Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uit die argief
Tyd het stil gaan staan in Waldorf nommer 40
Die nuwe stad bly buite

DIE spieëlkas in mnr. Rynhold Klerck se kamer. Daar is foto's van hom en sy ouers. FOTO: CHARLES SMITH

Op 1 Februarie 1950 het mnr. Rynhold Klerck (81) en sy ma in die Waldorf-gebou op die hoek van Maitland- en Brandstraat in Bloemfontein ingetrek. In woonstel 40 van een van die stad se mooiste geboue het die tyd 'n halfeeu lank gaan stilstaan. CHARLES SMITH het by Klerck gaan kuier.

'n Duif fladder uit die binnehof van die Waldorf-gebou na die son as die ou man in 'n ligbou pak met sy kruk die laaste van vier stelle marmertrappe opklim. 

Hy draai regs en skuifel verder tot voor die gaasdeur aan die noordelike kant van die gebou. 

"Welkom in Waldorf nommer 40," sê hy. Ons stap die skemering in. Die deur trek toe en laat die nuwe stad buite. Tyd rus op 'n kierie aan die einde van die gang. 

Ek stap in op 'n klein, intieme museum. Hier was hy en sy ma 16 jaar saam en woon hy 37 jaar alleen. Hy het grys geword, maar die plek het só gebly: 'n Klassieke kassie van donker hout, ou radio's, ornamentjies en plastiekblomme onder 'n wasige doek van dae wat vergaan het en soos fyn stof oor alles lê. 

Daar is 'n portret van 'n man regs teen die muur; 'n kleiner portret van 'n vrou hang agter die deur. In die middel is 'n 1974-almanak met 'n prent van Jesus. 

"Dit is nog dieselfde as toe ek en my ma hier ingetrek het. Sy was Martha Fransina Klerck, gebore Naudé. Sy is in 1966 hier in die woonstel oorlede. Sy het 83 gehaal. 

"Ons het eers in Kings Court gebly totdat my pa in 1948 dood is. Daniël Johannes Morkel Klerck. 'n Rosendorf het hier gebly en wou ruil. Toe ruil ons."

Hyself is Johan Rynhold Gerhardus Klerck, 'n man van al die twee's: Hy is op 2/2/1922 gebore. Februarie was hy 81, maar hy kla nie, sê hy. "Die Here sorg vir my." Hy beweeg moeisaam, maar is steeds die posbode en opsigter van die Waldorf, 'n plek waarin hy soos sy ma tot sy einde wil bly. 

Klerck was saam met wyle regter Theunie Steyn en sy broer, Jan, in Oranje tot st. 2 voordat hulle na Grey-kollege is. Hy kuier gereeld by hul onderwyser, mnr. Natie Ferreira (91), 'n oud-Vrystaat-vleuel. 

Sy pa het Speedy Service Station gehad, waar hy ook gewerk het. Toe sy pa verkoop het, is hy na Lambons se parkeergarage. In 1955 het hy en sy ma die klein, rooi draadlosie gekoop wat onder die doekie op die platespeler staan. 


IN Waldorf-woonstelle 40, Bloemfontein, het die tyd gaan stilstaan. Op sy regop bed sit mnr. Rynhold Klerck (81) en luister na een van sy ses antieke radio's. Deur die venster is die koepel van die Vierde Raadsaal, nog een van Pres. Brandstraat se pragtige geboue, sigbaar. Klerck woon al van 1 Februarie 1950 in hierdie woonstel en in dié 53 jaar het min dinge verander. FOTO: CHARLES SMITH

Deur die toegetrekte gordyne is die koepel van die Vierde Raadsaal sigbaar. 

"Ek vang op net wat ek wil," sê hy en wys na die Akkord-draadlosie. "Amerika, Londen, Keulen. Holland. O, ja. Moskou ook - saans nege-uur is Engelse nuus. Natuurlik Radiokansel ook, dis die beste stasie van die lot."

Radiokansel luister hy van 04:00 tot 11:00 op FM, daarna op mediumgolf. Hy luister ook na Family Radio op mediumgolf, al raas dit soms. 

Bo die draadlosie hang 'n foto van die Tweetoringkerk. 

"Ek wil nie spog nie, netnou kry ek probleme," sê Klerck en lyk verleë. "Ek is in 1981 gekies as kerkraadslid van die Tweetoringkerk. Is dit 22 jaar? Maar ek wil nie spog nie. Die Here is goed vir my..."

Hy kap met sy kruk op die verslete, rooi mat. 

"Jy sal my nie glo nie. In 22 jaar het ek nie een diens of kerkraadsvergadering gemis nie. Ongelukkig was ek net by een sinode, in '87. Dít was nou interessant."

Hy was ouderling vir die hele middestad - al die woonstelblokke: Waldorf, Sacomen, Wandamar, Library Mansions, Casamia. Nou is daar nog net lidmate in Waldorf. 

Hy is lief vir skepe, dié dat foto's van die Union Castle en die Windsor Castle teen die mure hang. Hy wou sy pa en ma vat vir 'n reis, maar sy pa het geweier. Hy vind toe uit sy pa is deur die Britte in die Anglo-Boereoorlog per skip weggestuur, waarnatoe weet hy nie. Sy pa was net 15. 

Klerck het sy pa se '39-Pontiac geerf. Dié het hy ingeruil vir 'n Escortjie by Lambons wat R1 400 gekos het, maar dit is gesteel. Nou kry hy soggens 'n geleentheid met die Griek by die kafee na sy vriendin, mev. Daleen van Graan, by die OVV-tehuis. 

In 22 jaar het ek nie een diens of kerkraadsvergadering gemis nie. Ongelukkig was ek net by een sinode, in '87. Dít was nou interessant.

