Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uiteindelik! Bokke is Ons Nasionale Span

Die Springbokke het die gom geword wat ’n verdeelde en vuisvoos nasie bymekaar hou , skryf Mondli Makhanya.

Dié Springbokspan is die “gom” van die nasie. Foto: Getty Images

Hierdie verhaal begin op die middag van 21 September.

Die toue mense buite die Jokohama-stadion word al hoe langer, maar die hekke bly gesluit. Oopmaaktyd is eers om 15:45 en die immer-doeltreffende Japannese gaan nie ’n sekonde toegee nie.

Namate die lang wyser nader aan oopmaaktyd kom, is daar beweging by die hekke. Om 15:40 staan ??al die personeel gereed. Die sekondes tik stadig na die voorafbepaalde minuut. Om 15:44 staar die hekwagters almal na hul horlosies. ’n Hele minuut lank. Tiek, tok, tiek, tok. Dan, die oomblik toe die horlosie 15:45 slaan, swaai die hekke oop.

Op die reuse-skerm in die ondersteunerspark in die stadion is Italië besig om Namibië te laat les opsê in die verre Hanazono. Die underdogs noord van die Oranje is die gunsteling van die skare wat hier is om te kyk na die wedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland. En toe die wedstryd in Jokohama begin, is dit die Springbokke wat duidelik meer steun geniet. Net hul eie landgenote en ’n paar Japannese huursoldate, geklee in All Black-truie en Maori-gesigverf, skreeu vir die All Blacks.

Sommige van ons is selfs die trotse eienaars van Springboktruie.

Tog is dit nie ’n goeie dag nie. Die toernooigunstelinge speel die Springbokke van hul voete af en saai twyfel oor die Bokke se uitstekende opbou tot die Wêreldbekertoernooi – ’n opbou wat gekulmineer het in ’n oorwinning in die Rugbykampioenskapstoernooi in die wintermaande. ’n Goeie rede om jou na bier en ryswyn te wend vir bietjie troos. Gelukkig smaak dit steeds goed, ten spyte van die teleurstelling.

Dit sou later blyk die gebeure die middag van 21 September in Jokohama was misleidend. Want Vrydag was dit die All Blacks wat om die derde plek teen Wallis uitgespeel het terwyl die Springbokke in die eindstryd was. ’n Goeie rede vir nog ’n paar slukke.

Vanjaar se Springbokke-reis was merkbaar anders as die Wêreldbekers wat dit vooraf gegaan het. Dié toernooi het hierdie nederige koerantman teruggeneem na 1995 toe hy die eindstryd teen die All Blacks in ’n sitkamer gekyk het wat volgepak was met Suid-Afrikaners wat vir die All Blacks skreeu. Daar was slegs een eensame Springbok-ondersteuner onder die groep wat meestal uit voormalige aktiviste bestaan het. Apartheid was nog steeds vars in die geheue en – ondanks die beste pogings van Nelson Mandela – was die Springbokke steeds geassosieer met dié era. Toe die Springbokke aantree vir die volkslied het iemand opgemerk dat as ’n mens nou die hele lot in ’n sel sou opsluit jy uiteindelik die waarheid sou kon hoor oor wat met die verdwene aktivis Stanza Bopape gebeur het.

Die daaropvolgende Wêreldbeker-veldtogte was anders, aangesien die span meer universeel steun geniet het. Teen die tyd dat John Smit se manne die beker in 2007 gewen en oudpres. Thabo Mbeki skouerhoog gelig het, was daar ’n groter gevoel van nasionale eenheid rondom die span.

Maar daar is iets aan hierdie toernooi wat Suid-Afrikaanse steun agter die Bokke skielik behoorlik in beweging gebring het.

Miskien is dit ons behoefte om te ontkom aan die ekonomiese somberheid en giftige politieke klimaat. Miskien is dit omdat dit ’n waarlik Suid-Afrikaanse span is waar die spankeuses nie deur ’n politieke en rassebakleiery gekenmerk is nie en sonder dat dit ooit deur een of ander opportunistiese politikus of regse Neanderdal gekaap is.

Dalk is dit die haglike spelpeil van Bafana Bafana op die oomblik – ’n span wat net soveel kanse het om vreugde te bring as wat Theresa May gehad het om Brexit suksesvol te volvoer. Dalk het ons nou uiteindelik gekom by die punt waar ons nasionale span bloot net dit is: Ons Nasionale Span. Of dalk is dit net omdat die manne verdomde goeie rugby speel. Die soort wat wedstryde wen en harte warm maak.

Rassie Erasmus wys transformasie hoef nie ’n bitter pil te wees nie.

Ná die Bokke se nederlaag teen die All Blacks het Suid-Afrikaners in die strate van Tokio en in die kroeë van Johannesburg dieselfde pyn gedeel. Die dag waarop die Bokke die hardnekkige, kreatiewe en knap tuisspan ’n rugby-les in die kwarteindronde geleer het, het die land in vreugde saamge­sing. Die toneel in die stadion in Tokio was voldoende om enige sinisme oor ons gedeelde Suid-Afrikanerskap te verdoof.

Die liedjies wat op die paviljoene gesing is, was nie die tipiese Loftus-soort nie, maar gewilde township-deuntjies soos Ntando se saamsingtreffer “Masambe Nono”. Selfs diegene wat dit die eerste keer gehoor het en wie se gene hulle van ritme ontneem het, het gesing en gedans asof hulle daarmee grootgeword het. Die na-wedstrydse oorwinningsgloed is landwyd gevoel.

Verlede Saterdag, toe Wallis en die Springbokke mekaar gepak het vir ’n plek in die eindstryd, was die winkelsentrums na bewering tussen 11:00 en 13:00 verlate. En weer het die volk met vulkaniese vreugde uitgebars toe die eindfluitjie blaas om ons afspraak met glorie te bevestig. Nou kan ek bevestig dat selfs diegene wat die 1995-Springbokke wou opsluit totdat hulle hul veronderstelde misdade bely het, agter die ouens in Japan staan. Sommige van ons is selfs die trotse eienaars van Springbok-truie, nie lank gelede nie ’n ondenkbare artikel in ons klerekas.

Die Springbokke het ’n lang pad gekom voordat hulle die gom kon wees wat die nasie bymekaar hou op die wyse waarop hulle dit die afgelope maand gedoen het. Dit sou ’n tragedie wees as ons hierdie oomblik van eenheid reduseer tot net dit: ’n oomblik. Ons het voorheen al sulke kanse gehad en dit deur ons vingers laat glip. Dié keer moet dit die grondslag vorm van ’n volgehoue projek om die gees van samehorigheid te laat herleef, iets wat sport so goed doen. As ons ná dié naweek terugkeer na ons eie hoekies, moet ons nie ook terugkeer na ons ou gewoontes nie. Rugby het ’n verpligting om toe te sien dat vestings soos Loftus ophou om plekke te wees waar swart mense soos indringers voel.

’n Onwaarskynlike held in die vorm van Rassie Erasmus het ons gewys dat transformasie nie ’n bitter pil hoef te wees nie, maar eerder ’n natuurlike formule vir sukses. Hy het ’n nasionale gees help bou wat moeilik deur ander sportkodes nagedoen sal kan word.

* Mondli Makhanya is redakteur van Rapport se susterskoerant City Press. Hy het die Springbokke se openingswedstryd teen die All Blacks as gas van MultiChoice en die kwarteindronde teen Japan as gas van MTN bygewoon.

Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.