Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Trump vir ondersteuners ‘beste ding sedert Christus'

Pres. Donald Trump is in die moeilikheid. Vier maande voor die verkiesing is hy só ver agter dat selfs stoere Republikeine vrees dat hy kan verloor, skryf Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump aan die woord tydens die jaarlikse 4 Julie-vieringe by die Withuis. Vier maande voor die verkiesing is hy so ver agter dat selfs sy geharde ondersteuners vrees dat hy kan verloor. Foto: Chris Kleponis/ Bloomberg via Getty Images

Die Amerikaanse politiek was nog maar selde ’n kwessie van kalm, rasionele debat; veel eerder van emosie. Maar selfs as ’n mens dít in ag neem, gaan die stortvloed polarisering en emosie wat tans oor die Amerikaanse kiesers uitgestort word, alle perke te buite.

In dié opsig maak verteenwoordigers van albei groot partye, die Demokrate en die Republikeine, hulle hieraan skuldig.

Enersyds het skares, aangevuur deur linkse politici, op talle plekke in Amerika standbeelde afgebreek van historiese figure wat gestaan het vir denkbeelde wat hulle afkeur. Die meeste betogings was hoofsaaklik vreedsaam, maar enkele het ook op plundering en geweldpleging uitgeloop.

Andersyds wakker pres. Donald Trump ook die polarisering en emosies in sy openbare optredes aan. Hy het die afgelope tyd verskeie groot openbare vergaderings toegespreek – in Tulsa, Oklahoma, by Mount Rushmore in Suid-Dakota, en binnekort volg nog een in New Hampshire.

Nou ja, dis verkiesingstyd, en baie is op die spel. Dus moet ’n mens waarskynlik geen rustige, ewewigtige politieke ontledings van Trump en ander politici verwag nie. Nietemin is dit interessant om die twee kante se verkiesingstrategie te bekyk.

’n ‘Onskuldige griep’

Eintlik het Trump al twee jaar gelede sy strategie in ’n lang onderhoud met Time Magazine uiteengesit. Dit kom neer op ’n herhaling van sy benadering van 2016.

Betogers plaas die oorblyfsels van ’n Amerikaanse vlag bo-op pres. Donald Trump se ster by die Hollywood Walk of Fame op 4 Julie vanjaar. Foto: Getty Images

Wat tóé gewerk het, moet weer kan werk, het hy te kenne gegee. En sy openbare optredes sedertdien – onderhoude, perskonferensies, openbare vergaderings – wys dat hy hom noukeurig daarby hou.

Hulle beskou hom by wyse van spreke as die beste ding wat sedert die geboorte van Christus met die mensdom gebeur het ...

Dit kom neer op polarisering en steeds meer polarisering. Dis duidelik dat hy sy getroue ondersteunerskorps wat hom in 2016 in die Withuis in gehelp het, voer met wat hulle wil hê, naamlik wilde uitsprake oor alles en nog wat – van “verwerplike” politieke korrektheid en liberalisme tot die nuwe koronavirus (wat volgens hom eintlik maar ’n onskuldige griep is) tot rassisme (wat na sy mening al lankal oorwin is), ensovoorts.

Dié benadering maak sy harde ondersteuners wild van entoesiasme. Hulle beskou hom by wyse van spreke as die beste ding wat sedert die geboorte van Christus met die mensdom gebeur het en vergeef hom alle foute wat hy begaan en leemtes wat hy openbaar.

Die vraag is: Is dit genoeg vir nog vier jaar in die Withuis?

’n Soldaat staan op aandag terwyl pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, kyk hoe militêre helikopters oor die Withuis vlieg tydens die “2020 Salute to America” viering op 4 Julie vanjaar. Trump is in groot moeilikheid onder die militêre garde nadat The New York Times onthul het dat Rusland kopgeld aan die Afgaanse Taliban betaal vir die doodmaak van Amerikaanse soldate. Foto: Jabin Botsford/The Washington Post via Getty Images

Die Suid-Afrikaanse bemarkingsdeskundige wyle Bertie du Plessis het op ’n keer die essensie van advertensies (en dit is immers mos maar waarop verkiesingsveldtogte neerkom) só saamgevat: As jy ’n halfvol bad heeltemal vol wil laat loop, help dit nie om die prop uit te trek as jy die kraan oopdraai nie. Overgezet zijnde: Tree só op dat jy die steun behou wat jy reeds het, maar dat jy steun bykry.

Rooivleis vir die kiesers

Trump se verkiesingsveldtog kom tans daarop neer dat hy stukke rooivleis vir sy ondersteuners gooi, wat hulle vol entoesiasme aanvaar. Maar hy besef blykbaar nie dat die hele stemming in die land die afgelope tyd omgeswaai het nie.

Aldus peilings soek die meeste Amerikaners nou versoening eerder as polarisering, ’n trooster in die Withuis eerder as ’n polariseerder en maatskaplike geregtigheid eerder as streng wettiesheid. Dit gebeur teen die agtergrond van 130 000 sterftes weens Covid-19. En ’n mens kan dit sien in die peilings oor die presidentsverkiesing.

Die bespreking van dié peilings moet egter deur ’n waarskuwende woord vooraf gegaan word. Peilings gee vir jou ’n ruwe aanduiding van hoe sake op ’n spesifieke tyd staan; hulle kan onmoontlik met sekerheid voorspel wat oor vier maande gaan gebeur.

Bowendien stem alle peilings nie ooreen nie. Dis gevaarlik om jou te veel aan dié of daardie peiling te steur; ’n mens moet eerder kyk na die gemiddelde van alle peilings, soos byvoorbeeld die een wat daagliks op die webwerf RealClearPolitics gepubliseer word.

