Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tragedies vereis dade, nie woorde nie

Volgens ’n onlangse studie ly een uit drie eerstejaars aan simptome van ’n diagnoseerbare psigiese siekte. Wat doen ons daaraan? vra Lizette Rabe.

Volgens ’n internasionale studie het net meer as ’n derde van eerstejaarstudente aan 19 universiteite in agt lande simptome van diagnoseerbare psigiese siektes. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Woensdag is Wêreld- Psigiese Gesondheidsbewusmakingsdag met die fokus “jong mense en psigiese gesondheid in ’n veranderende wêreld”. Maar oproepe soos “verbreek die stilte” en “verbreek die stigma” het nou al clichés geword.

Dis tyd dat ons daad by die woord voeg en iets dóén sodat meer mense, veral jong mense, mét hul siekte kan saamleef. Meer victors. Minder victims. Want amper daagliks lees jy van nog ’n jong mens wat haar of sy lewe aan ’n fatale depressie verloor het.

Volgens die internasionale studie oor eerstejaarstudente se psigiese gesondheid waaraan die Universiteite Stellenbosch en Kaapstad ook deelgeneem het, toon net meer as ’n derde van eerstejaarstudente aan 19 universiteite in agt lande simptome van diagnoseerbare psigiese siektes. Die Ithemba-stigting het die Stellenbosse been van die studie geborg en van die ander universiteite was onder meer die Amerikaanse universiteite Harvard en Columbia en België se Katolieke Universiteit Leuven.

Volgens Auerbach dui die feit dat een derde van studente positief vir minstens een psigiese siekte getoets het, in die algemeen op ’n ernstige globale psigiese gesondheidskrisis.

Altesame 35% van die respondente in die studie het simptome gewys van minstens een psigiese siekte. Daarvan was depressie die grootste, gevolg deur algemene angssteuring.

Een van die studie se gevolgtrekkings is dat dié situasie ’n yslike uitdaging vir hoër onderwysinstellings en regerings is. En soos die leier-outeur van die studie, dr. Randy P. Auerbach van Columbia-Universiteit, sê: in enige bevolking is studente krities vir die bepaling van die ekonomiese sukses van daardie land. Universiteite, waar studentesteundienste reeds ooreis is, moet dringend aandag aan die situasie gee. Volgens Auerbach dui die feit dat een derde van studente positief vir minstens een psigiese siekte getoets het, in die algemeen op ’n ernstige globale psigiese gesondheidskrisis.

Verstrengel in virtuele netwerke

Die hoë voorkoms van psigiese siektes onder studente is ’n yslike uitdaging vir hoër onderwysinstellings en regerings. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ontwikkel tussen 10% en 20% kinders en adolessente psigiese siektes. Die helfte van psigiese siektes ontwikkel al op ouderdom 14, maar dit bly in die meeste gevalle onopgemerk, en dus onbehandel. Teen ouderdom mid-twintig het driekwart van alle psigiese siektes reeds ontwikkel. Psigiese siektes is die grootste oorsaak van ongesteldheid by jong mense wêreldwyd. En ja, as dit onbehandel bly, het dit ernstige implikasies, nie net op die geluk en lewensvervulling van die individu nie, maar ook op gesondheidsdienste wat reeds nie kan bybly nie.

Statistiek oor psigiese siektes onder jong mense is helder en duidelik: een uit ses lyers is tussen tien en 19 jaar oud, en in daardie ouderdomsgroep dra dit wêreldwyd by tot 16% van siektes en beserings. En amper elke dag lees ons van ’n jong mens wat weens ’n fatale episode gesterf het. In 2016 het na raming wêreldwyd altesame 62 000 adolessente weens selfdood gesterf.

Jong mense raak toenemend dag en nag in hul virtuele netwerke verstrengel.

Hoekom bly ons dan stil? Nog erger: Hoekom dóén ons nie iets nie? As dit ’n ander siekte was wat so onder jong mense gemaai het, het ons mos al lankal nie net gepraat nie, maar ook gedóén.

Juis dan daarom dat die WGO sy tema vanjaar oor jong mense, hul psigiese gesondheid en ’n veranderende wêreld gemaak het. Die digitale “vierde dimensie” waarin jong mense hulle in ’n ge-netwerkte wêreld bevind, en waarvan ons die impak op ons psige nog lank nie verstaan nie, is ’n groot bydraende faktor. Digitale tegnologie bied eindelose nuwe moontlikhede, maar jong mense raak toenemend dag en nag in hul virtuele netwerke verstrengel. Dis ’n ongekarteerde vierde dimensie waarin hulle soos in ’n labirint verlore raak. Die WGO sê dis veral jong mense in die digi-sfeer wat blootgestel is aan psigiese siektes, en adolessente wat reeds aan ’n psigiese siekte ly, is veral kwesbaar vir byvoorbeeld sosiale uitsluiting.

