Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tutu: Stem van Suid-Afrika se kollektiewe gewete
Aartsbiskop Desmond TutuFoto: Yunus Mohamed

Naas Nelson Mandela is Tutu die land se ander volksvader. Christi van der Westhuizen bring hulde aan dié Nobelpryswenner op sy 85ste verjaardag.

Suid-Afrika het, weens die stryd vir maatskaplike geregtigheid, mense opgelewer wat as grootse figure in die geskiedenis van die 20ste eeu onthou sal word. Een van die merkwaardigste van hierdie mense is sekerlik aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu, wat vandag sy 85ste verjaarsdag vier. Hy is die land se ander volksvader, naas Nelson Mandela.

Maar, anders as Mandela, is Tutu nie gebonde aan ’n spesifieke politieke agenda nie.

Maar, anders as Mandela, is Tutu nie gebonde aan ’n spesifieke politieke agenda nie. Mandela is in sy latere jare deur sy verwantskap met die ANC gekniehalter. Dit het as herinnering gedien dat hy ook ’n politikus was en deur die ANC se interne kultuur aan bande gelê is.

Daarenteen is Tutu die stem van Suid-Afrika (en uiteindelik ook die wêreld) se kollektiewe gewete. Sonder uitsondering staan hy aan die kant van die verstotenes, die onderdruktes, die benadeeldes – altyd téén ongeregtigheid. Sy standhoudendheid in hierdie posisie sedert hy in die 1970’s in die openbare kollig beland het, is opvallend.

Ongeag watter maghebber se toorn hy hom op die hals haal, Tutu bly ’n skerpsinnige en onverskrokke stem – met ’n wonderlike humorsin. Dink byvoorbeeld aan sy verduideliking oor hoekom die Nobel-Vredeprys in 1984 aan hom toegeken is: “A kid asked me a few years ago, ‘What do you do to get the prize?’ I said, ‘It’s very easy, you just need three things: you must have an easy name, like Tutu for example, you must have a large nose and you must have sexy legs.’”

’n Diep en verbeeldingryke denker

Christi van der Westhuizen

Dit is nie dat hy vry van instellings staan nie. As die Anglikaanse Kerk se eerste swart aartsbiskop van Kaapstad en van Suider-Afrika was hy aan kerklike tradisies gebonde. Maar binne hierdie tradisies het ’n kritiese stroming ’n deurslaggewende rol in die beëindiging van apartheid gespeel. Hy is dus ’n toonbeeld van en ’n voorste denker in die krities-Christelike stroming wat verdere stukrag aan die weerstand teen apartheid in die 1970’s en 1980’s verleen het.

’n Mens hoef net na aanhalings van hom en sy rits boeke te kyk om te besef dat sy bydrae tot die totstandkoming van ons demokrasie omvattend is. Hy was nie net ’n geestelike of net ’n anti-apartheidsaktivis nie. Hierdie man, wat as seun medies wou studeer maar te arm was, is ’n diep en verbeeldingryke denker wat Christelike waardes en beginsels op ’n verruimende wyse interpreteer ter wille van maatskaplike geregtigheid sodat almal aan ’n inklusiewe en grootmoedige menslikheid deel kan hê.

Sy aansienlike bydrae sal in die toekoms spesifiek as ’n uitbouing van ’n filosofie van vermensliking onthou en ontleed word. Dit is in daardie sin dat hy ons ander volksvader is.

‘God se reënboognasie’

Toe ons op ’n naaldpunt was, het hy ons gehelp om Suid-Afrika nuut te verbeel.

Veral in hierdie tye van chroniese armoede, wat verbeelding en leierskap aangaan, word ’n mens getref deur die kragtige beelde wat Tutu aan Suid-Afrikaners bemaak het. Toe ons op ’n naaldpunt was, het hy ons gehelp om Suid-Afrika nuut te verbeel. Sy naam is, saam met Mandela s’n, sinoniem met versoening. Deel daarvan is sy idee van Suid-Afrikaners as ’n reënboognasie – “God se reënboognasie”. Hierdie idee van hom het nie gekom ná die demokratiese oorgang nie. Hy het dit reeds in 1989 by ’n betoging in Kaapstad gebruik, voordat FW de Klerk se ontbanning van die bevrydingsorganisasies ’n weg uit die donker doodloopstraat van laat apartheid gebaan het. Tutu se ryke metafoor is presies die soort toekomsvisie waaraan ons deesdae ernstig gebrek ly.

