Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Tyd om die krokodil in die gesig te slaan en te swem'

Die Oos-Kaap se boere is vol hoop en planne vir grondhervorming. ’n Mens moet net luister, skryf Anneliese Burgess.

Boere praat met boere. Knowledge Xashimba van Queenstown, Greg Pretorius van Queenstown, Gcina Madasa van Elliot en Piet Prinsloo van Langside Boerdery, Queenstown, het ook die beraad bygewoon.

’n Sagte motreën het uitgesak oor die tent waar houttafels met flesse koffie en bakke beskuit vroegoggend al reg gestaan het by Oppieplaas – ’n onthaalsaal op die skaapplaas Mtwentwe naby die kusdorpie Haga Haga buite Oos-Londen.

Teen half-agt was die ou trekkerstoor al stampvol en nog stoele is ingedra. Die gekwetter van vinke en die gekekkel van hoenders het deur die vensters ingesweef terwyl SK Makinana, ’n wolboer van Ugie, die skriflesing en gebed waargeneem het. Sy diep stem het die seën gevra oor die geboë hoofde van sowat 300 deelnemers aan die Oos-Kaap se eerste grondhervormingsberaad vir boere.

Onder die gaste was die minister van landbou, Senzeni Zokwana (self ’n boer uit Idutywa), oudminister Roelf Meyer, Revel Saint, Suid-Afrika se grootste suikerboer, en John Rance, die Oos-Kaap se bosbou-pionier, maar die dag het behoort aan die honderde gewone boere in kakiehemde en met gekreukelde pette – elk met ’n storie op die hart.

Op die beraad op die skaapplaas Mtwentwe naby die kusdorpie Haga Haga is kos in regte Oos-Kaapse styl voorberei op vure.
Roger Day van Komga Boerevereniging en Sithembele Dyasi van Ncera Macadamia Farm op die Oos-Kaapse grondberaad. Foto’s: ANNELISE BURGESS

Landbouweekblad en die Komga Boerevereniging se grondberaad het gekom ná die suksesvolle nasionale konferensie wat AgriSA en Landbouweekblad in September saam op Bela-Bela aangebied het.

“Dít was die begin van ’n veldbrand van verandering,” sê Niel Taljaard, ’n advokaat van Oos-Londen wat die voortou geneem het om die gesprek in die Oos-Kaap verder te voer.

“Bela-Bela was ’n keerpunt in die gronddebat omdat boere se stemme vir die eerste gehoor is. Tot op daardie punt was daar ’n merkbare gevoel van verlamming en moedeloosheid in die landbougemeenskap, omdat boere gevoel het hulle is altyd net aan die ontvangkant van onregverdige kritiek. In Bela-Bela het ons vir die eerste keer gesien hoeveel welwillendheid daar is rondom grondhervorming. Dit was ongelooflik om te sien hoe baie oplossings en modelle daar reeds is om suksesvolle vennootskappe tussen wit en swart boere te bou. Ons wou hierdie entoesiasme Oos-Kaap toe bring.”

Die konsep, sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad en die baasbrein agter dié gesprekke, is dat “boere praat met boere”.

“Die politici kry genoeg tyd om te raas. Boere is nie praters nie. Boere is doeners. Hulle soek oplossings, en die feit van die saak is boere het meer sukses behaal met grondhervorming as wat die regering kon regkry oor die afgelope twintig jaar. Boere is nie ’n struikelblok is vir suksesvolle grondhervorming nie – hulle is die antwoord.”

Die grondberaad is geopen met ’n skriflesing en gebed, gelei deur SK Makinana, ’n wolboer van Ugie.

Goeie nuus is volop

Die Haga Haga-byeenkoms is gekenmerk deur ’n tipiese Oos-Kaapse aardsheid. Baie van die wit boere het gemaklik gewissel tussen Engels en isiXhosa, en baie van die swart boere se bydraes was deurspek met Afrikaanse woorde van die kontrei se omgangstaal. Namate die boere een vir een hulle vrese, ervarings en oplossings gedeel het, het ’n gevoel van samehorigheid en optimisme gebroei.

Jeff Every – ’n korrelkop reguit-prater – het die bal aan die rol gekry. “Ons kan nie op ons gatte sit en niks doen nie. God wil aksie sien. Ons moet ons nie steur aan die selfvoldane regses en die heulende linkses nie. Ons is die groot meerderheid in die middel wat ons land wil bou en wat ’n beter lewe wil skep vir ons mense.”

