Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump en Kim: Lastige vrae bly

As alles gebeur soos daar gehoop word, is daar ná 68 jaar se vyandskap eindelik ’n vooruitsig op ’n duursame vrede in Korea. Maar lastige vrae word gestel oor die ooreenkoms tussen pres. Donald Trump en Kim Jong-oen. Leopold Scholtz berig.

’n Geskiedkundige oomblik. Pres. Kim Jong-oen van Noord-Korea (links) en pres. Donald Trump van die Verenigde State van Amerika skud blad met die twee lande se vlae in die agtergrond. Foto: AP

Daar is verskeie hoeke waaruit die spitsberaad en ooreenkoms tussen pres. Donald Trump en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, bekyk kan word. Elkeen sal tot ’n ander antwoord lei. Die beste is moontlik om in álle hoeke te gaan staan en te kyk hoe dinge lyk.

Dalk die belangrikste hoek om mee te begin, is die feit dat die beraad en ooreenkoms hoegenaamd plaasgevind het.

Die vrede is nog nie daar nie, maar wat pas gebeur het, kan in beginsel die begin vorm van ’n proses wat uiteindelik daar kan eindig.

Die vyandelikheid op die Koreaanse skiereiland het 68 jaar gelede begin, in 1950, toe die kommunistiese Noord-Korea die suide binnegeval het. Ná ’n verwoestende oorlog van drie jaar is ’n vuurstaking in 1953 gesluit, maar tot ’n formele vredesverdrag het dit nooit gelei nie.

In die ooreenkoms wat pas in Singapoer gesluit is, word die bou van ’n “duursame en stabiele vredesregime” in die vooruitsig gestel. Met ander woorde, die vrede is nog nie daar nie, maar wat pas gebeur het, kan in beginsel die begin vorm van ’n proses wat uiteindelik daar kan eindig.

As dit gebeur, sal dit sonder meer ’n geskiedkundige deurbraak wees.

Is dit belangrik om wenner aan te wys?

Pres Donald Trump van die VSA hou nie juis van kompromieë nie; hy wil verkieslik die wenner wees en na ’n duidelike verloorder wys. Foto: AP

Die tweede hoek is die vraag van wie die beste uit die affêre gekom het en of dit hoegenaamd belangrik is om ’n wenner aan te wys. Dis immers bekend dat Trump meen kompromieë – wen-wen-situasies – is vir sissies; hy wil wen, terwyl sy teenstander (liefs vernederend) moet verloor.

Dis nie wat hier gebeur het nie. Trump het, verrassend genoeg, Kim as gelyke erken en hom in die betreklik kort gesprek van vier uur besonder beleefd hanteer. Dit is in kontras met die wyse waarop hy sy bondgenote in die G7-lande pas in Kanada in die tande geskop het.

Kim het bereik dat hy polities erken word as ’n krag waarsonder vrede nie moontlik is nie.

Toe die twee vir die eerste keer saam in die openbaar verskyn het, was die agtergrond ’n ry vlae van sowel Amerika as Noord-Korea. Enigiemand wat iets van diplomasie weet, begryp dat Amerika Noord-Korea hiermee by implikasie as ’n legitieme staat erken het.

Dis bevestig deur die gesprek en ooreenkoms tussen gelykes. Daarmee het Kim een van sy grootste doelstellings bereik. Meer nog, hy het bereik dat hy polities erken word as ’n krag waarsonder vrede nie moontlik is nie.

Iets wat hiermee gepaard gaan, is dat Kim daarin geslaag het om sy beeld as wrede diktator te verruil vir dié van ’n vriendelike, joviale man met wie sake gedoen kan word. Vergeet nie dat hy verantwoordelik is vir ’n brute regime wat in wreedheid nie onderdoen vir Adolf Hitler, Josef Stalin en Mao Zedong nie. Om sy magsposisie te verseker het hy selfs sowat die helfte van sy familie en talle ander hooggeplaastes in sy omgewing genadeloos vermoor.

Teks maar effens oor kernontwapening

Afvaardigings van Noord-Korea en die Verenigde State ontmoet in Singapoer. Foto: Reuters

Nog iets wat Trump toegegee het, is dat gesamentlike militêre oefeninge tussen Amerika en Suid-Korea gekanselleer word. Wat onduidelik is, is of dit net vanjaar se oefeninge betref of álle toekomstige oefeninge ook.

Dis iets wat deur die jare ’n yslike doring in die Noord-Koreaanse oog was, waarteen dikwels luidkeels geprotesteer is. Uit Pjongjang se oogpunt is dit ’n aansienlike toegewing.

