Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kyk: Tuinverse groei soos wilde knoffel

TT Cloete is nie dood nie.

Loop jy by die botaniese tuin in Potchefstroom in en swenk sommerso met die intrapslag na regs, is daar ’n bankie onder ’n karee wat oor ’n dammetjie uitkyk. Hier, tussen die kwakers en koerende duiwe, klink Theunis Theodorus Cloete se stem helder op:

die Mooirivier stroom van die noorde af

die mooi dorp binne

ons dorp is liewer dorp as stad

Ook op ’n bronsplaat op ’n klip loop jy letterlik Cloete se vers “God die digter” raak:

Daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier

Nou, oubaas Cloete kén sy storie – die poësie in die botaniese tuin groei soos wilde knoffel (gaan staan maar daar in die labirint en ruik die knoffel ’n bietjie).

Dié tuinverse maak deel uit van die Noordwes-Universiteit se Byderhand-inisiatief

“Byderhand is ’n eksperimentele ruimte vir skep, skryf en lees in nuwe kontekste. In Byderhand van Clover Aardklop 2015 het die fokus op plekspesifieke digitale literatuur geval,” lees ’n mens op die Byderhand-tuisblad.

“Die projek het uit vier subprojekte bestaan: Tuinverse in die botaniese tuin, rusplekstories in die Boeke-oase (kortverhale en kinderstories), ’n dwaalverhaal by die Hoër Tegniese Skool (tienerverhaal) en taxi-strips op die pendelroete (strokies).”

Hoewel die tuinverse sy ontstaan by Aardklop gehad het, bly dit voortbestaan om werklik ’n unieke ervaring te gee – iets wat nuwe tegnologie inspan om dié tuin op ’n besonderse manier vir die besoeker te ontsluit.

Met die QR-leser op jou foon (wat jy vinnig-vinnig van die app-winkel kan laai) kan jy deur die tuin janter en oral waar daar “Byderhand”-bordjies op sitplekke is, dit gewoon skandeer. Wat jy dan kry, is opsies om ’n vers van ’n spesifieke digter te lees, na ’n voorlesing deur die digter self te luister of te kyk na ’n grafiese aanbieding naas die voorlesing.

Interaktiewe gedigte

Maar daar is ook interaktiewe gedigte waar jy as ’t ware kan kies of jy ’n man of ’n vrou is en jy jou naam vir die program kan sê. Dan kry jy later ’n vers terug (in die stem van ’n man of vrou) met jou eie naam daarin.

Van die ander gedigte is ook getoonset, en ánder weer gebruik ander kunsvorme (soos skilderye) in samehang met die verse.

Vir die tuinverse is 15 digters met Potchefstroom-verbintenisse genooi om gedigte te skryf wat spesifiek by die botaniese tuin pas. Hoewel aanvanklik net in Afrikaans, word die projek intussen ook na onder meer Engels en Tswana uitgebrei.

Tuindigters sluit onder andere gevestigde stemme in soos Hans du Plessis, Johan Myburg, Tom Gouws, Heilna du Plooy, Hein Viljoen en Susan Smith. Vir jonger lesers is die tuin ook vol kinderverse deur Franci Greyling.

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het totempale geskep wat telkens ’n spesifieke gedig uitbeeld.

Prof. Franci Greyling was die projekleier en prof. Bernard Odendaal subprojekleier.

Wat jy gaan nodig hê:


Laai voor jy vertrek ’n QR-leser op jou selfoon af.

Maak seker jou selfoon se battery is gelaai en dat jy lugtyd het. Die botaniese tuin het (nog nie) gratis WiFi nie.

Oorfone is dalk nie ’n slegte idee nie.

Die tuin is weeksdae oop tussen 08:00 en 16:00.

Meer oor:  Jo Prins
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.