Van links gesels John Boulle, ’n Oos-Kaapse boer, met Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, Mike Burgess van Farmers Weekly en Werner Scholtz van Brand Republic/Landbouweekliks.

Hy sal weet. Hy staan aan die hoof van Amadlelo Agri, ’n visioenêre projek wat 70 van Suid-Afrika se grootste melkboere in 2004 begin het met grondhervorming as die uitsluitlike doel. “Daardie eerste groep boere het R27 miljoen uit hul sakke gehaal om dinge aan die gang te kry.”

Vandag spog Amadlelo met ses melkerye in van die armste dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die projek is geskoei op die Nieu-Seelandse konsep waar die kommersiële boere die melkkoeie verskaf en die kommunale boere grond gegee het. Van die 25 senior, junior en leerling-bestuurders by Amadlelo is 23 vandag swart en daar word nagenoeg 6 500 koeie per dag gemelk om 30 miljoen liter per jaar te lewer.

“Van die kaas op elke Debonairs-pizza kom van ons Amadlelo-koeie,” sê Jeff.

Vroue van Haga Haga en Marshstrand het die kos voorberei. Hier is Gwen Deutschmann en Mary-Lou Elston agter die koffiepotte.

Amadlelo werk nou aan ’n verdere projek saam met die departement van landbou waar nog 770 ha in produksie geplaas is en nog 1 800 koeie gemelk word.

Amadlelo is ’n suksesverhaal, maar “daar was baie tye wat dit maar moeilik gegaan het om die politiek te bestuur,” sê Jeff terwyl hy ’n foto wys van ’n groep manne, met hul stokke en musse, wat onder ’n boom vergader.

“Dit is ons aandeelhouers,” sê hy. “Dit kan soms ’n nagmerrie wees om almal op dieselfde blad te hou, maar wanneer ’n mens dit regkry, en jy sien hoe mense se lewens verbeter, is dit ongelooflik lonend.”

Wat Amadlelo besonders maak, is dat dit mense soos Leonard Mavunghu opgelewer het. Hy is een van die swart bestuurders wat homself opgewerk het deur die range.

“As jy swart is, moet jy tien keer harder probeer,” sê hy sonder om doekies om te draai.

Leonard het homself dubbeld en dwars bewys. Vandag is hy in beheer van drie melkerye wat altesaam 3 500 koeie melk.

“Daar is baie soos ek wat net die kans gegun moet word om te kan bydra tot landbou,” sê hy.

Jeff erken werkskepping in Suid-Afrika is krities. “Een van die moeilikste dinge vir my is as ons ’n paar werksgeleenthede het en ek moet honderde mense wegwys. Dit knak ’n mens. Werkloosheid is ’n ongeluk wat wag om te gebeur in Suid-Afrika. Ons moet iets doen, en ons moet dit vinnig doen.”

Geen ander storie vertel die impak wat landbou op mense se lewens kan hê beter as dié van kleinskaalse wolboere in die Oos-Kaap nie. Weer is dit een van wit en swart boere wat saamwerk. In die laat 1990’s het die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika (NWKV), in samewerking met die regering, ’n projek begin om die gehalte van kommunale wolboere in die ou Ciskei en Transkei se merinokuddes te verbeter.

Die minister van landbou, Senzeni Zokwana, het boere verseker dat produktiewe grond veilig is.

Die belangrikste bydrae was deur kommersiële- en stoetboere wat ramme verskaf het en sodoende die genetiese kwaliteit van kuddes radikaal verbeter het. Daar was ook baie ander vorms van hulp – skeerstore is gebou, produksieadviseurs het die platteland ingevaar en bemarking is deur professionele kanale gedoen.

Zithulele Mbatsha het grootgeword in Peddie, en het as kind vee opgepas. Hy werk vandag as ’n produksieadviseur van die NWVK in die Oos-Kaap. Hy het vertel hoe die kleinboere oor die afgelope twintig jaar hul opbrengs uit wol met miljoene rande vermeerder het.

“Een stoor het in 2001 R17 000 gemaak. Verlede jaar het hulle R2,55 miljoen ingebring. Dit het ’n ongelooflike maatskaplike impak op families en huishoudings. Daar is minder honger kinders, meer wat kan skool toe gaan, en meer geld wat gespaar kan word vir die toekoms,” sê hy.

