Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tumi en die toekoms: Is daar hoop?

Die herrie oor die omroeper Tumi Morake se uitlatings oor die pyn van apartheid het die verdeeldheid onder Suid-Afrikaners beklemtoon. Is daar hoop vir die toekoms, vra Gert van der Westhuizen.

Tonele soos dié uit Suid-Afrika se apartheidsverlede is steeds pynlik vir mense wat onder dié stelsel gely het.Foto: Jan Hamman

“Ons survive met ’n helse lot pyn in hierdie land, ja...”

Dié woorde uit Johannes Kerkorrel se liedjie “Hillbrow” van die laat jare tagtig spook nog by Suid-Afrikaners wat daagliks te doene kry met die trauma van hul apartheidsgeskiedenis.

Die Tumi Morake-herrie het weer gewys dat veral die vernedering van apartheid diep wonde gelaat het wat steeds rou is. Dit het ook uit wit geledere ’n woede ontlok wat volgens sommiges dui op ’n onverdraagsaamheid wat enige hoop op toenadering laat vervaag.

Waarom praat mense só by mekaar verby en sal hulle mekaar se pyn en vrese ooit verstaan of probeer verstaan?

As ons ons meer aan die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gesteur het, sou baie van hierdie onafgehandelde emosionele sake dalk nie nou ter sprake gewees het nie.

“Hierdie woede en slegsêery ná Tumi se uitlatings verstom en ontstel my,” sê die skrywer Dana Snyman. “Dit het baie te doen met die feit dat Afrikaners nog nie heeltemal op ’n emosionele vlak vrede gemaak het met die verlede nie.

“Soveel sê graag hulle is moeg om verskoning te vra vir apartheid. Maar as jy hulle vra wanneer presies hulle dit gedoen het, kan hulle jou nie antwoord nie. Ons leef in konflik met onsself oor apartheid en dit is waar baie van hierdie woede vandaan kom.”

Snyman sê die kerk en sy leiers het die Afrikaner in die steek gelaat in die oorgangstyd tussen die ou en die nuwe Suid-Afrika.

“As ons ons meer aan die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gesteur het, sou baie van hierdie onafgehandelde emosionele sake dalk nie nou ter sprake gewees het nie. Aartsbiskop Desmond Tutu het destyds vir oudpres. PW Botha genooi: ‘Kom getuig voor die WVK, kom vertel alles. Ek sal saam met jou gaan, ek sal jou hand vashou, dan stap ons soontoe.’ Maar PW was hardkoppig – ’n soort hardkoppigheid wat baie van ons vandag steeds oor apartheid het.”

‘Ons was onverskillig met ons demokrasie’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê weer die nalatenskap van apartheid kan nie bloot hanteer word deur verskoning te vra nie.

“Dit is ’n nimmereindigende proses wat gebruik word om debat te neutraliseer eerder as te stimuleer. Daar is al deur soveel mense en groepe om verskoning gevra. Mense is al moeg om verskoning gevra.”

Kan Suid-Afrikaanse leiers weer ’n beeld van eenheid skep soos oudpres. FW de Klerk, oudpres. Thabo Mbeki en emeritus-aartbiskop Desmond Tutu op dié foto? Foto: Peter Abrahams

Die aandrang op verskoning hou volgens Hermann die oortreder/slagoffer-verhouding in stand wat dit onmoontlik maak om verhoudings te volle te herstel. Daar moet eerder gestreef word na verhoudings wat wedersydse erkenning en respek bevorder.

“Dit sluit in dat ons die foute van die verlede erken en daaruit leer, na mekaar luister, begrip kry vir mekaar se seer en uitreik na mekaar.”

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die probleem is dat Suid-Afrikaners oor mekaar praat en nie met mekaar nie.

Ons wil baklei, ons wíl reg wees en ons wil nie voel dat ander die oorhand oor ons het nie.

“Ons besef nou dat ons oor die afgelope 24 jaar nogal onverskillig was met ons demokrasie. In debatte oor ras, identiteit en geskiedenis (ons stories) word dit nou duidelik dat ons op plekke kwaai sukkel om in één Suid-Afrika te leef.

“Ons leef in Suid-Afrika’s wat soms só verskillend is dat ons waarhede en stories en verstane nie in die Suid-Afrika van die ander sin maak nie. Juis hierin lê ons onverantwoordelikheid. Ons maak gans te min diepgaande, egte verhoudingskontak met mekaar.”

Pyn van apartheidswonde nog nie verwerk

Van Rooi sê Suid-Afrikaners leef en dink steeds apart en die “skielike” saamwees in sommige lewensruimtes lei tot wrywing in ’n tyd waarin die sosiale gom nie meer so samebindend is as in die Mandela-era nie.