’n Tyd van vrees vir die nuwe

Jong mense raak toenemend dag en nag in hul virtuele netwerke verstrengel. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Daarby is adolessensie in elk geval ’n nuwe lewensfase wat sy eie uitdagings het: jy groei uit jou ouerhuis uit en kan jou vlerke sprei – soveel nuwe avonture wag. Opwindende tye. Maar dis ook ’n tyd van vrees vir die nuwe. En as dit nie bestuur word nie, kan dit lei tot ’n kliniese siektetoestand.

Omdat die meeste psigiese siektes onopgemerk en onbehandeld bly, het depressie byvoorbeeld ontwikkel tot die derde grootste siekte onder adolessente. Volgens die WGO is selfdood die tweede grootste oorsaak van dood onder 15- tot 29-jariges, en die skadelike gebruik van alkohol en dwelms lei tot ander gedragsprobleme, soos onveilige seks. Ook eetsteurnisse raak ’n al hoe groter kwessie.

Lizette Rabe

Maar juis daarom moet ons nie net práát nie, maar ook dóén. As jy begin agterkom jou kind se gedrag verander, moenie dink dis net ’n “fase” nie. Bemagtig jouself oor wat tipiese simptome van byvoorbeeld angs en depressie is en kry professionele hulp. Belangrikste van alles: moenie anders reageer op siektes net omdat hulle bokant die nek is nie. As jou kind simptome van ’n ander siekte getoon het, sou jy mos onmiddellik hulp gesoek het. Vroeë opsporing en vroeë behandeling is die antwoord – soos met ander siektes.

In ’n onlangse peiling van die Girl Guides in Brittanje het net 25% meisies en jong vroue tussen die ouderdomme van sewe en 21 hulself as “baie gelukkig” beskryf. Nege jaar gelede was dit nog 41%. Die oudste groep, tussen 17 en 21, voel die minste goed oor hulself, en dit het weer ’n uitwerking op 61% se selfvertroue, 50% se gesondheid, 49% se verhoudings en 39% se studies. Ses uit tien meisies het gesê druk van sosiale media is die oorsaak en dat hulle slegte, selfs bedreigende, aanlyn ervarings gehad het.

Die WGO wil hê jong mense moet “psigiese veerkrag” ontwikkel om met al hul uitdagings te kan omgaan. Immers, as jong mense se psigiese gesondheid bevorder en beskerm word, is dit nie net beter vir hulself nie, maar ook tot voordeel van die ekonomie en samelewing as geheel. En voorkoming begin juis met beter begrip van die siektes – kennis is immers mag. Dit beteken dat ouers en onderwysers bewus moet wees van die vroeë waarskuwingstekens en jong mense help om lewensvaardighede te leer vir elke dag se uitdagings – ook in hul nog so ongekarteerde digitale vierde dimensie. Vroeë opsporing en vroeë behandeling is die antwoord. Soos met alle ander siektes. Dus: bemagtig jouself met inligting oor psigiese siektes – en neem dan aksie.

Voeg daad by die woord en kom stap saam vir bewusmaking van depressie as kliniese siekte.

* Lizette Rabe is die stigter van die Ithemba-stigting wat jaarliks die Hoop Hike en Hoop Bike aanbied. Skryf hier in vir die Kaapse Hoop Hike en Bike op 14 Oktober by Blaauwklippen en hier vir die noordelike een op 28 Oktober by Van Gaalen, Skeerpoort, naby Hartbeespoortdam.

* Bykomende bron: The WHO World Mental Health Surveys International College Student Project: “Prevalence and Distribution of Mental Disorders”, Journal of Abnormal Psychology (April 2018).

Hulp

Omdat die tienerfase dikwels gekenmerk word deur emosionele uitbarstings, moet jy jou kind se gedrag dophou om seker te maak dis nie “net” ’n fase nie, maar inderdaad ’n siekte wat besig is om te ontwikkel. Uitermatige geïrriteerdheid, frustrasie en woede is dalk eerder die simptome van depressie as “net” ’n tienerfase. Ander simptome kan selfs maagpyn, kopseer of naarheid wees. Die WGO se Gap Action Programme verskaf bewys-gebaseerde riglyne vir gewone mense om hulle te help om psigiese siektes te identifiseer en ander te help met ondersteuning. Daar is ook die WGO se Mental Health Action Plan 2013–2020 vir die psigiese welwees van ons samelewing (Mental Health Action Plan 2013–2020). Kry hier nog raad, en in hierdie kort video oor tieners en depressie kan jy ook klik op ander bronne. 

Nog hulp

Lifeline 24-uur-noodlyn: 0861 322 322

Sadag-hulplyn: 0800 567 567/ of sms 31393

Mental Health Information Centre of SA: 021 9389229, of mhic@sun.ac.za

WGO

SA Federation for Mental Health

Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-groep

Gaan kyk hier vir die selfhelpgids “Práát oor depressie” van die oudonderwyser en depressievegter Johan Laten.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.