Andersyds het Kim, luidens die ooreenkoms, beloof om “te werk na die totale kernontwapening van die Koreaanse skiereiland”. Volgens Trump op sy nuuskonferensie het Kim hom bowendien vertel dat laasgenoemde ook die toetsterreine vir missiele sal vernietig.

In die verlede het Noord-Korea telkens beloftes gedoen en dit dan nie nagekom nie. Dié keer, sê Trump, sal dit anders wees.

Vantevore het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê sy land sal met niks minder nie as “totale, verifieerbare en onomkeerbare denuklearisering” van Noord-Korea tevrede wees nie. Teen dié agtergrond klink die teks van die ooreenkoms maar effens.

Op sy nuuskonferensie het Trump gesê natuurlik moet die vernietiging van Noord-Korea se kernwapenvermoë verifieerbaar wees en hy het met Kim daaroor gepraat. Hy het egter geen besonderhede gegee nie sodat ’n mens nog maar moet wag om te sien wat hieroor bekend word.

Dit is natuurlik die kern van die saak. In die verlede het Noord-Korea telkens beloftes gedoen en dit dan nie nagekom nie. Dié keer, sê Trump, sal dit anders wees.

“Daar is nou ’n nuwe president,” is sy rede.

Bowendien het hy onderneem dat die ekonomiese sanksies teen Noord-Korea aan die gang gehou sal word totdat hy tevrede is.

Pres. Kim Jong-oen van Noord-Korea sal waarborge wil hê voordat hy sy kernwapens vernietig. Foto: Reuters

Die antwoord op die tweede hoek is dus dat dit te vroeg is om te kan sê wie gewen het. Dit sal eers blyk wanneer voldoende feite bekend is en wanneer genoeg tyd (moontlik ’n jaar of vyf) verby gegaan het sodat mense kan weet of Noord-Korea dié keer sy beloftes uitvoer.

Menseregte, sê Trump, is “betreklik kortliks” bespreek. Hy het erken dat die menseregtesituasie in Noord-Korea “rof” is, maar het duidelik nie vordering in dié opsig as voorwaarde vir vordering na vrede gestel nie.

’n Derde hoek is: Hoe duursaam is die ooreenkoms?

Vrede in Korea en afstand doen van kernwapens is ’n ongelooflik ingewikkelde proses wat waarskynlik jare kan duur voordat dit voltooi is.

Ook hiér sal dit maande, dalk jare, duur voordat ’n antwoord gegee kan word. Wat ’n mens wel kan sê, is dat Trump sy aanvanklike, gewone grootbekhouding vir ’n meer realistiese benadering verruil het.

Sy aanvanklike houding was dat hy die kwessie sommer tjoef-tjaf, binne minute, sal oplos. Op aandrang van Pompeo het hy onlangs begin praat van “ ’n proses” en selfs verskeie berade in die vooruitsig gestel.

Vrede in Korea en afstand doen van kernwapens is ’n ongelooflik ingewikkelde proses wat waarskynlik jare kan duur voordat dit voltooi is. En dan moet jy maar afwag of die berugte Trump-wispelturigheid nie tog weer ’n stok in die wiel kan steek nie.

Klink na kompromie – iets wat Trump haat

Vrede? Kim Jong-oen van Noord-Korea (links) en pres. Donald Trump van die VSA met hul ontmoeting in Singapoer. Foto: Reuters

’n Vierde hoek: Amerika het dit baie duidelik gemaak dat hy nie uit is op die omverwerping van die Noord-Koreaanse diktatuur nie. Daar is sy benadering – tereg – heeltemal anders as byvoorbeeld die Bush-administrasie s’n met dié se rampspoedige inval in Irak in 2003.

Die Kim-dinastie se basiese strategiese doelstelling deur al die jare was sy eie politieke oorlewing. Voor die beraad het uitgelekte nuus uit die Trump-administrasie gelui dat die president omvattende veiligheidswaarborge aan Kim sou bied.

Dit klink dus verdag baie na ’n kompromie, na die soort wen-wen-situasie wat Trump so haat.

Niks hieroor staan in die geskrewe ooreenkoms nie en Trump het ook niks daaroor op sy nuuskonferensie gesê nie. Maar dis ondenkbaar dat Kim sito-sito van een van die belangrikste wapens in sy hande – sy kernbomme – sonder dergelike waarborge afstand sal doen.

Die uiteindelike uitslag – en ’n mens kan nie ophou om dit te beklemtoon nie – alles wat hier geskryf word, is heel voorlopig. Dit klink dus verdag baie na ’n kompromie, na die soort wen-wen-situasie wat Trump so haat.

As dit korrek is, is dit tot Trump se krediet. Maar laat ’n mens eers maar wag en kyk . . .

* Dr. Scholtz is 'n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.