Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump, Kim verloor prestige en wêreld hou asem op

Die mislukking van die spitsberaad tussen pres. Donald Trump en Kim Jong-oen hou beduidende prestige-verlies vir albei in. Bowendien vergroot dit internasionale onstabiliteit, meen Leopold Scholtz.

’n Man wat ’n masker van pres. Donald Trump van Amerika dra, kniel tussen twee ander met maskers van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen (links), en Suid-Korea se president, Moon Jae-in. Die mense was deel van ’n betoging voor die Amerikaanse ambassade in Seoel. Foto: Reuter

Dit was dalk een van die mees brute briewe wat tot nog toe in die geskiedenis van diplomasie geskryf is, die een van pres. Donald Trump van Amerika aan Kim Jong-oen, diktator van Noord-Korea.

Daarin het Trump Kim van “oorweldigende woede en openlike vyandigheid” beskuldig, en hom openlik gedreig: “U praat oor u kernvermoëns, maar dié van ons is só aansienlik en kragtig dat ek tot God bid dat hulle nooit gebruik hoef te word nie.”

Pres. Donald Trump van Amerika se omstrede brief aan die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen. Foto: Reuters

En dus het die Amerikaanse president die beplande spitsberaad tussen hom en Kim, wat op 12 Junie in Singapoer sou plaasvind, gekanselleer. Hy het wel bygevoeg dat sy deur oop is as Kim tog wil praat, maar dis ondenkbaar dat dit nog oor kort of selfs middel- en lang termyn sal gebeur.

In die brief en op ’n mediakonferensie het Trump uiteraard die skuld op Kim gepak. Hy was nie heeltemal verkeerd nie, maar dit was net die helfte van die waarheid.

Op die keper beskou, moet die mislukking van die beraad nog voordat dit kon plaasvind aan verskeie faktore toegeskryf word.

Die grondliggende rede, wat tot al die ander aanleiding gegee het, was dat die twee kante die beraad uiters amateuragtig aangepak het.

Trump se instink laat hom in die steek

In die internasionale politiek tel persepsie dikwels die swaarste, swaarder selfs as substansie. Wanneer sulke spitsberade (waarby baie op die spel is) in die vooruitsig is, word hulle pynlik noukeurig voorberei.

Albei kante weet baie goed presies wat dit is wat hulle wil bereik en ook wat die ander kant se doelstellings is. Dan kom senior amptenare bymekaar en doen die egte onderhandelings en kry die onvermydelike kopstampery agter die rug.

Teen die tyd dat die leiers uiteindelik bymekaar kom, is maande, soms jare, se moeilike gesprekke reeds agter die rug. In ’n strenge choreografie gaan hulle, omring met kameras, bymekaar sit. Later sal hulle, weer onder die openbare oog, saam ’n verdrag onderteken of verklaring uitreik en die media toespreek.

In dié geval het die Amerikaners en Noord-Koreane mekaar blykbaar van die begin af verkeerd verstaan.

Indien die amptenare se voorbereidende kopstampery niks oplewer nie, beskerm dit die leiers en keer dat hul prestige daaronder ly. So ’n beraad word eers aangekondig nadat die amptenare mekaar in hoofsaak gevind het.

In dié geval het die Amerikaners en Noord-Koreane mekaar blykbaar van die begin af verkeerd verstaan.

Noord-Korea het gepraat van die “verwydering van kernwapens op die Koreaanse skiereiland”, waarmee hulle bedoel het dat Amerika ook sy kernwapens – en trouens sy hele militêre infrastruktuur – uit Suid-Korea moet verwyder. Amerika het verstaan dat Noord-Korea gewillig is om sy eie kernwapenontwikkeling te staak en sy kernvermoë te ontmantel.

Kim het daarenteen vermoedelik gemeen hy sal dié naïewe, arrogante Amerikaner met sy mooi glimlag en vleitaal om die bos kan lei.

Dié misverstand is versterk deur die feit dat Trump sy eie vermoë om te onderhandel blykbaar hopeloos oorskat het. Hy spog voortdurend met sy eie “art of the deal” – die titel van sy beroemde boek uit die 1980’s – en het gemeen as hy saam met Kim om die tafel gaan sit, sal hy dié vet, jong mannetjie vinnig kan ondersit.

Luidens berigte het hy blykbaar impulsief, sonder om sy raadgewers te raadpleeg, tot die beraad besluit ná die ontvangs van ’n boodskap van Kim via die Suid-Koreaanse regering. Dis die soveelste keer dat Trump belangrike besluite op grond van sy “instink” neem, pleks van op grond van logiese en sorgvuldige nadenke.

