SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Aktueel
Uit die kas... en kop omhoog

Hy het baie moeg begin raak vir die leuen wat hy geleef het. Toe besef hy dit is tyd, skryf Rian van Heerden.

Ek was reeds in my middel-twintigs toe ek die moed bymekaar kon skraap om my ouers te vertel ek is gay.

Ek het vir hulle in Durban gaan kuier en hulle vir aandete na die Bluff Spur geneem. Hulle het oorkant my gesit en was besig om daai ou houtspyskaarte van Spur te beloer.

Ek het begin: “Ek het iets om vir julle te sê. Ek is . . . ek is . . . ek is g . . . gay.”

Rian van Heerden: “Meer mense moes weet. Ek moes ’n brief skryf aan die koerant . . .” Foto: Hanneri de Wet

My ma het ’n oomblik stilgebly en toe sag gesê: “Ons weet al lankal, my kind.” My pa het steeds na die spyskaart gekyk en gesê: “Hoe dink jy is die crumbed mushrooms hier?”

Dit was sy manier om vir my te sê dat hy heeltemal oukei was daarmee.

Die groot onthulling was ’n reuseverligting. My ouers het jare lank oor my bespiegel en uiteindelik konsensus bereik dat hul seun gay is. Indien hulle aanvanklik probleme daarmee gehad het, was dit lankal uitgepraat en uitgesorteer.

Ek het myself letterlik 31 jaar van my lewe ontken; ek was waarlik en ongetwyfeld vry.

Ek was eerlikwaar trots dat ek hierdie twee mense se seun was. Hulle het dit en die jare daarna vir my baie maklik gemaak.

En ek was veral bly dat ek my pa voor sy dood die waarheid kon vertel.

Toe hy my daardie Saterdagoggend in die CNA bel met die nuus van sy toetsuitslae, het dit geklink asof hy in ’n goeie bui was en ek was onmiddellik verlig. Ek het hom in elk geval gevra wat die dokter te sê gehad het. Sy antwoord het my bene laat wankel: “Kolonkanker. Ek het drie maande.”

Dinge het in daardie volgende paar maande vererger, en my pa is na die High­way Hospice in Durban oorgeplaas. Ek het afgevlieg om my ma te gaan bystaan en ons was elke dag by hom. In die begin was hy baie positief en het hý ons moed ingepraat: “Hierdie is net tydelik.”

Geleidelik het hy egter minder en minder begin praat. Maar ons het geweet hy kan ons hoor en ek en my ma sou opgewekte staaltjies uit die verlede vertel: “Onthou jy daai keer toe jou pa . . .”

Dit was ’n verskriklike tyd.

Ons is meegedeel dat hy daardie Vrydag sal sterf.

Ek was op pad om allerhande wortels en kruiemengsels in Durban te gaan soek toe een van die susters vra of sy my vir ’n oomblik kan sien.

“Jou pa gaan sterf. Ons kan niks daaraan doen nie. Hy sal dit eerder verkies dat jy hier by hom is in sy laaste tydjie hier.”

Hierdie is ’n uittreksel uit ­Rian van Heerden se boek.

Ek het gebly. En daardie selfde aand het hy vir die laaste keer met my gepraat. Hy het na sy suurstofmasker beduie en ek het gevra dat hy net geduldig moes wees, die suster was op pad. Hy kyk my toe reguit in die oë, glimlag en sê: “En dit . . . my fokken laaste uur.”

Hierna het hy sy oë toegemaak. Ek het onmiddellik beter gevoel. Soos gewoonlik het hy ’n ernstige situasie met humor probeer ligter maak. Hy was gereed om te gaan. En ek het besef dat my pa die dapperste mens is wat ek ken.

Daardie Vrydag, die 26ste Mei 2000, om twintig voor vier die middag het my pa gesterf.

Ná die tyd sou een van die susters vir my sê: “Your dad must have had a beautiful life to have such a beautiful death.”

Inderdaad.

Ek is van goeie stoffasie gemaak en met my ouers se seën en ondersteuning destyds is die fondament gelê vir wat ek volgende moes doen. Ek wou baie graag vir almal vertel, maar dit was ’n proses wat daardie dag in die Spur begin het. Ek het steeds ontken dat ek gay was as iemand my sou vra.