“Ons wil baklei, ons wíl reg wees en ons wil nie voel dat ander die oorhand oor ons het nie. Omdat ons die ou resep van magsbeheptheid verstaan, is ons magsvergelding soms diep vasgevang in kru rassisme gegrond op vrees, onsekerheid, onkunde en ’n rassehiërargie wat nie plek in moderne samelewings kan hê nie.”

Kortstondige versoening? FW de Klerk en Nelson Mandela se bekende versoeningsgebaar toe Suid-Afrika se eerste swart president in 1994 ingesweer is. Foto: Reuters

Tog behoort sulke gedrag nie vreemd te wees nie.

“As ons mooi daaraan dink, het ons met die politieke oorgang van 1994 oornag die een vlag vir ’n ander verruil. Sosiaal het ons gebly waar ons was. Ons het met mense bly assosieer met wie ons in die vorige dekades geassosieer het,” sê Van Rooi.

Volgens Hermann is baie van apartheid se rou wonde en pyn nog nie verwerk nie. Dit verdien erkenning en begrip, maar Afrikaners word nie regverdig behandel in debatte soos dié rondom Morake nie.

“Afrikaners is moeg daarvoor om geboelie te word. Hulle moet gedurig hoor hulle is boos en krimineel. Afrikaners beleef strukturele diskriminasie, vervreemding, dubbele standaarde met ras, ’n aanval op Afrikaanse skole en universiteite, maar hulle mag niks daaroor sê nie.

“Tumi het die sweer oopgesteek. Die hoofstroommedia het die reaksie van mense as rassisties afgemaak en hulle is bestempel as radikales wat nie begrip het vir ander se pyn nie. Omdat hulle uit die hoofstroommedia geskryf is, wend hulle hulle tot die sosiale media waar hul emosies uitborrel. Daar is egter steeds nie erkenning aan hul frustrasies gegee nie en die volgende Spur of JacarandaFM lê en wag,” sê Hermann.

Luister meer as wat jy praat

Snyman maan teen ’n teruggryp na die “goeie ou dae” as dinge nie aldag voor die wind gaan nie.

Veral mense wat tydens apartheid grootgeword het, voel leeg en kwaad omdat hulle nooit geleer is om vir hulself te dink nie.

Ons moet ’n radikale nuwe sosiale kontrak in plek kry; een waar ons van ons magsbeheptheid en die ‘ons is reg’- meerderheid- en minderheidswaansin verlos word

“Nou leef soveel van ons in hierdie hooplose lugleegte waarin ons so graag vir mekaar om braaivleisvure sê: ‘Hierdie land is in sy moer in.’ Woede laat jou krom na dinge kyk. Later sien jy net jou vrese raak. Soveel van ons begin die doodeenvoudige alledaagse werklikheid miskyk.

“Natuurlik is daar verskriklike dinge wat gebeur: boere en mense wat vermoor word, kapings, bedelaars by die verkeersligte . . . Maar dis nie al wat in hierdie land gebeur nie. Oral sien ’n mens hoop – as jy dit wil sien. Wat ek elke dag ervaar, klop dikwels glad nie met wat ek op webwerwe of Facebook lees nie.”

Tumi Morake se uitlatings oor die pyn van apartheid het gemoedere in Suid-Afrika op hol gehad.Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners kan moed vir die toekoms hê omdat hulle volgens Van Rooi al veel erger krisisse oorkom het. Hermann se oplossing is dat hulle meer na mekaar moet luister en hul stories vir mekaar moet vertel. “Ek vertrou die Tumi-herrie sal tot ’n besef lei dat ons nog hard moet werk om begrip en respek vir mekaar te ontwikkel.”

Snyman sê Suid-Afrikaners moenie op amptelike instellings staatmaak om gesprekke aan die gang te kry nie. “Die antwoord vir soveel van ons probleme is baie eenvoudig: Dit lê by my, by jou, by onsself. Probeer om meer te luister as te praat. Net een reël moet geld: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Volgens Van Rooi moet Suid-Afrikaners moeite doen om doelbewus anders te leef.

“Ons moet ’n radikale nuwe sosiale kontrak in plek kry; een waar ons van ons magsbeheptheid en die ‘ons is reg’- meerderheid- en minderheidswaansin verlos word sodat ons ’n nasionale identiteit kan soek wat ons sal verras en verbaas.

“Meer van ons is bereid om dit te doen as wat ons dink. Maar dan moet ons die vrese laat gaan – almal van ons. En weer probeer. Maar dit gaan nie maklik wees nie.”

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Dirk Hermann  |  Tumi Morake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.