Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tragedie op die platteland
Polisie op die toneel van ’n dubbele plaasmoord by Bainsvlei buite Bloemfontein.Foto: Conrad Bornman

Die swye van die regering oor plaasaanvalle en -moorde kan nie meer as ’n onskuldige neutrale posisie beskou word nie, skryf Nelis Janse van Rensburg.

Plaasaanvalle veroorsaak buitengewone trauma. Dit is nie net die familie van slagoffers wat emosioneel ontwrig en gepynig word nie, maar hele gemeenskappe. Die blywende impak op die psige van ons mense moet verstaan word.

Predikante vertel hoe dit ’n uitkringende effek het. Dit is belangrik om na hulle te luister – hulle hanteer immers ’n groot deel van die trauma wat volg op die krisisgebeure. Hulle lig dikwels die naasbestaandes van die tragedie in, troostelose mense word versorg en vasgehou, skok word stadig afgewentel met pogings om die angste en woede wat losgelaat is, tot bedaring te bring. Die sekondêre trauma van mede-plaasbewoners, bure, dokters, vriende en gemeenskappe word aangehoor, beleef en geabsorbeer.

Hele families en gemeenskappe word diep verwond. Aanvanklik bou die hartseer op na die begrafnis toe. Die begrafnisgangers se seer word verdwerg deur die pyn van die verwese naaste naasbestaandes.

As hulle daar wegry, weet almal hul lewe moet voortgaan. Maar trauma wat te gou stilgemaak is, gaan lê diep gebêre in emosionele argiewe. Mense gaan aan met hul lewe. Hulle het nie ’n keuse nie.

Die verpligte besig-wees verberg dikwels die verandering wat gebeur het, die angssentrum wat aktiewer is, wat voortydig alarm maak oor moontlike nuwe verlies, die woede wat aanjaend wag op ’n volgende geleentheid om losgelaat te word, die magteloosheid wat skree na iets om te doen, die agterdog wat afstand bring en die aannames oor mense en die lewe wat verwring is.

Maar trauma wat te gou stilgemaak is, gaan lê diep gebêre in emosionele argiewe.

En dít herstel nie sommer nie. Die volgende ronde trauma sal wys dat die eerste ronde eintlik nooit verby was nie.

‘Moet dit nie verpolitiseer nie’

Hoewel die aantal moorde en aanvalle oor die laaste jare afgeneem het, is die voorkoms daarvan steeds onaanvaarbaar hoog. Ná ’n verdere afname op vlak 5 van die inperking, het die aantal plaasaanvalle nou weer toegeneem.

Die ontstellende is dat die aanvalle dikwels met ongekende wreedheid en aggressie gepaardgaan. Die aanvallers is klaarblyklik nie net gefokus op diefstal nie. By bykans een uit elke vyf aanvalle word daar glo niks gesteel nie. Die aanvallers is kwaad en hulle wil hul slagoffers seermaak.

In talle gevalle is die slagoffers so weerloos dat hul aanvallers hulle maar net kon vasbind, hul buit bymekaar maak en padgee. Maar dit is nie hoe dit gedoen word nie.

In KwaZulu-Natal is ’n swanger vrou verlede maand in haar huis vermoor. Die media het as volg berig: “Een van die aanvallers het die twee kinders na ’n kamer geneem en die vrou na ’n badkamer. Haar keel is daar met ’n mes afgesny. Die aanvallers het daarna gevlug sonder om iets te steel.”

Vertoë en navrae oor die regering se hantering van plaasaanvalle word telkens met min of meer dieselfde reaksie begroet: Julle moenie hierdie verskynsel verpolitiseer nie. Só het Julius Malema ook geantwoord toe ons reguit met hom gaan praat het oor die EFF se uitsprake oor grond, dat mense hulle verstaan dat boere met geweld verwyder moet word.

Julle moenie hiervan ’n rassekwessie maak nie; dit is net misdaad, het Julius Malema met groot nadruk gesê.

Julle moenie hiervan ’n rassekwessie maak nie; dit is net misdaad, het hy met groot nadruk gesê.

En plaasmoorde moet gesien word in verhouding tot die aantal moorde in Suid-Afrika. Alle moorde moet beveg word. Die hoeveelheid moorde op weerlose mense is so omvangryk in getal dat die getal plaasmoorde as persentasie van die totaal nie regtig ’n buitengewone fokus regverdig nie. Dít was die soort argumente wat ons onder meer van verteenwoordigers van die regerende party gehoor het.

Maar statistieke is geduldig. Die waarheid is ook dat landbou ’n hoërisiko- ekonomiese sektor geword het – geen plaas is regtig meer veilig nie. En die bedreiging van plaasaanvalle moet uiteraard ook as ’n bedreiging vir voedselsekerheid verstaan word.

Wat is die moontlike oorsake?

Dit is logies om te sê dat die groter werkloosheid en armoede verband hou met die rooftogte. Wat natuurlik nie die wreedheid verklaar nie.

