Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uit die buitenste baan
Wayde van Niekerk in baan 8 steek die 400m-wenstreep oor in ’n tyd van 43.03 sekondes. Foto: Richard Heathcote/Getty Images

Wayde van Niekerk se wêreldrekordvertoning in die Olimpiese 400 m-wedloop het opnuut die debat oor bruin identiteit laat opvlam. Heindrich Wyngaard waag ’n ander perspektief.

Pas ná die wegspring het die TV-aankondiger Wayde van Niekerk se tawwe stryd in die agtste baan – die heel buitenste, die sogenaamde ongelukkige baan – beklemtoon. “Van Niekerk is running blind on the outside . . .” het hy dit uitgebasuin, maar ook bygevoeg: “. . . and he’s set off really quickly.”

Omtrent halfpad deur die wedloop, selfs al was dit weliswaar net vir ’n wyle, het die aankondiger begin klink asof hy sy bedenkinge oor Van Niekerk se vermoëns het: “The South African . . . now beginning to tire – or is he?

Maar skaars ’n sekonde later: “He’s pulling away. It’s an unbelievable victory by a huge margin. A century of history – and forty three zero three.” Stomgeslaan: “I can’t believe it! He has obliterated Michael Johnson’s world record!

En hier onder aan die voetenent van Afrika, drieuur op ’n Maandagoggend, was die duime van so­siale-media-gebruikers, by name dié wat na hulself as bruin verwys, gereed om byna instinktiewelik ’n nuwe hutsmerk die wêreld in te stuur: #ColouredExcellence.

In 140 karakters het diésulkes die punt gemaak dat die bruin gemeenskap nie net deur sosiale euwels soos bendes en dwelmmisbruik gekenmerk word nie, of die sogenaamde “passion gap” of soolkous en sigaret in die mond, indien nie ook ’n glas drank nie, maar dat bruines ook tot die soort ongekende prestasie van ’n Van Niekerk in staat is.

Nêrens, sover bekend, het Van Niekerk egter al na homself as bruin verwys nie. ’n Mens sou wel uitsprake van hom kon voorhou as juis ’n aanduiding dat hy sy nasionale identiteit vooropstel: “I am a young South African boy who never thought I’ll be up there with the world’s best” en “my whole country helped me believe in myself and I’m so grateful to each and everyone that supported me”.

En nadat hy verlede jaar die Wêreldkampioenskap gewen het en as Suid-Afrikaanse sportster van die jaar aangewys is: “I was really just happy enough to represent my country . . .

Selfs toe hy met sy terugkeer van die kampioenskap ’n skandalige ontvangs van dié einste land van hom ontvang het, het sy ma, Odessa Swarts, gemaan teen die aanname dat dit so was omdat hy ’n bruin atleet is.

Nogtans, in haar artikel oor die groot – en ook venynige – opspraak wat die hutsmerk #ColouredExcellence nou ontketen het, het die sosiale-mediapraktisyn Carla Bernardo die bruin besitneming van Van Niekerk se Olimpiese prestasie in konteks probeer plaas.

Wayde van Niekerk has, in 43.03 seconds, shown us that with that accent, that history, that brown skin, we too can do our nation proud,” skryf sy.

Bernardo se “our nation” wou egter op die oog af, soos reeds aangedui, niks daarvan weet nie. Van Niekerk het as ’n Suid-Afrikaner aan die Rio-spele deelgeneem, lui hul argument.

Bo en behalwe dit, het dié debat verder gelei tot die bevraagtekening, veral ook uit eie geledere, van die bestaan van ’n bruin identiteit of rasgroep of gemeenskap. Hieroor hoef ’n mens eintlik net te sê dat by die 5 miljoen Suid-Afrikaners het hulle in die 2011-sensus as bruin of “coloured” geïdentifiseer, wat dit die tweede grootste bevolkingsgroep in die land maak.

Dit hoef dus nie nodig te wees om hieroor te redekawel nie – en diegene wat ’n bruin identiteit verwerp, moet dalk ook verduidelik waarom hulle nie by Statistieke Suid-Afrika of die regering aandring dat die bruin-kategorie uit arbeidswetgewing en ander wetlike bepalings, onder meer swartbemagtiging, verwyder word nie. Of is dit soms nuttig, soos wanneer moontlike bevordering of die voordeel van aandele of ’n direkteurskap of ’n tender of ’n politieke posisie ter sprake is?

