Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump se bontpratery oor korona – ’n kroniek

Baie oë het nogal gerek toe pres. Donald Trump van die VSA vandeesweek die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skerp aangeval het omdat dié na bewering so traag op die koronakrisis reageer het. Leopold Scholtz het navorsing gaan doen en ’n tydlyn van Trump se eie reaksie opgestel.

Pres. Donald Trump van die VSA spreek Woensdag die daaglike mediakonferensie oor die koronavirus toe. Foto: Reuters

Trump het op ’n mediakonferensie kwaai kritiek op die WGO insake laasgenoemde se houding betreffende die koronavirus-krisis uitgespreek: “Hulle het dit verkeerd gehad. Hulle het dit verkeerd. Hulle het die bal regtig, regtig mis geslaan.”

Toe die koronavirus die eerste keer in China geïdentifiseer is, het Trump voortgegaan, “het hulle dit nie gesien nie. Hoe kan jy dit nie sien nie? Hulle het dit nie gesien nie. Hulle het dit nie gerapporteer nie. As hulle dit gesien het, hulle moes dit gesien het, maar hulle het dit nie gerapporteer nie.”

Die volgende tydlyn van Trump se reaksie is op grond van openbare bronne opgestel. Dit word hier sonder verdere kommentaar weergegee.

Januarie: ‘Ons het dit onder beheer’

Donald Trump op 22 Januarie oor die koronavirus: “. . . . ons het dit volledig onder beheer.” Foto: Reuters

* 31 Desember: Die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) hoor van ’n nuwe siekte in China.

* 1 Januarie: Chinese amptenare sluit ’n mark in die stad Wuhan waar tot 40 mense ’n ongeïdentifiseerde siekte opgedoen het. Die CDC rapporteer dit aan die departement van gesondheid in Washington.

* 3 Januarie: Robert Redfield, hoof van die CDC, lig Alex Azar, die minister van gesondheid, in wat die inligting aan die nasionale veiligheidsraad van die Withuis deurgee. Die inligting word in die daaglikse sekerheidsvoorligtingsessies aan Trump oorgedra.

* 9 Januarie: Chinese amptenare maak bekend dat die siekte deur ’n nuwe virus veroorsaak word. Dieselfde aand sterf die eerste slagoffer.

* 17 Januarie: ’n Tweede siek mens sterf, en passasiers wat per vliegtuig uit Wuhan in ander stede aankom, word ondersoek.

* 18 Januarie: Azar slaag daarin om ’n afspraak met Trump te kry, wat egter nie wil luister nie en net oor “vaping” wil hoor.

* 20 Januarie: Infeksies met die nuwe virus word in Beijing, Shanghai en Shenzhen gerapporteer.

* 21 Januarie: Die eerste geval word in die Amerikaanse stad Seattle bekend.

* 22 Januarie: Trump word op ’n mediakonferensie gevra of hy bekommerd is. Sy antwoord: “Nee, glad nie. En ons het dit volledig onder beheer . . . Dis een persoon wat van China kom. Dit gaan in orde wees.”

* 23 Januarie: Die grootste deel van die provinsie Hubei word saam met die stede Wuhan, Xiantao en Chibi (56 miljoen mense) van die buitewêreld afgesny.

* 29 Januarie: Peter Navarro, Trump se voorste handelsraadgewer, stuur ’n memorandum aan Trump waarin hy waarsku dat die virus meer as ’n halfmiljoen lewens kan eis omdat dit veel erger as ’n gewone griep is.

* 30 Januarie: Die WGO verklaar die koronavirus tot ’n wêreldwye noodsituasie. Trump se kommentaar: “Ons dink dit gaan baie goed eindig. Dit kan ek jou verseker.”

* 31 Januarie: Op aandrang van Navarro beperk Trump lugverkeer met China. (Later sê hy verkeerdelik hy het dit volledig tot stilstand gebring. Duisende reisigers kom steeds uit China aan.)

Februarie: “Eendag . . . sal dit verdwyn’

Donald Trump op 27 Februarie: “Een dag, dis soos ’n wonderwerk, sal dit verdwyn.” Foto: Reuters

* 2 Februarie: Trump: “Ons het dit taamlik goed afgesluit wat van China inkom. Dit gaan in orde wees.”

* 19 Februarie: Trump: “Ek dink dit gaan goed uitwerk. Ek dink as ons in April kom, in warmer weer, sal dit ’n baie negatiewe uitwerking hê op dit en daardie soort virus. Dus, kom ons kyk wat gebeur, maar ek dink dit gaan goed uitwerk.”

* 23 Februarie: Navarro kom met ’n tweede memorandum waarin hy waarsku dat die virus sonder drastiese maatreëls tot 100 miljoen Amerikaners kan besmet, van wie een tot twee miljoen kan sterf. (Later sê Trump hy het Navarro se twee memo’s nooit gesien nie, maar hy sou in elk geval nie anders opgetree het as wat hy wel gedoen het nie.) Luidens The Washington Post is Trump bowendien in Januarie en Februarie herhaaldelik deur intelligensiedienste oor die erns van die krisis gewaarsku, maar hy wou na bewering nie luister nie.

* 23-24 Februarie: Die virus brei op beduidende skaal na Italië en Iran uit. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, waarsku oor ’n moontlike wêreldwye pandemie.

* 24 Februarie: Trump: “Die koronavirus is onder beheer in die VSA. . . . . Die aandelemark lyk goed vir my.” Die Withuis vra die kongres vir $1,25 miljard om die regering se reaksie op die krisis te finansier. Die aandelemark stort in duie.

