Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tuin van hande en stories
’n Multisensoriese tuin op Worcester:Tussen kleurryke blomme en skalieklippe groei 20 soorte plante waaraan geruik en gevat kan word. Dié tuin is op die speelterrein van die Pionierskool vir siggestremdes.

In die koffiewinkel Blindiana Barista heers ’n atmosfeer soos dié wat gewoonlik beleef word by die eerste bekendstelling van ’n bundel waaraan digters of kortverhaalskrywers saamgewerk het.

Dis byna teetyd. Twee gidshonde lê en slaap onder ’n lang houttafel.

Twee rye gemonteerde bordjies, elk ’n bietjie groter as ’n Kindle, is bo-op die tafel uitgepak. Elkeen het ’n spesifieke QR-kode (Quick Response) op, en ook ’n naam en titel in gewone skrif en in braille.

Dis alles deel van Pionier­stories, die jongste uitbreiding van die vakgroep skryfkuns van die Noordwes-Universiteit (NWU) se eksperimentele Byderhand-projek. Soortgelyke installasies in Potchefstroom se botaniese tuin en by die Breytenbach-sentrum op Wellington stel reeds plekspesifieke gedigte en stories – sommige met agtergrondmusiek daarby – beskikbaar aan besoekers via hul selfoon.

Die dosyn mense om Blindiana se tafel word gewys hoe om op hul selfoon na ’n klankgreep te luister, of dieselfde verhaal of gedig in grootdruk te lees. Elkeen is op die een of ander manier verbind met die Pionier­skool vir siggestremdes op Worcester – party al ’n leeftyd lank as oudskoliere of personeel, ander slegs enkele maande.

’n Tuin het hulle almal bymekaargebring.

’n Tuin het hulle almal bymekaargebring.

Dié tuin word later die dag by die 137-jarige skool amptelik geopen danksy die inisiatief van ’n leerkrag, dr. Suna Verhoef. ’n Jaar of wat tevore het sy besluit dat ’n oorgroeide kruietuin op die speelterrein ’n drastiese persoonlikheidsverandering nodig het. Danksy die hande, harte én beursies van vele het die hoop op ’n multisensoriese tuin vlerke gekry.

Tussen kleurvolle blomme en skalieklippe groei nou 20 soorte plante waaraan geruik en gevat kan word. Elkeen is met sorg deur personeel van die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin buite Worcester gekies. ’n Babablou tweeverdieping­skoolmuur wat deur Afrikaans.com en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans vars met musiekverwante idiome beskilder is, gooi skaduwee oor die tuin.

Besoekers kan buitelug-instrumente bespeel wat etlike naweke lank deur leerlinge en personeel van die Hoërskool Brackenfell gemaak is as deel van hul ATKV-Handevatprojek saam met die Pionier­skool.

Selfoongebruikers kan ook danksy QR-kodetegnologie luister na of lees aan tien Byderhand-tuinverse van digters soos William Rowland, Hans du Plessis, Daniel Hugo en Bernard Odendaal. QR-bordjies is ook elders op die skoolterrein geplak, byvoorbeeld by die skoolsaal, skoolgebou en musiek­ouditorium.

Die 27 bordjies wat die Byderhand Pionierstories-projek omvat, gee toegang tot ’n gedig of vertelling wat te doen het met die plek waar dit gemonteer is.

Hul stories gee ’n klein kykie in die lewe van soveel siggestremde mense wat al van skooldae af bande met Worcester het.

Die meeste van die mense wat om Blindiana se tafel sit, het elkeen ’n herinnering tot Pionierstories bygedra. Hul stories gee ’n klein kykie in die lewe van soveel siggestremde mense wat al van skooldae af bande met Worcester het.

Koffie word eers later aan hulle bedien, want Joseph Matheatau, die land se eerste blinde barista, is nie tans op sy pos agter Blindiana se koffiemasjien nie.

Hy het sitplek gekry langs dr. William Rowland, jare lank uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes en eertydse president van die Wêreldraad vir Blindes. Rowland het in 1974 as digter gedebuteer.

Matheatau konsentreer op ’n opname van sy eie stem wat deur sy selfoon speel: “I’m a sound engineer. Making coffee is like creating a beautiful piece of music.”

