Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uit die argief
Uit die argief: Verhaal dié van ‘ ’n geseënde lewe’

Volksblad-redakteur Gert Coetzee het in 2000 met Joe Venter (wat Saterdag oorlede is) ’n onderhoud gevoer kort ná laasgenoemde se uittrede as Rapport se Vrystaatse redaksiehoof. Hy het nooit heeltemal afgetree nie, want tot met sy opname in die hospitaal byna drie maande gelede, het hy weekliks die gholfrubriek en ’n artikel oor sportlui vir Volksblad gelewer. Vandag, die dag waarop sy gedenkdiens plaasvind, plaas Kontrei graag weer die artikel, asook foto’s uit Venter se album.

JOE VENTER (links) saam met drie krieketgrotes. By hom is van links Gerhard Liebenberg, Allan Donald en wyle Hansie Cronjé, almal op hul dag Suid-Afrikaanse krieketkapteins.

JOSUA VENTER (66 jaar jonk), beter bekend as Joe, gaan haal die storie ver, soos net hy kan. Doer in die middel van 1933 se depressie en groot droogte toe hy gebore is . . . 

Depressie en groot droogte ofte nie, van sy kinderdae in Johannesburg en sy skooljare in Zeerust (waar hy weens geldskaarste in st. 9 uit die skool is) is Joe die eerste wat sy lewe as geseënd sal beskryf. 

As spesialis-sportskrywer en koerantman in ’n loopbaan van 45 jaar waarin hy met van die wêreld se grootste sportsterre en ander beroemdes omgegaan het. 

As woelgees in ’n leeftyd van betrokkenheid waarin hy agterlangs ook nuusgebeure gehelp skep het. 

As geliefde vriend, kollega, karakter en hekelaar. Soos een sportskrywer sê: “Daar’s niemand wat my soms so kwaad kan maak soos Joe nie. Maar dan is ek ook altyd die eerste wat hom mis.’’ 

En laastens en belangrikste as eggenoot van Jules, sy groot liefde, en pa van hul dogters, Renate en Erika. 

“Ja . . .,’’ sug Joe glimlaggend, “Jules is mos ’n teoloog en ek haar gemeente.’’ 

’n Jonger Joe Venter (links) in sy dae as voorsitter van die Randse Sportskrywersvereniging, verduur ’n bietjie spot van Gary Player en sy pa, oom Harry Player.

Hyself is sedert 1976 ’n kerkraadslid en die laaste paar jaar leier-ouderling van die NG gemeente Brandwag. Hy is ook betrokke by organisasies vir welsyn en kinder- en gestremde-sorg. 

Jules het hy die eerste keer gesien toe hy saam met die Oostelike Provinsie se stoeispan (as bestuurder) Bloemfontein toe gekom en gou by Die Volksblad ’n draai gemaak het. 

“Wie’s dié mooi meisiekind?’’ wou hy van Herman le Roux, later sportredakteur, weet toe Jules Raath, sekretaresse van mnr. Hugo Dreyer, redakteur, in die gang verbyloop. 

Drie jaar later is hulle getroud nadat hulle mekaar op stasies en oor naweke altesaam darem seker “8 uur’’ gesien het. 

Jules was op 15 die jongste atleet van Suidwes-Afrika wat nóg aan ’n Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het. Later het sy gimnastiek afgerig. Joe het linkervleuel vir klubspanne soos Diggers, Hamiltons, Park PE, Buffaloes in Oos-Londen en die Transkei gespeel, as atleet in die 440 tree uitgeblink en tennis gespeel. Sy beste voorgee in gholf is 14. 

Dit was moeilik om rugby te speel en dan oor dié wedstryd verslag te doen. 

Op Rapport se gholfdag in Johannesburg meer as 20 jaar gelede. Van links is De Wet Ras, John Botha, Tobie Mostert en Joe Venter.

“So het ek in een wedstryd drie drieë gedruk en agt vervyf. Maar hoe kon ek oor myself skryf?’’ 

As dit nie vir destyds se swaarkry-jare was nie, sou Joe admissie gaan studeer en sy lewe anders verloop het. 

In 1955 bied hy in Warmbad “toevallig’’ aan om ’n beriggie vir Sapa (die Suid-Afrikaanse Pers-assosiasie, ’n nuus-agentskap) oor ’n egpaar se 50ste huweliksherdenking te skryf.

Toe hy weer sy oë uitvee, sit hy saam met Vince Kihn en Geoff Clarke in Sapa se sportkantoor. 

Vince se raad aan hom was dat ’n koerantmens moet onthou iewers buite is daar iemand (’n bron) wat altyd meer oor ’n onderwerp weet, hy die lasterwet moet ken en dat hy vir ’n dorpskoerant moet gaan werk as hy alles van joernalistiek wil weet. 

Só geluister, só gedaan. In 1957 skrop Joe vir hom ’n plekkie by die Umtata Territorial News oop en oor die volgende dekades loop sy pad deur Die Burger, Transvaler, Vaderland, Beeld, Die Volksblad en Rapport. 

Onder “groot redakteurs’’ soos Piet Cillié, Schalk Pienaar, Dirk van Zyl, Dirk de Villiers (pa van Dirk de Villiers, assistent-sportredakteur van Die Volksblad), dr. Gert Scholtz, Hermie Hendriks, Dirk Richard en Willem Wepener. 

En saam met voorslag-sportskrywers en -kommentators in die dae vóór televisie toe hulle nog lesers en luisteraars se “oë’’ by wedstryde was en vóór geldsport toe dit nog om liefde vir die spel gegaan het. 