In die era van sinisme waarin Suid-Afrika vandag verkeer, is Tutu se idee van ons as ’n reënboognasie een van die eerste slagoffers. In Engels word dit as Rainbowism afgemaak, met die argument dat die klem op ’n reënboog die voortgesette onreg van die apartheidnalatenskap onder die mat invee.

Hierdie kritiek sluit aan by kritiek teen die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), wat Tutu in die laat 1990’s gelei het. Die WVK het te veel klem op versoening en te min op geregtigheid geplaas, lui die argument.

Die skuld hiervoor word in ’n groot mate voor Tutu se deur gelê. Sy omskakeling van die WVK-prosesse in ’n Christelike idioom van vergifnis het die moontlikheid van ernstige besinning oor en uitvoering van reg en geregtigheid gekortwiek, word die argument verder gevoer.

Terwyl daar waarheid steek in die kritiek op die reënboogidee en die WVK se verval in vergifnis, is meer dinkwerk nodig oor Tutu se visie vir Suid-Afrika.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die ANC se streeksekretaris Faiz Jacobs het onlangs by aartsbiskop-emeritus Tutu, sy vrou, mev. Leah Tutu en sy dogter, Mpho Tutu-Van Furth, aangesluit vir ’n nagmaaldiens in sy hospitaalkamer. Hy is as ’n voorsorgmaatreël in ’n Kaapse hospitaal opgeneem ná ’n operasie om die oorsaak van ’n herhaalde infeksie vas te stel. Foto: Benny Gool/Oryx Media

Verbintenis tot geregtigheid

Die onverskrokkenheid wat hy aan die dag gelê het in die stryd teen apartheid het nie daar geëindig nie. Sedert die demokratiese oorgang demonstreer hy sy verbintenis tot geregtigheid keer op keer.

Tutu moes die ANC se aanslag teen die WVK trotseer toe die destydse president Thabo Mbeki die bevindinge oor sy organisasie se menseregtevergrype verwerp het. Die WVK se doeltreffendheid is ’n nekslag toegedien deur die regering se onwilligheid om die kommissie se aanbevelings in werking te stel.

Daarna het Tutu voortgegaan om sy aansienlike openbare profiel te gebruik om die aandag op onversetlike ongeregtigheid, hier en elders, te vestig – ook deur sy organisasie van wêreldleiers genaamd The Elders.

Tipies Tutu het hy die uitnodiging om die Nelson Mandela-gedenktoespraak in 2004 te lewer, gebruik om ’n openbare waarskuwing teen die regerende elite te rig

Ter plaatse bots hy gereeld met die ANC-regering. Tipies Tutu het hy die uitnodiging om die Nelson Mandela-gedenktoespraak in 2004 te lewer, gebruik om ’n openbare waarskuwing teen die regerende elite te rig. Dit het tot nóg konflik met Mbeki gelei.

Tutu se kritiek teen voortdurende maatskaplik-ekonomiese ongelykheid, die selektiewe aard van swart ekonomiese bemagtiging en Jacob Zuma se presidentskap het hom ’n konstante teiken van die ANC oor die afgelope dekade gemaak. Die vyandigheid is op ’n spits gedryf toe hy nie na Mandela se begrafnis genooi is nie.

Die konflik met die ANC is nie verbasend nie: Dit getuig weer eens van die standhoudendheid van Tutu se posisie oor die jare.

In die 1980’s het hy die voorlaaste apartheidsleier PW Botha getakel oor sy “onbybelse, onchristelike, immorele en bose” beleid, asook die Reagan-administrasie se teenkanting teen sanksies teen die apartheidsregime, sowel as Afrika-diktators soos Mobutu Sese Seko, omdat net “die gelaatskleur van die onderdrukker” verander het.

Hy spreek hom gereeld teen Robert Mugabe uit “as karikatuur van al die dinge wat mense dink swart Afrika-leiers doen. Dit lyk asof hy ’n spotprent van homself wil maak”. Sy kritiek op “apartheid-Israel” het tot die kansellering van optredes in die VSA gelei.

En intussen is hy ’n voorste kampvegter vir gayregte omdat, “as God homofobies is soos sommige sê, sal ek nie daardie God aanbid nie”. Hy bly ’n getuie vir “die swakkes, die magteloses, die uitgebuites”.

* Prof. Christi van der Westhuizen is ’n skrywer en medeprofessor in Sosiologie aan die Universiteit van Pretoria

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.