n assistent-redakteur, Erica Platter, ook bedank. (Me. Platter en haar man het later wye bekendheid met hul bekende wyngids verwerf.)

My standpunt dat die politieke artikels ingedruis het teen die aard van Fair Lady as verbruikersblad vir vroue, het saamgehang met verskeie gesprekke wat Piet Cillié en ekself, as die besturende direkteur van Nasionale Pers, met Dene gevoer het. Ons standpunt was dat sy die blad in ’n verkeerde rigting stuur deur dit toenemend te verpolitiseer, met nadelige gevolge vir verkope.

’n Groot dag in Naspers se geskiedenis: die notering van sy aandele op die Johannesburgse Effektebeurs in September 1995.

Butcher Vosloo

Dene was skaars uit my kantoor toe trek berigte die wêreld in dat sy polities gesensureer is en uit beginsel bedank het. ’n Storm het losgebars. Ek het onder meer ’n voorblad van Fair Lady van 27 Mei 1987 gekry waarop met ’n swart Koki-pen op die voorblad groot geskryf was: Butcher Vosloo. Dene Smuts het my kort ná haar bedanking voor die Kaapstadse Persklub beskryf as ’n “Ton of bricks”.

Hierdie soort Mafia-agtige optrede laat ’n mens wanhoop aan die kwaliteit van mense wat vandag die lakens uitdeel in hierdie land
Antjie Krog

Die Engelse pers het my en Nasionale Pers vanuit die hoogte bestraf, asof hulle nie in hul praktyk dikwels redakteurs laat loop het van wie hulle in beginsel verskil het nie.

Die digter Antjie Krog het ook tot die polemiek toegetree. Sy het in ’n brief wat op 16 April 1987 in Die Burger geplaas is, oor my optrede geskryf: “Hierdie soort Mafia-agtige optrede laat ’n mens wanhoop aan die kwaliteit van mense wat vandag die lakens uitdeel in hierdie land.”

Ek het haar in ’n voetnota geantwoord en onder meer geskryf: “Mej. Krog moet haar net haar eie reaksie probeer voorstel as die redakteur van, sê Huisgenoot of Sarie, ’n artikel sou publiseer, op die vooraand van die stemdag, en te laat vir repliek in dieselfde blad, waarin dr. Treurnicht of mnr. Terre’Blanche opgehemel word as potensiële redders van Suid-Afrika.”

Ton ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch se destydse kanselier, Elize Botha.

Ons by die Pers het in werklikheid baie van Dene Smuts en mense soos sy gehou. Piet Cillié het interessante beskouings oor Dene gehad wat hy op ’n bestuurskonferensie van Nasionale Pers met seniors gedeel het. Ek haal gedeeltelik aan:

U weet, as ons vir elke mens van Nasionale Pers moet vra of hy ’n Nat is, dan gaan ons darem baie talent verloor.
Piet Cillié

“Sy was ’n skitterende student . . . Daar was praatjies oor haar baie liberale beskouings op Stellenbosch. (Maar praat van liberale beskouings, dan moes jy vir my en Schalk Pienaar op Stellenbosch gehoor het!) . . . Ek het gedink dat sy een van die beste vroulike talente is wat ons by die Pers getref het sedert Rykie van Reenen, en dit is baie hoë lof.”

Hy het voortgegaan: “U weet, as ons vir elke mens van Nasionale Pers moet vra of hy ’n Nat is, dan gaan ons darem baie talent verloor. Ons gaan van ons beste mense verloor, want dit is altyd die afwykende man wat brein het. Of liewer: Hy sal nie slim wees as hy nie ’n bietjie bedonnerd is nie. Ons soek bedonnerde mense, ons moet hulle inbind. Hulle móét anders wees. Ons wil nie almal dieselfde wees nie, want dan word ons stagnant.”

Cillié was egter striemend oor Dene Smuts se politieke aanslag met Fair Lady.

“Vandag se vroue wil politiek hê . . . maar sy het dit verkeerd aangepak. Daar is ’n manier om politiek te bedryf, maar dan moet jy baie, baie ervaring en insig hê . . . maar Dene Smuts het nie geweet hoe om dit te doen nie. Sy het nie die regte gevoel gehad nie, en so het ons van tyd tot tyd met haar moeilikheid gehad.”

Cillié het verwys na ’n bedankingsbrief wat Dene reeds ses maande tevore geskryf het. “Op haar voorstel het ek saam met haar gaan eet, en ons het in die Mount Nelson se Grill Room gesit en drie ure met mekaar se siele geworstel. Ná afloop van die worsteling het sy haar bedanking teruggetrek, en toe kom die geval van Worrall.”

* Ton Vosloo is die voorsitter van die trust van die Kaapse Filharmoniese Orkes. Tussen 1992 en 1997 was hy die uitvoerende hoof van Naspers en tussen 1997 en 2015 nie-uitvoerende hoof van die direksie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.