Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump kan handelsoorlog aanblaas

Pres. Donald Trump se onverwagse aankondiging dat hy invoertariewe op buitelandse staal en aluminium wil instel, het die vrees vir ’n volskaalse handelsoorlog laat ontstaan. Leopold Scholtz ondersoek die saak.

’n Werker van Salzgitter AG, die Duitse staalvervaardiger wat een van die grootstes in Europa is. Foto: Reuters

Nog selde was daar só ’n eensgesinde, wêreldwye negatiewe reaksie op ’n aankondiging deur pres. Donald Trump. Sy uitlating verlede week dat hy ’n tarief van 25% op die invoer van buitelandse staal en 10% op aluminium wil instel, het skokgolwe oor die hele wêreld gestuur.

Negatiewe reaksies het gekom van die regerings van Brittanje, Duitsland, Frankryk, Kanada, China, die Europese Unie (EU) – die lys van regerings wat dit nié afgekeur het nie, is aansienlik korter as dié wat geen reaksie laat hoor het nie. Die getal positiewe buitelandse regeringsreaksies was presies nul.

Onder meer die EU en China het gedreig om met invoertariewe op Amerikaanse produkte te antwoord, wat die vrees vir ’n volskaalse handelsoorlog laat opvlam het.

Wilbur Ross en David Navarro, onderskeidelik Amerikaanse minister van handel en Trump-raadgewer, het in verskeie televisie-onderhoude die sluier oor die president se standpunt gelig. Dit kom daarop neer dat ander lande veel meer staal- en aluminiumprodukte na Amerika uitvoer as andersom, en dat Amerika dus die verloorder is.

Dit, aldus die twee woordvoerders, bring mee dat die Amerikaanse staal- en aluminiumnywerheid sterk agteruitgaan omdat hulle nie teen die buitelanders kan meeding nie. En, aangesien dié nywerhede strategies belangrik vir Amerika is, is dit in sy nasionale veiligheidsbelang om hulle deur invoertariewe te beskerm.

Onder meer die EU en China het gedreig om met invoertariewe op Amerikaanse produkte te antwoord, wat die vrees vir ’n volskaalse handelsoorlog laat opvlam het. Navarro se antwoord was dat hulle maar net bluf, en Trump het met ’n tipiese uitdagende twiet geantwoord: “Handelsoorloë is goed en maklik om te wen!”

Wêreldwye resessie selfs moontlik

Pres. Donald Trump van Amerika (middel) kondig die verhoogde invoertariewe op staal en aluminium aan. Links is John Ferriola, uitvoerende hoof van Nucor, en regs Dave Burritt, uitvoerende hoof van United States Steel. Foto: Reuters

Maar selfs uit kringe wat die Amerikaanse president meestal betreklik goedgesind is, is ontsteld gereageer. Sy eie hoof- ekonomiese raadgewer, Gary Cohn, het blykbaar vergeefs teen die aankondiging geveg en het intussen bedank, en heelparty lede van die Republikeinse Party se establishment het ’n beroep op hom gedoen om die ding te los.

The Times van Londen, ’n gematig konserwatiewe koerant, het dit “gekheid” genoem. Die gesaghebbende Wall Street Journal (meestal betreklik positief teenoor Trump se agenda) het geskryf: “Proteksionisme is dalk sy enigste beleidsoortuiging, en sy twiet bevestig dat hy nie weet waarvan hy praat nie.” Dis die “grootste beleidsflater van sy presidentskap”, aldus dié koerant (wat aan een van Trump se grootste vriende, Rupert Murdoch, behoort).

Daarby het die aandelebeurse – iets wat vir Trump altyd ’n bewys van sy eie sukses is – onmiddellik skerp negatief gereageer.

Die ekonomiese uitwerking van só ’n oorlog kan ernstig wees en in ’n wêreldwye resessie eindig.

In hul televisie-onderhoude het Ross en Navarro die uitwerking van invoertariewe gebagatelliseer. Dit gaan feitlik geen negatiewe uitwerking op werkgeleenthede en die Amerikaanse ekonomie hê nie, het hulle gesê.

In ’n nugter ontleding op die webwerf Politico het die ekonomiese joernalis Neil Irwin geskryf dat pryse slegs met ’n fraksie sal styg – soos Ross en Navarro inderdaad volhou. Die eintlike risiko is die “rimpeleffek”, meen hy.

Daar word gevrees dat dit die vermoë van die Wêreld-handelsorganisasie (WHO) om handelsdispute te besleg, kan aantas.

“ ’n Hele stelsel van wêreldhandel, wat Amerika help bou het, kan ondermyn word,” meen Irwin.

Ook volgens Mark Zandi, hoofekonoom van die kredietorganisasie Moody, kan die beoogde tariewe, in isolasie beskou, inflasie (tans 2%) met slegs 0,1% verhoog. Maar hy vrees “ ’n besonder donker scenario” wat “op ’n wêreldhandelsoorlog kan uitloop. Die ekonomiese uitwerking van só ’n oorlog kan ernstig wees en in ’n wêreldwye resessie eindig.”