Dit is presies wat Graan SA ook reggekry het met hulle suksesvolle projek wat tans meer as 12 000 boere reg oor die land ondersteun – baie van hulle in die Oos-Kaap. Dit sluit bestaansboere in en ook kommersiële graanboere wat meer as 250 ton per jaar verbou. 90 kommersiële graanboere is ingespan as mentors. Die charismatiese hoof uitvoerende beampte, Jannie de Villiers, wys foto’s van die dramatiese verbeterings in oeste.

“Ons verander letterlik lewens,” sê hy. “As ek projekte toe ry met ons mentors, dan vertel hulle my altyd opgewonde oor die vordering van die swart boere wat hulle bystaan, hoe dié een sy lande nou skoon hou van onkruid, en daardie ene sukses behaal met ’n nuwe kultivar, soos boere maar maak. En dan vra ek hulle, maar wat maak dit aan jou hart?”

Jannie sluk. “Dan trek hulle die bakkie van die pad af en die trane rol oor hulle wange. Verbeel jou.”

Die impak wat hierdie kommersiële boere maak, is net so indrukwekkend. Jannie verduidelik dat een ton graan genoeg is om ’n huishouding te voed. Vandag haal van hierdie boere sewe ton per hektaar af.

“Ek vra ’n ou dame diep in Zululand wat sy nou met al die ekstra geld maak. Sy vertel sy kon vir die eerste keer ’n bed koop. Dít van ’n vrou wat so oud kon wees soos my ma en sy het nog nooit op ’n bed geslaap nie. Dit is hoe ons die land verander.”

Ná baie kronkels in die pad, en baie finansiële risiko en toewyding is Little Barnet vandag ’n florerende onderneming wat daagliks meer as 500 beeste melk, en waarvan Chilli nou 40% besit.

Staan vas op eie bodem

“Die ou Transkei is Suid-Afrika se laaste landbou-grens,” glo Grant Simpson, die uitvoerende hoof van TKG Farming Group wat onder andere suiwel-, makadamia- en vervoerbedrywighede bestuur.

“Dit is nader as Zambië en Zimbabwe, dit het beter infrastruktuur en is boonop ons tuiste,” verduidelik hy waarom hulle besluit het om juis hier te begin woeker met neute. Hy vertel van die vennootskap met die Ncera-gemeenskap in die ou Ciskei, waar boorde geplant is op grond wat vir 80 jaar gehuur is van die stamhoof Jongilanga, en waar die gemeenskap 51% van die besigheid besit.

Daar is nou byna 500 ha onder produksie, 140 werksgeleenthede en ’n wêreldklas-kwekery. Een van die grootste uitdagings om te kom waar hulle nou is, was om die gemeenskappe te oorreed om die projek te ondersteun en die politiek te bestuur in die kommunale gebied waar hulle werk. Daar was ook ’n probleem met gedurige stakings.

“Dit was met tye baie moeilik, maar ons bome begin nou perform en ons senior personeel begin eienaarskap neem. Ons begin sien dat daar ’n boerderygemeenskap aan die ontwikkel is en dat dit ’n lewenswyse word.”

Dit maak hom bly, want een van die doelwitte van suksesvolle grondhervorming behoort te wees om “boerderygemeenskappe te help bou”.

Judy Stuart van die Future Farmers Foundation is ’n formidabele vrou met ’n sagte stem. Sy het besluit het om ’n opleidingsprogram te begin vir jongmense uit arm gemeenskappe wat hulleself wil bekwaam as plaasbestuurders, want “daar is so baie talent daarbuite”.

Studente kry vir drie tot vyf jaar indiensopleiding in die landbouterrein waaroor hulle passievol is, en die toppresteerders word dan vir ’n jaar uitgeplaas na plase in die VSA, Nieu-Seeland en Australië om verdere ervaring op te doen.

“Ons kry sulke fenomenale terugvoer van die internasionale boere oor die kwaliteit van ons jongmense,” sê sy. “Ek sukkel soms om dieselfde entoesiasme onder ons eie boere te kweek en werksgeleenthede vir hulle hier te kry.”

Dit is tyd vir ons om in die rivier te spring, die krokodil in die gesig te slaan en oor die rivier te swem.
Omri van Zyl van AgriSA.