Biden staan dekades lank al bekend as iemand wat flaters in die openbaar ondergaan, soos nou die dag toe hy gesê het 120 miljoen Amerikaners is al weens Covid-19 dood. Hier praat hy vanaf sy eie huis oor die dood van George Floyd en die betogings in Minnesota. Foto: Carolyn Van Houten/The Washington Post via Getty Images

Dáár word die landwye voorsprong vir Joe Biden, die Demokratiese kandidaat, tans op 8,7 persentasiepunte gestel. Hoe betroubaar is dit?

Wel, op die vooraand van die verkiesing van vier jaar gelede het RealClearPolitics ’n voorsprong van 3,2 persentasiepunte vir die destydse Demokratiese kandidaat, Hillary Clinton, gemeet. Toe die laaste stemme getel is, was haar voorsprong 2,1 persentasiepunte of byna 3 miljoen stemme – eintlik baie akkuraat.

Maar nogmaals, die 8,7 persentasiepunte is soos sake nóú staan. Vir vergelykingsmateriaal kan ’n mens ook kyk na hoe sake vier jaar gelede op hierdie stadium van die verkiesing was.

Volgens dieselfde webwerf was Clinton se steun op 6 Julie 2016 46,8 % teenoor Trump se 43,6 – ook ’n voorsprong van 3,2 persentasiepunte, presies dieselfde as op stemdag. Danksy die verouderde Amerikaanse kiesstelsel, wat uit die einde van die agtiende eeu dateer, het Trump tog in die Withuis geëindig.

‘Laat Trump homself wees’

Dit sou ’n aanduiding kon wees dat dit moeilik gaan wees om Biden nog in te haal. Bowendien wys peilings in al die deelstate waar die uitslag onseker is en wat Trump in 2016 gehelp het om te oorwin, dat Biden tans beduidend voorloop.

Trump se teenstander Joe Biden word grotendeels uit die openbare oog weggehou. Hy bly meestal in die kelder van sy huis in Delaware, van waar hy televisietoesprake hou en onderhoude aan simpatieke onderhoudvoerders toestaan. Foto: Andrew Harrer/Bloomberg via Getty Images

Hierby moet ’n mens die slu verkiesingsbenadering van die Demokrate in gedagte hou: Biden word grotendeels uit die openbare oog weggehou. Hy bly meestal in die kelder van sy huis in Delaware, van waar hy televisietoesprake hou en onderhoude aan simpatieke onderhoudvoerders toestaan.

Dus is die Demokratiese benadering: Laat Trump homself wees.

Biden staan naamlik al dekades bekend as iemand wat flaters in die openbaar begaan. Net onlangs het hy byvoorbeeld gesê 120 miljoen (pleks van 120 000) Amerikaners is al weens Covid-19 dood, wat nogal ’n beduidende verskil is.

Dus is die Demokratiese benadering: Laat Trump homself wees. Hy stoot tans meer kiesers met sy wildewragtig-gedrag af as wat hy aantrek, terwyl Biden lekker buite die spervuur bly.

Vier jaar gelede het Trump ’n berugte uitspraak gedoen: “As ek iemand in Fifth Avenue doodskiet, sal mense steeds vir my stem!”

Dit was destyds gedeeltelik waar, maar blykbaar nie meer nie, want selfs onder sy geharde kern-aanhangers is sy steun merkbaar (ofskoon nie dramaties nie) aan die uitrafel.

Betogers steek ’n Amerikaanse vlag aan die brand naby pres. Donald Trump se ster by die Hollywood Walk of Fame in Los Angeles op 4 Julie vanjaar. Dit is as deel van betogings teen Trump se besluit om dit weer ’n misdaad te maak om die Amerikaanse vlag te verbrand. Foto: Kent Nishimura / Los Angeles Times via Getty Images

Onder die wit konserwatiewe Christene, bekend as die Evangelicals, het Trump se steun van April tot Junie van 78% tot 72% gedaal. En onder wit kiesers sonder tersiêre kwalifikasies het Trump se voorsprong sedert Maart van 31 tot 21 punte afgeneem.

’n Straatvegter

Trump is bowendien in groot moeilikheid onder die militêre garde en militêre veterane nadat The New York Times onthul het dat Rusland kopgeld aan die Afgaanse Taliban betaal vir die doodmaak van Amerikaanse soldate. Dié nuus is op 27 Februarie in Trump se daaglikse veiligheidsoorsig ingesluit, maar hy het dit óf nie gelees nie óf hom eenvoudig nie daaraan gesteur nie.

Leopold Scholtz Foto: Foto24

Sowel Susan Rice as John Bolton, albei gewese nasionale veiligheidsraadgewers wat vir sulke daaglikse oorsigte verantwoordelik was, het Trump skerp daarvoor gekapittel. As hy nie sulke dokumente lees nie, wys dit op ernstige versuim, meen hulle. En as hy dit wel geweet het, het hy sedertdien ses keer oor die telefoon gepraat met pres. Wladimir Poetin sonder om dié daaroor vas te vat.

Talle gewese generaals, admiraals en hoë offisiere het Trump die afgelope week of twee drie skerp in die openbaar aangeval. Waar 60% van almal in die militêre mag luidens uitgangspeilings vier jaar gelede vir hom gestem het, het sy steun nou tot 53% gedaal.

Dit alles beteken nie dat Trump gaan verloor nie. Die Amerikaanse politiek het nog selde ’n straatvegter soos hy geken, en baie kan gebeur wat die veldtog in sy guns swaai – die ekonomie kan dramaties herstel, die nuwe koronavirus kan (soos hy voorspel het) misterieus verdwyn, ’n yslike terreuraanval kan weer duisende lewens eis.

Al wat seker is, is dat níks seker is nie.

*Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.