Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump is vry. Beteken dit hy gaan wen?

Waar staan pres. Donald Trump, polities gesproke, noudat die Amerikaanse senaat hom Woensdag gaan vryspreek? Leopold Scholtz kyk of dit hom skade berokken of versterk het.

Pres. Donald Trump poseer met babas tydens sy vorige presidensiële veldtog in 2016.Foto: Reuters/Carlo Allegri

Toe hy in 2016 ’n presidentskandidaat was, het Donald Trump op ’n keer gespog dat as hy iemand in die besige Fifth Avenue in New York (waar ook sy hoofkwartier geleë is) sou doodskiet, sal die mense steeds vir hom stem.

Dit is destyds as die toppunt van arrogansie beskou. Maar hy was reg – en dit geld nie net vir die kiesers nie, maar ook eintlik vir die grootste deel van die Republikeinse Party.

Die manier waarop die Republikeinse senatore pas die aanhoor van getuies in die saak teen Trump geblokkeer het, wys presies in welke mate die party “getrumptifiseer” is. Slegs twee senatore het ten gunste van die toelating van relevante getuies en dokumente gestem.

Bitter min Republikeinse politici het die waagmoed om die president, bekend om sy wraaksug, teen te gaan.

Die gemiddelde politikus (en dit geld vir álle tye, álle plekke en álle partye) het vier oorkoepelende doelstellings: Om herverkies te word beklee die eerste drie plekke, en dán kom beginsels, landsbelang en ideologie.

Bitter min Republikeinse politici het die waagmoed om die president, bekend om sy wraaksug, teen te gaan. Gevolglik het net twee senatore, Mitt Romney van Utah en Susan Collins van Maine, vir die toelating van getuies gestem.

Die uiteindelike stemuitslag was 51-49, en die verhoor was daarmee in effek op ’n einde. Woensdag moet nog formeel gestem word oor of Trump afgesit moet word, maar die kans is 100% dat hy vrygespreek sal word.

Betogers hou Vrydag plakkate vas in Washington gedurende die verhoor teen Trump. Foto: AP/Julio Cortez

’n Politieke doodsonde

Dis deels die Demokrate se eie skuld. ’n Gematigde Republikein soos die grondwetkenner prof. Jonathan Turley (George Washington-Universiteit), wat geen bewonderaar van Trump is nie, het die Demokrate gewaarsku om hul saak goed voor te berei en nie holderstebolder in te dons nie.

Die Demokrate het nie geluister nie. Hulle het gehyg van gretigheid om Trump by te kom, en deels as gevolg daarvan het hul saak homself teen ’n Republikeinse muur te pletter geloop.

Dis nie dat hulle hoegenaamd geen saak had nie. Die Demokratiese narratief – dat Trump pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne se arm gedraai het om korrupsie-getuienis teen Joe Biden (Trump se waarskynlike Demokratiese teenstander in November se presidentsverkiesing) te vind – is goed bevestig.

Joe Biden het op dié oomblik ’n voorsprong van 5,4 persentasiepunte bo Trump in die presidentsverkiesing. Foto: AP

Daar is táns géén getuienis dat Biden of sy familie aan korrupsie skuldig is nie. In teorie kan dit vorentoe verander, maar as daar geloofwaardige getuienis was, kan aanvaar word dat dit nou al sou uitgekom het.

Dit is ’n politieke doodsonde maar die meeste Republikeine trek egter net die skouers op en vra: Wat daarvan?

Miskien gebeur dit nog, wie weet. Maar in dié stadium het die Demokrate hul narratief – dat Trump ’n buitelandse moondheid probeer afpers het om sy herverkiesing te verseker – taamlik oortuigend bewys.

Dit is ’n politieke doodsonde maar die meeste Republikeine trek egter net die skouers op en vra: Wat daarvan?

Kyk hoe floreer die ekonomie. Kyk die dalende werkloosheidsyfer. Dít tel. Hulle het ’n presidént gekies, nie ’n pous nie.

Leopold ScholtzFoto: Verskaf

Die Bolton-bom

Teen dié agtergrond was die Republikeinse politici se wisselende verweer interessant. Namate die Demokratiese narratief geloofwaardiger geword het, het hulle van loopgraaf tot loopgraaf geretireer.

Hul aanvanklike reaksie was om Trump se eie verdediging kliphard oor te neem: Hy het níks verkeerd gedoen nie. Sy telefoongesprek met Zelenski was “perfek”.

Toe word gesê: Nou ja, dit was nie perfek nie, maar Trump het nie Zelenski se arm probeer draai nie. Zelenski het immers self gesê hy het geen druk van Trump ervaar nie; die Oekraïners was nie eens bewus daarvan nie. En die militêre hulp, wat volgens die Demokrate as dwangmiddel weerhou is, is wél verleen.

