Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump: Lied van die gatkruipers

Trump en sy kollaborateurs se dade sal eendag deur dieselfde lang lens van die geskiedenis beoordeel word as Nixon en sy meelopers, skryf Frank Rich.

Pres. Donald Trump. Hy bewys daagliks dat daar geen straf is vir enige misdryf nie. Foto’s: Getty Images

Ironie, ’n konsep wat ná 9/11 dood verklaar is, is springlewendig in Donald Trump se Amerika.

Dit is die konsep van “waarheid” en “skaamte” wat in gevaar is. Die definisie van “feite” is so deeglik geskaad dat Amerikaners nie meer kan saamstem oor wat waar is nie en ons president het sy weg gebaan deur soveel misdade en misdrywe met so min nagevolge dat dit moeilik is om van sy uitspraak te verskil dat hy iemand in Fifth Avenue in New York kan skiet en daar sal geen haan daarna kraai nie.

Donald Trump bewys daagliks dat daar geen straf is vir enige misdryf nie, solank jy net alles ontken, nooit jammer sê nie en mede-samesweerders op al die regte plekke het wat jou kan help om straffeloos uit die moeilikheid te bly.

‘... Trump se Republikeinse Party is niks anders as ’n kultus nie.’

Geen wonder nie dat baie mense vrees Trump gaan weer skotvry van sy jongste probleme afkom en ’n oorwinning in November se presidentsverkiesing lyk nou na ’n byna uitgemaakte saak – danksy ’n ekonomie wat opbloei, ’n verdeelde Demokratiese Party en ’n kieskollege waarvan die samestelling in sy guns tel.

Die instaatstellers en die apologete wat sy oorwinning oor die oppergesag van die reg vergemaklik het, stem saam. John Kennedy, die senator van Louisiana wat Wladimir Poetin napraat in sy ruggraatlose verdediging van Trump, tree op asof daar nooit ’n oordeelsdag sal wees nie. Sy lafhartige optrede word onderlê deur ’n blinde vertroue dat die geskiedenis hom ’n ereplek sal gee as een van die ridders van die ronde tafel in ’n vergulde Mar-a-Lago-herskepping van Camelot.

En hy is nie die enigste een nie.

Pres. Richard Nixon

Maar miskien moet diegene wat gekant is teen Trump, net vir ’n oomblik hul fatalistiese siening laat staan en na die groter prentjie kyk: Ondanks al die skade wat Trump sedert sy inhuldiging in 2017 aangerig het, staan Amerika steeds. Met tyd kan selfs die morele ekwilibrium herstel word. Eerder as die einde van Amerika soos ons dit ken, kan Trump se presidentskap bloot net nog ’n berugte hoofstuk in die geskiedenis van ’n nasie wees.

Gatkruipers soos Kennedy, Devin ­Nunes en Lindsey Graham gaan nou te kere asof daar geen oordeelsdag is nie, maar ook hul dag van afrekening sal kom. En die oordeel oor die manier waarop hulle Trump beskerm het, sal gevel word deur ’n toekomstige Amerika wat demografies veel meer uiteenlopend as dié van vandag gaan wees en wat waarskynlik nie baie goedgesind gaan wees teenoor siniese politici wie se eerste prioriteit dit was om na die pype van Trump se kwynende wit steunbasis te dans nie.

Alle kultusse kom uiteindelik tot ’n einde, soms baie skielik, en Trump se Republikeinse Party is niks anders as ’n kultus nie. Terwyl kultusleiers oor die algemeen nie in staat is om berou te toon nie – of dit nou totalitêre heersers, seksuele Svengalis of die selfverklaarde messias van ’n gek godsdienstige groep is nie – ly hul volgelinge se reputasie byna altyd skade as die leier eers omvergewerp is.

John Kennedy
Devin Nunes (heel regs)
Rex Tillerson (links)

Ons weet nie hoe en wanneer Donald Trump gaan uittree nie, maar dit sal nie later as 20 Januarie 2025 wees nie. Maar selfs al word hy môre ontsetel, sal die nalatenskap van sy magtigste en kruiperigste kollaborateurs onuitwisbaar aan syne gebonde wees.