* 25 Februarie: Trump: “Die CDC en my administrasie doen GOEIE werk om die koronavirus te hanteer, met inbegrip van die vroeë sluiting van ons grense vir sekere gebiede van die wêreld. Dis teengestaan deur die Dems, ‘te gou’, maar het die korrekte besluit geblyk te wees.” Later op die dag: “Ek dink dis ’n probleem wat sal weggaan. Hulle het dit bestudeer. Hulle weet baie. Ons is inderwaarheid baie naby aan ’n entstof.” Die dodetal vir Ebola was “byna 100%”, vergeleke met die “1% tot 2%” vir die koronavirus.

* 26 Februarie: Trump: “Ons het 15 mense – en binne ’n paar dae gaan die 15 na aan nul wees. Ons het goeie werk gedoen.”

* 27 Februarie: Trump: “Dit gaan verdwyn. Eendag, dis soos ’n wonderwerk, sal dit verdwyn.”

* 28 Februarie: Trump: “Ons bestel ’n klomp voorrade. Ons bestel ’n klomp elemente wat ons nie sou bestel het tensy dit vir iets soos dié was nie.”

* 29 Februarie: Die eerste koronapasiënt sterf in Amerika. Reisbeperkings word aangekondig vir Iran, Italië en Suid-Korea.

Maart: ‘Bly net kalm. Dit sal weggaan’

Donald Trump op 10 Maart: “Bly net kalm. Dit sal weggaan.” Foto: AP

* 2 Maart: Trump ontmoet ’n groep farmaseutiese sakelui en gesondheidsamptenare. Hy vra: “Jy vat ’n soliede griep-entstof. Dink jy nie dit sal ’n impak, of ’n groot impak, op korona hê nie?” Een amptenaar antwoord met ’n enkele woord: “Nee.” Trump: “Baie dinge is aan die gebeur, ’n klomp opwindende dinge is aan die gebeur, en hulle gebeur baie vinnig.” Dr. Antony Fauci, die land se voorste epidemioloog, sê egter dit kan meer as ’n jaar duur voordat ’n entstof beskikbaar is.

* 3 Maart: Die CDC hef beperkings op toetse vir die virus op.

* 4 Maart: Trump: Ons het duisende mense wat beter word deur net rond te sit en selfs werk toe te gaan – sommige gaan werk toe, maar hulle word beter.” Die CDC vra werkgewers om hul werknemers waar moontlik tuis te laat werk.

* 5 Maart: Trump: “Ek het nooit gesê mense wat siek voel, moet werk toe gaan nie. Dis is net FOPNUUS en waninligting wat deur die Dems versprei word.”

* 6 Maart: Trump: “Ek dink ons doen egte goeie werk in dié land om dit laag te hou. Ons was regtig baie waaksaam, en ons het ’n enorme taak verrig deur dit laag te hou.” Iets later op die dag: “Enigiemand nou, en gister, enigiemand wat ’n toets benodig, kry ’n toets. En die toetse is pragtig.” En: “Ek hou van dié ding. Ek verstaan dit regtig. Mense is verbaas dat ek dit verstaan. Elkeen van hierdie dokters het gesê: ‘Hoe weet u so baie hiervan?’ Miskien het ek ’n natuurlike talent. Miskien moes ek dít gedoen het pleks van om president te word.”

* 9 Maart: Trump: “Die fopnuus-media en hul vennoot, die Demokratiese Party, doen alles in sy semi-aansienlike vermoë om die koronavirus-situasie te laat ontvlam.”

* 10 Maart: Trump: “Bly net kalm. Dit sal weggaan.”

* 11 Maart: Die WGO verklaar ’n wêreldwye pandemie. Die Withuis skort lugverkeer met die meeste Europese lande op. Trump: “Ek dink ons gaan baie goed deur dit heen kom.” En, gerig aan “die oorgrote meerderheid van die Amerikaners”: “Die risiko is baie, baie laag.”

* 13 Maart: Trump verklaar ’n nasionale noodtoestand. Hy sê Google gaan ’n webwerf begin waar mense kan vasstel of hulle die koronavirus het. Google reageer dat dit nog ver in die toekoms is.

* 16 Maart: In antwoord op ’n vraag oor sy herhaaldelike versekerings dat die krisis “onder beheer” is, sê Trump: “As jy oor die virus praat, nee, dis nie onder beheer op enige plek in die wêreld nie . . . Ek het verwys na wat ons doen wat onder beheer is, maar ek praat nie oor die virus nie.”

* 17 Maart: Trump: “Ek het altyd geweet dis ’n egte – dis ’n pandemie. Ek het gevoel dis ’n pandemie lank voor dit ’n pandemie genoem is.”

* 31 Maart: Die aantal sterfgevalle in Amerika steek dié van China verby. Trump sê daar is 10 000 ventilators beskikbaar. Andrew Cuomo, goewerneur van New York, sê egter sy deelstaat alleen het 30 000 nodig.

* 24 Maart: “Ek sal daarvan hou om die land oop te hê en gretig om aan die gang te kom teen Pase. Dis moontlik. Waarom is dit nie?”

April: Byna 13 000 al dood . . .

* 1 April: Berigte lui dat mediese voorrade byna op is. Trump meen die sterftesyfer in Amerika kan tussen 100 000 en 240 000 wees. Hy sou dit as “ ’n groot sukses” beskou.

* 8 April: Luidens berigte is daar meer as 400 000 gevalle van koronavirus in Amerika. Daarvan het byna 13 000 mense gesterf.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.