Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump: ‘Ons is in Crazytown’

Twee hamerslae het pres. Donald Trump pas getref: ’n Boek van die vermaarde joernalis Bob Woodward en ’n artikel van ’n anonieme hoë amptenaar in die Trump-administrasie. Hoe gaan dit die Amerikaanse politiek beïnvloed? vra Leopold Scholtz.

Die Withuis se stafhoof, genl. John Kelly, het pres. Donald Trump na bewering as ’n “idioot” beskryf. “Dis nutteloos om hom van enigiets te probeer oortuig. Hy het die spoor byster geraak. Ons is in ‘Crazytown,” het hy glo gesê. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Daar kan min twyfel wees dat verlede week die heel slegste week vir Trump was sedert hy in Januarie verlede jaar ingehuldig is. Twee vuishoue wat sy regering getref het, het die president duidelik seergemaak.

Die eerste was Woodward se boek, Fear:Trump in the White House, wat eers op 11 September uitgereik word, maar waarvan The Washington Post ’n opsomming gepubliseer het.

Woodward het in die jare 70 bekendheid verwerf deurdat hy die Watergate-skandaal saam met Carl Bernstein oopgevlek en pres. Richard Nixon tot ’n val gebring het.

Volgens die koerant is die boek gebaseer op honderde ure se onderhoude met lede, van wie sommige senior, in en om die Withuis. Hul name word verswyg. Na bewering het Woodward alle gesprekke opgeneem en kan alles in die boek staaf.

Luidens die opsomming kom die boek daarop neer dat talle van Trump se medewerkers minagting vir hom het. Hulle sien hom glo as onberekenbaar en beginselloos en as ’n gevaar vir Amerika se veiligheid.

“’n Sentrale tema van die boek is die onsigbare intriges wat deur diegene naaste aan Trump gebruik word om sy impulse te probeer beheer en rampe te voorkom. . . .” Woodward noem dit “ ’n administratiewe staatsgreep” en “’n senuwee-ineenstorting” van die uitvoerende mag, waar senior amptenare selfs dokumente van die president se lessenaar verwyder sodat hy dit nie kan sien of onderteken nie.

Die Withuis se stafhoof, genl. John Kelly, het Trump na bewering as ’n “idioot” beskryf.

Daar is blykbaar talle verhale in die boek “oor hoe Trump se veiligheidspan geskok was oor sy gebrek aan nuuskierigheid en kennis van wêreldsake en sy minagting vir die hoofstroom-perspektiewe van militêre en intelligensie-kenners”.

Die Withuis se stafhoof, genl. John Kelly, het Trump na bewering as ’n “idioot” beskryf.

“Dis nutteloos om hom van enigiets te probeer oortuig. Hy het die spoor byster geraak. Ons is in ‘Crazytown’. Ek weet nie eens hoekom enigeen van ons hier is nie. Dis die slegste werk wat ek nog gehad het.”

En genl. Jim Mattis, minister van verdediging, het glo verskeie kere stilweg geweier om bevele van Trump uit te voer wat hy as onverantwoordelik beskou het. Ná een voorval het Mattis gesê Trump het die begrip van ’n laerskoolkind.

Die opsomming van die boek het opslae in Washington gemaak. Trump self het dit begryplikerwys as “bedrog” afgemaak, maar ook Kelly en Mattis het ontken dat die uitlatings wat aan hulle toegeskryf word, eg is.

Die boek van die vermaarde joernalis Bob Woodward, Fear:Trump in the White House, het reeds voor sy amptelike verskyning op 11 September opslae gemaak. Foto: EPA/Albin Lohr-Jones

Tweede vuishou

Woodward se boek volg op twee ander boeke – dié van die joernalis Michael Wolff en ’n gewese Withuis-medewerker, Omarosa Manigault Newman, waaruit ’n basies soortgelyke beeld te voorskyn kom.

Albei se geloofwaardigheid is egter enigsins onder verdenking. Verskeie feitelike foute is in Wolff – nogal bekend vir sy sensasionele joernalistiek – se boek uitgewys, terwyl Manigault Newman met ’n duidelike grief uit die Withuis weg is en ’n appeltjie met Trump te skil het.

Woodward val egter in ’n ander kategorie. Hy het reeds talle boeke oor Amerikaanse ná-oorlogse geskiedenis en vorige presidente geskryf, en daar was nog nooit vrae oor sy akkuraatheid nie.