Of dié kollaborateurs uit eie oorweging by sy administrasie aangesluit het, of hom bloot gehelp het vanuit hul elite-poste op Capitol Hill, in die media of die private sektor is irrelevant.

Hulle sal onthou word vir hul aanmoediging van ’n leier wie se prestasie in die regering (tot dusver) insluit die verdeling van immigrante-gesinne en die aanhou van hul kinders in hokke; die aanblaas van ’n nuwe vlaag rassisme, vreemdelingehaat en antisemitisme; die gebruik van Amerikaanse mag om etniese suiwering in die buiteland te bevorder en politieke opponente tuis te straf; die aktiewe bevordering van klimaatsverandering en omgewingsvernietiging en die oorgawe van Amerika se nasionale veiligheid aan internasionale skurke.

Dié selektiewe kortlys hou nie rekening met enige nuwe misdrywe wat Trump se Withuis nog in die toekoms gaan pleeg nie – of misdrywe wat hy reeds gepleeg het en nog nie onthul is nie.

Die Trump-kamp kan nie aan Trump se flirtasies met neo-Nazi’s ontkom nie.

Trump en sy kollaborateurs se dade sal eendag deur dieselfde lang lens van die geskiedenis beoordeel word as Nixon en sy meelopers of die lafaards, dwase en opportuniste wat Hitler en die Nazi’s se belange in Amerika, Engeland en Frankryk bevorder het.

Die oomblik wat Trump die Oval Office ontruim, en moontlik nog dekades daarna, sal sy regering, soos dié van enige ander afgesette sterkman, ’n forensiese kolonoskopie ondergaan om alle misdade wat onder die mat gevee is, te ontbloot. Met verloop van tyd sal alles uitkom – soos altyd gebeur.

En Trump se meelopers, Amerika se eie Vichy-Republikeine, sal alles vir hul rekening moet neem. Of dit nou die aktiewe deelnemers soos Jared Kushner, Stephen Miller, Kirstjen Nielsen, Mike Pompeo of William Barr was of die sogenaamde volwassenes in die kamer (soos Gary Cohn, John Kelly, Rex Tillerson) wat net toegekyk het sonder om iets te sê, eerder as om die fluitjie te blaas tot beswil van die republiek; of daardie elite-bondgenote buite die Withuis-hekke (van Mitch McConnell en Paul Ryan tot Franklin Graham en Jerry Falwell jr.) wat gemaak het asof hulle nie die administratiewe misdadigheid en morele gruweldade raaksien nie, in ruil vir gunste soos belastingtoegewings en aanstellings op die regbank.

Lindsay Graham

Sulke Trump-meelopers flous hulself as hulle dink dat post-Trump-beeldpoetsery deur filantropiese dade of blote geheueverlies hul name so maklik in die reine sal bring soos sy woonstelkomplekse in Manhattan van die Trump-naam in hul voorportale ontslae kon raak.

’n Eeu van geskiedenis – en nie net Amerikaanse geskiedenis nie – suggereer anders.

Om twee voorbeelde uit die Nixon-era te noem: Die Withuis-misdadigers Charles Colson en Jeb Stuart Magruder het albei God gevind en die res van hul lewens aan die verkondiging van die Woord gewy nadat hulle hul tronkstraf vir Watergate-verwante misdade uitgedien het. (Hulle was deel van die 69 wat aangekla is en 25 wat tronk toe is).

Maar jy sal nie hul ootmoedige pogings tot morele verlossing bo aan hul onderskeie Wikipedia-inskrywings vind nie. En in die uitgebreide literatuur oor Watergate word daar net vlugtig daarna verwys.