DIÉ foto is in 1975 geneem toe die bokser Rocky Marciano ’n gas was by die geveg tussen Willie Pastrano en Mike Holt. Van links is Dave Levin, Suid-Afrikaanse bokspromotor, Jules Venter, Marciano en Venter. Venter het deur die jare oor byna 30 wêreldtitel-boksgevegte verslag gedoen.

Manne soos Alex Kellerman (later van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie), Gert le Roux (later van die Suid-Afrikaanse Amateur-atletiekunie), AC Parker (Cape Times se “grote’’), Quintus van Rooyen (“die hardste werker van almal’’), Charles Fortune (“niemand kon sport beskryf soos hy nie’’), Gerhard Viviers (“ou Spiekeries’’), Dana Niehaus (pa van sanger Danie Niehaus en self ’n akteur), Awie Labuschagné, Herman le Roux, Frikkie van Rensburg (sportredakteur van Die Volksblad en “ ’n weergalose sportstatistikus’’) en Georg van Eck (senior rugbyskrywer van Die Volksblad en “een van die ‘jonges’ wat ’n wedstryd kan ontleed’’). 

“As ek weer moes kies, kies ek dieselfde,’’ sê Joe.

“Joernalistiek is die lekkerste roeping onder die son.’’ 

DIE Amerikaanse bokser Archie Moore was van 1952 tot 1962 die ligswaargewigbokskampioen van die wêreld. Gebore in 1913 was hy toe reeds 49 jaar oud. Dié foto is geneem tydens ’n onderhoud wat Venter vroeg in die jare tagtig met hom gevoer het. “Hy was een van die grootste boksers van alle tye,” het Venter gesê.

Wat is sportskryf se eise? “Belangrikste is dat by die feite gehou word. Veral vroeër jare was sportskrywers hul lesers se “oë’’ by wedstryde, maar ná televisie moet meer ontledend geskryf word. Omdat almal die wedstryd nóú sien, is skrywers natuurlik versigtiger om te kritiseer. 

“Soos in enige joernalistiek moet jy weet waaroor jy skryf. En as jy met groot woorde wil speel, moet jy onthou van professore tot gr. 8’s lees jou storie.’’ 

Al die staaltjies uit, hoogtepunte in en groot sportoomblikke in sy loopbaan sal boeke beslaan. As ’n “onderhandelaar’’ by uitstek, het Joe een keer reggekry om die sneltrein by die Carnoustie-gholfbaan in Skotland te laat stop. Die storie het selfs in Australië gaan draai dat ’n nie-koninklike dít vermag het. 

Joe het oor 9 Wimbledons, 12 Britse Ope-gholftoernooie en ontelbaar ander internasionale sportbyeenkomste (gholf, boks, rugby, krieket, gimnastiek, rolbal, jukskei, karate, noem maar op . . .) verslag gedoen. 

Hy onthou ook sy aandeel daarin om die Suid-Afrikaanse kampioen-tennispaar Frew McMillan en Bob Hewitt bymekaar te bring, Suid-Afrika se deelname aan die wêreldgimnastiektoernooi in Basel, Switserland, in 1969 te verseker en die Professionele Gholf Assosiasie (PGA) se besluit om Dale Hayes en Bobby Cole te stuur na 1976 se wêreldbekertoernooi (waar hulle gewen het). 

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was sy beriggewing oor die Suid-Afrikaanse rolbalspan – Doug Watson, Nando Gatti, Bill Moseley, Kevin Campbell en Kelvin Lightfoot – se oorwinning in die enkelspel, dubbelspel en drie- en vier-spel in die wêreldkampioenskap in 1976. 

DIE drie grootste sportmanne oor wie koerantman Joe Venter al geskryf het, se voorletters is G.P. – Gary Player, Gert Potgieter, Graeme Pollock?.?.?. en Frik du Preez! Dié foto van Max Schmelling, ’n voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld (1930-1932), Gert Potgieter (gewese wêreld-rekordhouer in die 440 treë-hekkies) en Venter is tydens die Voor- Olimpiese Spele in München in 1972 geneem.

Die beste sportman- en vrou waarmee hy te doen gekry het? “Gary Player,’’sê hy dadelik. 

Die beste sportvroue is Nadia Comaneci (Roemeense gimnastiek-ster), Margaret Court en Evonne Goolagong (Australiese tennisspelers), Karen Muir en Penny Heyns. 

Daar is ook die tennisspelers Linky Boshoff, Sandra Reynolds-Price en Renée Schuurman en die swemmer Ann Fairlie. 

’n Jong Joe Venter in aksie op die atletiekbaan.

Met Player (saam met wie hy sowat 3 000 km op die gholfbaan gestap het) en rugbygrotes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux en Moaner van Heerden is hy nog groot vriende. 

Die grootste teleurstelling was die sportboikot in Suid-Afrika se isolasiejare. Sy grootste gelukkie? “Die keer toe die ontvoerder Sagvoet sommer hier voor hom op die Bloubergstrand uitgestap het, terwyl die polisie hom in die bosse gesoek het.’’ 

Sy beste onderhoud was in 1962 met Sophie Tucker, wêreldkabaretster. “Ek het nie juis geweet wat om haar te vra nie. Toe sê sy daar is al sowat 5 000 onderhoude met haar gevoer. Sy sal praat. Ek moet maar net skryf.’’

  • Venter se gedenkdiens is vandag (Woensdag) om 11:00 in die NG kerk Bloemheuwel in Westdene, Bloemfontein.

Meer oor:  Joe Venter  |  Gert Coetzee  |  Dood  |  Uit Die Argief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.