Tshilidzi “Chilli” Matshidzula was verlede jaar die Oos-Kaap se jong boer van die jaar. Sy verhaal is ook geskoei op die samewerking en mentorskap van ’n ervare kommersiële boer. Walter Biggs boer in die Alexandria-distrik en oor die afgelope 11 jaar was hy betrokke by ’n grondhervormingstrust op ’n buurplaas, Little Barnet.

Ná baie kronkels in die pad, en baie finansiële risiko en toewyding is Little Barnet vandag ’n florerende onderneming wat daagliks meer as 500 beeste melk, en waarvan Chilli nou 40% besit.

Chilli sê sy sukses was net moontlik omdat hy kon leer van boere soos Biggs, wat nie net bereid was om hom by te staan met tegniese kennis nie, maar vandag NOG bystaan met finansiële beplanning.

Die Oos-Kaap is vol geleenthede, sê Jeff. Nes Grant Simpson is ook hy oortuig dié provinsie gaan die volgende groot groeipunt in Suid-Afrikaanse landbou wees.

“As ons as Suid-Afrikaners dit nie sien nie, en nie deel word daarvan nie, gaan die Chinese die kanse wegvat van ons,” maan hy.

Omri van Zyl van AgriSA vertel hoeveel daar reeds agter die skerms gebeur om vennootskappe in die Oos-Kaap aan te wakker. AgriSA werk tans saam met die magnaat Patrice Motsepe om met stamhoofde reg oor Suid-Afrika te vergader om te kyk hoe landbou in kommunale areas verbeter kan word.

“Dit is die uitdaging,” sê Chris Burgess.

Elias Makhanya, ’n prokureur van Oos-Londen, het talle in die gehoor bewoë gelaat toe hy erken het dit is die eerste keer wat hy die kans gegun is om deel te wees van ’n gesprek wat so belangrik is vir die land. Die stories het hom oortuig daar is ' ‘n pad vorentoe vir almal'.

“Ons moet kyk na die geleenthede wat grondhervorming vir ons inhou. Daar is die geleentheid om te help bou aan ’n beter Suid-Afrika, maar terselfdertyd is daar geleenthede om goeie sake te doen en geld te maak deur samewerking en vennootskap tussen swart en wit boere.

“Dit is tyd vir ons om in die rivier te spring, die krokodil in die gesig te slaan en oor die rivier te swem,” sê Omri.

Dit is ’n boodskap wat baie boere reg oor die Oos-Kaap lank reeds verstaan. Boere se toewyding en bereidwilligheid om deel te wees van die oplossing is in een voorbeeld ná die ander by die grondberaad ten toon gestel. Daar is die samewerking tussen Shaun Brown en die stamhoof Siseko Maqoma in die Katrivier waar boere saam spook aan ’n sitrusprojek. Daar is Henk Aggenback van Die Koöperasie op Humansdorp wat opkomende boere bystaan met finansiering en hulpbronne soos besproeiingstegnici en veeartsnykundige dienste.

Daar is Christo Joubert en Sebelo Magagamela van Grass­lands Agriculture wat ’n melkboerdery op die been gebring het vir ’n trust wat behoort aan 49 voormalige en huidige werknemers. Daar is Justin Stirk van Frontier Bonsmara wat opkomende boere bemagtig met geen bystand van die regering nie. Daar is Pieter Prinsloo, vooraanstaande beesboer van Queenstown, wat swart boere in sy distrik mentor, en Gcina Madaza, ’n voorslag boer van Elliot, wat aan die begin deur sy buurman bygestaan is om sy boerdery op te bou, en nou weer terugploeg by ’n program vir 150 opkomende boere.

Die meerderheid wil saamwerk

Die son was al besig water te trek, en die rook van die braaivleisvure het van buite begin indwarrel, maar die boere het bankvas bly sit. Die grootste doelwit van die dag is bereik – boere het met mekaar gepraat.

“Ek wou ’n geleentheid skep waar ons die 10% aan verregse kant en die 10% aan die verlinkse kant uitskakel en dat die oorgrote meerderheid van ons in die middel met mekaar praat,” sê Niel.

Elias Makhanya, ’n prokureur van Oos-Londen, het talle in die gehoor bewoë gelaat toe hy erken het dit is die eerste keer wat hy die kans gegun is om deel te wees van ’n gesprek wat so belangrik is vir die land. Die stories het hom oortuig daar is “ ‘n pad vorentoe vir almal”.

“Wat ek vandag ervaar het, het my heeltemal van opinie laat verander oor boere, Afrikaners en witmense oor die algemeen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.