Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tragiese verhaal van Krotoa en haar twee wêrelde

Sy is die stammoeder van verskeie bekende Afrikanerfamilies, maar haar lewe het ’n hartseer verloop geneem en tragies op die ouderdom van 32 geëindig, skryf Willa Boezak oor Krotoa-Eva van Meerhoff.

Krotoa-Eva van Meerhoff

Omdat geskiedskrywing in die koloniale era in die hande van die maghebbers was, is Krotoa van Meerhoff, die stammoeder van bekende Afrikanerfamilies soos De Vries, Saayman en Pelser, deurgaans as “onbetroubaar, ’n slet en dronkaard” uitgebeeld.

Krotoa het met Khoi-Afrikaans, Kaapse Khoitaal, grootgeword. Toe Jan van Riebeeck aan wal stap op 6 April 1652 was Krotoa omtrent tien jaar oud. Haar oom, Autshumao, wat die Engelse Harry genoem het, kon reeds taamlik goed Engels praat en was selfs vir ’n tyd lank deur hulle na Bantam gestuur.

Hy was die leier van ’n klein Khoi-vissersgemeenskap, die Goringhaikona, maar vir die Hollanders was hy gou Herrie die Strandloper.

As kind het Krotoa meer tyd by hom as in haar eie kraal tussen die groter Goringhaikwa-stam deurgebring. Twee jaar later was sy as kinderoppasser in die kommandeur se huishouding opgeneem (met geweld, volgens sommige kommentators, maar ek reken dis onwaarskynlik).

Die VOC se nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop was afhanklik van die Skiereilandse Khoi-veeboere se samewerking om hul verversingspos aan die gang te hou. Krotoa het egter so vinnig gevorder met die aanleer van Hollands dat sy dit later vlot kon praat en as ’n tolk gebruik is. Boonop het sy Portugees baasgeraak.

Eerste Christen

Dan Sleigh vertel in sy Eilande (2002) dat Eva, soos sy genoem is, lief vir Oosterse sari’s was, maar sy het dit verruil vir haar tradisionele velklere wanneer sy by haar familie gaan kuier het.

Ná die Deense skeepsdokter Peter Havgard se aankoms in 1659 – in diens van die VOC herdoop tot Pieter van Meerhoff – het ’n lewenslange liefdesverhouding tussen die twee ontwikkel, waaruit drie kinders gebore is.

Van ’n huwelik kon daar geen sprake wees nie, want die VOC het voorwaardes gehad: die inkommer moes Nederlands kon praat en die Gereformeerde geloof aanvaar. Laasgenoemde eis het sekerlik veel wroeging meegebring, omdat Krotoa se ouer suster met ’n ryk, belangrike stamhoof, Oedasoa van die Cochokwa, getroud was.

As eerste Christen uit Khoi-geledere moes dit ’n ontsettend moeilike besluit gewees het om haar eie geloof prys te gee. Tog is sy op 3 Mei 1662, ’n week voor Van Riebeeck se vertrek landuit, gedoop en op 26 April 1664 met haar geliefde getroud.

Ernstige meningsverskille vind plaas met die medetolk, Doman, wat, nadat hy ’n jaar lank in Java was, terugkeer en die eerste Khoi-Hollandse Oorlog in die winter van 1659 ontketen.

In die laaste paar maande van die oorlog in 1660, met Autshumao as politieke gevangene op Robbeneiland, het sy as ’n uitmuntende bemiddelaar na vore getree.

Dit was ongetwyfeld haar hoogtepunt as hooftolk, maar daarna het haar lewe uitmekaar geval.

Die nuwe goewerneur, Wagenaer, het later haar eggenoot die eiland se superintendent gemaak vanwaar hy ook verantwoordelik was vir allerlei ekspedisies. Sy was dikwels alleen en die feit dat Van Riebeeck haar al die jare eerder met brandewyn en arak vir haar dienste betaal het, het – benewens die eensaamheid – tot haar alkoholisme bygedra.

Pieter is in 1668 op ’n tog na Madagaskar doodgemaak waar hy slawe moes “gaan haal”. Daarna is sy en hulle drie kinders na die kasteel, maar kort voor lank word sy daarbinne as gevangene opgesluit, en daarna is sy terug na haar familie toe. Die ergste gebeur toe wel: Sy word vir wangedrag na Robbeneiland verban, waar sy op 29 Julie 1674 sterf – slegs 32 jaar oud.

Twee wêrelde

Miskien is die beste kort beskrywing van hierdie enigmatiese figuur dié van Dalene Matthee in Pieternella van die Kaap: Krotoa-Eva, die “tweekop-vrou”.

Sy het onsuksesvol probeer om in twee wêrelde te leef en hulle te versoen.

Op 30 Julie 1674 is sy op die Christelike manier as ’n eensame verworpeling begrawe.

* Dr. Willa Boezak is ’n Khoisan-navorser en skrywer.

Meer oor:  Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.