Hulle eet by die Kuierhoekie en smiddae kry hy die drie-uur-bus terug na die Waldorf-gebou. 

Dit is waar hulle in 1979 ontmoet het. In die Waldorf-gebou. Sy was in woonstel no. 13. 

Daar is 'n foto van hulle op die draadlosie en op die spieëlkas in die kamer en langs die rooi draadlosie. 

Soggens staan hy 04:00 op. Hy bel sy vriendin om 04:30. Dan skeer hy en maak ontbyt. In die kamer staan 'n Philips-radio wat sy ma in 1958 gekoop het. Twee piepklein radio'tjies is langsaan. Soos die groot Philips in die kombuis wat hy in 1976 aangeskaf het, is die meeste op Radiokansel ingestel. 

Hy skakel die groter Philips in die donker kamer aan, wat eers "warm word". 'n Gesuis klink op. "Hoor daar, die lawaai. . . Wat is dit? Ai, dis ongelukkig." Hy draai versigtig verder. Dit is kortgolf. Dan klink die BBC op. "Dis Londen!" 

Hy het lank by sy vriendin in woonstel nommer 13 gaan opsit. Tot 1993, toe sy getrek het. Sy het 'n televisie gehad. Hy het tot 21:00 gekyk, dan het sy tee gemaak en het hy gaan slaap. "Die vrouens hier in die Waldorf kyk nou net stories. Ek hou van musiek."

Regte boeremusiek, sê hy. Sy blou oë glinster. Ou boeremusiek. Of Charles Jacobie. Hy skuifel na sy hangkas. Onder die pakke en baadjies is die plate netjies ingeryg. Hy het 'n notaboek waarin elkeen aangeteken is. Daar is 204 langspeelplate. 

DIE klein, rooi Akkord-radio'tjie wat mnr. Renhold Klerck se ma in 1955 gekoop het. Toe het hulle reeds vyf jaar in die Waldorf-gebou gewoon. Sy ma is in die woonstel dood. FOTO: CHARLES SMITH

"Het jy al gehoor van Petronella? Of Jan de Bruyn se donkie? En Tant Annie ruik na gom? Sjoe, jong, dis musiek uit die boonste rak." Hy wys na die lys van "seven singles". Daar is 35 gelys. Laaste is die Verkiesingsboodskap van P.W. Botha, 6 Mei 1987. Op sy eie treffersparade is Petronella nommer een en die donkie nommer twee. Tamatiekonfyt is elfde. "Ek speel vir my vriendinnetjie die snit Leentjie. Haar naam is Daleentjie. Dan is sy baie tevrede.'' Hy haal die plaat van Willie Welgens en sy Suikerbossie-boereorkes versigtig uit die omslag. Die beste konsertinaspeler ooit, sê hy. Hy sit dit op die draaitafel. Die donkielong skop in. Ons luister na Vra vir Lammie, vra. Die stad gly weg. Oom Rynhold staar na die omslag. Ek sien sy foto as baba gelerig en wasig in die flou lig langs 'n skeurblad van 'n biddende Jesus. Op die hangkas is drie ou tasse hoekig afgelyn. 

"Nou moet jy versigtig wees vir Petronella," sê hy. Hy kyk op. Hoor net daar, sê hy. Hoor net daar. Jis, jong. Sy voet tik bykans ongemerk op die rooi mat. Soggens as hy klaar is met ontbyt, of smiddae as die drie-uur-bus hom aflaai, luister hy musiek. 

Só alleen, ja. Hy en Charles Jacobie en Willie Welgens. 

Hoeveel keer het hy op die regop bed gelê en luister na die swaar slae van die horlosie in die toring van die ou Goewermentsgebou (nou Naln) oorkant die straat? 

My ma sê toe ek moenie plate koop wat my laat huil nie, ek moet plate koop wat my laat lag.

Ek sien weer die krom figuur skuifel om die hoek van die Waldorf-kafee - sy figuur wat met die weerkaatsing van pres. Jan Brand se standbeeld en die reuse-bome in die groot venster van die kafee meng. 

"Ja, ek mis my ma baie," sê hy. Sy oë verdof. Ek kyk na die klein portret van sy ma teen die dofgeel muur. "Ons was 47 jaar saam. As ek plate speel, dink ek baie aan haar."

Sy ma het baie van plate gehou. Hy het eendag met Jacobie se Die Singende Beesboer by die woonstel aangekom. As hy na mooi musiek luister, rol die trane. 

"Ek en my ma sit en luister. Wapad het eerste gespeel. Ek voel iets kom. Met Ou Ryperd raak dit erger. Daarna was dit Huisie in die Vrystaat en Saal op die muur. 

"Jis, maar toe hy Die perd lê begrawe op die dam se wal sing, toe loop die trane. My ma sê toe ek moenie plate koop wat my laat huil nie, ek moet plate koop wat my laat lag."

Ons luister na die konsertina. 'n Toeter in die straat klink hol in die ou gebou op. Die skadu's skuifel aan op die Vierde Raadsaal se koepel. Is daar iemand in die straat wat die konsertina hoor huil? Die plaat krap sag. Ek verbeel my duiwe op die dak. Die lig val op die ou man met sy ma wat stip na hom afkyk. 

Hy speel Gerrie Bezuidenhoudt se weergawe van Petronella. Die prys op die omslag wys hy het R1,99 by M.B. Musieksentrum in die Ou Mark daarvoor betaal. Dit is net nie dieselfde nie, sê oom Rynhold. Nee, dit klink net nie soos Willie Welgens nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Bloemfontein  |  Uit Die Argief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.