Trouens, Ari Fleischer, pres. George W. Bush se mediawoordvoerder, wat taamlik negatief in ’n Woodward-boek deurloop, het ’n paar dae gelede getwiet: “Ek was aan die ontvangkant van ’n Bob Woodward-boek. Daar was aanhalings waarvan ek nie gehou het nie. Maar nie een keer nie – nooit – het ek gedink Woodward het dit uit sy duim gesuig nie. Anonieme bronne het losser lippe en kan vryhede neem. Maar Woodward bly altyd eerlik. Iemand het dit aan hom vertel.”

Baie van die senior amptenare in sy (Trump) se eie administrasie werk vlytig van binne om dele van sy agenda en sy ergste neigings te verydel.

Terwyl die Withuis nog onder die boek gesteier het, het ’n tweede vuishou hom getref. The New York Times het ’n artikel van ’n anonieme “senior amptenaar in die Trump-administrasie” geplaas wat baie dieselfde prentjie as Woodward skilder.

Volgens die koerant word sulke anonieme stukke slegs by hoë uitsondering geplaas. Die identiteit van die skrywer is bekend aan die meningsblaaie se redaksie, maar nie aan die res van die redaksie nie.

Die skrywer sê reguit “baie van die senior amptenare in sy eie administrasie werk vlytig van binne om dele van sy agenda en sy ergste neigings te verydel. Ek sal weet. Ek is een van hulle.”

Volgens die skrywer meen die betrokkenes hul eerste lojaliteit is aan die land. Die president se dade “is skadelik vir die gesondheid van ons republiek”.

“Die wortel van die kwaad is die president se beginselloosheid. Enigiemand wat saam met hom werk, weet hy is nie verbind tot enige merkbare beginsels wat sy besluite rig nie.”

Die skrywer erken dat goeie dinge ook gebeur, maar dit gebeur óndanks Trump, nie danksy hom nie. Op vergaderings val hy rond tussen onderwerpe, hy verval in “herhalende skelpartye”, en niemand weet of hy van die een minuut na die volgende van mening gaan verander nie.

Die resultaat is ’n “tweespoor-presidensie” – die een is van Trump, en die ander van sy amptenare wat dinge op koers probeer hou. “Dis nie die werk van die sogenaamde diep staat nie. Dis die werk van die bestendige staat.”

The New York Times het ’n artikel van ’n anonieme “senior amptenaar in die Trump-administrasie” geplaas, waarin hy skryf dat die president se dade “skadelik vir die gesondheid van ons republiek is”. Een raaiskoot is dat visepres. Mike Pence die skrywer is. Pence ontken dit egter. Foto: Reuters/Lucas Jackson

’n Breindood president?

’n Opvallende aspek van die artikel is dat die kabinet glo oorweeg het om die 25ste amendement van die grondwet in werking te stel om die president af te dank. Dié artikel is bedoel om ontslae te raak ’n president wat byvoorbeeld breindood is of sertifiseerbaar mal geraak het.

Die dreigement is uit vrees vir ’n grondwetlike krisis nie uitgevoer nie.

Soos verwag kon word, het ’n woedende Trump ook dié artikel skerp aangeval. Dis ’n “lafhartige artikel”, het hy gesê en getwiet (in hoofletters): “HOOGVERRAAD?”

Hy het gespog dat as hy nie president was nie, sou die “mislukkende” New York Times nie bestaan nie.

Luidens die liberale aanlynkoerant Politico is dit tans “jagtyd op die president”. Maar op bevel van Trump het ’n jagtog op die skrywer en Woodward-bronne terselfdertyd begin.

Peilings wys dat Trump se steun by meer gematigde kiesers aan die uitrafel is.

Wie is die skrywer? Net die meningsbladsy-redaksie van The New York Times weet, en hulle swyg.

Een interessante raaiskoot, gegrond op die taal en styl van die artikel, is dat dit niemand anders nie as die visepresident, Mike Pence, (of dalk sy toespraakskrywer) is. Pence het intussen ontken dat hy die skrywer van die stuk is.

Gaan die twee vuishoue politieke gevolge hê?

Waarskynlik nie by die vaste kern van Trump se ondersteuners nie. Hulle ondersteun hom, ongeag wat oor hom bekend word.

Peilings wys egter dat Trump se steun by meer gematigde kiesers aan die uitrafel is. Die eerste gevolg daarvan kan kom wanneer mense in November vir die Huis van Verteenwoordigers en ’n derde van die Senaat moet stem.

Die verwagting is dat die Demokrate die Huis sal herower, maar dat die Republikeine die Senaat sal behou.

Hoe ook al, ’n moeilike tyd wag op Trump.

Meer oor:  Bob Woodward  |  Leopold Scholtz  |  John Kelly  |  Mike Pence  |  Withuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.