Dan vertel sy stem ook hoeveel genot hy daaruit put om sy kliënte te bedien. “Even though I can’t see them, I can feel the joy in their voices while sitting down and enjoying their coffee.”

Oorkant hom luister Quinten Pendle met genoegdoening hoe ’n manstem die staaltjies oor sy skooljare en die rol van musiek in sy lewe voorlees. Deesdae is hy ’n radio-omroeper by Perron FM en bedryf ’n klank­ateljee op Klerksdorp.

Sy vingers gly oor die bordjie waarop sy naam in braille staan.

“Awesome. Awesome. Awe­some,” benadruk Pendle, wat die oggend teen sonsopkoms per bus op Worcester aangekom het vir die tuin se opening. Sy vingers gly oor die bordjie waarop sy naam in braille staan. Laer teen die tafel af sit ’n ou skoolmaat, Madelene van der Berg. Sy toets verskillende funksies op haar tablet uit wat lesers met spesifieke visuele beperkinge help om die Byderhand-tekste makliker te lees.

Nadat almal kans gekry het om na hul eie bydraes te luister, vertel prof. Franci Greyling hoe ’n onverwagse ondersoekende e-pos vanaf dr. Verhoef die NWU se vakgroep skryfkuns by die Pionierskool betrokke gekry het. Sy verduidelik hoe die bydraes ingesamel, opgeneem en getranskribeer is, en hoe die omsetting in braille danksy die kundiges van die Pionierdrukkery gedoen is. Agter die skerms is die koppelvlakontwerp en tegniese versorging behartig deur Gustaf Tempelhoff, multimedia-ontwerper en NWU-meestersgraadstudent.

Greyling se aankondiging dat die eindproduk nie net op die skoolterrein beskikbaar is nie, maar ook permanent in Blindiana, kry ’n handeklap.

Plate skeloranje lentemadeliefies maak oral in die tuin plegtig koppe toe.

“Ek dink nie daar is nóg só ’n projek in die wêreld wat plante, poësie en bome in teks en klank koppel binne die ruimte van ’n multisensoriese tuin wat mense met verskillende gestremdhede akkommodeer nie,” benadruk Rowland wanneer hy die bedankings doen. “Die vertellings hou die tradisies en verlede van die skool lewendig, en sal hopelik ook inspireer vir die toekoms.”

Skuins voor sononder kom ’n groep Afrikaanse digters byeen in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, berg se kant van die rumoerige N1. Almal het ’n skakel met Worcester. Hulle is byeengebring deur Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool. Karooverse, waaraan almal deel het, is ’n uitvloeisel van die Pionier­skool-projek.

Werner Voigt, tuinhoof, vertel hoedat gepaste bordjies, kompleet met die QR-kodes, in die botaniese tuin se nuwe brailleroete staangemaak gaan word. Dit sal toegang gee tot bydraes deur gepubliseerde woordmense soos David Kramer, Diana Ferrus, Floris Brown, Daniel Hugo en Basie Duvenhage. Sommige verse is reeds opgeneem; enkeles is selfs al in Engels, Duits of Portugees vertaal.

Plate skeloranje lentemadeliefies maak oral in die tuin plegtig koppe toe teen die tyd dat ’n opname van een van Rowland se 1974-gedigte eers in Afrikaans en toe ook in sy vertaalde weergawes vir almal gespeel word:

Besoekers kan ook buitelug-instrumente en speletjies in die multisensoriese tuin bespeel.

omdat ek die stadsrumoer

verkies het

bo die stilte van stilte

omdat ek die gewoel tussen hygende liggame

verkies het

bo die ruimte van ruimtes

omdat ek die dieseldampe van metrieke Maandae

verkies het

bo die weelde van winde en woude

is ek ’n weeskind onder madeliefiemense

Dan sluit Rowland se stem af:

maar die gedeeltelike pyn van blom en blaar

is bloot klein eksemplaar

van die yslike masjien wat om ons maal

eensaam is jy

broodbroer bloedbroer van die veld

nog eensamer ek

tuinier van die beton

digter van die lied van robot en fabriek

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.