Jared Kushner

Selfs die Nixon-lakeie wat niks onwettigs gedoen het nie, het oor die algemeen nie veel beter gevaar nie: Die New Jersey-kongreslid, Charles Sandman, ook ’n lid van die kongres se regskomitee, was tot ’n paar dae voor Nixon se bedanking steeds teen sy moontlike verhoor gekant. Hy het in die 1974-middeltermynverkiesing sy setel, wat hy sedert 1966 beklee het, verloor. Saam met hom is 48 ander Republikeine se setels uitgewis. Teen die einde van die dekade is Sandman gedwing om gestoomde krappe by ’n eetplek aan die kus van Jersey te bedien en het hy ’n jurie-verhoor verloor op aanklag dat hy ’n polisiebeampte belaster het.

Toe sy eweknie in die senaat, Ed Gurney van Florida, ook ’n uitgesproke Nixon-verdiger in Sam Ervin se Watergate-komitee, in 1996 dood is, het sy familie probeer om sy dood geheim te hou, vermoedelik om hernude aandag en ’n oprakeling van die verlede te vermy.

Sommige Nixon-lojaliste op Capitol Hill het wel na die vergetelheid ontsnap – soos die Mississippi-kongreslid Trent Lott, uit ’n distrik waar Nixon 87% van die stemme in 1972 gekry het (Nixon se sterkste steun in die land). So ook ’n paar amptenare in die Withuis wat ver genoeg verwyder was van Watergate – soos Pat Buchanan en Diane Sawyer. Ander het B-lys-poste (of laer) in die media losgeslaan: Die Watergate-inbreker G. Gordon Liddy het rolle losgeslaan in die TV-reekse Miami Vice en MacGyver, en ’n slinkse Jesuïet-toespraakskrywer wat prominent in die Withuis-offensief was, John McLaughlin, het ’n sekulêre troon vir homself gevind op ’n verfoeilike Washington geselsprogram The McLaughlin Group nadat hy die priesteramp neergelê het.

Sen. Sam Ervin, een van destyds se helde.
Sen. Sam Ervin, een van destyds se helde.

Soos reeds met Trump-eweknieë gebeur het, het talle van die Watergate-voorbokke onthullende boeke geskryf – baie van hulle topverkopers. Van Nixon se stafhoof, Bob Haldeman, se The Ends of Power tot John Ehrlichman se Witness to Power. (Albei het 18 maande tronkstraf uitgedien vir hul aandeel aan die skandaal).

Die punt is dat daar nie een lojale Nixon-ondersteuner in enige van die twee huise is wat steeds as patriotte onthou word nie – ongeag wat hulle met hul loopbane voor, tydens of ná sy presidentskap gedoen het.

Die name wat met eer uit die stryd getree het en wat onthou word, is mense soos Sam Ervin en regter John Sirica wat ’n groot rol gespeel het om Nixon aanspreeklik te hou vir sy dade. Soos die historikus David Greenberg opgemerk het, “daardie lojaliste wat Nixon vroeg verlaat het – toe dit nog saak gemaak het”.

Die stank van berugtheid wat aan Trump se meelopers gaan klou, sal waarskynlik die postume straf van Nixon se kollaborateurs oorskry om die eenvoudige rede dat die gruwels van Nixon se Withuis nie in dieselfde liga was nie.

In albei gevalle word die vervolging gedryf deur die onthullings van onwettige pogings om ’n teenstander se verkiesingsveldtog te saboteer en die daaropvolgende pogings om die feite toe te smeer.

Die erns van die aantygings verskil egter met verskeie grade. Die geld wat Nixon & kie gebruik het om by die hoofkwartier van die Demokratiese Nasionale Komitee in te breek (en die daaropvolgende geld aan inbrekers om hul stilte te koop) het van sy eie donateurs gekom.

Trump, daarenteen, het sy pogings om die Bidens swart te smeer gefinansier deur nagenoeg $400 miljoen aan buitelandse hulp wat deur belastingbetalers betaal word en deur die kongres goedgekeur is, daarvoor te gebruik.

En terwyl die Nixon-Withuis vryskut-knoeiers gehuur het om op die Demokrate te spioeneer, het Trump ’n kabaal van kabinetsamptenare, diplomate en boewe wat deur sy prokureur, Rudy Giuliani, aangestel is, ingespan om die staatshoof van ’n buitelandse bondgenoot te probeer dwing om sy vuil werk te doen.