Met die eerste publikasie van die Son-skinderkoerant op hande het ’n joernalis my gebel om te hoor of ek gay is, aangesien ek in ’n stadium gereeld in gay-klubs opgemerk is.

Ek het alles ontken, maar hy het steeds voortgegaan met die storie. Ek het my op bladsy drie van die eerste uitgawe bevind. Nogals in die wit pak wat ek vir ’n Voorblad-publisiteitsfotosessie gedra het.

Ek onthou hoe ek letterlik daardie dag ’n paar keer gaan loer het om te sien of die aantal Son-koerante in my plaaslike supermark minder word, maar gelukkig het dit nie gelyk of dit soos soetkoek verkoop nie!

Ek het egter baie, baie moeg begin raak vir hierdie leuen wat ek geleef het. Meer nog, ek was uiters alleen.

Maar waar en hoe sou ek iemand kon ontmoet as ek nêrens heen kon gaan nie uit vrees dat iemand my sou herken?

Wat vir my veral verrassend was, was dat diegene wat wel die Son-artikel gelees het, dit eenvoudig nie geglo het nie. Terwyl ek miskien diep binnekant gewens het hulle sou.

Kort hierna is ek een aand na ’n gay-kroeg in Hazelwood genooi vir ’n vriendin se verjaardagpartytjie. Ek kon nie nee sê nie en dit sou die eerste keer in ’n baie lang tyd wees dat ek weer my voete in ’n gay-plek sit.

Só het Rapport op 30 Oktober 2005 die nuus gebreek dat Rian van Heerden gay is.

Op pad het ek ’n paar kersiesigare gekoop en in die parkade buite die plek het ek letterlik een ná die ander gerook. Ek kon eenvoudig nie ingaan nie, ek was te bang iemand herken my daarbinne.

Dit was die keerpunt vir my. Wou ek werklik so lewe? Bang om in sekere plekke gesien te word? Was hierdie nie maar ’n selfopgelegde tronk nie?

Ek het uiteindelik ingegaan en ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ek ná ’n uiters ongemaklike 15 minute vertrek. Dit was tyd . . .

Dit was tyd.

’n Kort rukkie hierna het ek aandete by die Ocean Basket saam met my vriend Rudi en sy nuwe meisie, Esti, geëet. Halfpad deur haar calamari het sy skielik na my gedraai en my direk gevra: “Is jy gay?”

Sonder om ’n oomblik te aarsel het ek “ja” geantwoord. Ek kon eenvoudig nie meer so voortgaan nie. Ek moes nog mense behalwe my ouers vertel. Dit het selfs op daardie oomblik nie gelyk of Rudi my glo nie. Of miskien het hy, maar dit het hom nie gepla nie, want hy het eenvoudig aanhou eet.

Die oomblik was te groot vir my en ek het myself verskoon. Ek is direk huis toe en het in my studeerkamer gaan sit. Meer mense moes weet. Ek moes ’n brief skryf aan die koerant . . .

Ek het begin tik: “Ek verwys na die onlangse sinodebesluit van die Vrystaatse NG Kerk dat gay wees inderdaad sonde is. Hoe lank gaan hierdie debat nog heers? Hoe lank gaan gay mense nog moet wegkruip of hulleself vermom wanneer hulle na gayklubs en -kroeë gaan? Hoeveel gay mense moet nog uit selfverwyt ’n pistool teen hulle kop druk of hulleself in hul motor vergas? Hoeveel gay mense moet nog hulleself in liefdelose huwelike indwing omdat dit korrek en aanvaarbaar is vir die gemeenskap?

Wie by sy regte verstand sal kies om gay te wees? Wie wil ’n valse lewe leef en gereeld met die vrees lewe dat hulle uitgevang sal word?

“Ek is nou gatvol. Uit ’n geloofsperspektief is Jesus se woorde in Matteus 19:12: ‘Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van geboorte af so is’ vir my genoeg.

“Wie by sy regte verstand sal kies om gay te wees? Wie wil ’n valse lewe leef en gereeld met die vrees lewe dat hulle uitgevang sal word?

“Wie wil ontsettend alleen deur die lewe gaan?

“Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar uitsprake van destyds nie meer geldig is nie. 1 Korintiërs 7:10 byvoorbeeld verbied egskeidings. Is dit dan ook onbybels as iemand skei? Vroue word ook byvoorbeeld verplig om hulle hare te bedek tydens ’n erediens. Geld dit nog?

“Daar is heelwat ander voorbeelde. (Terwyl ons praat oor vroue: 1 Petrus 3:1 stel dit pertinent dat vrouens aan hulle mans onderdanig moet wees en selfs liewer nie juwele moet dra nie.)

Jy kan jouself nie verander nie en niemand het die reg om jou te probeer verander nie.

“En as ons die Bybel letterlik opneem, kan iemand vir my verduidelik met wie Kain en Abel getrou het?

“Jy kan jouself nie verander nie en niemand het die reg om jou te probeer verander nie. Ek hoop ander wat nog in die kas is, volg my voorbeeld. Dit is tyd vir ons om sonder skuldgevoelens te erken wie ons is.

“En te moer met die res.

“Ek, Rian van Heerden, is ook gay . . . ek is die aanbieder van Voorblad as daar twyfel is. “So what!”

Uiteindelik was die brief klaar, maar ek kon eenvoudig nie die send-knoppie druk nie. Ek kon net nie. Ek het geweet dat my hele lewe hierna sou verander, maar ten slegte of ten goede?

Ek het TV-kamer toe geloop en op die bank gaan sit. Ek wou net aan iets anders dink en het die TV aangeskakel.

En daar, asof dit bestem was van Bo, flits ’n program skielik op die skerm: Being Gay in Hollywood.

Dit was asof die program oor die lewe van onder andere Ellen DeGeneres en Rosie O’Donnell in daardie stadium gestuur is om my oor die laaste hekkie te help. Hulle het hul bekendmaking oorleef, ek sou ook . . .

Ek is ná die program weer terug na my studeerkamer, het diep asemgehaal en die send-knoppie gedruk. Dit was skuins ná 22:00 op die 28ste Oktober 2005. Ek was 31 en sou vier dae later verjaar. Ek wou eenvoudig nie nog ’n verjaardag vier as iemand wie ek nie is nie.

Kort hierna het ek ’n paar van my naaste vriende gebel wat nog wakker sou wees. Ek wou nie gehad het hulle moes in die koerant lees dat ek gay is nie. Van hulle almal het net een gesê dat hy sy bande met my gaan verbreek. Ek het vir hom gesê dat ek sy keuse respekteer. (Hy het darem ’n paar dae later gebel en gesê dat hy, ongeag, my vriend wil bly.)

Ek moet erken dat ek gedink het my brief sou in die briewekolom van Rapport verskyn, aangesien ek dit spesifiek vir Lukas Meyer, die nuusredakteur, gestuur het. Min het ek geweet . . .

Daardie aand het ek uiteindelik met absolute vrede in my gemoed gaan slaap.

Daardie aand het ek uiteindelik met absolute vrede in my gemoed gaan slaap. My innerlike stryd was verby. Die geheim sou uiteindelik uit wees.

Vroeg die volgende oggend het my foon gelui. Dit was Lukas. Hy het om verskoning gevra dat hy my so vroeg bel en toe aarselend begin: “Rian, ons het ’n brief ontvang van iemand gisteraand wat sê hy is jy. Uhmm . . . Het jy vir ons ’n brief gestuur?”

Ek het bevestig dat dit ek was. En toe: “As jy nie omgee nie, wil ons graag ’n storie hieroor doen. Ek stuur een van ons top-joernaliste. Maar moenie worrie nie, sy is baie ervare met sensitiewe stories soos treinongelukke en so aan . . .”

Treinongelukke?

Later daardie oggend het die Rapport-joernalis Marlene Malan en Christiaan Kotze, een van hul topfotograwe, opgedaag. Marlene het die “situasie” inderdaad baie sensitief hanteer, maar Christiaan, wat ek toe al vir ’n ruk geken het, was sy gewone grapperige self: “Wil jy nie asseblief in hierdie kas inklim en dan kom jy uit vir ’n foto nie?”

Ons het lekker hieroor gelag, maar wragtig . . . Dit word toe dié foto. Op die voorblad. Van Rapport.