Die land se politieke geskiedenis word dikwels as rede aangevoer vir die geweld. Julle verstaan nie, die mense is kwaad, word gesê. Dis nie ’n verontskuldiging nie, sê hulle, maar dit verklaar die aggressie en die intensiteit.

Natuurlik moet ons hieroor diepgaande nadink. Wat doen ons aan versoening in die land? Watter brûe word in plaaslike gemeenskappe gebou? Hoe word daar geluister na mekaar se frustrasies? Hoe kom ons binne hoorafstand van mekaar? En hoe hanteer ons dan al die pyn wat by almal teenwoordig is?

Daar is in elke gemeenskap leiers, vaardighede en welwillendheid nodig om hiermee erns te maak. En dit is daar. Maar hulle kry swaar om in ruimtes wat voortdurend deur politici gepolariseer word, tot hul reg te kom. Waardes van wedersydse respek en omgee bly in die proses in die slag.

Verreweg die meeste van ons boere verstaan die geskiedenis, asook die dinamika van armoede.

Dit is opvallend hoe landbouers in die Covid-19-krisis op wonderlike maniere help om kos aan arm gemeenskappe te voorsien. ’n Bestuurder van sopkombuise in die Wes-Kaap vertel hoe boere vragmotors vol groente en vrugte vir hulle kom aflaai het. Ander boere elders in die land het dieselfde gedoen.

Die welwillendheid is daar. Daar is ook plekke waar die leierskap reeds aan die dag gelê word om verskillende dele van die gemeenskap met mekaar in gesprek te bring.

Die waarde van die langtermyn-beleggings in gemeenskappe kan nie oorskat word nie. Kerkleiers en die burgerlike samelewing het in dié opsig ’n baie groot verantwoordelikheid.

Dalk ’n morele dilemma?

Wat moet die rol van die regering in dié proses wees?

Die regering se huidige swye kan nie meer as ’n onskuldige neutrale posisie beskou word nie. Dit is die regering se swye wat nou die kwessie verpolitiseer, nie meer die beswaarmakers teen die regering se gebrek aan optrede nie.

Om watter belangrike rede sal ’n regering geen openbare geluid oor so ’n algemene misdadige en wreedaardige verskynsel maak nie anders as om politieke redes?

Is hier dalk ’n onderliggende verwarring by die regering dat hy nie gelyktydig ’n beleid van grondhervorming en ’n fokus om boere te beskerm kan hê nie?

Die vraag suggereer ’n reuse- morele dilemma waarvan ek geen regering graag sou wou beskuldig nie. Maar ’n mens begin desperaat soek na die redes vir die swye.

Pres. Cyril Ramaphosa het wel verlede week op sy imbizo op ’n vraag reageer en aangedui dat hy bekommerd is oor plaasaanvalle en -moorde. Maar toe het hy weer voortgegaan met veralgemenings oor geweld en moord. Die president se betrokkenheid móét meer behels as net ’n terloopse opmerking.

Die president sal aktief sterker leiding moet gee oor dié spesifieke kwessie. Politici sal ook die verskynsel voortdurend moet veroordeel.

Hy sal aktief sterker leiding moet gee oor dié spesifieke kwessie. Politici sal ook die verskynsel voortdurend moet veroordeel.

Die polisie speel ’n kritieke rol in die beveiliging van landelike gemeenskappe. Die polisie se landelike polisiëringstrategie behoort daarom met uitgebreide navorsing ondersteun te word. Veiligheidseenhede moet uitgebrei en gefinansier word en elke distrik behoort ’n spesiaal toegeruste dienspunt te hê.

Verder behoort boere en plaaswerkers uitgerus te word met veiligheidstoerusting; belangrike roetes na plase behoort gemonitor te word; en plaaswagte moet geakkrediteer en voorsien word van hulpbronne om hul werk te doen.

Ander staatsdepartemente moet op lang termyn sistemiese bydraes maak. Ons het ’n groter strategie nodig waartoe die regering en georganiseerde landbou saam verbind is. En daarvoor het ons goeie leierskap nodig.

Ons het as nasie klaarblyklik ’n lang pad om te loop om die besef van die waarde van mense se lewe te herstel en te ontwikkel. Dat die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid in ons Grondwet staan, is wonderlik. Die regering se mandaat om te regeer, gaan presies hieroor.

Die ongekende blootstelling van die landbougemeenskap aan die slegste vorme van geweld bied al lank aan die regering ’n geleentheid om te wys hoe ernstig hulle die mandaat opneem.

Hoe langer hulle swyg of selfs hieroor net ’n lae profiel handhaaf, hoe meer sal die klippe dit uitroep dat ’n tragedie hom tans in landelike gemeenskappe afspeel.

Dr. Janse van Rensburg is moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, maar het dié artikel nie amptelik namens die NG Kerk geskryf nie.

Meer oor:  Platteland  |  Politiek  |  Tragedie  |  Wreedheid  |  Misdaad  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.