Vervolgens, nadat die saak aan die groot klok gehang is en Trump in die openbaar uitgevang is, word bekend dat die hulp pas verleen is. En dit word bekend dat die Oekraïners wel al vroeg geweet het dat die militêre hulp weerhou word.

Nee, het die Republikeine gesê, die getuienis van almal wat daaroor getuig het, was wat hulle by ánder gehoor het. Niemand het Trump dit self hoor sê nie.

Uiteindelik het ’n bom gebars in die vorm van ’n manuskrip van John Bolton, waarvolgens die president dit op ’n vergadering in sy teenwoordigheid in soveel woorde gesê het.

Maar dit was hier dat die Demokrate se oorgretigheid hul ingehaal het. Dit was te laat. Mitch McConnell, die Republikeinse leier in die senaat, het sy koukuslede oortuig dat die toelaat van Bolton as getuie die verhoor weke, selfs maande, sou uitrek.

Die meeste was nie hiervoor te vinde nie.

Maar die grondwet gee nie aan die senaat die mag om die president af te sit en hom van vanjaar se verkiesing weg te hou bloot vir dade wat onbehoorlik is nie.
Lamar Alexander

Hiermee het die Republikeine hul laaste loopgraaf bereik. Ja, het mense soos senatore Rob Portman, Ben Sasse, Lamar Alexander en Marco Rubio (nie een bekend as geharde Trump-ondersteuners nie) gesê dat wat die president gedoen het, was “onbehoorlik”, maar regverdig nie dat hy afgesit word nie.

Soos Alexander dit gestel het: “Dit was onbehoorlik vir die president om ’n buitelandse leier te vra om sy politieke opponent te ondersoek en om Amerikaanse hulp te weerhou om daardie ondersoek aan te moedig. Wanneer verkose politici hulle onbehoorlik by sulke ondersoeke inmeng, ondermyn dit die beginsel van gelyke geregtigheid onder die reg. Maar die grondwet gee nie aan die senaat die mag om die president af te sit en hom van vanjaar se verkiesing weg te hou bloot vir dade wat onbehoorlik is nie.”

’n Lid van Trump se regspan in die senaatsverhoor, prof. Alan Dershowitz, ’n gewese linkse liberaal wat skielik een van Trump se heftigste verdedigers geword het, het ’n interessante siening van die grondwet voorgehou: As die president reken dat sy herverkiesing in landsbelang is, kan hy énigiets doen.

(Dershowitz het later ontken dat hy dit só bedoel het, maar sy woorde is op beeld vasgelê.)

Betogers buite die Trump-verhoor in Washington. Foto: AP/Jose Luis Magana

Dis blote gissings

Wat nou? Hoe gaan die saak Trump se herverkiesing in November beïnvloed?

Wel, volgens een peiling was 75% van die kiesers – en dit sluit selfs 49% van die Republikeine in – van mening dat getuies aangehoor moes word. Maar hoeveel van hulle sal daadwerklik téén Trump stem?

In Amerika waai daar tans twee winde in teenoorgestelde rigtings. Die een raak die ekonomie.

Trump se buitensporige bombasme en polariserende styl stuit baie mense teen die bors – en dit is die tweede wind wat téén Trump waai.

Die meeste kiesers (56%) gee Trump die krediet vir die florerende ekonomie. In normale omstandighede sou sy herverkiesing ’n blote formaliteit moes wees.

Maar omstandighede is nie normaal nie. Trump se buitensporige bombasme en polariserende styl stuit baie mense teen die bors – en dit is die tweede wind wat téén Trump waai.

Al gee die mense hom krediet vir die ekonomie, is die peilings tans nie gunstig vir hom nie. Luidens die gemiddelde van alle peilings meen 44,6% van die kiesers dat Trump in die geheel goeie werk doen, terwyl 51,9% sy optrede as swak beoordeel.

Dieselfde gemiddelde gee Biden op dié oomblik ’n voorsprong van 5,4 persentasiepunte bo Trump in ’n presidentsverkiesing. Ook in die belangrike “swing states” soos Michigan, Pennsilvanië, Ohio, Wisconsin en Florida – state wat enige kandidaat móét wen as hy in die Withuis wil eindig – loop Biden duidelik voor.

Maar, en dis belangrik: Daar is nog byna 10 maande oor voor die mense moet gaan stem. Enigiets kan nog gebeur. Enigiemand wat nóú al ’n vaste voorspelling waag, gis bloot.

*Dr. Scholtz is ’n historikus en onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.