Amerikaanse ekonomie straks skade berokken

Kanada, Brasilië en Suid-Korea voer baie staal na Amerika uit. Foto: Reuters

Bowendien het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), nie die eerste die beste nie, negatief gereageer: Dit “sal waarskynlik nie net buite Amerika nie, maar die Amerikaanse ekonomie self skade berokken”.

Die bank Goldman Sachs se kommentaar was reguit: “Dit sal waarskynlik handelspanning verhoog, veral omdat dit waarskynlik sal geld vir ’n breë groep lande, met inbegrip van sekere bondgenote van Amerika. Ons verwag verdere ontwrigtende handelsontwikkelinge in die volgende paar maande.”

Ekonomiese kenners wys op verskeie historiese voorbeelde wat Trump se optimisme oor proteksionisme weerspreek. Die belangrikste is die vroeë jare 30.

In 1929 het die New Yorkse aandelebeurs dramaties ineengestort. In Junie 1930 het die Amerikaanse Kongres dit opgevolg met ’n wet wat deur Willis Hawley en Reed Smoot geskryf is. Die wet het invoertariewe van tot 45% op meer as 20 000 invoerprodukte gehef.

Ook press. Richard Nixon (1972) en George W. Bush (2002) het met invoertariewe gespeel, en albei moes met ’n bloedneus terugdeins en alles herroep.

Die gevolge was rampspoedig. Dit het die terugslag van 1929 in die Groot Depressie omgeskep wat die grootste deel van die wêreld in ellende saamgesleep het.

In 1984 het pres. Ronald Reagan daaroor gesê: “Ek is lank genoeg in die omtrek om te onthou dat ons, toe ons dit ’n keer tevore in die eeu gedoen het – iets wat Smoot-Hawley genoem is – deur ’n nagmerrie gegaan het.” En dus, van tariewe en handelsoorloë wou Reagan nooit iets weet nie.

Ook press. Richard Nixon (1972) en George W. Bush (2002) het met invoertariewe gespeel, en albei moes met ’n bloedneus terugdeins en alles herroep. In laasgenoemde geval, so het ’n nywerheidskommissie van ondersoek in 2003 bevind, het dit die Amerikaanse ekonomie 200 000 werkgeleenthede gekos.

VSA se bondgenote nadelig geraak

’n Staalaanleg in Fuyang, China. Die verhoogde Amerikaanse invoertariewe op staal sal China nie juis raak nie. Foto: AP

Die ironie is dat Trump se stap ’n hele reeks Amerikaanse bondgenote gevoelig sal tref. Die land wat die meeste staal en aluminium na Amerika uitvoer, is nie Trump se geliefkoosde teiken, China, nie, maar Kanada.

Die vervaardiging van dié metale verg naamlik baie energie. Kanada is ryklik met watervalle en riviere geseën, wat goedkoop hidro-elektrisiteit moontlik maak en waardeur die produksie van staal en aluminium aansienlik goedkoper as in Amerika is.

Ander lande wat baie staal- en aluminiumprodukte na Amerika uitvoer, is Brasilië en Suid-Korea, ook bondgenote. China, teen wie se handelspraktyke Trump gereeld uitvaar, is vir slegs 2% van die Amerikaanse staal- en aluminiuminvoer verantwoordelik.

Die Sweedse fabrikant Electrolux het juis bekend gemaak dat hy die uitbreiding van sy fabriek in Tennessee op die lange baan skuif weens die onsekerheid wat deur Trump geskep is.

Bowendien, as die doel is om Amerikaanse werkgeleenthede te beskerm, moet in ag geneem word dat minder as 200 000 mense nog by staal- en aluminiumprodusente werk. Daarteenoor werk meer as 6,5 miljoen mense by ondernemings wat ingevoerde staal en aluminium in vervaardigde produkte verwerk.

Trump se stap beteken dat dié produkte duurder word, wat werkgeleenthede in dié nywerhede nadelig kan raak. Die Sweedse fabrikant Electrolux het juis bekend gemaak dat hy die uitbreiding van sy fabriek in Tennessee op die lange baan skuif weens die onsekerheid wat deur Trump geskep is.

En dan praat ’n mens nog nie eens van die uitwerking van ’n handelsoorlog nie. Van die Amerikaanse uitvoerprodukte waaroor internasionaal gepraat word, is landbouprodukte, wyn, whisky, jeans, Harley-Davidson-motorfietse, ensovoorts.

Die Duitsers is sleg, baie sleg. Kyk na die miljoene motors wat hulle in Amerika verkoop. Verskriklik. Ons gaan dit stopsit.

In reaksie dreig Trump om Europese motorvervaardigers te teiken. Hy het al maande gelede aan EU-amptenare gesê: “Die Duitsers is sleg, baie sleg. Kyk na die miljoene motors wat hulle in Amerika verkoop. Verskriklik. Ons gaan dit stopsit.”

In ’n gesprek het bondskanselier Angela Merkel van Duitsland hom daarop gewys dat verreweg die meeste Duitse motors wat op Amerikaanse paaie ry in Amerika gemaak is. Dit het blykbaar geen indruk op hom gemaak nie.

Trump is nou eenmaal Trump. En wat sal gebeur, sal gebeur.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland bly.

Meer oor:  Donald Trump  |  Staal  |  Handelsoorlog  |  Invoertariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.