Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump se twiet oor Iran se kultuurskatte 'barbaars'

Deur Iran se kulturele erfenis te bedreig, bevind Trump hom in die geselskap van ’n paar weersinwekkende karakters in die geskiedenis, skryf David J. Wasserstein.

Die dreigemente oor kultuurskatte in Iran soos die Persepolis kan Amerika se internasionale aansien bedreig. Foto: DeAgostine/Getty Images

In ’n dreigende twiet op 4 Januarie waarsku pres. Donald Trump van Amerika hy gaan “BAIE VINNIG EN BAIE HARD” toeslaan op kultuurskatte in Iran indien dié land weerwraak neem vir die Amerikaanse moord op sy topgeneraal.

Iran hét intussen Woensdag in die vroeë oggendure ’n missielaanval op militêre basisse in Irak geloods waar koalisiemagte, wat deur Amerikaanse soldate gelei word, gehuisves word. Trump het hierna op Twitter gespog dat Amerika verreweg die magtigste weermag met die beste toerusting ter wêreld het.

As ’n historikus wat al geskryf het oor die Middeleeuse Islamitiese wortels van die Islamitiese Staat weet ek deur Iran se kulturele erfenis te bedreig, bevind Trump hom in die geselskap van ’n paar weersinwekkende karakters.

Klub van barbare

Die geskiedenis se klub van barbare sluit in die Roemeense diktator Nicolae Ceaucescu wat die verwoesting van honderde van sy land se skilderagtige dorpies en kerke beplan het voordat hy in 1989 onttroon en tereg gestel is.

Die Nazi-leier Adolf Hitler wou die beroemde bakens in Parys ook sloop namate die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het.

Slegs dae nadat die oorlog in 1914 uitgebreek het, het Duitse soldate die eeue oue Leuven-biblioteek in die neutrale België met sy unieke versameling boeke en manuskripte afgebrand. Die Belge het met behulp van Amerika die biblioteek herbou – net sodat dit ’n tweede keer 26 jaar later deur die Nazi’s afgebrand kon word.

Die Nazi-leier Adolf Hitler wou die beroemde bakens in Parys ook sloop namate die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het – ’n katastrofe wat slegs vermy is omdat sy soldate geweier het om sy bevele te gehoorsaam.

Meer onlangs het die Taliban Afganistan se beroemde Boeddha’s van Bamyan opgeblaas en die Islamitiese Staat het die antieke stede Hatra en Palmyra vernietig, saam met heelwat van Mosoel, insluitende die 900 jaar oue Nuri-moskee.

Geen van hierdie terreine is om militêre redes geteiken nie. Al die aanvalle was moedswillig, gemik op die kulturele en artistieke erfenis van die mensdom.

Die ernstig beskadigde Nuri-Moskee in die ou stad van Mosoel in Irak in 2017. Foto: AP/Felipe Dana

52 Kultuurskatte

Iran huisves meer as 20 Wêrelderfenisgebiede soos aangewys deur die Verenigde Nasies se kulturele arm UNESCO, onder meer die ruïnes van Persepolis wat dateer uit die sesde eeu voor Christus.

Trump was nie spesifiek oor watter kultuurskatte hy in die oog het nie, behalwe om te twiet dat 52 persele van Iran geïdentifiseer is, insluitende “sommige op baie hoë vlak en belangrik vir Iran en die Iranse kultuur”.

Hulle word toegelaat om bomme op straat te gebruik en ons mense op te blaas. En ons mag nie aan hul kulturele bakens raak nie?
pres. Donald Trump

Hy het intussen die dreigement herhaal en aan verslaggewers gesê: “Hulle word toegelaat om ons mense te vermoor. Hulle word toegelaat om ons mense te vermink en te martel. Hulle word toegelaat om bomme op straat te gebruik en ons mense op te blaas. En ons mag nie aan hul kulturele bakens raak nie? Dit werk nie so nie.”

Unesco het geantwoord deur Amerika te herinner dat hy gebind word deur twee ooreenkomste, waarvan een stipuleer dat ondertekenaars nie “aspris maatreëls mag neem wat direk of indirek die kultuur- of natuurerfenis” van ’n ander party mag beskadig nie.

Brittanje, wat tradisioneel ’n bondgenoot is van Amerika, het hom ook gedistansieer van Trump se aanmerkings deur hom te wys op internasionale ooreenkomste.

Op 6 Januarie het Mark Esper, Trump se minister van verdediging, ’n verklaring uitgereik wat strydig is met wat die president sê, naamlik dat Amerika sal ag slaan op “die wette van gewapende konflik”.

Toe hy gevra is of dit beteken geen aanvalle op kulturele bakens nie, het Esper geantwoord: “Dis die wette van gewapende konflik”.

Javad Zarif, Iran se minister van buitelandse sake, het aangedui só ’n bomaanval sou beskou word as ’n oorlogsmisdaad.

Ná die Irannese Revolusie van 1979 het sommige mense gevrees die nuwe regime sou vyandig wees teenoor die studie van die land se pre-Islamitiese, selfs voor-revolusionêre verlede. Hierdie bekommernisse was nie nodig nie. Irannese vakgeleerdheid het voortgeduur onder die nuwe regime en gedy tot vandag toe.

Toe die Notre Dame-katedraal aan die brand was, het Zarif getwiet: “Hartseer dat Notre Dame – die ikoniese monument wat gewy is aan die aanbidding van ons een God en wat almal van ons nader aan mekaar gebring het deur Hugo se literêre meesterwerk – gedeeltelik verwoes is nadat hy oorloë en revolusies deurstaan het vir 800 jaar”.

Hulle maak 'n woestyn en hulle noem dit vrede.
Takitus, Romeinse geskiedskrywer

Die groot Romeinse geskiedskrywer Takitus het 2000 jaar gelede die volgende woorde in die mond gelê van ’n heroïese leier van die Britse weerstand teen die mag van Imperiale Rome: “Hulle maak ’n woestyn en hulle noem dit vrede”.

Die wêreld het barbaarsheid van Trump se twiets begin verwag, maar barbaarsheid in aksie is iets heel anders. Lelike woorde maak seer, maar ten minste los dit die monumente van die verlede onaangeraak.

*David J. Wasserstein is ’n hoogleraar in geskiedenis en Joodse Studies aan die Vanderbilt Universiteit.

*Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Iran  |  Kultuurskatte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.