Die disproporsionele ooreenkomste tussen Trump en Nixon eindig ook nie daar nie. Trump is nie Hitler nie, maar sommige van sy optrede, beginnende met sy herhaalde, skaars gekodeerde ondersteuning van wit heerssugtiges, dui daarop dat dit nie is asof hy nie probeer nie.

Nixon en sy visepresident, Spiro Agnew, het rassistiese wrokke en ’n ongelukkigheid oor burgerregte in die suide uitgebuit deur fanatici met ’n nuwe “suidelike strategie” na die Republikeinse Party te lok. Lelik soos dit was (en is), is dit niks in vergelyking met Trump en sy veldtog se openlike vereenselwiging met daardie “fine people” wat haat, afknouery en samesweringsteorieë spin tot ’n inflammatoriese web. Hoe hard die Trump-kamp ook al probeer, hulle kan nie aan sy flirtasies met neo-Nazi’s ontkom nie.

Nog minder kan sy meelopers ontkom aan die vlek van sy alliansies en assosiasies met moorddadige neo-Hitlers en neo-Stalins in Rusland, Sirië, Turkye, Hongarye, Brasilië en Noord-Korea.

Wat ’n mens ook al van Nixon sê, jy kan hom nie beskuldig dat hy dit vir ’n sekonde sou oorweeg om die wêreldbeskouing en nasionale belange van ’n sterkman soos Wladimir Poetin belangriker te ag as dié van Amerika en sy bondgenote nie. Of om Poetin, ’n voormalige KGB-agent, op sy woord te glo bo Amerika se eie intelligensie-agentskappe nie. Dit is dié aspek van Trump se bewind wat Amerika laat sink tot voorheen ondenkbare dieptes.

Prominente Trump-ondersteuners soos Kennedy ontken natuurlik heftig dat hulle pro-Poetin is, maar die gevolge in die werklike wêreld bly steeds dieselfde.

Deur Trump te ondersteun dien hulle die belange van Rusland – terwyl dié land besig is met ’n kuberoorlog teen hul eie land en sommige van dieselfde Amerikaanse bondgenote bedreig as Hitler destyds. Jy hoef nie ’n ingeskrewe lid van ’n fascistiese party te wees om met fasciste saam te werk nie.

“Die geskiedenis is nooit vreeslik welwillend teenoor die man wat Mussolini se baadjie vir hom vasgehou het nie,” het Ted Cruz, die man wat uiteindelik teen Trump verloor het as die Republikeine se presidentskandidaat in 2016, gesê – kort voordat hy geweier het om Trump se kandidatuur te ondersteun.

So woedend was sy ondersteunersbasis dat hy nie sy steun aan Trump toegesê het nie, dat hy sedertdien gedwing is om Mussolini se baadjie vir hom vas te hou.

Wat is dit waarvoor Cruz en sy mede-Republikeine bang is? Die grootste risiko wat ’n senator loop as hy ’n korrupte en rassistiese president teengaan, is ’n verlies aan steun by die stembus. Maar selfs dan kan daar belonings in die toekoms wag.

Larry Hogan, die huidige Republikeinse goewerneur van Maryland, het onlangs die ervarings van sy pa, Lawrence Hogan, in herinnering geroep in ’n onderhoud met The New York Times.

Lawrence Hogan was die eerste Republikein in die kongres se regskomitee wat in 1974 verklaar het dat hy ten gunste daarvan is om Nixon in ’n staat van beskuldiging te stel. Die jonger Hogan onthou dat sy pa die steun van sy kiesers verloor het en homself die woede van die Withuis op die hals gehaal het.

“Maar die geskiedenis het hom goed behandel. Hy word onthou as ’n dapper man. Ek dink dit is die ding waarvoor hy die meeste onthou word en die ding wat hy gedoen het waarop ek die trotsste is.”

*Frank Rich is ’n joernalis van die New York Magazine.

Meer oor:  Richard Nixon  |  Donald Trump  |  Vsa  |  President  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.