Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Tyd vir ’n nuwe soort WVK
Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in die Waarheid-en-versoeningskommissie se hoofkantoor in Kaapstad in 2000. Dié foto is opgeneem in Jillian Edelstein se boek Truth and Lies: Stories from the Truth and Reconciliation Commission in South Africa (Granta Books 2001). Foto:Jillian Edelstein

Die getuienis wat binnekort in verskeie strafregtelike verhore van openbare persoonlikhede en aan regter Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping voorgelê gaan word, gaan ’n helende katarsis-rol speel – amper soos ’n nuwe Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK).

Dié proses is pres. Cyril Rama-phosa se grootste hoop om die oorhand te kry in sy stoeigeveg met die Zuma-oorblyfsels en ander populiste in die ANC.

Hy sal kan sê: Dít is wat Zuma se kastige radikale ekonomiese transformasie regtig was – radikale uitbuitery.

Maar ek glo dié proses sal ook baie daartoe bydra om ons afgetakelde openbare moraliteit te rehabiliteer. Korrupsie op die hoogste vlakke suurdeeg gou deur die hele samelewing.

Die laaste klompie jare het politieke verantwoordbaarheid van die sentrale tot die plaaslike vlak en in staatsondernemings in die hek geduik en het straffeloosheid geseëvier omdat die president, senior politici en hul ryk sakevriende staatsgeld links en regs gesteel het.

Korrupsie en magsmisbruik het die nuwe normaal begin word. Baie van ons het op ons tande gekners, maar niks het gebeur nie. Daar was geen nagevolge vir korrupsie nie.

Zuma se eerste saak, 18 aanklagte van korrupsie en geldwassery wat uit die wapenskandaal en sy verhouding met Schabir Shaik spruit, kan binnekort begin.

Ten spyte van die kritiek op die WVK kan die impak op die nasio­nale psige nie onderskat word nie. Sowat drie jaar lank moes burgers met die vergrype en stories van die verlede saamleef.

Hulle kon die geweldenaars en die slagoffers in die oë kyk en hul stemme hoor – en besef: Dít mag nooit weer gebeur nie.

Ek glo dit is een van die belangrikste redes waarom daar sedertdien nooit ’n betekenisvolle vlaag van apartheid-ontkenning was nie.

Noudat die nasionale vervolgingsgesag vrygemaak is om weer sy werk behoorlik te doen, gaan ons in die maande wat voorlê vir Jacob Zuma, minstens een van sy seuns, minstens vier lede van sy kabinet, twee of drie premiers, ’n handvol provinsiale en plaaslike politici en amptenare, verskeie direkteure en bestuurslui van staatsondernemings, die Gupta-broers en ’n paar ander korrupte sakemanne wat met Zuma en sy administrasie geheul het, in die beskuldigdebank sien.

Zuma se eerste saak, 18 aanklagte van korrupsie en geldwassery wat uit die wapenskandaal en sy verhouding met Schabir Shaik spruit, kan binnekort begin.

Al die getuienis is reeds jare gelede voorberei en meer as 100 getuies is reg om te getuig.

Die kerngetuienis is reeds deur drie howe aanvaar, dus lyk Zuma se kanse om ’n skuldigbevinding te ontglip maar skraal. Die minimum vonnis is 15 jaar.

Vyf jaar of so gelede sou ek nog ’n saak wou uitmaak dat hy ná skuldigbevinding presidensiële begenadiging moes kry om gevoelens in sy tuisprovinsie – KwaZulu-Natal – te kalmeer, maar vandag glo ek dit is in die belang van reg en geregtigheid en die nasionale etos dat hy tronk toe moet gaan.

Die burgers van Suid-Afrika moet hom minstens een keer in ’n oranje oorpak sien. Dieselfde geld die Gupta-broers as ’n hof hulle skuldig bevind.

Die waarde van Suid-Afrika se WVK-proses bo dié van ander lande is dat ons s’n oop was vir die publiek en deur radio- en televisiestasies uitgesaai is.

Ek het self in die laat 1980’s ’n openbare verhoor van korrupte staatsamptenare in ’n sokkersta­dion in Burkina Faso bygewoon.

Die legendariese pres. Thomas Sankara, die ywerigste korrupsievegter in Afrika se moderne geskiedenis, het verduidelik dat dit ewe belangrik is dat sy mense dié prosesse ervaar en daaraan deelneem as dat die skuldiges gestraf word.

Ek dink dit is in openbare belang dat spesiale radio- en televisiekanale vir regstreekse uitsendings van al die korrupsieverhore en regterlike ondersoeke geskep word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.