Die afskieters van #ColouredExcellence hou die argument voor dat die omhelsing van die bruin identiteit uiteindelik as ’n oorwinning dien vir die apartheidsvaders omdat “kleurlingskap” ’n klassifikasie was wat deur die Verwoerds van ons gedeelde verlede aan mense opgedwing is.

Omgekeerd moet ’n mens egter vra of die afskieters dan die outoriteit het om mense hul reg te ontneem om in ’n ná-apartheids-, demokratiese en vrye bestel vir hulself identiteitsbesluite te neem, onsmaaklik soos wat dit ook al vir ander mag wees? Sou die kritiek op mense wat na hulself as bruin of “coloured” en selfs “kleurling” verwys, nie uiteindelik ook neerkom op Verwoerdiaanse optrede nie? Anders as tóé word die veelvoudigheid van Suid-Afrikaanse identiteite en die veelsydigheid of diversiteit van kulture tog deur die nuwe Grondwet erken en word die uitlewing daarvan inderwaarheid aangemoedig.

Miskien moet Van Niekerk se wêreldrekord dus eerder gebruik word om ander belangrike kwessies op rekord te plaas wat verband hou met die veelvoudige – en uiteenlopende – ervarings van die land se mense, histories en hedendaags.

Een daarvan sou wees om ons land se volle sportgeskiedenis bloot te lê. Hoeveel mense weet byvoorbeeld dat Van Niekerk se ma, Odessa Swarts, op haar dag self ’n kampioenatleet was, maar juis weens apartheid nie haar land sou kon verteenwoordig nie?

Hoeveel weet dat sy en ander hulself doelbewus en beginselvas aan die kant van die nierassige sportliggaam Sacos geskaar het wat nie ten gunste van “normale sport in ’n abnormale samelewing” was nie?

Die sportgeskiedkundige dr. Hendrik Snyders sal jou ook vertel van die ervarings van atlete soos die gewigoptellers “Ron” Eland en Precious Mckenzie, wat albei na ander lande moes uitwyk vir ’n geleentheid om aan die Olimpiese Spele deel te neem. En dit sou uiteindelik die digter Dennis Brutus wees wat die veldtogte gelei het om Suid-Afrika uit die Olimpiese Spele geskop te kry weens die apartheid-ook-in-sport-wette, wat ’n Eland en Mckenzie en ’n Swarts die geleentheid tot interna­sionale deelname vir hul geboorteland ontneem het.

Om van die historiese na die hedendaagse te beweeg: Word genoeg gedoen om geleenthede te skep vir opkomende atletieksterre in die gemeenskappe wat ’n Wayde van Niekerk opgelewer het? Hoe lyk die oefengeriewe?

Sukkel die jongspan nog met reisgeld om aan byeenkomste te gaan deelneem?

Wat is ouers in arm gebiede se betrokkenheid teenoor dié by voormalige Model C-skole? Sit die onderwysers dieselfde moeite in soos in die Sacos-dae?

En watter rol speel hierdie verskriklike ongelykheid in die land met betrekking tot die skep van (of verlies aan) geleenthede vir die volgende generasie Olimpiese sterre in bruin en swart gemeenskappe?

Sonder dat omgesien word na die onderste vlak van Maslow se hiërargie van behoeftes, soos kos en water, is dit sekerlik ondenkbaar dat die boonste vlak bereik sal word, te wete die verwesenliking van jou volle potensiaal.

Net twee dae nadat Van Niekerk die wêreld aan sy voete gehad het, het die ekonoom Dawie Roodt in ’n aanbieding by die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool ’n kommerwekkende prentjie oor die bruin gemeenskap se lewenstandaarde geskets.

Hutsmerk #ColouredConcerns: Dit het te doen met bevolkingsgroei, die aantal afhanklikes, lae kwalifikasies, ’n gebrek aan vaardighede, hoë werkloosheid en uiteindelik ’n mismoedige inkomstevlak.

Roodt reken die oplossing lê op individuele vlak, nie op groepsvlak nie; dat die individu besef hy of sy moet allereers verantwoordelikheid vir hulself neem, dán vir hul gesinne en dán hul gemeenskap.

Die ongelooflike wyse waarop Van Niekerk hierdie week die atletiekwêreld geskud het, dui straks op die mag van die individu – selfs al kom jy uit ’n gemeenskap wat in soveel opsigte steeds blindelings in die buitebaan van die samelewing hardloop.

Heindrich Wyngaard is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool.

Meer oor:  Wayde Van Niekerk  |  Atleet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.