Ek onthou daardie Sondagoggend nog baie goed. Al het ek lekker geslaap, was ek vroeg op om die koerant te gaan koop. Ek het ná die onderhoud gedink dat hulle dalk die storie op bladsy 3 of 4 sou gebruik, en wou net seker maak dat die storie korrek weergegee is.

Op pad kafee toe het ek die eerste koerantplakkate gesien: “TV-man klim uit die kas.”

Ek het my keel voel toetrek. En toe, by die eerste sirkel op pad kafee toe het ’n koerantverkoper met die Rapport in sy arms gestaan. My storie was op die voorblad met daardie einste foto. En ek het baie hartseer gelyk oor hierdie ontboeseming van my!

My foon het begin lui. Aanhoudend. Ek het dit afgeskakel.

My foon het begin lui. Aanhoudend. Ek het dit afgeskakel.

Later sou ’n goeie vriend my vertel dat hul buurvrou daardie oggend al huilende met Rapport in die hand by hul huis ingestorm het: “Kyk wat het hy gedoen!”

Daardie aand het ek my foon weer aangeskakel en gevind dat die stemboks oorstroom was met boodskappe. Een wat ek nooit sal vergeet nie was ’n boodskap van Barend van Graan, die grootbaas van die Blou Bulle, wat my baie emosioneel verseker het dat ek sy en Marinda (sy vrou) se volle ondersteuning het. Ek het dit ongelooflik baie waardeer.

Die boodskappe was grotendeels positief en ek was eintlik spyt dat ek nie al vroeër hierdie besluit geneem het nie.

Ek het myself letterlik 31 jaar van my lewe ontken. Ek het geen ervaring gehad van verhoudings nie (met een uitsondering), maar daardie gevoel van vryheid is moeilik om vir iemand te beskryf wat nie hierdie pad geloop het nie.

Ek was waarlik en ongetwyfeld vry!

Maar om uiteindelik die eerste keer die huis te verlaat ná daardie Sondag was nogal ietwat van ’n uitdaging. Ek moes daardie Maandag ’n joernalis wat graag ’n opvolgstorie wou skryf in die Brooklyn-winkelsentrum ontmoet. Daardie stappie deur die sentrum na die restaurant was baie ongemaklik. Al was dit dalk nie so nie, het dit gevoel asof almal na my staar.

Dit was egter die laaste keer. Hierna het ek my kop omhoog gehou.

Dit was egter die laaste keer. Hierna het ek my kop omhoog gehou.

Negatiewe reaksie? Natuurlik was daar ’n paar briewe aan koerante. Ene Lourens van Pretoria het geskryf: “Die Bybel laat geen onsekerheid oor die rede waarom God Sodom en Gomorra verwoes het nie. Die uitleef van homoseksualiteit is ’n sonde, ongeag die ergerlike reaksie van die gay-gemeenskap of die pogings van sommige teoloë om dit te probeer goedpraat. Jammer om te hoor, Rian!”

Daar was ook heelwat briewe met ’n baie positiewe strekking.

Irma van Standerton het byvoorbeeld geskryf: “Bravo, Rian! Veels geluk met jou erkenning! Die dominees sus en die dominees so, maar op die ou end is dit ’n saak tussen jou en jou God. Jy voel bevry, die waarheid is uit.”

Inderdaad.

Sedert hierdie brief in 2005 is ek tot vandag toe nog net twee keer veroordeel oor my gaywees waar ek dit kon hoor. Die eerste keer was omtrent ’n jaar ná die brief toe ek op ’n rampartytjie in Brits in ’n kroeg iemand hoor sê het: “Moffie.” Toe ek omdraai, was die persoon skoonveld.

Die tweede keer was in ’n kroeg in Pretoria toe ’n jongerige outjie blitsvinnig vir my kom vertel het dat hy nie die gay-leefstyl goedkeur nie en dat dit onnatuurlik en teen die wil van God is. Ek het aan hom gesê dat ek sy opinie respekteer (ek was beslis nie daardie aand lus vir debatvoering nie) en hy het geloop.

Ek is seker dat ek honderde kere agter my rug veroordeel is. Maar daarvoor gee ek natuurlik nie ’n duit om nie.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.