Kim het daarenteen vermoedelik gemeen hy sal dié naïewe, arrogante Amerikaner met sy mooi glimlag en vleitaal om die bos kan lei.

Dit was ’n ongeluk wat ’n plek gesoek het om te gebeur.

Aggressiewe Bolton se flater

John Bolton, pres. Donald Trump se nuwe veiligheidsadviseur, hou sy baas dop tydens ’n ontmoeting met Moon Jae-in, president van Suid-Korea. Foto: AP

’n Tweede faktor wat sterk verband hou met die eerste, is dat talle gesoute diplomate binne en buite die Trump-administrasie die president aangeraai het om die moontlikheid van ’n spitsberaad as wortel voor die Noord-Koreaan te laat hang. Die beraad moes aan die éinde van ’n proses kom, as beloning vir goeie gedrag, pleks van om jou belangrikste diplomatieke wapen weg te gee nog voordat die ander kant enigiets daarvoor gedoen het.

Ten derde het die skielike vrieskoue in die Amerikaans-Noord-Koreaanse betrekkinge verlede week gekom ná ’n ongelooflike flater van Trump se nuwe nasionale veiligheidsadviseur, John Bolton.

Van die aggressiewe Bolton word gesê dat hy nog nooit van ’n oorlog gehoor het waarvan hy nie hou nie. In ’n onderhoud dreig Bolton Kim verlede week met die “Libië-model” as hy nie afstand van sy héle kernwapenvermoë doen nie.

In Libië het die diktator, kol. Moeammar Gaddafi, inderdaad afstand gedoen van sy program om kernwapens te ontwikkel. Dit het geëindig met sy gruwelike dood aan die hand van rebelle.

Daardie woorde van Bolton het volgens kenners soos ’n skokgolf deur Pjongjang getrek. En dis toe nog verder versterk deur vise-pres. Mike Pence, wat herhaal het dat die Libië-model op Kim wag as hy vashou aan sy kernwapenvermoë.

China por Kim aan om rug styf te maak

’n Onvleiende banier van pres. Donald Trump wat in ’n anti-Amerikaanse betoging in Seoel ten toon gestel is. Foto: AP

Kim het in dié tyd ook besoek afgelê in Beijing, waar die Chinese regering hom vermoedelik aangemoedig het om sterk te staan en nie te veel aan die Amerikaners toe te gee nie. Die gevolg was ’n sterk bewoorde verklaring uit Pjongjang waarin Amerika behoorlik sleggesê is.

Trouens, die Noord-Koreane het effens gedreig met die kansellering van die beraad as die Amerikaners nie oppas met hul uitsprake nie. Dis tóé dat Trump besluit: As Noord-Korea die prop uittrek, gaan my verlies aan prestige aansienlik groter wees as wanneer ék dit doen.

Sy dreigende brief aan Kim was die gevolg.

Trump het die verwagtinge van die begin af te hoog laat oploop. Dat die beraad gekanselleer is, reflekteer nie goed op sy prestige as internasionale staatsman nie.

Op sy nuuskonferensie het Trump te kenne gegee dat hy met die regerings van Suid-Korea en Japan oor sy besluit gepraat het. Hy het hulle ongetwyfeld ingelig, maar volgens berigte uit Seoel en Tokio het dié regerings “geskok en paniekerig” gereageer, wat daarop dui dat hulle Trump vergeefs wou oorhaal om tog met die beraad voort te gaan.

Uit hul oogpunt is dit begryplik, want as die rusie handuit ruk en tot ’n gewapende botsing lei, sal dit hul bevolkings wees wat die prys moet betaal.

Trump het die verwagtinge van die begin af te hoog laat oploop. Dat die beraad gekanselleer is, reflekteer nie goed op sy prestige as internasionale staatsman nie.

Oor die vraag of Trump altyd ’n goeie saak het, kan ’n mens ’n rasionele gesprek voer en verskillende antwoorde bereik.

Trouens, hy maak rusie met almal, selfs met sy bondgenote in Europa en Navo. Hy het Amerika aan die Paryse klimaatakkoord onttrek en – ondanks pogings van Frankryk, Duitsland en Brittanje – ook aan die kernwapenakkoord met Iran.

In die internasionale politiek is daar twee dinge wat belangrik is.

Die eerste is om ’n goeie saak te hê. Oor die vraag of Trump altyd ’n goeie saak het, kan ’n mens ’n rasionele gesprek voer en verskillende antwoorde bereik.

Maar die tweede is dat die pad wat jy loop om jou saak te bevorder uiteindelik sukses moet oplewer. Wat Trump in die praktyk bereik het, is om die onskadelik stel van sowel Noord-Korea as Iran – in elk geval oor kort, middel- en lang termyn – te verongeluk.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Amerika  |  Iran  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.